title
stringlengths
0
200
maintext
stringlengths
0
24.9k
url
stringlengths
21
190
date_publish
stringlengths
0
19
VF Plus wys nuwe leierskap aan
Dr Pieter Groenewald, voormalige voorsitter van die VF Plus, is aangewys as nuwe leier van die VF Plus wat die party met ʼn sterk leierskapspan na die volgende algemene verkiesing in 2019 en daarna moet lei. Adv Anton Alberts is in sy plek as voorsitter van die party aangewys. Groenewald sê dit was ʼn voorreg om oor dekades as parlementslid saam met dr Mulder te dien en dat dit hom goed voorberei het om die VF Plus die toekoms in te neem. “Daar is min mens in Suid-Afrika met die diepgaande kennis oor die politieke situasie in Suid-Afrika soos dr Mulder. Hy gaan vir eers nog aanbly as parlementslid en ons sal voortgaan om sy insig en raad tot voordeel van die party aan te wend. “Die VF Plus het in die laaste munisipale verkiesing gewys hy is ʼn dinamiese, groeiende party wat ʼn belangrike rol het om te speel in die politieke landskap van Suid-Afrika. Ek is trots daarop om die party die toekoms in te neem met ʼn sterk, nuwe leierskapspan om my te steun. “Ons besef daar is vele uitdagings op die pad vorentoe, maar ek is positief dat daar wel ʼn toekoms vir almal in die land is en dat die ANC wel by die stembus geklop kan word. Die VF Plus sal voortgaan om tot hierdie stryd by te dra,” sê Groenewald. Foto: Trevor Samson
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/15/vf-plus-wys-nuwe-leierskap-aan/
2016-11-15 22:31:26
Ons gesels met Liza Brönner
Jy was drie jaar terug die publiek se gunsteling vir die kykNET-realiteitsprogram met Liefling se teaterproduksie, en fantasties as Lika Berning se troonopvolger vir die rol van Liefling. Hoe lyk jou lewe sedertdien? Sjoe, Liefling was so groot hoogtepunt in my loopbaan, maar ’n mens moet vorentoe en aan beweeg. Ek het weer begin skryf en werk aan ’n nuwe CD, en tussendeur doen ek nog steeds vertonings. Ek dink nie mense weet altyd hoeveel werk in die skryf en vervaardiging van ’n CD gaan nie. Ek het die proses baie geniet en was bevoorreg om saam met Vaughan Gardiner te skryf, en ek het baie by hom geleer. Wat is die boodskap wat jy wil uitstuur met jou nuwe album? Liefde het soveel verskillende emosies en aspekte, en ek dink hierdie CD vat mens op daardie reis. Daar is regtig iets waarmee elke persoon kan vereenselwig en ek hoop dat dit vir elkeen wat luister iets kan beteken. Waarvan hou jy die meeste van liedjies op die album soos Emosioneel en Wonder of jy weet? Emosioneel en Wonder of jy weet is vir my baie spesiaal omdat dit twee van my babas uit my eie pen is. Dit is my hart op papier en ek is mal oor die manier wat Jake Odendaal dit vervaardig het, dit voel of hy hierdie “skeppings” van my lewe gegee het. Jou mees onlangse liedjie en musiekvideo, Verlief op die idee van my, het baie goed gedoen. Wat is die storie daaragter? Baie dankie, ja ek’s baie dankbaar dat hy so goed doen! Die liedjie gaan daaroor dat mense baie keer verlief raak op ’n idee van hoe hulle wil hê ’n persoon moet wees, en dan wil hulle jou verander of in ’n blikkie druk om in daardie raamwerk te pas, in plaas daarvan dat hulle die hart van ’n persoon sien en liefkry. Jy het self baie van die liedjies op die album geskryf. Hoe oorkom jy skrywersblok? Ek skryf gewoonlik as ek baie kwaad, baie opgewonde, baie hartseer of baie gelukkig is en die feit dat ek ’n emosionele tipe persoon is, help in daardie opsig. As ek vashaak, moet ek net sorg dat iemand my kwaad maak (lag). Ek sit nie te veel druk op myself om binne ’n sekere tyd iets klaar te kry nie en dit help nogal baie. Ek sal partykeer vir maande lank met ’n konsep of wysie rondloop en dit dan so stuk vir stuk aan mekaar sit. Jy was uitstekend op die verhoog. Sal jy graag weer so produksie wil doen? Baie dankie! Ja ek sal definitief weer so iets wil doen as dit die Here se wil is. Ek dink die “toneel gogga” het my gebyt (lag). Sou jy jouself as ’n bekende binne die Suid-Afrikaanse konteks beskou? “Bekendheid” is ’n relatiewe begrip en kan vir my nogal negatief oorkom want mense het ’n verwronge persepsie van hoe ’n “bekende” moet wees. Vir my gaan dit glad nie daaroor nie. Ek dink die Here het vir my ’n talent gegee, en ek probeer om dit tot die beste van my vermoë te gebruik. Solank ek in die Here se wil is en doen wat Hy van my verwag, of dit nou sing, charity, of net is om ’n goeie vrou vir my man te wees, is ek tevrede. Wat is op die oomblik jou grootste uitdaging? Om uit te vind of ek in God se wil vir my lewe wandel. Hoe lyk ’n gewone dag vir jou? Ek moet elke dag begin met ten minste een koppie koffie … Om ’n kunstenaar te wees, vat baie self-dissipline. Ek werk die meeste van die tyd aan nuwe musiek en/of konsepte. Dinsdae help ek uit by die Hanna Charity met die tienermeisies. Ek ondersteun my man in sy beroep en sorg dat almal se magies vol bly, en dan is daar natuurlik maar die huiswerkies wat ons dames ook maar doen, en op naweke doen ons meestal vertonings. Mooi, mooier, Liza! Wat is jou top-drie skoonheidsreëls? Ek kan nie gaan slaap sonder om ’n lekker warm bad te vat en my gesig te was nie, al is dit 12uur ná ’n vertoning. Ek probeer ook so gesond as moontlik eet, maar kry dit nie altyd so lekker reg nie (lag). Hulle sê ’n gelukkige vrou is ’n mooi vrou. Ek weet nie wie die “hulle” is nie, maar ek dink ook so. Skoonheid kom van binne, so ek probeer so veel al moontlik lag, sommer oor als. Wat is die belangrikste ding wat jy van die vermaakbedryf geleer het? Dat jy hard moet werk vir dit wat jy wil hê. Niks gaan sommer net in jou skoot val nie. En sonder die Here is dit nie moontlik nie. Volg vir Liza op sosiale media: Facebook: Liza Bronner Twitter: @LizaBron Instagram: lizabron
http://www.rooirose.co.za/ons-gesels-met-liza-bronner/
2016-11-22 12:38:26
Adele maak hart oop oor postnatale depressie
Toe Adele (gebore 5 Mei 1988), die eerste keer haar trefferlied “Someone Like You” sing, het sy die musiekwêreld stil gehad. Die vrou met die stem van ’n nagtegaal het byna onmiddellik gewildheid verwerf en nie lank daarna nie is sy as een van die beste sangeresse van alle tye gekroon. Sy het tot dusver 10 Grammy-toekennings gewen plus ’n Oscar vir haar liedjie “Skyfall” (die titellied vir die James Bond-film met dieselfde naam). In ’n onlangse voorblad-onderhoud met die oorsese tydskrif Vanity Fair, praat Adele oor roem en deel sy ook haar struikeling met postnatale depressie (ook bekend as baba-depressie). Sy het onder andere gesê sy was obsessief oor haar seun Angelo (4), en dat sy onvolwaardig gevoel het. “Ek was obsessief oor my kind. Ek het baie onvolwaardig gevoel; dit het gevoel of ek die grootste fout van my lewe gemaak het.” Adele en Simon Konecki, haar kêrel van die afgelope vyf jaar en die pa van haar seun, maak ook sy dogter uit ’n vorige huwelik saam groot. Volgens die tydskrif het Simon het haar aangemoedig om met ander vroue te gesels wat ook aan die depressie ly, maar sy wou aanvanklik nie ingee nie. Sy het ook nie antidepressante gebruik nie en uiteindelik besluit om met ander vroue oor haar gevoelens te gesels. “Vier van my vriendinne het net soos ek gevoel, en almal was te skaam om daaroor te praat.” “Uiteindelik het ek net besluit ek gaan myself een middag ’n week gee, om te doen net wat ek wil sonder my baba.” Al het haar vriendinne nie noodwendig haar keuse ondersteun nie, het sy dit in elk geval gedoen. Sy glo dit maak van haar ’n beter ma as sy tyd vir haarself neem. Hormone se effek op nageboorte-depressie Niemand van ons is bestand teen nageboorte-depressie nie. Daar is geen waarborg dat jou woelende hormone jou nie sal vang nie. Dit is net so waarskynlik dat baba-depressie jou sal tref. Op die ou end is ons maar net nuwe mammas wat uitgelewer is aan gemoedskommelings wanneer ons hormone wipplank ry. Dink net wat gebeur alles in die dae en weke na jou baba se geboorte: jy swaai van swanger vrou met ’n baie kenmerkende hormoonprofiel na nie-swanger vrou met ’n ander profiel na vrou wat borsvoed wat ook deur hormone beheer word. ’n Hele handvol hormone is aan die werk, soos: Chorioniese gonadotropien Relaksien Estrogeen Progesteroon Oksitosien Die laaste drie (estrogeen, progesteroon en oksitosien), het ’n sterk effek op emosie. Dit, saam met stres, die emosionele aanpassing en doodgewone moegheid, is die ideale resep vir depressie, veral in die eerste ses maande na jou baba se geboorte. Raad vir nageboorte-depressie Die oplossing vir postnatale depressie is nie noodwendig ’n antidepressant nie. Party van ons het net meer rus nodig, ander het ’n uitkomkans en stimulasie nodig, nog ’n groep het emosionele ondersteuning nodig – ’n vriendin, ma of buurvrou wat gereeld inloer en jou selfvertroue ’n bietjie lig. Net ’n klein persentasie van ons het uiteindelik medikasie nodig. Wat het JY nodig? Wees goed vir jouself en sorg dat jy dit kry!
http://www.rooirose.co.za/adele-maak-hart-oop-oor-postnatale-depressie/
2016-11-02 15:00:29
Margaret uit Hollywood: Sam Heughan
Sam Heughan het die DNS van ’n hartebreker: lank, gespierd, aantreklik … Die Skotse akteur staan 1,89 m in sy sokkies en is nou gewoond daaraan om ’n sekssimbool te wees. Sam speel die rol van Jamie Fraser in Outlander, die TV-reeks wat op Diana Gabaldon se suksesvolle reeks boeke gegrond is. Toe ek hom die eerste keer in 2015 ontmoet het, was hy baie ongeërg oor die gewildheid van die reeks ná net een seisoen. Dit gaan vir hom oor die werk en hy was onbewus van die herrie wat op die Internet losgebars het nadat hy in ’n kilt by die Outlander-première opgedaag het. ’n Paar maande later was ek gelukkig genoeg om by ’n ete op ’n Skotse landgoed tussen hom en Caitriona Balfe, sy medespeler, te sit. Hy is intelligent, en het ook in my werk en lewe belang gestel. Outlander is ’n romantiese, geskiedkundige drama. ’n Tydreisiger, Claire Randall (Caitriona), ’n Engelse verpleegster wat in 1942 terugreis na die Skotland van 1743, ontmoet ’n aantreklike Skotse Hooglander (Jamie) en word gedwing om met hom te trou. Sy raak later wel op hom verlief. Die rol van die skurk, en Claire se eietydse, Engelse man, word deur dieselfde akteur, Tobias Menzies, gespeel en sorg vir baie drama en ingewikkelde emosies. Die eerste seisoen speel hom in die Skotse Hoogland af en die tweede seisoen het die Franse aristokratiese leefstyl as agtergrond. Die kostuums is ongelooflik. Ek het nog nie ’n vrou ontmoet wat nie gaande oor die reeks is nie. Ons het eksklusief met Sam gesels oor wat ons te wagte kan wees in die tweede seisoen van dié gewilde reeks. Waar het jy grootgeword? Hoe was jou kinderjare? Ek is op Dumfries & Galloway in die suidweste van Skotland gebore. My kleintyd was idillies – grootgeword in gerestoureerde stalle op die terrein van ’n ou kasteel langs ’n meer. Ek dink dis waar my passie vir toneelspeel vandaan kom. Ek het altyd met ’n pyl en boog gespeel. Op twaalf het ek en my ma Edinburg toe getrek waar ek by die dramaskool in Glasgow, The Royal Scottish Academy, ingeskryf is. Daarna het ek ter wille van my loopbaan twaalf jaar lank in Londen en Los Angeles gebly. Dis wonderlik om nou in Skotland te kan werk. Wanneer het jy geweet dat jy ’n akteur wil word? Ek het nog altyd daarin belang gestel. Toe ek klein was, wou ek ’n towenaar wees. Die plaaslike teater het een keer per maand ’n gratis optrede gegee en my ma het my altyd gevat. Dit het my gefassineer. Is jy nog altyd sportief? Ja, ek dink so. Ek het van kleins af geswem en gehardloop. Weggehardloop van vroue wat jou jaag? (lag) As dit maar net so was! Ek het aan atletiek deelgeneem maar om fiks te wees vir Outlander is ’n ander storie. Ek werk baie met gewigte. Dit help om van lastige aanhangers ontslae te raak (grappie). Hoe moeilik is die aksietonele? Doen jy jou eie waagtoertjies? Ja, ek doen alles. Dis baie pret – perdry, gevegte … Sal jy ’n kilt dra wanneer jy nie toneelspeel nie? Beslis! By die huis? Terwyl ek stofsuig en kos maak (lag). Nee, dis net vir spesiale geleenthede, soos troues. Dalk vir ’n rugbywedstryd, of verjaarsdae. Jy hou van kook? Wat maak jy? Ek het ’n ruk lank in ’n Suid-Afrikaanse koswinkel gewerk waar ek geleer het om geregte soos kerries en koeskoes te maak, krummelpap en boerewors ook (hy sê dit met ’n Suid-Afrikaanse aksent!) en sous. En Mrs Balls se blatjang. Dit het my belang-stelling in kos maak geprikkel en my geleer om met geure te eksperimenteer. Is dit waar dat jy en Caitriona ’n verhouding het? Sjoe, waar het jy dit gehoor? Daar was gerugte … O, ek sien. Ons kry gereeld daardie vraag. Nee, ons het nog nooit ’n verhouding gehad nie. Ons kom net baie goed oor die weg. Dis snaaks dat mense dit so graag wil hê. Ek dink dit beteken dat ons ons goed van ons taak kwyt! Maar dis nogal hartseer wanneer ons moet sê ons is nie saam nie. Jy steel glo Caitriona se eetgoed op stel? Ja, heeltyd. Sy het altyd sulke lekker gesonde kos, soos guacamole. Hulle het intussen begin om vir my ook gesonde eetgoed te gee. Ons kry gewoonlik aaklige goed om te eet. Sny jy jou hare tussen elke seisoen van die reeks? Nee, daar sal nie genoeg tyd wees om dit weer lank te laat word nie. Dis beslis ’n groot deel van Jamie se identiteit maar ons sal sien wat gebeur. Die eerste seisoen van Outlander het so dramaties geëindig! Waar staan Jamie aan die begin van die tweede seisoen? Die gebeure van die eerste seisoen het hom diep geraak. Hulle is skielik in die vreemde wêreld van Parys – en Claire is swanger. Boonop is daar ook baie nuwe drama en politieke struwelinge. Hulle is daar om die geskiedenis te verander en te keer dat die toekoms waar word. Intussen probeer Jamie om homself weer te vind en sy krag en moed terug te kry. Hoekom is die reeks so gewild? Dis alles aan Diana Gabaldon se skryfwerk te danke. Sy het tussen 25 – 26 miljoen boeke verkoop. Die storie dek nie net een genre nie. Dis ’n romanse, maar ook ’n tydsreisigerstorie en geskiedkundige en politieke fiksie. Daar is iets van alles. Die aanhangers van die reeks is fanaties! Het jy ’n lyfwag? Het daar al vreemde goed met jou gebeur, of het jy vreemde geskenke gekry? Ons het ’n wonderlike aanhangerbasis op Twitter en Caitriona gaan baie ontsteld wees, maar ek kry baie meer geskenke as sy (lag)! Dis gewoonlik eetgoed en ek toets dit meestal op een van die drywers of iemand wat gewillig is. Ek het onlangs ’n liefdadigheidsgeleentheid aangebied en die ondersteuning was ongelooflik. Ons het meer as R1,8 miljoen vir navorsing oor leukemie ingesamel. Hoe ontspan jy? Ek is mal oor die buitelewe en hou van stap. Stap in Los Angeles en stap in Skotland verskil hemelsbreed. Hier het jy net ’n paar tekkies en ’n kortbroek nodig maar in Skotland moet jy vir die nat weer en koue aantrek. Hoe voel dit om al daardie ongelooflike kostuums in die tweede seisoen van Outlander te dra? Ek moet eerlik wees, toe ek die eerste keer die tweede seisoen van Dragonfly gelees het, het ek in ’n koue sweet uitgebars! Maar Terry Dresbach, ons uitstekende kostuumontwerper, het vir alles gesorg. Dit was van die begin af vir ons belangrik dat dit nie bloot ’n kostuumdrama is nie – dis beslis ’n karakter gedrewe storie. Parys was ’n heerlike verandering ná al die reën en modder in Skotland. En die kostuums gee jou insig in die karakters en hoe hulle gelewe het. Wanneer ons in die tweede helfte van die seisoen na Skotland terugkeer, voel dit of ons huis toe gekom het. Dit was ’n verligting om weer my kilt aan te trek en byna twee uur ná ons begin skiet het, het die reën uitgesak (lag) en almal het dadelik tuis gevoel. Ek was verras om te hoor dat Jamie Frans praat! Kon jy nog altyd Frans praat of moes jy dit leer? Op skool het ek my Franse eksamen gedruip! Maar ek het so daarna uitgesien om weer Frans te kon praat. Dis was belangrik om daardie deel van Jamie uit te beeld – ’n sterk Skotse heer in die Franse koningshuis. Maar Jamie praat steeds met ’n Skotse aksent, al praat hy Frans (lag)! Deesdae is romanse baie meer informeel as in die 1740’s. Wat verkies jy? Vra jy my of Jamie Fraser op Tinder is (lag)? Ek dink nie hy sal dit op Tinder baie goed doen nie. Dis ’n baie romantiese reeks, maar dis nie al wat daarin steek nie – dis baie ongewoon. Jamie en Claire word gedwing om te trou nog voordat hulle mekaar leer ken het of ’n verhouding gehad het. En hy raak verlief op haar. Die twee karakters het albei so ’n sterk wil dat hulle eintlik goed bymekaar pas. Wanneer hulle voor ’n uitdaging te staan kom, glo Jamie dit kan net op een manier opgelos word terwyl Claire met haar meer moderne uitkyk dink iets anders sal beter werk. Maar hulle kan wel daaroor praat en saamwerk om die probleem op te los. Uiteindelik maak dit hul verhouding sterker. Ek dink dis hoe ’n moderne huwelik werk – om saam met jou eggenoot deur probleme te kan werk. Jy word nou as ’n sekssimbool beskou – jy was onlangs kaalbolyf op ’n tydskrifvoorblad. Hoe voel jy oor hierdie aspek van jou werk? Dit was ’n voorblad vir Entertain-ment Weekly en ek was baie trots op daardie voorblad en ja, dit was nogal sexy, maar dit was vir my baie belangrik dat Jamie se littekens sigbaar moes wees. Ek het die rugprostese aangehad en jy kon al die ander littekens op my lyf sien. Dit het nie net oor ’n kaalbolyfman gegaan nie. Vir my gaan dit oor die karakter en die pad wat hy moes loop tot waar hy nou is. Die littekens op sy lyf is ’n belangrike deel daarvan. Dink jy jy is romanties of meer pragmaties? Dit hang af wat die omstandighede is. Ek dink ek is pragmaties maar ek raak baie verlief, veral in Los Angeles. Daar is baie mooi mense! Jamie Fraser is beslis romanties en passievol maar sy kop is reg aangeskroef … hy verras my somtyds. In die tweede seisoen het hy skielik ’n ou geslaan oor iets wat nie juis ’n kwessie was nie. Maar dis wie hy is – hy is passievol en neem standpunt in. Hy is ’n man van aksie. Gaan romanse oor die groot gebare of alledaagse klein goetertjies? Dit lê beslis in die alledaagse dinge. Almal hou daarvan om ’n bos blomme te kry, of vir ete genooi te word, maar ek dink dit gaan oor konsekwentheid in ’n verhouding, hoewel sensitiwiteit en bedag-saamheid ook belangrik is. rr
http://www.rooirose.co.za/margaret-uit-hollywood-sam-heughan/
2016-11-02 13:05:09
Kersverhaal: Krismis
Net so voor Kersfees het daar moeilikheid in die stal uitgebreek. Die probleem het met die bekroonde Ayrshire-koei begin. Sy het ’n stamboek vol glorie en toekennings gehad. Soos altyd dié tyd van die jaar het die diere begin praat oor Kersfees en oor Boer se vrou se jaarlikse Kersspel in die skuur op Krombult. Die plaaswerkers se kinders van die distrik sien altyd vreeslik uit na die konsert en daar is gewoonlik ’n stryery oor wie dié jaar beurt gaan kry om Josef, Maria, die herders en die wyse manne te wees. Nadat Fya en Mercy van Krombult se ma’s die laaste keer by die boervrou woes gaan kla het oor die onregverdigheid dat Elsie van Agnes van Buffelskrans twee keer na mekaar Moeder Maria was, het Boer se vrou begin boek hou oor die rolverdeling. Min het sy geweet dat sy hierdie jaar moles in haar man se stal gaan kry wat die vrede van Kersfees sal bedreig. Daar was vir dae ’n fluisterende gebulk onder die koeie oor watter een dié jaar ’n ereplek in die Kersspel sal kry. Almal behalwe een. Sy het nie getwyfel nie. Eintlik het die onmin al na die groot veiling op Bredasplaas begin toe Boer met die nuwe Ayrshire-koei hier aangekom het. Bell. Hy het glo ’n fortuin vir haar betaal en sy was haar prys werd as mens kyk na die rosette wat sy by die daaropvolgende landbouskoue gewen het. Boer het Bell se toekennings trots in ’n glaskas in die stal vertoon. Tot die ander koeie se verdriet. Bo-aan die glaskas het hy ’n bord laat aanbring: Hoofkoei: Belladine, dogter van Belladarius en Belladame van Grootvlei. As Boer se vriende kom kuier, het hy graag met sy stoetkoei gespog. Dan het hulle met biere in die hand voor die glaskas kom staan en Boer gekomplimenteer oor sy koei se uier. Bell haarself het ook graag voor die glaskas gestaan en pronk, en nooit nagelaat om die ander diere te herinner dat sy by Kannavlei se skou as die Groot Kampioen Koei aangewys is nie. Dit het gevolg op haar prestasie as Kampioen Jong Koei nog voor Boer haar gekoop het. Dan is sy ook laasmaand aangewys by Kromburg se skou as die koei met die grootste uier! Dis na laasgenoemde wat haar kop so groot geword het dat Perd gesê het daar sal een van die dae nie meer vir almal plek in die stal wees nie. Met die dat Bell se kop so baie plek inneem. Perd was juis die eerste een wat by Krismis, die donkie, kom kla het oor die onmin onder die diere oor wie vanjaar die eer behoort te kry om in Boer se vrou se Kersspel te wees. Krismis is lankal beskou as die dier in die stal in beheer van Kersfees. Sy naam was immers Krismis, en hy bly reeds donkiejare in die stal. Hy het in die stal beland nadat Boer se vrou hom as klein donkie by die slagpale raakgesien het. Sy ma is verkoop, geslag en na salami-fabriek gestuur. Boer se vrou het die wees donkie jammer gekry en Boer beveel om hom te koop. Dit was net voor Kersfees en sy het gedink die klein donkie sal te fraai lyk in haar Kersspel. Sedertdien het Krismis nog nie een Kersspel gemis nie. Maar vir Bell was die verering van ’n klosserige ou donkie te veel. “Jy word net vir die Kersspel gekies omdat jy die enigste donkie op die plaas is,” het sy kort voor Kersfees bitsig vir hom gebulk. Bell was nie vreeslik gewild in die stal nie. Trouens, sy was glad nie gewild nie. Veral omdat Boer haar verhef het tot hoof koei. Sy het nie in dieselfde kamp as die koeie van twyfelagtige herkoms gewei nie. Drie dae voor Kersfees het ’n koor van koeie gebulk en die varke, wat nie Kersfeeshamme geword het nie, luidkeels geknars oor die onuitstaanbare snobisme van Bell. Die onrustige onmin so in die feestyd het Krismis as die hoofdier van Kersfees laat besluit om in te gryp en Bell aan te spreek. Bell, synde ’n welberese stoetkoei wat al by al die skoue in die Krombult-distrik was, het haar kennis van wêreldgebeure teen die klosserige ou donkie se vermaninge gebruik. Die meeste van haar kennis doen sy op as sy voor Boer se kantoor in die stal staan en na RSG luister, het sy graag gespog as iemand die moeite gedoen het om te luister. Dis veral aan die klassieke musiek-programme van Wouter de Wet te danke dat haar uier so fluks melk produseer, het sy geglo. Sy het ook beweer daar is al navorsing oor die uitwerking van Barokmusiek op melkproduksie gedoen. Die weke voor Kersfees het sy veral aangedring op stilte in die stal as haar programme op die radio is. Glo alles ter wille van die volgende skou net na Nuwe Jaar. Sy het haar hart gesit om weer die roset vir die grootste uier te wen. Krismis het ondanks sy swak kennis van wêreldgebeure voortgegaan met sy vermaning oor die toenemende onmin in die stal so kort voor die herdenking van die geboortedag van die Liewe Heer. Bell het haar groot oë ’n paar keer meewaardig gerol en besluit sy wil die klosserige ou donkie op sy plek sit. “O, maar wie dink jy is jy?” het sy na Krismis gekap. “Jy hoort nie eens in die Kersspel nie! Nie een van julle nie! Ek het op die radio gehoor die Pous homself het aangekondig dat die gebruik van diere in Kersspele nie eintlik gehoord is nie. Hy sê dis net ’n mite dat daar diere in die stal was toe Jesus gebore is. Ek het die nuusflits self op RSG gehoor!” Krismis het verstom en verontwaardig gebalk. “Waar het jy nou sulke nonsens gehoor? As Jesus in ’n stal gebore was, was daar diere! Waar dink jy het die donkie geslaap waarop Maria tot in Betlehem gery het? Hmmm?” Krismis het hom gruwelik vererg en Bell ingelig dat hy dalk niks van die nuusflitse op radio weet nie, maar dat Martiens al vir hom vertel het daar is negentien verse in die Bybel wat na donkies verwys. Martiens is ’n kerkman en hy weet. Maar Bella se kennis het nie teruggedeins nie. “O, en wat van die 23 verse in die Bybel oor koeie?” Krismis het gehoop hy is reg toe hy Bella op haar plek sit: “Ja, maar was hulle Ayrshire-koeie?” Dit het Bella ’n rukkie laat dink. Met al haar kennis het sy goed geweet die trotse ras van Ayrshire-koeie is eers rondom 1800 in Ayr in Skotland aangeteken. Krismis was in sy wese ’n vredeliewende dier en het besluit dit gaan nie deug om so met Bell te staan en stry nie. Hy het geweet Boer se vrou sal voortgaan met haar Kerskonsert al sê die Pous ook wat. Hy het ook geweet dis ’n feit soos ’n koei dat Boer sal sorg dat sy bekroonde koei ’n ereplek in die Kersspel kry. Al die boere van die distrik gaan immers daar wees. Hy kan al sien hoe Boer met die komende skou na Nuwe Jaar op hande sal spog oor Bella se allemintige uier. Krismis weet dit en hy het geweet Bell weet dit maar te goed. Ondanks die geskinner en gekyf in die stal, het die diere dus soort van berus. Toe tref ’n groot moles Krombult twee dae voor die herdenking van die geboortedag van onse Liewe Heer. Bell het in die natuur van haar eiewysheid besluit om ’n bietjie verder as haar kamp te gaan wei. Die ander koeie het reeds dae lank fluisterend gebulk oor Bell en Boer se buurman se stoetbul wat so oor die vlaktes flirteer. Mens kon die buurman se bul al vroegoggend sy beste bulk oor die vlaktes hoor stuur. Dan het Bell koketterig gevolg van Krombult se kant. Fyntjies, soos dit ’n stoetkoei betaam. “Dis ’n kwessie van tyd,” het een van die afgetrede Ayrshire-koeie gesê. Sy het immers geweet haar dae op die plaas is getel en dat dit haar voorland is dat sy na Nuwe Jaar as afslag-boerewors by ’n supermark gaan re-inkarneer. Sy het dus nie meer omgegee wat sy bulk nie. “Daardie Bell gaan nog draad spring, julle sal sien,” en toe verwys sy in verskeie onkuise terme na Bell en die bul se gebulk oor die vlaktes. Met Bell se uitbreek uit haar kamp kom die ou koei se profesie toe waar. Sy en die andere koeie het met spits ore staan en luister hoe Bell en die bul al nader aan mekaar bulk. Maar toe verander Bell se bulk in ’n benoude hulpkreet. Daar was groot drama op Krombult toe Boer hoor sy bekroonde koei het in die swart klei van die buurman se plaasdam vasgeval. Bell se bulkery om hulp het vir ure temend oor die vlakte weerklink. Krismis en Martiens was op pad om ’n vrag hooi vir die Kersspel na die skuur te vat toe hulle Bell se hulpkrete hoor. Dis Martiens wat aan Boer voorgestel het dat hulle die hooi voor die bedremmelde Bell op die klei moet gooi om die arme koei vastrapplek te gee. Martiens het ’n tou om Bell se nek gebind en Krismis aan die ander kant ingespan. Krismis het getrek so al hy kan. Balkend het hy Bell moed ingepraat. Brullend het Boer bevele uitgedeel aan Krismis en Martiens. Hy het ook skietgebede opgestuur dat sy bekroonde koei se uier tog ongeskonde moet bly. Dit was ’n gesukkel. Elke keer as Krismis dit regkry om Bell ’n entjie uit die klei te trek, sak sy moeg terug en dan syg die klei weer vas om haar hoewe. Al was hy reeds donkiejare oud, was Krismis taai van al die swaar vragte wat hy en Martiens al met die wa getrek het. Hy het getrek dat die klei so spat. Sy klosserige pels was later pikswart van die klei. Boer het gepleit, geswets, gebid. Toe doen Boer ’n vreeslike ding. “Nee wat Martiens, gaan haal die perd. Hierdie ou donkie is gedaan. Hy is nou net goed vir die slagpale.” Sy woorde het Krismis laat lam word van vrees. Hy het teruggedink hoe hy as klein donkie moes toekyk hoe sy ma by die slagpale se deur ingaan en hy het later gehoor sy ma het waarskynlik in ’n paar worse salami opgeïndig. Krismis het balkend geprotesteer dat hy nog nie reg is om salami te word nie. Hy het immers nog ’n Kersspel om in te speel. Toe skop Krismis sy hoewe vas en trek dat dit bars. Hy het nie een keer gerus nie. Elke keer as Bell terugbeur om te rus, het hy haar aangemoedig om uit te hou. “Dink aan die skou. Dink aan die roset vir jou groot uier,” het hy haar moed ingepraat. Toe skep Bell moed. Sy het saam met Krismis gebeur en gebulk. Treetjie vir treetjie het hulle twee die klei gewen. Die salpeter het op Krismis se klosse uitgeslaan soos hy trek. Hy het getrek asof sy lewe daarvan afhang. “Onthou die roset. Dink net aan die roset,” het hy Bell vir oulaas moed gegee. “Trek! Trek! Trek!” het Boer geskree. Die buurman se stoetbul het hulpeloos eenkant gestaan en bulk. Toe gebeur dit. Bella het dapper ’n paar tree op die droë hooi gegee en gedaan op die grond langs die dam neergesyg. Sy was bevry! Dit het ’n span werkers gekos om haar later op die trok te laai. Die ander koeie het staan en kyk hoe die bekroonde koei gewas en gepamperlang word. Die afgetrede Ayrshire-koei het die stilte verbreek: “Ek het julle mos gesê dis net ’n kwessie van tyd!” Krismis was tot met Kersfees nie homself nie. Die reddingsdrama was net te veel vir ’n donkie wat reeds donkiejare oud is. Hy het met moeite saam met Martiens tot by die skuur gestap vir die Kersspel. Hy het moeg op die hooi langs die krip gaan lê. Die distrik se kinders het gesing van die Heiland wat gebore is “in stille Bêhetlêhemmm” en Boer het ná die Kersspel saam met die ander boere rondom Bella saamgedrom om te praat oor die bekroonde koei wat so byna in die klei verswelg het. Dis Martiens wat later besef het Krismis lê vreeslik stil in sy posisie langs die krip. Hy het stilgebly oor Krismis se heengaan tot al die gaste vertrek het. “Langs die krip van Jesus waar ’n donkie hoort. Nevermaaind die Pous,” het Bella later, na haar bekroning as die koei in die distrik met die grootste uier, in haar bedankingstoespraak in die stal hulde gebring aan Krismis.
http://www.rooirose.co.za/kersverhaal-krismis/
2016-11-24 11:42:45
Wen met Die Sneeukoningin
Orm, Gerda, Kai, Alfida en Luta is terug met ’n splinternuwe avontuur om die nare Sneeukoningin te verslaan in die tweede aflewering van die gewilde animasieprent, Die Sneeukoningin, wat beloof om kykers tot op die laaste minuut te bekoor. Die Sneeukoningin 2 sal vanaf 25 November 2016 in fliekteaters landwyd begin draai. 10 gelukkige rooi rose-lesers kan elk ’n geskenkpak wen wat ’n DVD van Die Sneeukoningin 1 en ’n T-hemp insluit. Reëls en voorwaardes geld. Beantwoord die maklike vraag en vul die onderstaande vorm in om in te skryf. Sluitdatum: 18 November 2016. Klik ook hier vir ’n EKSKLUSIEWE kykie na ’n gedeelte uit die fliek, spesiaal vir ons lesers! VRAAG: Wie vertolk die rol van Gerda in DIE SNEEUKONINGIN 2? * Naam * Van * Kontaknommer * E-posadres * Mag rooi rose jou van enige spesiale aanbiedinge laat weet? * Ja Nee Ek het die bepalings en voorwaardes gelees. * Ja Nee
http://www.rooirose.co.za/wen-met-die-sneeukoningin/
2016-11-03 10:00:44
Reisnuus: ’n nuwe hotel, lughawe en “City Pass”
QSL Hotel, Johannesburg Die splinternuwe Hotel QSL on 44 verras met ’n kombinasie van marmerbadkamers, die fynste linne en gesofistikeerde beligting met dubbelvolume-plafonne, blootgestelde baksteenwerk en kaal vloere. Tien soldertipe-eenhede met name soos Room Juliet en die Elevator, Boardroom and Basement Rooms het elk ’n unieke uitsig oor die hartjie van Johannesburg. Room 44 grens aan die bekende 44 Stanley-sentrum. ’n Minikroeg vol lekkernye is standaard, daar is Showmax op versoek, en ’n “kindle-for-rent” met meer as 3,000 titels. Jy kry ook gratis wifi, ’n wasgoeddiens en ’n 24-uur inklokdiens. ’n Ligte ontbyt is ingesluit, maar jy kan ook langsaan by die Salvation Café of by een van 44 Stanley se ander eetplekke inval. “By Hotel QSL fokus ons daarop om gaste belewenisse te gee,” sê mede-stigter Rahim Rawjee. “Ons het die beste kussings en matrasse, die fynste lakens, en goeie koffie – die basiese vereistes wat regtig saak maak.” Meer inligting by www.qslon44.com Nuwe internasionale lughawe, Seychelles Die Seychelles kry ’n nuwe internasionale lughawe! Die regering van die Seychelles en die Abu Dhabi Airports Company (ADAC) het ooreengekom dat die nuwe lughawe teen 2019 of 2020 voltooi sal wees. Dit sal geleë wees aan die noorde van die bestaande lughawe wat in 1972 deur Koningin Elizabeth II geopen is. Die klem sal val op omgewingsvriendelikheid, hernubare energiebronne, die voorste tegnologie en die essensie van die land se kultuur. Foto hieronder: ’n blik op die lughawe se voorlopige ontwerp. iVenture City Pass, Kaapstad Die bekende iVenture City Pass is uiteindelik in Suid-Afrika beskikbaar, en Kaapstad is die gelukkige stad. Dit werk soos ’n kredietkaart wat jou toegang tot verskeie aktiwiteite en besienswaardighede gee, met afslag van tot 40% op gewone toegangsfooie. Jy kies een van die opsies, betaal, en gaan besoek jou keuse uit meer as 60 aanloklikhede. Die Flexi Pass bied toegang tot ’n keuse van drie, vyf of sewe Kaapse besoekpunte. Die Unlimited Pass geld vir twee, drie of vyf dae en bied onbeperkte toegang tot besienswaardighede. Dis ideaal vir enige ouderdom en fokus op avontuur, kultuur, die buitelewe, bootritte of toerervarings. Enkele hoogtepunte sluit in die Tafelberg Kabelkar, Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuine, Two Oceans Akwarium, Groot Constantia, die City Sightseeing ‘Hop On Hop Off’-bus en Township-toere. Met die Unlimited Premium Pass kry jy ’n ekstra “premium experience” soos ’n Cape Town Helicopters Atlantico-rit of Marine Dynamics haaihok-duik by. Die iVenture-kaart sluit ook bonusse soos afslag by ’n sekere restaurant in. Flexi Pass-pryse: R700 (volwassenes); R350 (kinders 4-17) vir enige drie besienswaardighede R1100 (volwassenes); R550 (kinders) vir enige vyf besienswaardighede R1450 (volwassenes); R750 (kinders) vir enige sewe besienswaardighede Unlimited Pass-pryse: Two-day City Pass: R980 per volwassene, R770 per kind Three-day City Pass: R1380 per volwassene, R1100 per kind Five-day City Pass: R1600 per volwassene, R1200 per kind Unlimited Premium Pass-pryse: Three-day Premium Pass: R2600 per volwassene, R1700 per kind Five-day Premium Pass: R2750 per volwassne, R1780 per kind Die iVenture-vir-Kaapstadwebwerf is nog onder konstruksie.
http://www.rooirose.co.za/reisnuus-n-nuwe-hotel-lughawe-en-city-pass/
2016-11-21 15:24:04
Is daar middels in sjampoe wat kanker veroorsaak?
Watter van die middels wat kanker veroorsaak, gebruik jy elke dag? Stel iets wat jy dag vir dag gebruik jou onwetend bloot aan kanker, onvrugbaarheid, ekseem of menstruasieprobleme? Die gebruik van produkte tydens swangerskap is veral problematies. Ons kom deur kos, skoonheidsmiddels soos sjampoe en tandepasta en by ons werkplekke in kontak met honderde chemikalieë, selfs al dink ons ons leef redelik groen. Omdat kankers toeneem, en ons terselfdertyd al meer ‘chemies’ leef, word die uitwerking van hierdie middels wyd gemonitor deur ’n hele aantal organisasies, soos die Amerikaanse Environmental Protection Agency (EPA), die European Agency for Health and Safety at Work (EU-OSHA) en die Amerikaanse OSHA, FDA, NIH en veral hul National Toxicology Program (NTP). Hulle werk hard, al laat party mense dit klink asof niemand vir die verbruiker omgee nie. So is die lys van middels wat kanker veroorsaak pas weer opgedateer. Dit sluit nóg twee chemikalieë in, naamlik kobalt en TCE (trichloroethylene). Waar gaan jy met byvoorbeeld kobalt te doen kry? Op verrassende plekke. Kobalt word veral in die nuwe groen batterye en sonpanele gebruik, en is ook aanwesig in sekere nuwe heupprosteses. As jy pottebakkers- of glaswerk doen en met blou pigment werk, is jy ook aan kobalt blootgestel. (Lees meer hier) Daar is wel waghondliggame, maar hoe toeganklik is die inligting? Kan gewone mense oplees en self kyk of al die middels op die lang lys van bestanddele in kos, skoonheidsmiddels en werkschemikalieë veilig is? Sal jy die aanbevelings oor byvoorbeeld sodium lauryl sulphate (SLE), die skuimmiddel in sjampoe, kan gebruik? Ons het gaan soek na die beste bronne – sodat jy nie oorgelewer is aan al daardie internetmites en hoorsê nie. Hierdie webwerwe verskaf outentieke, eerstehandse en topgehalte inligting. Elkeen van hulle baseer hul aanbevelings op erkende, streng wetenskaplike navorsing. Dit is die betroubaarste inligting wat ons beskikbaar het. Almal word gereeld opgedateer, soos wat nuwe inligting bekend gemaak word. Die beste van alles: die meeste gee bruikbare inlgting. Dit plaas die mag van kennis in jou eie hande. Webwerwe met die lys van veilige middels wat nie kankers veroorsaak nie GRAS-middels, of Generally Regarded as Safe-chemikalieë Hierdie bron lys die middels wat as veilig beskou word. Elkeen word gegradeer, met 1 as veilig en 5 as onbekend of onseker. Gebruik hierdie webwerf as jy wil weet of ’n produk as veilig beskou word. Jy sal nie bekende giftige of gevaarlike middels op hierdie webwerf kry nie. Besoek die webblad hier. Lyste van uiters gevaarlike middels wat kanker veroorsaak Hier sal jy net gevaarlike chemikalieë kry. Veilige middels sal dus nie hier gelys word nie. Die VSA se Environmental Protection Agency word deur baie kenners as te streng beskou. Maar dit maak dit juis aantreklik. Kyk na hul lys middels hier: My gunsteling is hierdie een van Wikipedia, omdat dit maklik bruikbaar is: Dit is gebaseer op hierdie meesterlys: Moet jou nie laat afsit deur al die chemiese inligting aan die begin nie. Rol dadelik af na die onderste helfte van die bladsy, waar jy inligting sal kry oor die simptome van vergiftiging, watter organe aangetas word, of dit ’n kankerwekker is of nie, en hoe jy jouself daarteen kan beskerm. Jy kan ook kyk na Hierdie lys is nie so omvattend nie maar dit gebruik maklik: Kyk ook na hierdie interessante lys. Dit lys kankers en gee dan middels wat ons reeds weet aan hierdie kankers gekoppel word. En weet jy wat dit sê? Die meeste kankers word nie veroorsaak deur vreemde chemikalieë nie maar deur rook, drank en alledaagse eetgewoontes. Maar lees gerus, want daar is ander onverwagse middels op die lys, soos droogskoonmaakmiddels, e-sigarette, nikkel en estrogeen/progesteroon. Lys van monograwe oor middels wat kanker veroorsaak Monograwe som al die navorsing oor ’n onderwerp op. Dit is taamlik tegnies geskryf maar daar is gewoonlik ’n heel verstaanbare samevatting vir ons gewone mense. Kyk hier vir ’n lys: Lees gerus hierdie monograwe: Is sojamelk veilig vir babas? ntp.niehs.nih.gov/ntp/ohat/genistein-soy/soyformula/soymonograph2010_508.pdf Is Prozac veilig? ntp.niehs.nih.gov/ntp/ohat/fluoxetine/fluoxetine_monograph.pdf Kan jou werkplek jou kanker gee? Vind hier uit watter beroepe en chemiese middels wat mense by hul werkplek gebruik aan kanker verbind word. Gaan dit veral na as jy ’n haarkapper, verwer, naeltegnikus, tandarts of werktuigkundige is, baie houtwerk doen of dikwels chemiese oplosmiddels gebruik om olie en ghries te verwyder. Lees hier: Hier is die adres vir die International Agency for Cancer Research se lyste, wat ook beroepe insluit: Kan jou werk jou ekseem en ander velkwale gee? Lees hierdie een, as jy wil weet of jou werk jou velkwale soos ekseem en infeksies kan gee: Kan jou werk probleme met menstruasie en vrugbaarheid veroorsaak? Wat as jy aan chemikalieë blootgestel is as jy swanger is? Hoe om die lyste te gebruik om middels wat kanker veroorsaak, op te spoor Kies enige bestanddeel op jou skoonheidsprodukte en tik die naam by ’n toepaslike lys in. Kyk wat dit oplewer. Baie middels sal nie op die lyste verskyn nie. Dit kan beteken dat dit nog nie nagevors is nie, of dat dit veilig is sover ons weet. Hou in gedagte: • Die meeste middels in klein hoeveelhede is veilig. Van die lyste dui die grense van veilige blootstelling aan. • Middels moet goedgekeur word voor dit in die voedsel- of skoonheidsbedryf gebruik word. Dit beteken dat heelwat navorsing gedoen is voor die middel goedgekeur is. • Nogtans kan ’n moontlike verband met kanker eers na dekades opwys. Daarom word middels oor die lang termyn ook gemonitor. • Die lyste is ’n hulpmiddel. Dit vra nogal baie leeswerk om party middels uit te sorteer.
http://www.rooirose.co.za/is-daar-middels-in-sjampoe-wat-kanker-veroorsaak/
2016-11-18 12:50:36
Wen Appletiser-geskenkpakke van R600
Appletiser is vir die eerste keer in 1966 deur Edmond Lombardi in die asemrowende Elgin Vallei in die Wes-Kaap gemaak. Oor die jare heen het Appletiser een van Suid-Afrika se mees geliefde handelsmerke geword. Dit het ook ’n gesogte drinkding tydens sosiale byeenkomste geword; daarom noem ons dit die ‘sjampanje van koeldranke’. 2016 was ’n groot jaar vir Appletiser, aangesien dié ikoniese handelsmerk vanjaar sy 50ste herdenking vier. Daarom kan 5 gelukkige rooi rose lesers elk ’n Appletiser-geskenkpak ter waarde van R600 wen. Elk van dié geskenkpakke bevat ’n shaker, muddler, stirrer en ysbak. Reëls en voorwaardes geld. Sluitdingsdatum: 5 Desember om 24:00 Vraag: Danksy wie het Appletiser 50 jaar gelede ontstaan? * Naam * Van * Kontaknommer * Posadres * E-posadres * Mag rooi rose jou van enige spesiale aanbiedinge laat weet? * Ja Nee Het jy die reëls en voorwaardes gelees? * Ja Nee
http://www.rooirose.co.za/wen-appletiser-geskenkpakke-van-r600/
2016-11-14 00:00:00
Kleur jou voorkoms in
1 Groen oë en vingerpunte Ons sê ja vir hierdie soort naelkuns! Die moderne oogomlyner word in ’n sterk, reguit lyn getrek en beslis nie met katoog-opwiplyne soos vroeër nie. Vir die nuwe Franse manikuur gebruik jy nou net ’n natuurlike kleur pleks van pienk en vervang die wit punte deur enige kleur van jou keuse. 2 Wit en goud Essie se naelkunstenaar het met hierdie wit-en-goue naels by Baja East se herfs-vertoning in New York vorendag gekom. Kyk mooi en jy sal sien dit lyk of die goue strepies die letters BE vorm om Baja East se nuwe logo te wys maar dis ook ’n mooi ontwerp wat ons inspireer om soortgelyke strepies en patrone te verf. Essie Blanc (R124,95) is die wit kleur en ’n fyn kwassie wat spesiaal vir die verf van strepies gebruik word, is in Essie Good as Gold (R124,95) gedoop om die streepwerk te doen. 3 Die vlegsel In teenstelling met die romantiese vlegsels wat elke somer te sien is, het hierdie soort vlegsel ’n sterker, meer minimalistiese voorkoms. Daarby is dit supermaklik en vin-nig om te maak. Netjiese vlegsel, rekkie en siedaar! 4 Die poniestert Hier is nog ’n maklike haarvoorkoms. Maak ’n middelpaadjie en ’n baie lae poniestert wat jy met ’n swart strikkie vasbind. Dit werk goed by ’n uitrusting met skoon lyne en ’n sportiewe gevoel.
http://www.rooirose.co.za/kleur-jou-voorkoms-in/
2016-11-02 13:21:23
Dowwe Dolla se Margit fnuik tyd
Dis vroegoggend in Proteavallei, Bellville – anderkant Kaapstad se boereworsgordyn. Die tuin voor die huis in Klipkersstraat is groen en bebos. Trixie, die tienjarige gemmerkat, sit in die sonnetjie, besig met smôrens se lyfsorg. Sy lyk soos Garfield; baie vet en baie liefderyk. Sy’t ná ’n jaar blind geword, maar is ongelooflik onafhanklik. Die babakatte, Sokkies en Nutmeg, speel voetjie-voetjie en doen gimnastiek in die boomtakke. Doppie, die driejarige skilpad, strek sy skubbe lui-lui en smul aan die gras, nog nat van oggenddou. Die lig dans in die ruim oopplanwoning met sy groot vensters en talle skuifdeure. Dis die begin van ’n nuwe dag. “Daar’s nie iets soos ’n gewone dag nie. Elke dag is anders. Daar’s geen roetine nie. Ons is ’n sirkushuis,” vertel die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck opgewek. Sy woel al van vanoggend sesuur af om die huis reg te ruk. Margit en haar man, Jurgen Human (58), ’n elektriese ingenieur en medevennoot in hul restaurantteater, Die Boer, in Durbanville, het gisteraand ’n paar vriende onthaal. “As dit regtig wild gaan, kom die restaurant tot my redding! Maar ek hou van onthaal; ook van kos maak – wanneer ek tyd kry. Dit is natuurlik helemal ’n ander storie wanneer jy kos móét maak!” Wanneer sy kos maak, dink Margit altyd aan haar ouerhuis: haar pa, Werner Albrecht Meyer-Rödenbeck, ’n Duitser wat op 19, kort ná die Tweede Wêreldoorlog, na SA geïmmigreer het, haar ma, Retha (’n nooi Rossouw) en ousus Heike. “Ek en my pa was altyd bondgenote, maar in my tienerdae was ek en my ma nie juis na aan mekaar nie. Gelukkig het ons mekaar in later jare gevind en ons het beste vriendinne geword. Ons het ’n goeie middelklaslewe gehad en het niks geskort nie tot in 2003 toe my pa se staal- en omheiningsmaatskappy gelikwideer is. Hy moes op 68 letterlik van voor af begin. Hy het ’n sukses daarvan gemaak en nou, op tagtig, werk hy nog elke dag. Dit was die hartseerste jaar in my lewe. My ma is ná ’n kankerstryd oorlede. Ek is superdankbaar vir die lesse en maniere wat sy my geleer het.” Haar ma het altyd net haar kop geskud wanneer sy hoor Margit nooi mense en wil iets nuuts probeer. Dan wou sy weet: “Wat as dit nie werk nie?” Margit se oplossing: “G’n probleem nie – ons kry maar net Kentucky!” “Kos maak is terapeuties. Ek is wel skuldig daaraan dat ek dikwels eers begin as die eerste mense aankom – en dan raak dit ’n vreeslike jollie gekuier in die kombuis. Ek eksperimenteer graag met interessante geure. Gisteraand het ek vark met Chinese speserye, waatlemoen, gemmer en bronkorsslaai gemaak – ’n resep van Errieda du Toit. Dit was njam! Ek maak wel ook ’n killer broccoli-en-aartappel-sop en ’n vreklekker bobotie.” Daar is nog ’n paar bottels van gisteraand se wyn oor. Sy klim gou die trappe af na hul wynkelder en bêre dit. “Ek en Jurg het nogal ’n redelike wynversameling hier. Ek was gisteraand baie verantwoordelik, want soms vergryp ek my aan rooiwyn,” skerts sy. “Nie aspris nie; dit gebeur soms net … ” Sy huiwer by die broodbak en vars rolletjies. “Dis my swak! En dêmmit, dan sukkel jy weer om dit af te skud.” Margit geniet sulke aandjies. “Dan kan ek ná ete board games speel! Almal spot altyd: ‘Wanneer Margit jou vir ete nooi, nooi sy jou eintlik om speletjies te kom speel en jy moet aanhou speel tot sý wen!’ Gelukkig is ek nogal goed met bordspeletjies! Ek kan dag en nag speel en moet my dwing om dit so diep moontlik weg te pak én net vir ’n bederfie uit te haal!” Sy voer gou die katte en berei Luca, hul sesjarige dogtertjie, se ontbyt en kospakkie voor. Ná sy die skoolklere stil-stil reggesit het, talm sy by Luca se bed. Luca is nog in droomland, omring deur haar sagte speelgoed en gisteraand se slaaptydstorieboekie op die bedkassie. Sy is lief vir diere, veral katte en pikkewyne. “As ons pikkewyne kon aanhou, sou ons dit seker gedoen het! Sy het al die diere op die erf se name uitgedink, dié vir haar sagte speelgoed ook. Elkeen van hulle het boonop ’n storie!” Margit is versot op dié in vitro-baba van hulle. “Tyd en ouderdom was teen my en Jurg vir ’n natuurlike swangerskap. Luca is vir seker eiesoortig. Behalwe dat sy in ’n sirkushuis grootword, is sy ’n mensie wat weet wie sy is en wat sy wil hê. Sy maak reeds op hierdie jonge ouderdom besliste keuses. “Dis ’n groot geluk dat sy leergierig en nuuskierig is en alles self wil uit-figure. Sy lees en skryf en tel en maak somme. Sy is musiekmal en speel daardie blokfluit dat my ore tuit. Dis die hele dag ’n gesing en gedans. Hoe lekker brêg ek nou! Maar kinders moet speel – die pas is deesdae so vinnig. Sy is onlangs grootskool toe. Glo my, as ek moes doen wat hulle nou in Sub A doen, sou ek weghardloop! “Ek love kinders se onbevangenheid. Daar is nog nie ’n sogenaamde korrekte manier van doen nie – jy is uniek. En iewers deur die lewe word ons in die drukgang in ’n boksie geplaas.” Ná sy na Luca se oggendbehoeftes omgesien het, is dit gimnasium toe vir ’n rukkie Margit-tyd: “Ek is nie altyd lus nie maar dis goed vir die lyf én die kop!” Dis hier waar sy haar teleurstelling en woede oor sosiale vergrype ontlaai. “Die mishandeling en verwaarlosing van die weerloses – kinders, bejaardes en diere – ontstel my. Bedelaars met babas en kinders by ’n verkeerslig maak my die bliksem in. Ek wil die ma skud en die kind wegvat. En padvarke, leuenaars, korrupsie en politici wat ons geld mors en dink ons is dom … ” Margit sê die kunstebedryf weerhou ’n mens dikwels van ’n gebalanseerde leefstyl. “Kuns en vermaak wórd jou leefwyse. As ek meer tyd vir myself gehad het, sou ek graag ánder vaardighede wou aanleer, soos pottebakkery, ’n wynkursus, sielkunde … Nou sal ek seker maar ’n produksie daaroor moet saamstel en deur my navorsing daardie vaardighede aanleer.” Margit het immers nog nooit van uitdagings weggeskram nie. Sy het al Kilimandjaro en Macchu Pichu uitgeklim. Vir persoonlike bederfies is daar lees, soms ’n bietjie TV, ’n blaaskansie op hul stoep op Pringlebaai en elke tien dae ’n gesondheidmassering, ’n mani- en pedikuur en diepreinigende velsorg. “My lyf en my stem is my gereedskap – al die spanning krop in jou spiere op en dit moet verlig word.” Modebewus is sy glad nie. “Wanneer ek nie uitgaan of my vir ’n geleentheid moet tooi nie, dra ek selde grimering. Natuurlik wil ek darem skaflik lyk, maar ek is glad nie ’n modeslaaf nie – ek verkies ’n tydlose styl en klere waarin ek gemaklik voel.” Terug by haar tuiskantoor raak Margit weer aan die administrasie waarmee sy vroeër so tussendeur die huisregrukkery begin het. Haar dagboek is vol. Daar’s die nuwe vertoning, #dowwedolla, opvoerings van die pantomime Liewe Heksie: Flower Power, die skryf en vervaardiging van die nuwe Vlooi-produksie, opvoedkundige kinderteater vir Kunstekaap, optredes as geleentheidscompère as Margit én haar alterego, onderhandelings vir ’n moontlike rolprent, en raamwerkvoorbereiding vir ’n nuwe pantomime en 2017 ’n nuwe vertoning saam met Hannes van Wyk. Tussendeur is daar ook baie stem- en radiowerk, sake-etes, teaterbesoeke én die daaglikse administrasie van die teater-restaurant, Die Boer: vergaderings met verskaffers en kunstenaars, repetisies, nóg administrasie én optredes! “Dit is hoe ’n redelike normalerige dag verloop – as ek nie op toer is nie. Só ’n dag eindig gewoonlik teen eenuur die volgende oggend. En wanneer ’n dag skeef loop, dan val die wiele af en spat die vonke, want elke dag is propvol uitdagings. As iets verkeerd loop, domino die dag en alles is laat. Ek voel dikwels aljimmers of ek op drie wiele balanseer en moet gedurig vure blus en heluit prioritiseer.” Margit het onlangs 46 geword. “Tien jaar terug sou ek miskien ’n lang lysie gehad het van wat ek graag anders sou wou hê en aan myself sou wou verander. Nie meer nie. Vroeg in die dertig het ek nie altyd gehou van die mens in die spieël nie, en ek moes hard werk om myself te leer ken én te aanvaar. Deesdae skrik ek wel as ek in die spieël kyk en sien ek is nou ’n tannie: behoede my, nooit! Luca het so twee jaar terug by die KKNK baie punte gekry toe ’n matriek-seun by een van die verkeerstange vir my sê: ‘Ry maar deur, tannie.’ Luca wou weet hoekom hy my ’n tannie noem? ‘Mamma is mos nie ’n tannie nie.’ Ek moet erken ek het nog nooit aan myself as ouer of oud gedink nie; ek voel vir altyd tussen 25 en dertig. Ek is tevrede, dankie!” Sy is hardwerkend, eerlik, lojaal en gee om vir ander. “Maar dit maak my hardkoppig, eiesinnig en ooranaliserend. Ek sukkel om nee te sê en ek maak myself moeg oor dinge wat ek nie kan verander nie. Ek kan soms heeltemal behep – selfs effens obsessief – raak as iets my pla, of as ek voel iemand is te na gekom. Dan wil ek dit onmiddellik uitpluis en dis is gewoonlik nie die regte tyd daarvoor nie. Ek worstel regtig met onregverdigheid.” Anders as haar alter ego, Dowwe Dolla, is Margit ernstiger. “Ek is selde ligsinnig; ek is nie ’n grapgat nie. Ek kan wel die humor in dinge sien en ek lag graag; deesdae té min. Ek dink ons is so gejaag en almal ly aan post-traumatiese stres. My werk is ook satiries van aard. Dikwels is ligsinnigheid net die omhulsel om die ernstige te verteer. Ek meen ons het almal ’n verantwoordelikheid om ’n beter wêreld te skep. Ons kán: met deernis, welwillend-heid – én respek: wedersyds!”
http://www.rooirose.co.za/dowwe-dolla-se-margit-fnuik-tyd/
2016-11-02 14:07:52
Sonnige somerwenke
‘Tech’-nek Jou kop en nek buig al hoe verder vorentoe wanneer jy heeldag op jou foon loop en kyk. Dit kan lei tot nek- en rugpyn en ’n nek vol plooie. “Die ‘tech’-nek of ‘verder vorentoe’-nekpostuur is ’n groot probleem – daar word bereken dat jou nek 4,5 kg swaarder moet dra vir elke 2,54 cm wat ons nekke vorentoe beweeg,” verduidelik die Kaapse chiropraktisyn dr. Tessa Gukelberger. Dit is baie belangrik om oefeninge te doen wat jou nek en rug versterk. Sy beveel dié maklike oefening aan – doen dit sommer by jou lessenaar: Kyk vorentoe en druk die palm van jou dominante hand met sowat 70% van jou krag vir 10 sekondes teen jou voorkop. Jou kop sal stabiel bly, want jou hand voorkom beweging. Doen dieselfde oefening aan die agterkant van jou kop: vleg jou vingers ineen, plaas dit agter jou kop en druk jou kop agtertoe. Doen dit drie maal per dag. Let wel: jy moet geen skerp pyne voel nie, anders doen jy iets verkeerd. Die nek se vermoë om verder vorentoe te buig veroorsaak daardie ekstra plooie waarmee ons op die nek en bors sukkel. “Die nekvel is dunner en delikater en meer geneig om te kreukel, veral omdat dit ’n herhalende beweging is wat oor ’n lang tydperk net tot meer plooie sal lei. In die stadium is ek nie bewus van enige kliniese navorsing wat op die gebied gedoen is nie,” sê ’n Kaapstadse dermatoloog, dr. Ian Webster. “Die meeste mense het ’n goeie velsorgroetine vir die gesig, maar ignoreer hul nekke,” sê Leila Marx, opleidingsbestuurder vir Estée Lauder en Tom Ford. As dit by velversorging kom, moet jy jou verbeel dat jou gesiggedeelte tot net bokant jou borste strek. Leila beveel aan dat jy twee keer per dag Estée Lauder se New Dimension Tighten + Tone Neck/Chest Treatment met die spesiale aanwender in sirkelbewegings op dié gedeelte gebruik. Sellulietstryd Ons glo nie dat enige potjie room of behandeling op sy eie selluliet heeltemal sal kan wegneem nie. Gesonde eetgewoontes (vars vrugte en groente, water en minder kafeïen en alkohol), oefening en die gebruik van rome of ander produkte en/of behandelings is jou opsie. Dis ’n goeie idee om ’n lyfskrop te gebruik, of ’n wasproduk waarmee jy jou lekker in die stort kan masseer (dis sommer goeie oefening vir die arms ook). Vryf daarna die room met ’n masseer-beweging aan jou lyf. Hoe meer jy die vel knyp en beweeg hoe beter, want dit verseker dat die gifstowwe kan ontsnap wat tussen die vetsakkies vasgevang is. Sonbruin ’n Skoolvriendin het altyd gesê sonbruinselluliet is mooier as wit selluliet! Nou weet ons almal dat kitsbruin beter as sonbruin is. Gelukkig het die meeste selfverbruiningsprodukte nie meer daardie aaklige geel kleur of slegte reuk van my hoërskooldae nie! Selfverbruining Indien jy die tegniek al goed bemeester het en sommer dadelik (of binne ’n paar uur!) wil lyk of jy ’n seevakansie agter die rug het, is dié metode ideaal: • Begin al sowat ’n week voor die tyd om jou lyf te skrop en bevogtig omdat ’n droë vel ’n streperige resultaat sal gee. • Hoe meer jy die produk meng en vryf, hoe beter is die kanse dat jy dit egalig aanwend. • ’n Gekleurde produk wend makliker aan, want dan kan jy sien waar jy te veel of te min gebruik het. • Was dadelik jou hande met warm seepwater. • Wend dit saans ná ’n bad of stort aan. Trek donkerkleurige nagklere aan en wag so ’n uur voor jy in die bed klim. • Indien die kleur op sommige plekke onegalig lyk, verwyder dit met ’n skroproom en smeer nog ’n ligte lagie aan. • ’n Getinte lyfroom sal ook help om streperigheid weg te steek. Geleidelike selfverbruining Hierdie produkte bevat ’n kleiner hoeveelheid van die bestand-deel wat kleur gee en die donkerder lyfkleur ontwikkel geleidelik. Foute is minder sigbaar en jy het meer beheer oor hoe donker of lig die resultaat moet wees. Wend dit aan soos jy selfverbruinings-produkte aanwend (nie soos lyfroom nie!) Getinte lyfroom Dis ’n goeie keuse wanneer jy ’n bietjie kleur op die lyf wil hê, maar skrikkerig vir die selfverbruiningsproses is. Die produk is soos grimering vir jou lyf en baie van die formules was ook nie af wanneer jy swem nie. Ons hou van The Body Shop Honey Bronze Drops of Sun Holiday Glow. Jy gooi net ’n druppel (of meer as jy dit donkerder wil hê) hiervan by jou gewone room (gesig of lyf) vir ’n mooi, mat sonbruinvoorkoms sonder skitterende deeltjies of ’n oranje kleur. Sonslim • Vermy die son tussen 11:00 – 16:00 • Wend sonroom altyd 30 minute voor sonblootstelling aan • 80% van sonskade word voor 18 jaar opgedoen • Dra ’n diggeweefde hoed en ’n sonbril met UV-beskerming • 7 teelepels: dis hoeveel sonskerm jy moet aansmeer • Moenie sonskerm vergeet op jou lippe, slape, bokant van kop, bokant van voete, ore en agterkant van nek nie SBF: Sonbeskermingsfaktor Hoe lank kan jy in die son wees voor jy brand? Mense met ligte velle kan dalk so 15 minute in die son wees (ander minder of meer). Vermenigvuldig dit met die SBF-getal om te weet vir hoe lank jy beskerm is. SBF 15 x 15 minute = 225 minute. SBF 30 x 15 minute = 450 minute. SBF 50 X 15 minute = 750 minute. Gebrand? • Koel af. ’n Vinnige koue stort met geen seep nie. • Bevogtig met ’n room wat geen alkohol of parfuum bevat nie en ook nie ’n oliebasis het nie. • Verminder inflammasie deur ’n anti-inflammatoriese pil soos ibuprofen of aspirien te drink. • Drink ekstra water sodat jy nie dehidreer nie. • Gaan dokter toe as jy erge waterblase het wat ontsteek, of as jy naar of duiselig voel.
http://www.rooirose.co.za/sonnige-somerwenke/
2016-11-22 15:51:20
Kristen Stewart: die meisie agter die roem
Kristen Stewart laat ’n mens aan ’n luilekkersomermiddag dink. Sy lyk effe lusteloos en haar halfmas-oë laat ’n mens sommer ook lui voel. Haar stem klink soos ’n ou motor wat nie soggens aan die gang kan kom nie. Haar woorde tuimel vinnig uit haar mond, gevolg deur ’n skielike stilte wanneer sy besef dat almal aan haar lippe hang. Dan byt sy op haar lip, laat sak haar oë en mompel en strompel deur die res van haar antwoorde. Sy staan haar plek in die kollig vol, en hou ’n mens se aandag op die silwerdoek, maar eintlik wil sy net met die omgewing saamsmelt en glad nie opvallend wees nie. Maar sy sal nooit daardie soort vrou wees nie, daarvoor is sy te mooi en te talentvol. Haar eerste hoofrol as Bella in die Twilight-reeks (2008) het al van haar ’n huishoudelike naam gemaak. Boonop het sy en haar vampierkêrel, gespeel deur Robert Pattinson, in die werklikheid ook ’n paartjie geword tot hul verhouding tot ’n einde gekom het toe intieme foto’s van haar en Rupert Sanders, die ouer en getroude regisseur van Snow White and the Huntsman, in ’n skindertydskrif was. Tienerharte wêreldwyd het in stukkies gebreek. Kristen het op die oomblik ’n verhouding met ’n vrou. Die stories oor haar stormagtige liefdeslewe laat die koerante verkoop maar daaragter skuil ’n jong meisie wat in die openbare oog moet leef, haarself probeer vind en vir meer as net haar roem bekend wil wees. Kristen was onlangs ook in Woody Allen se Cafe Society te sien. Watter eienskap van Allen het jou die meeste verras? Soos baie van my gunstelingregisseurs het hy sy eie manier van werk. Hy laat jou toe om jou rol te besit en is regtig nie besitlik oor sy fliek nie. Vir iemand wat flieks maak met so ’n kenmerkende styl was sy informele manier van werk vir my ’n verrassing. Ek het gedink hy sou meer leiding gee, hoewel hy bekend is daarvoor dat hy nie van lang gesprekke of repetisies hou nie. Die tonele in sy flieks rol by ’n mens verby, amper soos wat dit in die werklike lewe is. Dis vir my baie interessant. In die fliek het jou karakter ’n affair met haar baas. Hoe blootgestel, dink jy, is ’n jongmens wanneer jy jou in so ’n situasie bevind? Dit is vir my moeilik om my persoonlike en professionele lewe te skei. Ek het ook nie ’n kantoorwerk nie maar ek het begrip vir haar situasie – ’n verhouding kan maklik ontwikkel wanneer daar iemand by die werk is by wie jy aandag en stimulerende geselskap kry. Ek dink die twee mans in die fliek bring elkeen ’n ander kant van haar na vore. Het dit al met jou gebeur? Dink jy jou lewe sou anders verloop het? Ja. En ek dink dis natuurlik om te wonder oor wat sou gebeur het. Daar is verskillende soorte liefde – kameraadskap, intellektuele en seksuele liefde. Watter een is vir jou die belangrikste? Daar is vir seker verskillende aspekte aan die liefde en net omdat jy dit dalk nie kan identifiseer nie, beteken dit nie dis nie waardevol nie. Of net omdat dit nie konvensioneel is nie, beteken dit nie dis nie belangrik nie. Ek kry by elkeen van my vriende iets anders. Ek kan nie ’n gunsteling kies nie, want elkeen help my om ’n ander kant van myself uit te leef. Ek is anders by elke mens met wie ek in aanraking kom. Wat sou jy doen as jy vir een dag anoniem kon wees? Ek dink ek sou net wou rondloop. Ek mis dit om na inkopiesentrums toe te gaan en mense te bekyk. Nou staar hulle na my. Ek is mal daaroor om mense dop te hou en te kyk hoe hulle dinge doen. Dis hoekom ek ’n akteur geword het. Wat het jou die meeste van die rolprentbedryf verras? Ek was nege toe ek begin werk het. My ma was ’n draaiboek-konsultant en my pa ’n verhoogbestuurder. Ek het my as ’n spanlid beskou. Die hele proses en energie het my aangetrek en ek het dadelik geweet dis wat ek met my lewe wou doen. Dit was vir my verrassend dat elke molekule in my geskree het: “Ek is mal hieroor! Dis wat ek wil doen!” Hoe voel jy oor Hollywood? Is dit opbouend en inspirerend, of ’n donker, afbrekende plek om in te werk? Ek dink dit hang af van hoe jy daarna kyk. Jy kan fokus op die dinge wat saak maak en dit wat jou definieer. Baie mense is meer bekommerd oor hoe dinge lyk en hoeveel geld hulle maak. Maar dis nie al waaroor Hollywood gaan nie. Ek dink daar is heelwat mense wat nader aan mekaar wil kom deur stories te vertel en flieks te maak. Ek sien nie neer op die mense wat dit anders doen nie – ek doen dinge maar net op my manier. Waar is jy nou in jou loopbaan? Ek het gewoonlik werkontploffings en dan weer stiller tye. Ek het in een jaar in vyf flieks gespeel. Daarna wou ek ’n bietjie leeglê. Ek het toe ’n kortverhaal geskryf wat ek nou verfilm het. Ek het die regie ook gedoen. Ek kan nie sê hoe heerlik dit vir my was nie. Dit was my eerste tree in die regisseurswêreld. Ek dink nie daar is so ’n groot verskil tussen toneelspel en regie nie. Toe ek vir Jodie Foster vertel dat ek die fliek gaan maak, het sy gesê: “Die eerste ding wat jy gaan leer, is dat jy nie veel het om te leer nie. Jy is heeltemal gereed hiervoor.” Dit was ongelooflik motiverend. Hoe voel jy oor die mode? Ek het ’n liefde-haat-verhouding met mode. Wanneer ek daarvan hou, is ek mal daaroor. Wanneer dit jou laat goed voel en jou inspireer, is dit fantasties. Ek kan skoonheid waardeer, maar iets wat vir iemand anders mooi is, is nie noodwendig my smaak nie.Mode is oppervlakkig, ja, maar jy kan tog ’n dieper betekenis daaruit put as jy wil. Wat is jou grootste uitdaging? Toe ek jonger was, het die onbekende my angstig gemaak. Ek het nie daarvan gehou om nie te weet wat gaan gebeur nie. Maar ek het geleer om gemakliker daarmee te wees en eintlik hou ek nou van daardie gevoel, van daardie onsekerheid. Dis goed om nie altyd te weet wat met jou gaan gebeur nie. Ek hou daarvan om mense beter te leer ken, dis hoekom ek so baie van my werk hou. Dis die rede waarom ek elke oggend opstaan. Hoe lyk jou klerekas? Ek het deur die jare ’n paar van my Met Ball-rokke gebêre maar gewoonlik moet ons die klere teruggee. Ek het ’n hele muur wat met tekkies toegepak is. En ’n groot rak vol T-hemde. Ek het ’n klein afdeling vir Chanel, maar dis tien teen een nie indrukwekkend genoeg om enigiemand te beïndruk nie. Is jou hart al ooit gebreek? Ja, heeltemal stukkend. Ek was platgeslaan. Hoe maak jy ’n gebreekte hart weer heel? Jy sit net een voet voor die ander. Elke oomblik wat ek gevoel het of ek wil doodgaan, het my lewe verryk. Ek sal niks daarvoor verruil nie. Die slegste ding wat met jou kan gebeur, is as jy ophou om iets te voel. Die lewe is onvoorspelbaar. ’n Mens moet verantwoordelikheid vir jou eie geluk aanvaar. Dit help nie om iemand anders kwalik te neem of spyt oor iets te wees nie. Jy kan eers gelukkig saam met iemand anders wees as jy gelukkig is met jouself. Jy moenie pyn probeer vermy nie, dis goed vir jou.
http://www.rooirose.co.za/kristen-stewart-die-meisie-agter-die-roem/
2016-11-21 13:22:48
Nageboorte-depressie: toets jouself
Nageboorte-depressie is die algemeenste komplikasie van geboorte. 4 uit elke 10 ma’s ontwikkel nageboorte-depressie, met een uit elke 10 wat so ernstig depressief raak dat hulle nie goed vir hul baba kan sorg nie. Tog dink ons glad nie daaraan as ’n toestand waarop jy ná jou bevalling bedag moet wees nie. As ons dag vir dag aaklig en miserabel voel, dink ons net ons is oormoeg. Ons glo – en hoop verbete – dat ons môre beter sal voel. Of teen die naweek. Of na die naweek. Ons herken nie die diep emosionele gat waarin ons is as ’n ware vorm van depressie nie. Daarom karring ons aan, eerder as om hulp te kry. Lees ook: Sangeres Adele maak hart oop oor postnatale depressie Hoe sal jy weet jy het nageboorte-depressie? Deur op te let hoe jy emosioneel voel in die eerste ses weke na jou baba se geboorte, want nageboorte-depressie slaan dan tipies toe. Dit is nie moeilik om die simptome uit te ken nie. Voltooi ons vraelys en kyk so waar jy staan. Vraelys vir nageboorte-depressie Dink vir elke vraag terug na hoe jy tipies die afgelope vier weke gevoel het. Kies jou antwoord op grond van hoeveel dae jy so gevoel het en/of watter deel van die dag jy so gevoel het. Neem ‘meestal’ as ten minste die helfte van die tyd of die grootste deel van die tyd. 1. Het jy minder gelag as vantevore? Was die aktiwiteite wat jy gewoonlik geniet nie regtig lekker nie? Het min dinge jou gelukkig, opgewonde en ontspanne laat voel? Ja _ Nee_ 2. Het jy meestal opgesien na die dag? Het jy selde nuwe dinge aangepak? Was dit vir jou erg, angswekkend of uitputtend om jou dagtake aan te pak? Het jy te oorweldig gevoel om ekstra aktiwiteite aan te pak? Ja _ Nee_ 3. Het jy soms ‘afgeskakel’ en jou baba geïgnoreer, al huil hy/sy? Het dit vir jou soms, of selfs meestal, gevoel asof jy op ’n afstand na jou kleinding kyk – jy sien hoe oulik hy/sy is maar dit wek min emosie of vreugde by jou? Jy voel doods, afgesny, stomp? Ja _ Nee_ 4. Het jy meestal sleg geslaap? Of min geslaap? Voel jy byna heeltyd so moeg dat jy net wil slaap? Ja _ Nee_ 5. Was jy byna elke dag pootuit maar eintlik bly alles halfklaar of ongedaan? Voel jy asof jy niks gedoen kry nie? Ja _ Nee_ 6. Was jy ongewoon buierig? Het jy maklik kwaad geraak? Of was jy eerder huilerig? Ja _ Nee_ 7. Het jy meestal magteloos gevoel? Het jy byna elke dag gevoel of jy faal, nie ’n goeie ma is nie, nie ‘goed genoeg’ is nie? Ja _ Nee_ 8. Het jy meestal gevoel asof jy die heeltyd ‘aan diens’ moet wees? Het jy gevoel jy moet altyd in beheer, wakker en gereed wees vir enige babakrisis? Ja _ Nee_ 9. Was jy dikwels oorangstig? Asof jy nie kan afskakel nie? Was jy dikwels bang dat jou baba iets kan oorkom? Ja _ Nee_ 10. Blameer jy jouself as iets verkeerd loop? Voel jy soos ’n mislukking omdat jy byvoorbeeld nie kan borsvoed nie of omdat jou baba koliek het. Voel jy dus alles is jou skuld en jou verantwoordelikheid om reg te stel? Ja _ Nee_ Jou telling: het jy nageboorte-depressie? 7 of meer Ja’s Jy is ’n ma in krisis. Jy moet asseblief vandag nog ’n afspraak met jou dokter maak sodat jy professioneel geëvalueer kan word. Moenie jou gevoelens afmaak as ‘moegheid’ nie. Jy is nie ‘sleg’, ‘hopeloos’ of ‘pateties’ nie. Dit is nie jou skuld nie. Jy het niks gedoen om nageboorte-depressie te veroorsaak of te verdien nie. Jy is net uitgelewer aan jou liggaam se reaksie op swangerskap, waaroor jy geen beheer het nie. Dit is nie nodig dat jy – of jou baba – so swaar kry nie. 5-6 Ja’s Die aanpassing van ma-wees is vir jou baie stresvol. Dit is heeltemal normaal dat die eise van ’n nuwe baba ma’s vang. Moet egter nie die uitslag van jou toets onderskat nie. Dit is ’n aanduiding dat jy op pad kan wees na nageboorte-depressie, tensy jy ingryp. Jy moet beslis kyk wat jy kan doen om jou stres, dagtake en al die baba-eise beter te bestuur. Dit kan jou baie help om met ’n vertroueling – jou ma of ’n vriendin – te gesels. Jy het waarskynlik net ’n bietjie meer hulp, slaap, emosionele ondersteuning en tyd vir jouself nodig. As jou gemoed nie lig nie, gaan gesels met jou dokter. 3-4 Ja’s Jy is met tye oormoeg. Dit is normaal om soms moeg, huilerig en oorweldig te voel, of soms te wil weghardloop van al die eise. Maar jy sal ‘baba-fiks’ raak. Jy hoef jou nie oor nageboorte-depressie te bekommer nie. Jy is een van die bevoorregte 60% wat relatief maklik aanpas as nuwe ma. 1-2 Ja’s Jy is soos ’n vis in die water. Moederskap kom vir jou maklik. Geniet dit! En help gerus ’n vriendin wat swaarkry. Maar moet haar nie nog erger hopeloos laat voel deur haar die heeltyd te vertel hoe goed dit met jou gaan nie. Gee haar liewer die kans om te vertel dat sy swaarkry. Help haar besef dat nageboorte-depressie nie haar skuld is omdat sy ’n swak ma is nie. Dit het meer met haar hormone en liggaam te doen, wat ons nog steeds nie behoorlik verstaan nie. Moedig haar aan om hulp te kry.
http://www.rooirose.co.za/nageboorte-depressie-toets-jouself-2/
2016-11-03 11:09:19
Jo-Ann Strauss: deur die oë van my kinders
Jo-Ann Strauss en haar man, Michael Held, se tweede spruit is in April 2016 gebore en nes dit was met ouboet Noah, 28 maande, gaan Jo-Ann vir Hannah ook so lank moontlik borsvoed. Hier sit ons weer saam om ’n tafel, Jo-Ann Strauss en ek. Twaalf jaar later. In die Moederstad. Ons “oe” en “a” oor haar twee kinders en my twee kinders wat elkeen van ons sedertdien ryker geword het. En ons verwonder ons aan die tyd wat verloop het – hoe goed ons voel ondanks die meer as ’n dekade wat intussen verby is en ten spyte van die lewe wat sy gang gegaan het. “Nee, allermins,” sê Jo-Ann wat vanjaar 35 geword het, “ons voel so goed as gevolg van die lewe wat sy gang gegaan het!” berispe sy my. Ek dink terug aan die vorige keer toe ons saamgekuier het. Dit was in Skotland, hoeka óók vir ’n rooi rose-voorbladstorie. Ons het tien dae lank van die suide tot in die noorde gereis en kort op ons hakke was ’n klankman en ’n kameraman wat als afgeneem het vir die joernaalprogram, Pasella. Die land se groen berge en dale sal vir altyd afgeëts wees in my geheue, so ook die kleurryke mense, die eienaardige kos (jip, haggis en hawermout-met-whisky blý maar vreemd) en die absoluut ysingwekkende koue, maar nou ja, wat het ek verwag – ons het immers ook gegaan om te ski. Ons geselskap is aangevul deur 23 stukke bagasie wat saamgepiekel is van Edinburg se keisteenstraatjies tot die vlakte waar Braveheart hom afgespeel het; en van die Ballindalloch-kasteel in Grantown-on-Spey tot by Aviemore in die Hoogland waar ons toe wel geski het. Een ding wat ek nét so goed onthou soos die shortbread en lads in Skotse rompies, was Jo-Ann se onverstoorbare fokus en integriteit. Dat sy in dáárdie bibberende koue tien keer op ’n dag agter ’n bossie of doedelsak verklee het sonder om ’n enkele keer te protesteer … Dit moes haar seker voorberei het om eendag in die openbaar te kan borsvoed, of nie? Jo-Ann lag lekker. “Ek was nooit van plan om ’n boob crusader te wees nie, dis maar toevallig dat dit nou daarop neergekom het,” verduidelik sy. Jo-Ann het onlangs in haar blog oor moederskap, Modern Mommy, geskryf dat borsvoeding elke ma en babatjie se reg is, en dat die samelewing daarmee moet begin vir lief neem dat ma’s – ook in die openbaar – aan hierdie natuurlike behoefte van hul kleinding kan voorsien. Jo-Ann en haar man, Michael Held, se tweede spruit is in April gebore en nes dit was met ouboet Noah, nou 28 maande, gaan Jo-Ann vir Hannah ook so lank moontlik borsvoed, “hopelik sommer tot op twintig maande!” En dat sy ernstig daaroor is, is ’n feit. Net voor ons afspraak aanbreek, bel Jo-Ann om te hoor of sy gou ’n voeding kan inwerk sodat haar meisiekind ’n rustige middag-slapie kan inkry terwyl ons gesels. Sy vertel die skreeusnaakse storie van hoe sy een aand Top Billing aangebied het toe Noah drie maande oud was en sy gou weggeglip het om in ’n stil kamer borsmelk met haar Medela-pomp uit te melk. “Ek het sommer my woorde geleer terwyl die pomp doenig was – én vir ’n vale gekeer dat daar nie ’n druppel melk op die fancy aandrok mors nie!” Ma-wees is baie eensaam as jy voel jy kan net tuis na jou kinders se behoeftes omsien, motiveer Jo-Ann haar standpunt. In haar pleidooi op haar blog vra sy dat mense minder veroordelend is teenoor vroue wat in die openbaar borsvoed. Die reaksie daarop was oorweldigend; mense keer haar nou nog voor, “selfs op die Promenade in Seepunt wanneer ons gaan stap” om dankie te sê. Dié heupe is vir kinderskry Kyk, ek was mos nie van Dag Een af ’n ma nie. Ek en Michael is vanjaar tien jaar saam en vier daarvan getroud. Ek is baie eerlik as ek sê dat ek nie altyd aangetrokke tot kinders was nie. Maar die heel eerste kompliment wat my man my gegee het, die aand toe ons mekaar ontmoet het, was dat ek ‘perfekte heupe vir kinderskry het!’” So toe Noah twee jaar later gebore is, was Michael die een wat aan die begin doeke omgeruil en winde uitgevryf het terwyl Jo-Ann tot verhaal kom. Dit wás ’n aanpassing, sê sy. “Daardie eerste paar dae was rof. Ek moes myself behoorlik uit die bed uit sleep. En dan weer sleep om te gaan stort. Maar die allesoorweldigende gevoel om so ’n klein lewetjie teen jou te kan vasdruk en ’n soet melkasempie in jou nek te voel, het die oorgangsfase baie makliker gemaak.” Maar wat, ses dae later het Jo-Ann se vasbeslotenheid weer ingeskop en het sy haar eerste werksafspraak as ’n “ma” bygewoon – nogal ’n direksievergadering van alle dinge. Sy het haar voorgeneem sy gáán in ’n potloodrompie pas en sy gáán vir Noah saamvat. “Toe ek en my ma in die parkeerterrein stop en die stootwaentjie uit die kattebak haal, besef ons nie een van ons weet hoe op dees aarde ’n mens dié ding oopmaak nie! Daar staan ek toe in my potloodromp en hoë hakke en ek en my ma kyk ’n video op YouTube om te probeer agterkom hoe die affêre oopvou. Dit was die heel eerste en laaste keer in my lewe dat ek laat was vir ’n afspraak.” Toe Noah drie maande oud was, het Jo-Ann met haar blog begin. Sy wou nog altyd skryf en met al die gevoelens wat loskom in ’n nuwe ma, was dit die natuurlikste ding om haar mawees-stories te vertel – die werklikheid van moeilike nagte, ses uur saans se kaskenades, min roetine (in haar geval “bitter min” roetine), vyfsteraande uit wat plek moes maak vir ’n vinnige springmielies-en-fliek. Sy beproef ook allerhande babaprodukte soos karstoeltjies, borspompe, draagbare tuimeldroërs en skouerslingers waarin jy jou kleinood kan ronddra, en maak dan aanbevelings vir haar lesers. Maar Jo-Ann is Jo-Ann en sy ís darem ’n oud-Mej. Suid-Afrika, dus skryf sy ook oor mooiwees en mooimaak, want “’n mens hóéf nie die glamour by die agterdeur uit te gooi sodra jy moederstatus kry nie!” Terloops, sy wat Jo-Ann is, het ’n 5-minute-mamma-grimering-ritueel. “’n Gesonde vel, netjiese wenkbroue, ’n bietjie pienk op die wange, lipstiffie en oogomlyner. Ek kan ’n vuil doek net soveel beter hanteer as ek oog- omlyner aanhet, regtig, dit werk!” Met Hannah se koms was als makliker. Sy het selfs kans gesien om nog ’n taboe met fluweelhandskoene te takel. Toe Hannah drie maande oud was, het sy en haar klein nooientjie alleen Duitsland toe gereis vir ’n modeskou in Berlyn en om vir Hannah aan Michael se ouers in München te gaan voorstel. “Op die vliegtuig het ons langs ’n man gesit wat my daardie tipiese jy-beter-jou-baba-in-toom-hou-kyk gegee het. Ek het Hannah rustig gevoed toe ons opstyg en toe slaap sy agt ure lank. Die kwaai man, aan die ander kant, het gesnork asof sy lewe daarvan afhang.” Elke ding het sy tyd In ’n groot mate skep Jo-Ann deesdae haar eie werk sodat sy beheer oor haar tyd het. Dis lekker om so af en toe voor die kamera in te skuif vir Top Billing, en die ambassadeurswerk wat sy vir Samsung en binnekort Unicef doen, is vir haar baie stimulerend. Daar is sowaar waarheid in die spreekwoord “as mamma gelukkig is, is die kinders ook gelukkig”, meen Jo-Ann. Maar sy kan ook haar skerppunt-stilettos mooitjies neersit as dit nodig is. “Ek het die waarde van ‘nee’ geleer. Vanoggend bel iemand my en vra of ek laatmiddag Durban toe sal vlieg om ’n onderhoud met Charlize Theron te voer. Toe sê ek nee. Ek het nie melk uitgepomp nie en ek is nie voorbereid om Hannah op so ’n kort kennisgewing saam te vat nie. Klaar.” Balans, balans, benadruk Jo-Ann. “Ek sal werk van die hand wys, maar ek sal ook voor enigiemand anders in die huis opstaan om my doenlysie vir die dag te maak. Ek gee ook nie om om laataand, wanneer die kinders slaap, in my nagklere en met ’n masker op my gesig in die bed te sit en werk nie. Ek toets dan sommer my nuwe idees op Michael. Het ek jou al gesê – hy is régtig my ridder op die wit perd. Hy gee selfs nie eens om as mense hom dr. Strauss noem nie,” terg sy oor haar mediasku-man. Jo-Ann se baie, baie hegte familiebande en die manier hoe sy en Heinrich, “my broertjie”, grootgeword het, is die rede waarom sy nou ook haar eie, jong gesin styf naby haar hart hou en soveel moontlik tyd saam met hulle deurbring. “Ek en Heinrich het in ’n oorvloed van liefde grootge-word. Daar was nooit ’n oorvloed aan dinge nie, maar dié het ons nie geweet nie, want ons ouers was teenwoordig. Ek dink deesdae met soveel vertedering terug aan die kere wat ek die trein skool toe verpas het en my pa my met sy blou stasiewa – waaruit die rook sulke blou bolle trek – aangery het skool toe. Daardie stasiewa van hom het op sy eie die osoonlaag laat krimp.” Pa Johann en ma Ingrid help natuurlik nou lekker met die kleinkinders. Ingrid kyk drie dae per week na hulle by Jo-Ann-hulle se huis in Tamboerskloof. Heinrich, wat besig is met ’n meestersgraad in inligtingstegnologie, kom loer ook gereeld in. Dis daarom ook geen wonder nie dat hulle Kersfeesplanne lank terug al vasgeknoop is. Michael, ’n ortopediese chirurg, se familie woon in München, en hulle is net so ’n familievaste klomp, so Desembers is dit Duitsland toe. Maar nie voor die Strausse darem op 16 Desember ’n Somerkersfeesete saam ingekry het nie. ’n Wit Kersfees Kersfees by my skoonmense het ’n baie vaste patroon: Weihnachten word op Oukersaand gevier. Ons sing eers Kersliedere – verlede jaar kon Noah al uit volle bors ‘O Tannen-baum’ saamsing – en dan eet ons ’n tradisionele maaltyd. Daar is élke jaar Kartoffel-suppe op die spyskaart … en élke jaar ‘verbrand’ my skoonpa dit en dan moet my skoonma help om dit te ‘red’. Die verbrande sop is ook al deel van die tradisie!” Die volgende dag klim die hele Familie Held in ’n bus en ry Lenggries toe, ’n piepklein ski-dorp in Beiere waar hulle ’n ski-huisie het. Jo-Ann se skoonpa, Franz, ’n tweemalige Olimpiese medaljewenner in roei, het ’n ski-skool op Lenggries en dis by hom wat Jo-Ann ordentlik leer ski het. Selfs Noah kan al heel goed ski. “Dis ’n heerlike vooruitsig; die wete dat ons ná ’n vol jaar by familie kan gaan rustig word. Jou mense. Mense wat vir jou lief is en die pad saam met jou stap. En die lekkerste hiervan is om dit nou deur my kinders se oë te sien en ervaar.”
http://www.rooirose.co.za/jo-ann-strauss-deur-die-oe-van-my-kinders/
2016-11-22 16:06:57
Dra denim in Desember só
Donker, lig, vroulik of gewaagd. Dié klassieke denim kan hierdie Somer jou beste maat wees. Ons wys jou hoe: Versierde Denim Geen denim-item is té oud en opgedra om die trekpas te kry nie! Omskep jou denim in ’n kreatiewe uitrusting deur geborduurde blommotiewe vas te werk aan broekspype, heupsakke of romppanele. Jy kan ook “patches” of “badges” aan ’n denimbaadjie vaswerk. Dra dit saam met ’n wit t-hemp en swart broek. #rooirosewenk: Hou die res van jou uitrusting eenvoudig as jy geborduurde denims dra. Denim kortbroek met geborduurde blommotiewe (R199) Fashion Express Eenvoudig met denim Vir alledaagse dra is gemak en eenvoud van uiterste belang. ’n Moet-hê item is die hemprok. Hierdie rok kan met bonkige en kleurvolle juweliersware, ’n oorgrootte handsak of bypassende hakskoene gedra word vir daardie nie-so-informele voorkoms. Denim hemprok (Prys op aanvraag) Truworths Somerjas ’n Somerjas is een van jou beste kopies vir lente en somer. Hierdie jasse is van ligte material en nie gevoer nie. Dit is perfek vir someraande. Dit pas by alles! Jy kan dit bo-oor ’n rok, denims of kortbroek in enige kleur dra. Denim jas (R1599) Witchery Kinderspeletjies Desember skep herinneringe van see-vakansies, draairoomys en somerson. Keer terug na jou kinderdae en speel rond met prettige denim-skouerbroeke. Dra ’n skouerbroek bo-oor ’n eenvoudige wit t-hemp. Denim skouerbroek (Prys op aanvraag) Cotton On Somer-skouers Hierdie somer gee ons die koue skouer vir materiaal wat té veel vel bedek en ons omhels die somerweer. Spog met daardie goue glans en dra ’n oop-skouer denimbloes met ’n midiromp of kortbroek vir ’n gemaklike tog sensueel en vroulike voorkoms. Oop-skouer denim bloes (R375) Foschini
http://www.rooirose.co.za/dra-denim-in-desember-so/
2016-11-21 11:11:18
Rolanda & Nadia: toe tot nou
Rolanda Marais en Nadia Valvekens was kollegas by die gewilde kykNET-sepie Binnelanders. Hulle het mettertyd beste vriendinne geword. Desember 2016 is die eerste keer wat dié twee saam op ’n tydskrif-voorblad verskyn! Ons kyk terug op voorblaaie wat ons al met elkeen van hulle gedoen het. “Vriendskap is ’n baie duur, kosbare ding. En dit hoort ook so.” Nadia Valvekens Ons Rolanda- & Nadia-gunstelinge • “Enige vorm van diskriminasie maak my woedend.” Rolanda • “Ek wil beslis kinders hê, maar eers eendag, wanneer ek weet ek het regtig alles gedoen wat ek wou doen.” Nadia • “Een van my grootste ambisies is om eendag ’n ma soos my ma te wees.” Rolanda • “Deur Pippa kan ek vir ander vroue wys hartseerdinge gebeur soms, maar dat jy daardeur kan groei.” Nadia • “Ek hou daarvan om as mens te groei en nuwe goed te probeer. Maar ek hou ook van die bekendheid van roetine.” Rolanda • “’n Mens vergader mense soos skatte om jou.” Nadia • “Die lewe neem ’n mens op reise en jy moet die positiewe en negatiewe op hierdie roetes kan raaksien.” Rolanda • “Vrese is mensgemaakte goed. Jy dink soms jy sal ’n sekere ding nooit kan doen nie, maar as jy nie probeer nie, sal jy nie weet of jy kan of nie.” Nadia • “Jy moet die kuns ontwikkel om kanse raak te sien.” Rolanda • “Ek het goeie en slegte eienskappe net soos enige ander mens en ek moet dit aanvaar en leer om daarmee saam te leef.” Nadia • “Ek laat my nie deur teleurstellings onderkry nie. Natuurlik kom dit oor elkeen se pad. Maar wanneer ek oor iets huil, sorg ek dat ek uit die trane leer, al is dit net die tegniek wat ek in ’n volgende vertoning kan gebruik!” Rolanda • “Dit was deur my ma se toedoen dat ek ontdek het wat ek eendag wil word. Sy’t ons dikwels teater toe gevat.” Nadia • “Ek was van kleins af mal oor fliek. Daar is vir my magic daarin om te sien hoe ’n storielyn hom ontvou.” Rolanda • “Ek het agtergekom die mens soek na iets maar weet nie waarna nie. Dis so belangrik dat jy tyd maak om ’n bietjie soul searching te doen. Om meer tyd met jou geliefdes deur te bring.” Nadia • “Ek glo alles wat ek hierop aarde doen, het gevolge. En oor die gevolge het ek wel ’n mate van beheer deur die keuses wat ek maak. Maar dis gevaarlik om te dink ons het heeltemal beheer oor ons eie pad. Jy kry baie rigtingwysers, baie tekens. Maar ons lewe te oppervlakkig om die tekens altyd te herken.” Rolanda • “Sy is ’n mens van inbors, en aanvaar mense ondanks hul tekortkominge. Sy het die vermoë om verby die fasade te kyk en die mens daaragter raak te sien.” Rolanda oor Nadia • “Sy is eerlik, het ’n wonderlike sin vir humor en gee altyd eerder as om te vra. Sy is baie onselfsugtig, het ’n groot hart en wil net die beste vir almal hê.” Nadia oor Rolanda
http://www.rooirose.co.za/rolanda-nadia-toe-tot-nou/
2016-11-30 12:49:40
LiG-WeG gesels oor hul jongste album
Vertel ons, wie is LiG-WeG? LiG-WeG het so middel 2012 die mark betree en het ontstaan vanuit ’n begeerte om musiek te maak wat iets kan nalaat in elke persoon se hart. Ons doel is om hoop te gee en al klink dit hoe eenvoudig, is dit die boodskap van ons musiek: Hoop. LiG-WeG is ’n gospel-groep, met ’n moderne aanslag. Ons musiek is meer gemik op die jonger gehoor, maar dis darem nie so “in your face” dat ouer mense nie ook daarna kan luister nie. Ons is glad nie skaam oor ons geloof nie en tydens optredes probeer ons soveel moontlik mense bereik en herinner dat daar Hoop is. Waarom die naam, LiG-WeG? Dit sluit aan by ons boodskap: ons hoef nie in die donker rond te val nie, daar is ’n verligte weg vir ons na Hom toe. Beskryf jul musiek? Dit is ’n kombinasie tussen rock en kontemporêr, met ’n Gospel-aanslag. Hoe voel dit om ’n tweede album vry te stel? Dit is vir ons ’n groot voorreg en seën. Tydens die eerste album vind mens mos maar jou ritme en stem, maar met die tweede album het jy jou klank gevind. Vertel ons meer oor die album. Alles is ons eie, oorspronklike musiek. Dit is steeds LiG-WeG, maar daar is ’n groter verskeidenheid op die album. Soos genoem, probeer ons om vir ’n groter mark musiek te maak. Ons het einde 2015 by NEXT Music geteken en die voorreg gehad om toe by Fresh Cut Records die album op te neem. Dit het lang aande en harde werk geverg maar dis altyd die moeite werd as jy hoor hoe alles in plek val en ’n nuwe liedjie gebore word. Hoekom juis die titel, ‘Losprys’? Baie mense leef elke dag vasgevang of in ’n gevangenis van verslawing, vrees, die verlede. Maar totdat ek en jy besef ons is vry en dat die losprys betaal is, sal ons voortgaan met ’n lewe van hopeloosheid. Die boodskap van die album is dus dat ons tot die besef moet kom dat ons vry is as gevolg van Sy losprys. Wat hoop julle sal julle aanhangers van hierdie album wegneem? Hoop, eenvoudig net Hoop. Dat Iemand jou naam ken. Gaan julle met hierdie album toer? Ons tree tans soveel as moontlik op, maar ons beplan ’n groot toer vir 2017. Watter projekte wil julle in die toekoms nog doen? Ons beplan ’n DVD en nog video’s.
http://www.rooirose.co.za/lig-weg-gesels-oor-hul-jongste-album/
2016-11-03 11:25:13
Multi-maskers
Met multi-maskers takel jy verskillende probleem-area’s op jou gesig met verskillende tipe maskers. “Jou vel is die grootste orgaan, wat dit ook die mees dinamiese en veeleisendste orgaan maak,” meen wetenskaplike Dr. Judey Pretorius en mede-stigter van Bio-medical Emporium. Ons vel-selle werk nie oral dieselfde nie, en daarom benodig dit verskillende maskers vir verskillende eienskappe. “Een van die grootste redes waarom ons maskers aanwend, is om óf te neem waarvan ons velle te veel het (soos olie), óf terug te gee waarvan dit te min het (soos vog)”. 6 redes waarom ons maskaers aanwend 1. Voeding – maskers is ryk aan vitamiene en minerale Probeer hierdie: Dermalogica Multivitamin Power Recovery (R840) EcoDiva Facial Purifying Mask (R285) Exuviance Rejuvenating Treatment Masque (R372) Clarins Extra-Firming Mask (R750) SKNLogic Masque Restore with Pomegranate Extract (R109) Juliette Armand Vitality Cream Mask (R510) 2. Ontgifting en herstel – bevat bestanddele wat die kalmering en epidermale herstel aanmoedig Probeer hierdie: Freeman Charcoal & Black Sugar Mask (R92,95) Skinderm Pure Clarifying Mask (R280) Elli Face Mask (R370) Dermalogica Charcoal Resque Masque (R790) Nuxe Clarifying Cream Mask (R275) 3. Hidrasie – help om die vel se vog-inhoud reg te stel en so te hou Probeer hierdie: Bodyography Hydrating Mask (R390) Clarins HydraQuench Cream Mask (R485) Almay Problem Solution Firming Hydrating Mask (R175) Biomedical Emporium HA Contour Masque (R936) SkinPhD Gentle Mask (R245) optiphi Classic Hydra-Derm HA Masque (R615) RVBSKINLAB diego dalla palma SOS Gel Mask (R495) Dr. Hauschka Hydrating Mask (R830) Lancôme Hydra Intense Mask (R500) 4. Olie-beheer en sebum-onderdrukking – bevat bestanddele wat help om olie te stabiliseer, sebum-produksie te onderdruk en merkies te voorkom Probeer hierdie: Dermalogica Sebum Clearing Masque (R760) Clarins Pure And Radiant Mask (R435) SKNLogic Masque Clarify with Grapefruit Extract (R109) TheraVine Purifying Herbal Mask (R335) REN Clarifying and Restoring Mask (R490) Nuxe Aroma-Perfection Thermo-Active Mask (R260) 5.Afskilfering – help om dooie selle, meganies (met korreltjies), ensiem of chemikalieë te verwyder Probeer hierdie: Sensai Silky Purifying Silk Peeling Mask (R945) RVBSKINLAB diego dalla palma Purifying Clay Mask (R63) Placecol Clearing Scrub Mask (R285) Juliette Armand Exfo Line Mask (R510) Almay Problem Solution 2-in-1 Exfoliator & Polisher (R175) 6. Verheldering – bevat bestanddele wat pigmentasie en ouderdomsvlekke ligter laat lyk Kalahari Spa Enzyme Face Buff (R183) DermaFix Pumpkin Peptide Masque (R430) Kiehl's Turmeric & Cranberry Seed Energizing Radiance Masque (R485) REN Glycolactic Radiance Renewal Mask (R595) Watter masker gebruik jy waar? • T-sone Jou voorkop, neus en ken (T) is gewoontlik meer olierig en dit is ook waar jy meestal sukkel me porieë. Kies klei- en steenkool-maskers wat onsuiwerhede uittrek. Steenkool trek onsuiwerhede soos ’n magnaat uit en klei is goed om oortollige olie te absorber. Probeer hierdie: Clarins Pure Radiant Mask (R435) SH’Zen Natural Essence Rescue Clay Mask (R279 vir 75ml) Gatineau Clear & Perfect Tonimasque Mattifying Mask (R395) Almay Problem Solution Clay Mask (R175) • Wange Jou wange, veral die bo-kant, is gewoontlik die dele wat droër is, so kies ’n masker wat hier sal vog gee. Probeer hierdie: Bodyography Hydrating Mask (R390) Clarins HydraQuench Cream Mask (R485) Almay Problem Solution Firming Hydrating Mask (R175) Biomedical Emporium HA Contour Masque (R936) SkinPhD Gentle Mask (R245) optiphi Classic Hydra-Derm HA Masque (R615) RVBSKINLAB diego dalla palma SOS Gel Mask (R495) Dr. Hauschka Hydrating Mask (R830) Lancôme Hydra Intense Mask (R500) • Onder jou oë Die vel onder jou oë is baie dunner en die meeste produkte wat ons op ons gesig aanwend, kan gewoontlik nie hier aangewend word nie. Maskers wat vog gee en vel lig of sywer maak, sal hier werk. Jy sal ook hou van Die beste velsorgraad
http://www.rooirose.co.za/multi-maskers/
2016-11-28 12:27:31
Ons gesels met leefstyl-sjef Izelle Hoffman
Wat het jou liefde vir gesonde kookkuns aangewakker? Ek het die voorreg gehad om op ’n plaas groot te word met ouers wat lief is vir kook. Vir my is kos baie meer as net voeding. Dit beïnvloed jou hele wese as mens mooi daaroor dink. Dit kan jou gesondheid bepaal, jou lewenskwaliteit beïnvloed en ook as ’n medium van liefde gesien word. Vir my het ’n lekker bord kos en ’n opregde drukkie dieselfde uitwerking! So, hoekom dit nie ’n gesonde drukkie maak wat ’n goeie uitwerking op jou liggaam het nie? Wat is jou raad aan diegene wat ’n gesonder eetstyl wil aanneem? My grootste droom is dat ek mense se persepsie van kos kan verander. As jy weet wat op jou bord is, en ook weet watter uitwerking dit op jou gesondeid het, sal mens twee keer dink voor jy sommer enigiets in jou mond prop. Gesondheid is seker een van die duursaamste en waardevolse bates wat enigiemand kan besit, so hoekom dit belemmer deur nie na jouself te kyk nie? Ek moedig almal aan om labels te begin lees, as jy nie die bestanddeel daarop kan uitspreek nie, hoe kan jy dan aanneem dit is goed vir jou? My voorstel is dat mense soveel as moontlik “Whole Foods” begin eet. Koop items wat ’n paar basiese bestanddele bevat, en maak seker jy weet wat elkeen is. Ek glo as mens dit kan toepas, gee jy reeds ’n stap in die regte rigting. Wat is jou gunstelingresep? Jong, ek is maar stout vir ’n soethappie! Maar daar is altyd plek vir lekker sout ook. Een van my gunstelingresepte is my hoendersosaties. Mens kan die marinade vir enige hoenderdis gebruik en die ander bestanddele gaan net so lekker saam, maak nie saak watter snit hoender jy wil voorberei nie. Selfs ’n heel hoender in die oond vir ’n familie-ete is ’n wenserep. Klik hier vir Izelle se lekker pynappel-en-rooi-soetrissie hoendersosaties-resep Kan mens steeds ’n soetding geniet, al volg jy ’n gesonde eetstyl? Watter gesonde soetgoed stel jy voor? Natuurlik kan mens! Om gesond te wees beteken nie jy moet vir die res van jou lewe jouself straf met smaaklose gestoomde kos sonder enige soethappie nie. Ek het ’n hele reeks resepte wat ek gereeld bak, van soetpatat-bruintjies tot piesangbrood! “’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees” Watter bestanddeel is altyd in jou koskas? Jong … Verseker heuning! Ek maak slegs van rou heuning gebruik, en gebruik dit in die meeste disse –van soet tot sout. Die rede hiervoor is omdat heuning ’n baie doeltreffende geneesmiddel vir allerlei kwale is. Dit het minstens geen newe-effekte nie, behalwe dat dit jou soettand verder kan bederf. Volgens wetenskaplikes is dit nie eens nadelig vir diabetes-pasïente nie, mits dit in die regte hoeveelhede en vorm (rou) as medikasie geneem word. Jy het onlangs ’n kookklas saam met Fuji Film en Zomato aangebied. Vertel ons meer daarvan. Ek is erg opgewonde oor hierdie reeks kookklasse. Ons berei vyf disse voor waarvan die hoendersosaties een is. Ek verduidelik ook hoekom ek sekere bestanddele gebruik, sowel as wat die gesondheidsvoordele van hierdie bestanddele is. Na ons gebak en gebrou het, neem Nextgen-fotografie oor om vir almal te verduidelik hoe mens die regte kosfoto’s neem en leer ons ’n paar beginsels wat sal verseker dat ons altyd ons beste voetjie voorsit voor ons ’n kosfoto op sosiale media deel! Dit is dan waar Zomato inkom (’n media platvorm waar jy ’n indeks van restaurante kan kry, mense se ondervindings van die restaurante kan lees sowel as foto’s van die disse en spyskaart kan beloer). Is daar enige ander kookklasse wat jy gaan aanbied? Ek het nog ses Fujifilm-klasse vir 2017 beplan en die datums sal vroeg volgende jaar beskikbaar wees. Lesers kan gerus boek en saam met ons kom bak en brou en ’n koppie koffie geniet. Met Kersfees om die draai kan baie mense hul gesonde eetgewoontes opsy sit. Het jy enige raad vir diegene wat dit moeilik vind om tydens die feestyd gesond te eet? Dit is maar altyd moeilik om jou nie aan al die lekkernye te vergryp nie. Maar wat ek voorstel, is dat jy neute en gedroogde vrugte, sowel as vars vrugte, deelmaak van die versnapperinge. Mens kry die lekkerst vrugte en neute, so jy gaan glad nie uitgesluit voel wat lekker-eet betref nie, en ten miste is dit gesonde kalorieë. As daar vir die Kerstafel disse voorberei word, maak seker dat gesonde slaaie en groentes al die ander lekkernye uitbalanseer. Op hierdie manier is jy reeds ’n stap beter af as wat jy andersins sou gewees het. En onthou om daardie labels te lees en soveel as moontlik van “Whole foods” gebruik te maak. Wat hou 2017 vir jou in? Ek is bitter opgewonde oor wat die nuwe jaar mag inhou, met God se genade kan ek my droom uitleef en mense se persepsie van kos verander.
http://www.rooirose.co.za/ons-gesels-met-leefstyl-sjef-izelle-hoffman/
2016-11-21 14:41:09
Design Trunk-ontwerpskou
Die skou volg op die sukses van die vorige Designer Trunk Show’s deur Anna Raimondo, die ontwerper van SMITH Juweliersware. Dit is haar derde ontwerperskou. Die huidige skou se tema is The Memphis Edition en is geïnspireer deur die Memphis-groep wat onder leiding van Ettore Sottsas in die 1980’s kleurvolle, geometriese style bekend gemaak het. Elke ontwerper wat aan die skou deelneem, sal ontwerpe vertoon wat by die tema aanpas. ’n Verskeidenheid produkte insluitend geweefde mandjies, swemklere vir kinders, skoonheidsprodukte, onderklere, beeldhouwerk, kuns, huishoudelike bykomstighede, mode-items, jenewer, keramiek en juweliersware sal te sien wees. Kopers sal bederf word met drinkgoed van Grand Provence en snoephappies. Die Designer Trunk Show sal op 14 Desember 2016 by 6 Spin-straat in Kaapstad tussen 18:00 en 21:00 plaasvind. Toegang is gratis. Vir meer inligting besoek die Facebookblad of die webblad hier. Ontwerpers wat deelneem Angels & Earth Hul geometriese glashouers is nie net visueel ’n treffer nie, maar is ook funksioneel. Die glashouers verseker ’n konstante balans van temperatuur en humiditeit. FEAT. sock co Hulle maak sokkies van hoë gehalte wat stories vertel en pret geskenke is. Keri Muller Haar besigheid, Simple Romance, is die tuiste vir haar wye verskeidenheid produkte en kunswerke. Haar bekendste werk is gemaak van herwinde boeke. Facets Is ’n vennootskap tussen Anna Raimondo (SMITH Juweliersware) en Keri Muller (Simple Romance) en is gebaseer op hul uitstalling vroeër vanjaar. Hul werke is gemaak van materiale soos koper en semi-edelgesteentes. Ash Ceramics Hulle fokus op ’n hoë gehalte huisware met ’n kontemporêre invloed. Ontwerpe is geïnspireer deur die moderne kleurvolle Kaapstad en vorms word beïnvloed deur minimalistiese Skandinawië. Elke keramiekstuk bring die eeue-oue tradisie van pottebakkery en kontemporêre ontwerp saam. Apotments Dit is ’n samewerking tussen Fabrica Creative Consultancy en Ash keramiek. Die potte boots die hoë geboue na en die ontwerpe op die potte herhaal die vensters en fasades van die stadsbeeld. Edition 1 Hulle fokus op ongewone patroonontwerpe. Foto’s word uitgesny, gemanipuleer en saamgestel en gedruk op katoen. Henriette Botha Haar bykomstighede en juwele word beïnvloed deur haar vrye denke en is nie deur die mode geïnspireer nie. Sy volg ’n nuwe benadering tot tradisionele handwerk met internasionale standaarde. Clementina keramiek Clementina van der Walt is ’n bekende Suid-Afrikaanse ateljee-pottebakker, gebaseer in Kaapstad. Haar werk is verteenwoordig in verskeie internasionale en Suid-Afrikaanse versamelings. Lorne Dié juwele is ’n kombinasie van abstrakte ontwerpe met alledaagse funksionaliteit. Dit is ’n mengsel van fantastiese ontwerp en spontaneïteit. Temple of Reason Dit is ’n Kaapstad-gebaseerde ontwerp-etiket en het items wat gereed is om te dra. Elke versameling is geskep as ’n beperkte uitgawe en ’n persentasie van die wins gaan aan ’n liefdadigheidsorganisasie van jou keuse. I Speak Gayle Die werk ondersteun die plaaslike tekstielindustrie en is gebaseer op Gayle-taal van ons Koninginne van die 60’s. SMITH Juweliersware Anna Raimondo se ontwerpe is geïnspireer deur haar reise, die mense wat sy ontmoet en die natuurlike omgewing rondom haar. Sy skep juwele wat ’n storie vertel, wat uniek is en dat sy wil haarself dra. Elke stuk is met die hand gemaak.
http://www.rooirose.co.za/design-trunk-ontwerpskou/
2016-11-24 13:41:40
Gesonde somerdrankies
Bosbessie-koeldrank Berei genoeg bosbessie-koeldrank voor. Voeg ’n paar vars organiese bosbessies by en versier met kruisement. Persketee Maak ’n liter koue vonkelwater en geur met die perske ystee-mengsel. Voeg ’n paar druppels suurlemoensap en ’n kaneelstokkie by. Roer en laat vir ’n paar minute staan. Garneer met blokkies perske en bedien. Aarbei-en-kruisement-water Gebruik jou SodaStream om ’n glas vars, vonkelwater te maak en giet dit in ’n lang glas. Sny drie aarbeie in die helfte en voeg by. Was die kruisementblare en voeg ’n paar daarvan by die drankie. Laat staan vir ’n paar minute sodat die water die smaak van die kruisement en aarbeie absorbeer. Vir meer inligting en resepte besoek sodastream.co.za Jy kan ook SodaStream-geskenkpakke van nagenoeg R4 000 WEN! Klik hier vir meer besonderhede.
http://www.rooirose.co.za/gesonde-somerdrankies/
2016-11-20 22:00:02
WEN dubbelkaartjies na die 'Jonathan'-premier
Suid-Afrika is behoorlik aan die gons oor die langverwagte komedie, Jonathan, wat op 2 Desember landswyd vrygestel gaan word. Dié rolprent is geïnspireer deur die gewilde Internet-sensasie Radioraps met Rikus de Beer as die befaamde Jonathan in die hoofrol. Ander bekendes in die rolverdeling sluit in: Anel Alexander, Jacques Bessenger, Frank Opperman en Lizz Meiring. Jonathan vertel die storie van ’n jong man wat sy voete moet vind nadat hy sy ouerhuis verlaat. Dit is egter veel makliker gesê as gedaan, veral as ’n beeldskone meisie ter sprake is… Wil jy een van die eerstes wees wat Jonathan op die silwerskerm sien? Beantwoord ons maklike vraag en voltooi die onderstaande vorm en staan ’n kans om een van vyf dubbelkaartjies na die Jonathan-premier te wen! Wanneer: Maandag, 14 November Waar: Ster-Kinekor, Rosebank Mall Tyd: 19:00 Reëls en voorwaardes geld. Sluitingsdatum: 10 November 2016 om 24:00 VRAAG: In watter Internet-storiereeks vertolk Rikus de Beer die hoofrol? * Naam * Van * Kontaknommer * E-posadres * Ek het die kompetisiereëls en -voorwaardes gelees. * Ja Nee Mag rooi rose jou van enige spesiale aanbiedinge laat weet? * Ja Nee
http://www.rooirose.co.za/wen-dubbelkaartjies-na-die-jonathan-premier/
2016-11-03 22:28:23
Glansryke goue tafelversierings
Wenke • Goud is groot nuus en hier om te bly. Dit is veral gewild vir feestelike tafels, maar kan ook verder in jou dekor verskyn. Sommige mense voel dat goud te pretensieus en oordadig is. Dit hang alles af van hoe subtiel jy dit implementeer. • Goud is tydloos, ryk, avontuurlustig en klassiek. Dit simboliseer rykdom, glans en weelde. Dit is deel van die glansmense en die koninklikes se tuistes en tafels. • Met Kersfees om die draai het ons gaan loer na die mooiste goue elemente om jou tafel ’n koninklike flair te gee. Onthou net – selfs met ’n klassieke kleur soos goud is minder meer. Gebruik wit as basis en kleur dit in met goue elemente. Bakkie (R359) Zara Home Verona-bakkie (R170) Woolworths Bord (R129) @Home Lustre wynglas (R79.95) Woolworths Bakkies (R249 vir 4) Superbalist Tafeldoek (R1 029) Zara Home Muur gemonteerde teeliggie-houer (R159) Weylandts Sout-en-peper potjies (R99) van @Home Bekers (R249 vir 2) Superbalist Teeliggie-houer (R225) Weylandts Messestel (R129) Zara Home Verskaffers Zara Home: 010 020 -2837 Superbalist: www.superbalist.com @Home: 0860 576 576 Woolworths: 0860 022 002
http://www.rooirose.co.za/glansryke-goue-tafelversierings/
2016-10-08 00:00:00
Is jy uitgebrand?
“Daar is verskeie faktore wat tot uitbranding kan lei. Dit lyk of die werkplek die sleutel van uitbranding is,” sê dr Anthony Koller, spesialis psigiater by die Akeso Psigiatriese Kliniek Groep. “Mense wat onder druk, en met ander mense werk het ’n hoë risiko. Interpersoonlike verhoudings is dikwels intens en emosionele stressors.” Daar is ander werk-verwante veranderlikes wat verband hou met uitbranding, soos ’n baie groot werklading en lang ure. Moeilik of gespanne verhoudings met kollegas kan ook bydra. Die persoonlike eienskappe van die werknemer en die aard van sy persoonlike verhoudings speel ook ’n rol. Dit is nie net stressors by die werk wat tot uitbranding lei nie. Dit hang af in watter stadium van uitbranding die werker self is. Simptome Die klassieke simptome van uitbranding sluit in emosionele uitputting, sinisme en verminderde persoonlike vervulling. “Emosionele uitputting vind plaas as al jou emosionele reserwes uitgeput is en jy voel jy kan niks meer gee nie. Dit lei tot ’n gevoel van intense geestelike en fisiese moegheid. Sinisme verwys na die onverwags harde, emosielose en onverskillige wyse waarop ’n persoon met uitbranding begin om hul kliënte en/of geliefdes te behandel. Verlaagde persoonlike vervulling ontwikkel uiteindelik in die uitgebrande persoon en hy begin onbevoegd, ontoereikend en oneffektief voel om sy werk te doen,” sê dr Koller. Effekte ’n Werknemer sal van nature probeer om sy situasie te verander en die eise van die werksomgewing kan hom emosioneel en fisiek uitbrand. “Iemand met ’n groot werklading sal langer ure werk. Dit kan lei tot minder tyd vir fisiese oefening, om gesonde eetgewoontes te beoefen, om genoeg te slaap, om aan chroniese gesondheidstoestande aandag te gee, om aan verhoudings aandag te gee en dit kan ook lei tot misbruik van middels soos voorskrif-medikasie. Al hierdie dinge breek stadig die belangrike reserwes van die individu af en hy kan nie meer ’n gesonde geestelike toestand handhaaf nie. ” Beroepe Uitbranding kom die hoogste voor by werkers in gesondheidsorg, mense wat ’n versorging-rol vervul, asook mense in onderrig. “In dié beroepe is daar voortdurende emosioneel veeleisende interaksie met ander mense. Maar uitbranding kan ook voorkom in ander beroepe. Vyf beroepsektore wat ’n hoër risiko inhou, is onderrig, maatskaplike dienste, mediese- en geestesgesondheid en wetstoepassing, meen hy. SA statistieke “Dit is moeilik om die presiese getalle van uitbranding onder Suid-Afrikaanse professionele werkers vas te stel. Maar data van die gesondheidsorg-sektor dui aan die aantal Suid-Afrikaanse dokters wat aan uitbranding ly, is soortgelyk, en in baie gevalle erger, as hul mediese kollegas in die buiteland. Behandeling “Voorkoming is beter as genesing,” beklemtoon dr Koller. Baie maatskappye, korporasies, hospitale en skole besef nou dat die werksomgewing wat hulle vir die werknemer skep, uitbranding kan voorkom. Dit is in hul eie ekonomiese belang om hul werksmag gelukkig te behou. ’n Positiewe werksomgewing bevorder werknemers se werk-lewe-balans. Werkers met eindstadium-uitbranding moet mediese hulp soek. Dit kan soortgelyk wees aan erge depressie en ’n kombinasie van medikasie, psigoterapie en rus sal nodig wees. Herstel en terugval Behoorlike mediese behandeling is nodig, maar die herstel hang af van die gevorderdheid van die uitbranding. Uitbranding is ’n waarskuwingsteken dat daar ’n gebrek is aan balans tussen ’n mens se werksomgewing en jouself. Ongelukkig keer werkers baie keer terug na dieselfde werksomgewing en kan uitbranding weer voorkom. Soms is ’n loopbaanverandering nodig as jou werksomgewing jou benadeel, sê hy. Wenke om dit te bestuur / om uitbranding te voorkom • Maak seker jy slaap genoeg. • Maak tyd vir gereelde kardiovaskulêre en gewigdraende oefening. • Eet gereeld gesonde maaltye. • Bestee tyd saam met geliefdes en kweek lonende vriendskappe. • Moenie skaam wees om te erken wanneer dinge te moeilik geword het vir jou om te hanteer nie en vra vir hulp, vroeër eerder as later.
http://www.rooirose.co.za/is-jy-uitgebrand/
2016-11-24 12:44:51
Wen SodaStream-geskenkpakke van R3 000
Diegene wat in die 70’s en 80’s grootgeword het, sal die SodaStream onthou. Nou kry hierdie staatmaker ’n nuwerwetse, elegante voorkoms en spog ook met ’n nuwe reeks geure. Die nuwe geure bied veel meer as die gewone kola en ander klassieke geure. Jy kan nou skemerkelkies en drankies meng met geure soos pomelo, mango, bosbessie en kiwi. Moderne verbruikers is meer gesondheidsbewus en let op hul suiker-inname. Die goeie nuus is dat die nuwe reeks geure net ’n derde van die suiker bevat van konvensionele gaskoeldrank. Daar is ook ’n reeks natuurlike geure wat geen kunsmatige kleurmiddels, geure, preserveermiddels of versoeters bevat nie. Die beste deel is dat jou gesin heerlike drankies teen R3,33 per liter kan geniet. Klik hier vir drie lekker resepte wat jy met SodaStream kan maak. Vir meer inligting en resepte besoek SodaStream se webblad hier. Besoek ook Facebook | Twitter | Instagram Jy kan een van drie SodaStream-geskenkpakke ter waarde van R1 000 elk wen! Voltooi die onderstaande vorm en jy kan een van die gelukkige wenners wees. Sluitdatum: 4 Desember 2016 Bepalings en voorwaardes geld. Wen SodaStream-geskenkpakke Naam * Van * Kontaknommer * E-posadres * Adres * Ek het die kompetisiereëls en -voorwaardes gelees en verstaan * Ja Mag rooi rose jou laat weet van enige spesiale aanbiedinge en nuus? * Ja Nee
http://www.rooirose.co.za/wen-sodastream-geskenkpakke-van-r3-000/
2016-11-21 05:00:45
Somer 2016: swembroeke
’n Paar dinge om te onthou wanneer jy ’n swembroek kies • Ken jou lyf. Kies ’n swembroek wat jou pluspunte uitlig en die minder aantreklike dele wegsteek. Maar, moenie net vasstaar aan hoe die swembroek dra nie, dit moet ook by jou persoonlikheid pas. • Regte broekies is belangrik. ’n Groter broekie is nie noodwendig meer vleiend nie, partykeer is kleiner wel beter. Pas verskeie groottes aan en kyk wat lyk die beste. ’n Hooggesnyde broekie laat jou bene langer lyk. • Beklemtoon jou beste dele met helder kleure of patrone en steek dit waarvan jy nie hou nie met soliede kleure weg. Moenie bang wees om verskillende broekies en toppies te koop nie, baie winkels verkoop dit apart. • Dra ’n toppie met valle of ekstra ondersteuning as jy jou borste groter wil laat lyk, en om jou heupe uit te balanseer. • ’n 1940’s-styl retro-broekie met ’n hoë middel is nie noodwendig die vleiendste nie, maar as die broekie knap sit, kan dit ’n magie in toom hou. Dit is ook gemakliker as wat jy dink. • ’n Bandeau-toppie sal jou borsgedeelte wyer laat lyk. Indien jy ’n peervorm is, is hierdie tipe toppie met valle heel moontlik die een vir jou. • ’n Toppie met dik bande werk weer goed vir iemand met groot borste. ’n Dikker band aan die onderkant van die bikini sal ook jou borste in plek hou. Ons gunstelingstyle vir 2016 Eilandstyl Eenstuk (R995) Piha Tweestuk (R2165) Vibrequin Tweestuk bo-deel (R229) H&M Tweestuk onder-deel (R229) H&M Eenstuk (R4199) Jets Tweestuk bo-deel (R229) H&M Tweestuk onder-deel (R149) H&M Basies mooi Swart eenstuk (Prys op aanvraag) Miracle Suit Witchery Eenstuk (Prys op aanvraag) Woolworths Tweestuk bo-deel (R229) H&M Tweestuk onder-deel (R149) H&M Tweestuk bo-deel (R250) Foschini Tweestuk onder-deel (R250) Foschini Kleurvol Blou eenstuk (R3350) Miracle Suit Lig blou tweestuk onder-deel (Prys op aanvraag) Billabong Lig blou tweestuk bo-deel (Prys op aanvraag) Billabong Rooi eenstuk met frille (R480) Foschini Koraal eenstuk (Prys op aanvraag) Seafolly Oranje tweestuk (Prys op aanvraag) Seafolly Aktief Eenstuk (R895) Piha Witchery swart eenstuk (Prys op aanvraag) Woolworths Lig blou tweestuk (Bo-deel R895, Onder-deel R695) Moontide Koraal Tweestuk bo-deel (R229) H&M Koraal Tweestuk onder-deel (R149) H&M Strepe Gestreepte tweestuk (Bo-deel R1195, Onder-deel R695) Moontide Gestreepte tweestuk (Prys op aanvraag) Billabong Swart en wit eenstuk (R499) Cotton On Lig blou Tweestuk bo-deel (R229) H&M Lig blou Tweestuk onder-deel (R149) H&M Tweestuk bo-deel (R499) Cotton On Swart tweestuk onder-deel (R224) Cotton On
http://www.rooirose.co.za/somer-2016-swembroeke/
2016-11-03 06:00:10
Wen ’n 1 van 3 Chemico-geskenkpakke
~ Huisskoonmaak is ’n taak wat ons maar al te goed ken. Tog is dit iets waarop ons onsself trotseer en daarom is dit noodsaaklik dat dit reg gedoen word. Met Chemico sal jy dit beslis regkry! Skryf in en jy kan een van drie Chemico-geskenkpakke wen.
http://www.rooirose.co.za/wen-n-1-van-3-chemico-geskenkpakke/
2016-11-21 09:33:30
Somertert
Genoeg vir 6 Deeg • 50 g klapperolie • 80 ml (⅓ k) water • 210 g speltmeel • 2,5 ml (½ t) sout • hand vol kruie, fyn gekap Tert • 250 g kersietamaties • 4 klein soetrissies, in die lengte deurgesny en ontpit • 30 ml (2 e) olyfolie • 2 groot murgpampoene, met ’n groenteskiller in linte gesny • 250 g ricotta Hempsaad-en-basiliekruid-pesto • 2 groot hande vol basiliekruid • 125 ml (½ k) hempsaad, fyn gemaal • 2 knoffelhuisies, gekap • 125 ml (½ k) olyfolie • 60 g parmesaan, gerasper Voorverhit die oond tot 200 °C. 1 Pak die kersietamaties en soetrissies op ’n oondpan. Gooi 15 ml olyfolie oor en strooi seesoutvlokkies oor. 2 Rooster vir 20-25 min. of tot die tamaties sag is en oopbars. 3 Meng die oorblywende olyfolie deur die murgpampoenlinte. 4 Verhit ’n riffelpan oor hoë hitte. 5 Skroei-rooster die linte vir 2 min. aan elke kant in ’n voorafverhitte, baie warm riffelpan, of tot riffelmerke verskyn. Deeg 6 Bring die klapperolie en water in ’n kastrol tot kookpunt. Trek van die hitte af. 7 Meng die speltmeel, sout en kruie in ’n groot mengbak. Voeg die watermengsel by en roer tot ’n deeg vorm. 8 Knie tot die deeg heeltemal sag is. 9 Rol die deeg tussen 2 lae bakpapier uit tot 1 cm dik. 10 Haal die boonste laag bakpapier af en lig die deeg met bakpapier en al op ’n bakplaat. Bak vir 15 min. of tot liggoud en effens bros. 11 Pak die groente en ricotta op die halfgaardeeg. 12 Bak vir nog 15-20 min. tot goudkleurig. Basiliekruidpesto Maak dit terwyl die tert bak. 14 verwerk die basiliekruid, hempsaad en knoffelhuisies in die voedselverwerker tot glad en deurgemeng. 15 Hou die masjien aan. Hou die olie ’n entjie bokant die bak en voeg stadig by tot die pesto goed gemeng is. 16 Roer die parmesaan by en geur met sout. 17 Skep lepels vol van die basiliepesto op die tert net voor jy dit voorsit.
http://www.rooirose.co.za/somertert/
2016-11-02 13:29:03
Zoë Brown & Lynelle Kenned se grimeerwenke
Zoë Brown Die sprankelende Zoë Brown is in 2015 as 2de prinses in die Mej. Tiener Suid-Afrika-kompetisie gekroon. Haar radio-loopbaan het in 2012 op Stellenbosch begin toe sy as radio-aanbieder by MFM gewerk het terwyl sy by die Universiteit van Stellenbosch studeer het. Daarna het sy in 2014 by KFM in Kaapstad aangesluit. Sy het haar loopbaan voor die kamera begin deur in 2015 deel te neem aan die soektog vir aanbieders op die gewilde Expresso Show, waar sy ook een van die wenners was. Wat is jou wenke vir vinnige grimering? As jy nie genoeg tyd het om jou grimering deeglik aan te wend nie, gebruik eerder minder grimering. Moet nooit jou grimering oorhaastig aanwend nie. Ek gebruik ’n bietjie poeier om my vel minder blink te laat lyk. Ek gebruik ook altyd ’n blosser op my wange, maskara asook ’n helder of neutrale lipstiffie. Wat is jou wenke vir uitgaan-grimering? Dit is baie belangrik om gemaklik te voel wanneer jy grimering dra. Ek verkies ’n natuurlike voorkoms met helder lipstiffie en hou nie daarvan om baie of swaar grimering te dra nie. Ek dra ook altyd ’n goeie gesigpoeier in my handsak. Watter skoonheidsproduk/grimeerproduk is altyd in jou handsak? My MAC-poeier en lipstiffie. Ek hou ook altyd Elizabeth Arden se Eight Hour Cream byderhand. Jy verskyn baie voor die kamera en moet daarom baie grimering dra. Hoe hou jy jou vel mooi en gehidreer? Die oomblik wat ek klaar is voor die kamera, vee ek die meeste van my grimering af. Ek maak seker ek gebruik ’n goeie gehalte onderlaag en reinig my gesig deeglik in die aande. Ek wend dan ook ’n goeie nag-serum aan. By wie het jy jou eerste grimeerwenk geleer? Ek het die meeste van my grimeerwenke by my ma geleer. As kind was ek altyd gaande daaroor om my ma dop te hou wanneer sy haarself gegrimeer het. Haar nommer een reël was dat jy nooit met grimering aan mag gaan slaap nie. Lynelle Kenned Lynelle Kenned is ’n sopraan opera-sangeres en was al in verskeie teaters te sien, onder meer die Artscape-, Staat- en Baxtor-teater. In 2012 was sy die naaswenner in die aanbieder-soektog vir die televisieprogram Top Billing. Sy is tans op die kassie te sien as aanbieder vir Pasella. In 2013 het sy haar debuut as aktrise gemaak toe sy in die David Kramer Blood Brothers musikale produksie te sien was. Sy het ook al die verhoog gedeel met bekendes soos Katherine Jenkins. Wat is jou wenke vir vinnige grimering? Om vinnige grimering aan te wend is soos om ’n pizza te maak. As jou basis nie goed is nie, help dit nie jy gebruik goeie vulsels vir die bolaag nie. Die pizza gaan eenvoudig nie lekker smaak nie. Dit is belangrik dat jy tyd spandeer om goeie ’n bevogtiger, voorbereidingslagie, verbloemer en onderlaag aan te wend. Gebruik dan daarna ’n goeie poeier wat die grimering langer sal laat hou. Ek wend ook ’n verbronsingspoeier aan om ’n bietjie kleur aan my wange te gee, en ek gebruik maskara en lipstiffie. Ek moet ook ’n wenkbroujel gebruik om my woeste wenkbroue in toom te hou. Hoe meer jy jou grimeerroetine herhaal, hoe vinniger sal jy dit begin regkry. Ek kan my grimering lettrlik in 5 minute aanwend. Wat is jou wenke vir uitgaan-grimering? Kies ’n gelaatstrek wat jy wil beklemtoon en wees subtiel met die res van jou voorkoms, soos byvoorbeeld jou oë en lippe. My hare is reeds ’n fokuspunt, so as ek my oë en lippe ook nog helder gaan grimeer en beklemtoon, gaan ek soos ’n hanswors lyk. Sorg dat jou vel gloeiend lyk deur ’n beklemtoningsproduk en verbronsingpoeier te gebruik. Onthou: jou wenkbroue raam jou gesig, so vorm dit sodat dit by die vorm van jou gesig pas en gebruik ’n wenkbroujel om dit in plek te hou. Wanneer ek kleur op my lippe dra, verkies ek ’n mat tekstuur. Verkies jy natuurlike grimering of hou jy van ’n dramatiese voorkoms? Ek verkies ’n alledaagse, meer natuurlik voorkoms. Maar as ek grimering vir optredes aanwend, is ek meer waaghalsig! Ek verkies ook dan iets meer weeghalsig as rooi vir my lippe – ek hou van ’n persbruin, of oranje-kleur. Watter skoonheidsproduk/grimeerproduk is altyd in jou handsak? Poeier-onderlaag. My vel is geneig om te blink, so dit help om die blink op my vel te verbloem. Jy verskyn baie voor die kamera en moet daarom baie grimering dra. Hoe hou jy jou vel mooi en gehidreer? ’n Goeie bevogtiger met ’n hoë SBF-faktor is noodsaaklik. Drink baie water en moet nooit met grimering aan gaan slaap nie! Probeer ook om ten minste een keer ’n week ’n masker te dra wat jou vel bevogtig. Waar en by wie het jy jou eerste grimeerwenk geleer? Ek dink elke meisie leer maar aanvanklik by haar ma, en dan by vriendinne en in tydskrifte. Ek het by die operaskool geleer hoe om grimering aan te wend wat werk vir die verhoog, maar daardie grimering is weer te swaar om voor die kamera te dra. Jou grimeerkunstenaar sal altyd vir jou die beste wenke kan gee. Moenie skaam wees om te vra indien jy hulp nodig het nie. Vind uit wat vir jou gesigvorm werk en speel dan ’n bietjie rond met jou grimering.
http://www.rooirose.co.za/zoe-brown-lynelle-kenned-se-grimeerwenke/
2016-11-02 15:32:44
'Shark Tank' se Marnus Broodryk
Marnus Broodryk (31) beskryf homself as ’n “regte Afrikaanse seun van die Vrystaat”. Dié Gautengse miljoenêr-entrepreneur se benadering tot die lewe is verfrissend en inspirerend, en gebore uit ’n kombinasie van swaarkry, vasberadenheid en baie harde werk. “My ma – die heldin van my lewe – was ’n enkelouer, en ek kom glad nie uit ’n ryk gesin nie. Ek moes vroeg al uitspring om my eie sakgeld te verdien.” Sy skool het kinders se rapporte teruggehou as hul skoolfonds nie betaal is nie, en Marnus het nie vir die vernedering kans gesien nie. “Ek moes maar maniere kry om my eie skoolfonds te betaal.” Waar dit ander tieners dalk verbitterd sou maak, het dit Marnus eerder aangespoor. “Ek het toe al besluit ek wil nooit in my lewe finansieel sukkel nie” Op 24 het hy ’n miljoen rand in die bank gehad én ’n baie suksesvolle onderneming besit. Deesdae deel hy sy geldmaak- geheime op twee TV-programme: kykNET se Winslyn en op M-Net se nuwe realiteitsreeks Shark Tank South Africa. Vertel ’n bietjie meer van jou kinderjare Ek het op Harrismith in die Vrystaat grootgeword, en my ma, Delene, het vir makelaars gewerk. My oorlede pa, Marius, het ’n bestuurskool gehad en my ouers is geskei toe ek nege was. Ek is die jongste van drie seuns en ’n laatlam. Destyds was die Internet ’n nuwe ding en min mense op ons dorp het iets van rekenaars en IT geweet. Ek het rekenaars reggemaak en myself geleer om webwerwe vir plaaslike ondernemings te bou. Ek het motors gewas vir sakgeld. Eintlik het ek enigiets gedoen wat ek kon vir ekstra geld. Vandag is ek dankbaar oor die swaarkry – dit het my baie geleer. Ek het ’n broertjie dood aan ’n houding van entitle-ment – niemand is outomaties op enigiets geregtig nie. Jy werk vir jou sukses. Toe word jy ’n rekenmeester … In matriek het Enslins, ’n ouditeursfirma op die dorp, my ’n klerkskap aangebied. Toevallig het ek ook in daardie tyd gelees dat ouditeur die bes betaalde beroep in Suid-Afrika is. Ek het besluit dis wat ek wil doen, en bedags as klerk gewerk en saans vir my graad deur Unisa studeer. Ek het aanvanklik R1 800 per maand verdien, en my studie het R800 per maand gekos. Gelukkig kon ek by my ma bly. Ek het verskriklik hard gewerk en ná drie jaar my graad in my sak gehad. Ek is baie dankbaar vir die kans wat hulle my gegee het – dit was ’n wonderlike platform waarvandaan ek groter dinge kon doen. Hoe beland jy toe in die Johannesburgse sakewêreld? Toe ek my graad het, het ek met net my klere en ’n dubbelbed Johannesburg aangedurf. Ek het darem R38 000 gespaar gedurende my klerkskap, en was vasbeslote om ’n suksesvolle besigheid in Johannesburg te begin. Ek wou meer doen as net mense se boeke nagaan – ek het besef sakemense het ook dikwels praktiese raad nodig vir hul besighede, soos waar om uit te brei en waarop om te besnoei. Ek het my onderneming op 22 begin en dit The Beancounter genoem. Twee jaar later het jy jou eerste miljoen in die bank gehad. Hoe het jy dit reggekry? Ek het verskriklik hard gewerk, en net die heel beste mense vir my onderneming gekies. Ek het nie dadelik ’n huis en ’n duur motor gekoop nie, maar eers gespaar. Ons het almal ook aan die begin van ons huise af gewerk sodat ons nie vir duur kantoorruimte moes betaal nie. Met die Internet is dit heel moontlik en maklik om so te werk – ons is almal digitaal aan mekaar verbind deur ons stelsel, en sit al die inligting op een plek in die kuberruim sodat almal wat dit nodig het maklik toegang daartoe het. Wat is die beste raad wat jy kan gee vir iemand wat van sukses droom? As jy drie jaar lank elke dag twaalf uur lank aan jou droom werk, móét jy sukses behaal. As dit nie gebeur nie, sal ek jou persoonlik vergoed. Ek het geleer sukses kom net deur vasbeslotenheid, deursettingsvermoë en báie harde werk. ’n Mens se kop moet ook reg wees. Gister was stemdag, en ek het tot gisteraand agtuur nog gewerk. Ek vat gewoonlik een dag in ’n naweek heeltemal af en skakel ook my foon vir 24 uur af, en fokus daarop om te ontspan. Ek glo ook daaraan om net die heel beste mense te huur. Dis iets waarop jy nie moet probeer spaar as jy suksesvol wil wees nie. Voordat iemand by ons kom werk, gaan hy of sy eers deur ’n hele paar onderhoude, ook om te kyk of die persoon by ons maatskappykultuur en -waardes sal inpas. Jy glo aan ’n vaste roetine. Hoe lyk jou dag? Ek staan elke oggend van my lewe 03:50 op. Van vieruur tot vyfuur is wat ek noem my “holy hour”. In daardie uur doen ek net goed wat my inspireer en fokus. Ek mediteer, lees en beplan my dag in my kop en geniet sommer net die stilte. Daarna gaan ek gim toe. Ek stort ook sommer daar en eet ontbyt, en agtuur is ek op kantoor, reg vir die dag. Jy benut jou tyd uitstekend. Hoe kry jy dit reg? Ek gebruik onder meer ’n elektroniese aanlyndagboek. Enigiemand wat met my ’n afspraak wil maak, doen dit sommer self daar – so mors ’n mens nie nog tyd met tye soek wanneer albei beskikbaar is nie. Ek gebruik ook ’n fantastiese app – todoist (laai dit hier af). Daarop boek ek al my tyd uit – selfs fliek! My moet-doen-lysies is ook daarop. Ek weet heeldag wat ek moet doen en waar ek wanneer moet wees. Natuurlik help my persoonlike assistent ook baie! Wie inspireer jou? Mense soos Richard Branson – ek lees alles oor hom. En as alles reg verloop, ontmoet ek hom een van die dae. Ek lees ook graag suksesvolle mense se biografieë. Het jy ’n motto? As jy niks het nie, kan jy niks verloor nie. Sit dus alles in – ook as dit beteken jy moet aan die begin 18 uur per dag werk. Hoe gaan Shark Tank werk? Ons is vyf sakemense uit verskillende agtergronde wat deelnemers gaan mentor. Daar was meer as duisend inskrywings. Mense moes hul sake-idees of sakeplanne van bestaande ondernemings instuur, en dan word die beste idees en besighede gekies en aan ons voorgelê. As ons daarvan hou, belê ons ons eie geld daarin, en mentor die deelnemer om ’n volwaardige besigheid daarvan te maak, of dit na die volgende vlak te neem. Sal jy emigreer? Nie sommer nie. Suid-Afrikaners besef nie in watter wonderlike sakeposisie hulle sit nie – ons is omring deur moontlikhede. Mense moet dit net besef en inspring! Ons is wel besig om ons maatskappy se dienste na Brittanje uit te brei – dis heel moontlik en maklik danksy moderne tegnologie, en buitelanders het baie respek vir Suid-Afrikaners se hardwerkendheid.
http://www.rooirose.co.za/shark-tank-se-marnus-broodryk/
2016-11-02 12:34:33
Ons 10 beste hoenderresepte van 2016
~ Hoender kan op verskeie maniere gaargemaak word en ons weet dit is een van die staatmakers wanneer dit kom by aandetes, kuierkos of sommer net goedvoel-kos. Hier is ons top 10 resepte wat in 2016 op rooirose.co.za gesoek is. Resepte deur Vickie de Beer. Saamgestel deur Michelle Nortje
http://www.rooirose.co.za/ons-10-beste-hoenderresepte-van-2016/
2016-11-29 09:04:03
Ken jou beddegoed
3 faktore wat die kwaliteit van jou bedlinne bepaal Die materiaal waarvan dit gemaak is Hoe die materiaal geweef is Die draadtelling Katoen Die algemeenste tekstiel is katoen. Dit kan in verskeie mengsels voorkom. Egiptiese katoen is die kroonprins van die reeks met 100% katoen tweede in die ry. Egiptiese katoen het die langste vesel en word in die Nyl-rivier vallei gekweek. Hierdie katoen skep ’n besondere sagte weefsel maar is nie goedkoop nie. Perkal Perkal is ’n eenvoudig geweefde tekstiel. Die drade word styf geweef wat ’n fyn tekstuur skep. Dit is ietwat duurder as gewone katoen. Chambray Hierdie tekstiel is geïnspireer deur die chambray-werkshemp. Dit word gekenmerk aan gekamde lang vesel katoen-beddegoed. Dit val in die luukse kategorie. 100% linne Hierdie is die luuksste keuse as dit by beddegoed kom. Dit is heelwat duurder as ander opsies en benodig spesiale behandeling as dit by skoonmaak kom. Dit is ’n uitstekende belegging en sal vir jare hou. Omdat dit koeler is as ander tekstiele, is dit baie gewild in warm klimate. #rooirosewenk: Lees die etiket en maak seker jy kry waarvoor jy betaal. 200 draad telling (R849) van @ Home Egiptiese katoen (R899) Mr Price Wolkie-ontwerp van Mono Online Shop met 200-draadtelling (Vanaf R350 tot R1 300) 300-draadtelling (Vanaf R350 tot R1 300) Mono Online Shop 100% Mungo-linne (vanaf R2 210) van Mungo 100% Perkal-katoen bo-laken (R1 695) Weylandts 100% Perkal-katoen bo-laken (R1 795) Weylandts Egiptiese katoen (R999) Woolworths Chamray-duvet (R799) Woolworths Verskaffers @Home: 0860 576 576 Woolworths: 0860 022 002 Mono Online Shop www.monoshop.co.za Mungo www.mungo.co.za Weylandts: 021 914 1433 Jy sal ook hou van Feëkasteeltjies
http://www.rooirose.co.za/ken-jou-beddegoed/
2016-11-02 06:00:21
Kersmarkte 2016
Johannesburg The Linden Market in the Park Waar: Botaniese Tuine in Johannesburg Wanneer: 3 Desember Tydens die eerste week van Desember sal The Linden Market terugkeer vir sy tweede Kersseisoen, en hierdie keer is daar, as gevolg van die oorweldigende terugvoer, besluit om dit in die stad se enorme groen grasperke van die Botaniese Tuine te hou. Die fokus is op plaaslike, handgemaakte en stylvolle produkte, terwyl daar ook antieke items en kreatiewe ontwerp uitgestal word. In plaas van die gewone, onaangename besoek van raserige winkelsentrums, kan gaste in die tuine ontspan, musiek, wyn en kos geniet en rustig hul Kersaankope maak. Jy kan ook aanlyn deel wees van die pret, en jou foto’s van die geleentheid deel met die hutsmerk #MarketinthePark. Besoek die Facebookblad hier Gratitude in Keyes Art Mile Waar: Keyes Avenue, Rosebank Wanneer: Dinsdag 29 November Binnekort maak daar ’n splinternuwe pop-up winkel oop op die Keyes Art Mile straat. Dié geskenkwinkel, onder die naam Gratitude, spog met uitgesoekte kase en vars brode, olywe, ingelegde vrugte en vleise gekry word, terwyl daar ook handgemaakte linne, tafeldoeke en servette verkoop word. Verdere Kersgeskenke sluit in ’n eksklusiewe keramiekversameling soos borde, vase en ander houers. Hierdie winkel sal slegs vir die Kersseisoen oop wees. Besoek die Facebookblad hier Durban The Stables Lifestyle Market Waar: 9 Jacko Jackson Road, Morningside Wannneer: Woensdae en Vrydae Dié plaaslike mark vind plaas by ou perdestalle en behou ook die atmosfeer wat saam met die opstel kom. Die mark se paadjies word ook vernoem na bekende resiesperde, en besoekers kan ’n groot verskeidenheid produkte vir hul Kersaankope versamel. Tuisdekor, antieke items, grimering, skilderye, borduurwerk, boeke, en speelgoed kan by die stalletjies gevind word. Besoek die Facebookblad hier The Morning Trade Waar: The Plant – 5 Station Drive, Station Drive Precinct Wanneer: Elke Sondag Plaaslike verskaffers is die dryfkrag agter hierdie mark, waar daar goeie, heilsame kosse en kombuisprodukte verkoop word. Jy kan dus elke Sondag seker maak dat jou maaltye voor, tydens en sommer ook na Kersfees altyd uit die boonste gestoeltes is, en dat jou tafel net glimlagte sal wys. Top kwaliteit vleise, vars plaasprodukte, heerlike spesialiteite en gemeenskaps-bewuste kosse sal beskikbaar wees, terwyl jy ook gerus vriende in die rustige atmosfeer kan ontmoet en kuier rondom smullekker kos en drankies. Besoek die Facebookblad hier Kaapstad Made in the Cape Festive Fair Waar: Cavendish Square, Claremont, Wanneer: 6-18 December 2016 Dit is ’n produk van die Made in the Cape-markte, maar hierdie sal die grootste geleentheid nog wees. Dit is ook veel langer as die gewone mark, terwyl daar ook elke 3-4 dae nuwe uitstallings plaasvind. Daar sal dus elke paar dae splinternuwe produkte en items beskikbaar wees. Dit sluit in juwele, handgemaakte geskenke, tuisdekor en natuurlik Kersfees-rangskikkings. Daar sal iets wees vir elke familielid. Besoek die Facebookblad hier Fab Ideas Christmas Gift Fair Waar: Kommetjie Gemeenskap Saal, Teubes Road Wanneer: 15-18 Desember 2016 Donderdag: 9am-5nm; Vrydag-Sondag: 9am-7pm Die Kommetjie Gemeenskapsaal sal middel Desember tuis wees vir ’n Kersfees Wonderland, met unieke, vars produkte en items wat teen billike pryse verkoop word. Goedere sluit in dekor, juwele, klere en handwerke, terwyl daar ook ’n deli sal wees waar daar heerlike gebak en vars kombuisprodukte gekoop kan word. Besoek die Facebookblad hier
http://www.rooirose.co.za/kersmarkte-2016/
2016-11-25 14:22:30
Nog jakkalsies en gemoedsweerwolwe
Met suiwer selfbeheersing is nog twee weke verby sonder dat ek handgemeen moes raak en appels swaai (of gooi) – alles danksy my verbeelding-zapper-geweer. Lees ook: Zap die jakkalsies Soos dit maar meestal gaan, het die klein jakkalsies waarvan ek twee weke gelede begin vertel het, in weerwolwe verander en ook aangeteel. So ál asof hulle my wou uittart om te sien of die mitiese masjiengeweer rêrig bestaan. En, ooo, hét hulle hulself in ’n stortvloed zapper-koeëls vasgeloop. Die eerste niksvermoedende slagoffers was die joviale groepie van iewers dus- of doeriekant die Dooie See met hul blinkgepoleerde naels en vlekkelose gelate wat hul sterte en heuningkwaste begin swaai sodra ’n mens hul stalletjie in die mall se gang nader. Ek vermoed as nog net één van hulle my één keer bestorm en ’n seewiersalfie vol ewige-jeug-beloftes aan my wil (af-)smeer, gaan ek in ’n gillende meermin verander en myself vol plooie skreeu. Kort op die plooiloses se hakke, is die oorloses. Daardie grootmense wat kasregisters beman, maar sowaar as vet slegter luister as my kinders. As mens reeds drie maal “Ja, asseblief!” beaam het dat jy ’n “Sug … Sakkie?” wil hê vir jou inkopies en die ongeïnteresseerde die transaksie afsluit met ’n sugtende: “Oeps, wou Mevrou ’n sakkie gehad het?” reeds ná die kaarttransaksie voltooi is, is mens meer lus om in jou handsak te krap vir jou zapper-geweer as kleingeld vir die agtergeblewe sakkie. Dieselfde geld vir die kelners wat hulle “Koue of warm melk?”-rympie aframmel nog voordat ’n mens kon sê koffie of tee, maar wanneer jou vingerpunte verskroei om die stomende melkbekertjie, is dit duidelik dat jou “koud” en hulle kokend maar een en dieselfde ding is. Hoekom vra as jy in elk geval nie gaan luister nie? Hoewel ek ’n obessiewe voorstander is van persoonlike higiëne, trek my kiewe styf as ek, reeds onwillig, in ’n openbare kleedkamer instap en sien hoe ’n dame haar gesig was, deodorant aanrol en haar tande borsel by dieselfde wasbak waar ek moet hande was. Die gesellige groepie senior burgers wat valstande in die hand al lispelend die Sondagbuffet-ete uit die stel tande staan en skrop het, het my egter ongewaste hande en al op die vlug laat slaan. Diegene wat my ken, weet dat ek ’n redelike voorkeur-afkeer-verhouding met die dorp se motorwagte het. Vir die beskaafde, opgeleide span uit Noord-Afrika by die mall met wie ek gereeld gesellige gemeenplasies uitruil in hulle moedertaal, het ek baie tyd. Hulle doen hulle werk baie professioneel en is altyd hoflik en vriendelik. Maar, o wee, vir die losgemaal in die middedorp wat meestal gepreserveer in alkohol vir my wil leer parallelparkeer, het ek weinig ooghare. Dié spannetjie is dikwels onvas op hulle voete en in hulle denke, en boonop verskillende grade van onbeskof en onopgevoed sou mens die dag moeite doen om te sê: “Jammer, ek het nie nou geld nie” nadat mens sowat 30 sekondes weg van jou motor was en hulle luidkeels aandring op vergoeding. Die groepie sit meestal diep en staar na ’n koerant of niks – dis nou wanneer hulle nie diep in die bottel kyk nie. Daar is al heelwat in die plaaslike media berig oor die lasposte wat veral vroue en kinders aggressief benader, maar daar is steeds skynbaar geen oplossing nie. Ek onthou ’n voorval toe my dogtertjie skaars ’n jaar oud was. My motorruit was halfpad oop om aan die karwag te sê dat hy asseblief moet wegstaan, ek kan nie sien of daar motors aankom nie. Die volgende oomblik steek hy toe sy arms deur my ruit na haar babastoeltjie op die agtersitplek, met die woorde: “As Mêddie nie wil betaal nie, sal ek dan die baba vat!” ’n Onskuldige dronkmansgrappie aan sy kant. Dit het veroorsaak dat my dogtertjie vir drie jaar daarna kliphard begin huil die oomblik as iemand wat sy nie ken nie, by my motorvenster gesels of saam in die motor klim. Jare later is almal steeds hande in die hare oor dié skrikbewind wat in die middedorp gevoer word. As mens in die middedorp wil parkeer, is dit meestal ’n geval van betaal iemand ’n paar rand sodat die makkers nie volgende keer dalk met ’n geroeste spyker verby jou motor slinger nie. My swart ma-se-wa loop hoeka skielik sonder kenteken op die neus nadat ’n karwag nie gesien het iemand met lang vingers haal die “alles loop reg”-teken af nie. Aan die siel met die neongeel bêffie wat my al ’n paar keer as “Meneer” aangespreek het as ek in sy domein parkeer, sou ek, as hy nugter is, ook graag wou vra hoe de joos hy dink hy my kar gaan beskerm as hy nie eers goed genoeg kan sien om my blonde bokstert en nie-manlike borsmaat op te merk nie?
http://www.rooirose.co.za/nog-jakkalsies-en-gemoedsweerwolwe/
2016-11-03 13:14:06
Boek van die maand: Born to Run
The Boss, soos dié rockster bekend staan, se outobiografie het uiteindelik die lig gesien. En soos sy musiek, is die boek so rou en eerlik dat dit jou in die maag tref. Hy begin sommer aan die begin: sy grootwordjare in New Jersey as die seun van ’n busbestuurder en ’n sekretaresse. Hy het as arm jongeling baklei – fisiek en geestelik – om sy stem te laat hoor. Hy het as tiener sy eerste rockgroep, The Castiles, begin. Hy het as kitaarspeler begin maar sy frustrasie om die musiek te laat klink soos hy dit in sy kop hoor, het hom gedwing om later ook sy plek voor die mikrofoon in te neem. Die boek lees soos ’n Aspoestertjie-verhaal – die storie van ’n jong, gedrewe man. Wat veertig jaar later steeds stadions vul met vertonings van tot vier uur lank. Die een verrassing waaroor hy eerlik skryf, is sy lewenslange stryd teen depressie. ’n Wonderlike Kersgeskenk. Uitgewersprys R365 rooi rose R328,50
http://www.rooirose.co.za/boek-van-die-maand-born-run/
2016-11-22 12:03:35
Bereide beet-en-jenewer-salm
Genoeg vir 6 Voorbereidingstyd: 30 minute plus marinering • 500-600 g salm-fillet, met die vel • 2 e jenewerbessies • ½ t swartpeperkorrels • 2 e seesout • 2 e suiker • 5 e Hendrick’s Gin • 150 g rou beet, geskil en gerasper (dra rubberhandskoene!) • 3 e gerasperde peperwortel Vir die gepekelde komkommer • 75 g strooisuiker • 1 ½ t seesout • 175 ml witwynasyn • 10 peperkorrels • skil van ½ suurlemoen • 1 komkommer, geskil, ontpit en gesny 1 Verwyder enige grate van die salm met ’n tangetjie. Berei ’n bakplaat met kleefplastiek en plaas die salm daarop, velkant onder. 2 Breek die jenewer en peperkorrels in ’n stamper en vysel. Meng met die res van die bestanddele en smeer die mengsel oor die salm. Draai kleefplastiek om en oor die bokant (’n paar keer). Plaas nog ’n bakplaat bo-op en druk dit plat met blikkies. Verkoel vir ten minste 36 uur en verkieslik 3 dae. 3 Verwyder die kleefplastiek vanaf die vis en krap die marinade af. Die salm sal teen hierdie stadium baie goed vries en vir 5 dae in die vrieskas vars bly. 4 Vir die gepekelde komkommer: Los die suiker en sout oor ’n lae hitte op en voeg die witwynasyn, peperkorrels en suurlemoenskil by. Plaas eenkant om af te koel. Gooi die komkommer bo-oor, bedek en plaas in die vrieskas vir ten minste 1 uur of oornag. Vir ander geure, meng die volgende bestanddele, smeer dit oor die vis en bedek so bo beskryf. Vir Bourbon-en-swartpeper-salm • 2 e swartpeperkorrels • 2 e seesout • 2 e suiker • 5 e Bourbon of whiskey • 5 e fyngekapte vars dille Vir rysbier-en-sesam-salm • 2 e koljandersaad • 2 e seesout • 2 e suiker • 5 e rysbier • 2 e wasabi-pasta • 5 e geroosterde sesamsade #rooirosewenk Om die salm te sny, benodig jy ’n behoorlike gerookte salm-mes (die moeite werd as jy gereeld met salm werk), of ’n fileermes vir vis. Maak seker die mes is vlymskerp en sny die salm in dun skyfies. Bedien die salm met sodabrood, komkommer en crème fraîche. Jy kan een van vier Hendrick’s Gin Enchanter-geskenkpakke ter waarde van nagenoeg R400 elk wen! Klik hier om in te skryf.
http://www.rooirose.co.za/bereide-beet-en-jenewer-salm/
2016-11-25 11:45:02
Seun sterf na messtekery voor skool
Generiese foto. GEORGE NUUS - Bewerings dat die gr. 11-leerder (17) van Hoërskool George wat van moord aangekla word, in selfverdediging opgetree het, vorm deel van die polisie se ondersoek. Hershel Botha (16) van Rosemoor, 'n nie-skoolgaande seun, is verlede Vrydagoggend 11 November voor skool op die hoek van Fortheringham- en Parsonstraat doodgesteek. Volgens die mees onlangse inligting van die polisie was vier tienerseuns in die voorval betrokke, die verdagte (17), 'n seun van Rosemoor Primêr, Botha, en 'n vriend. Daar word beweer dat Botha en die seun van Rosemoor Primêr 'n geskil gehad het, waarna Botha die seun na bewering aangerand het. Die verdagte het die seun van Rosemoor Primêr te hulp gesnel en na bewering 'n skêr in die hande gekry waarna hy Botha in die hart gesteek het. Botha het kort na sy aankoms by die George-hospitaal gesterf. Die verdagte is by die hospitaal, waar hy behandeling ontvang het, in hegtenis geneem. Hy het Maandag in die George-hof verskyn en is op borgtog vrygelaat. Volgens die polisie is hy verlede naweek aangehou uit vrees vir 'n wraakaanval. 'n Bron sê die verdagte se ouers vrees vir sy lewe. "Hy is nie 'n engeltjie nie, maar ook nie 'n moeilikheidmaker nie. Sy rekord by die skool is skoon, geen probleme met dissipline nie. Hy wou net die seun van Rosemoor Primêr help toe daar met 'n mes na hom gesteek word. Hy en die ander seun is ook gesteek en dit wil voorkom of hy in selfverdediging opgetree het." Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê daar is baie weergawes oor wat presies gebeur het. "Ons ondersoek al die beweringe. Daar is ook op 'n mes beslag gelê." ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Die seun van Rosemoor Primêr en die verdagte het ook steekwonde opgedoen, onderskeidelik in die rug en pols.
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176691/Seun-sterf-na-messtekery-voor-skool
2016-11-16 17:00:00
Gaum tegelyk 'ontroer' en 'moerig'
In 'n gesellige luim tydens die boekbekendstelling, van links: Henda Gaum, Laurie Gaum, dr. Frits Gaum, Nilla Jordaan en dr. Gerdrie van der Merwe. Foto: Alida de Beer GEORGE NUUS & VIDEO - Die boek, God op soek? deur dr. Frits Gaum, emerituspredikant van die NG kerk en skrywer, is verlede Woensdagaand by Wordsworth bekendgestel. Gaum en sy seun, Laurie het 'n tweegesprek by die geleentheid gevoer waartydens laasgenoemde sy pa met vrae uitgelok het om meer oor die boek te vertel. Laurie het ingestaan vir Hennie Pienaar, 'n proponent van George en vegter vir gay-regte, wat in die buiteland was. Hy sou 'n debat met die skrywer gevoer het. Gaum se jongste boek is geskryf in reaksie op dié van Willie Esterhuyse, Geagte Jahwe waarin hy in 'n reeks briewe aan God onder meer die siening huldig dat die Bybel 'n boek is óór God en nie ván God nie. Hy het ook 'n probleem met die idee van 'n "persoonlike Skeppergod". Gaum begin en eindig God op soek? met 'n brief aan Esterhuyse waarin hy hom in geen onseker taal nie uitspreek teen Esterhuyse se bevraagtekening van die Christelike geloof, die Bybel en God. Tydens die tweegesprek by die bekendstelling het Gaum gesê hy het die boek geskryf want hy het "dit nodig gevind dat iemand iets moes terugsê". In sy openingsbrief in die boek stel hy dit dat Esterhuyse se boek hom "plek-plek moerig gemaak het" omdat dit lyk asof hy (Esterhuyse) soms "gekskeer met Jahwe". Ander kere het Esterhuyse hom "ontroer", omdat daar "in baie gevalle géén antwoorde moontlik is nie". Gaum het gesê hy het waardering vir Esterhuyse se twyfel, want alle Christene worstel met vrae oor hul geloof en handhaaf verskillende sienings oor sekere sake. Daar is egter basiese beginsels wat vasstaan en nie onderhandelbaar is nie. Kyk 'n video hieronder. ARTIKEL, FOTO & VIDEO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/175635/Gaum-tegelyk-ontroer-en-moerig
2016-11-02 13:00:00
Nóg rondloper Bobbejane in buurt
Die bobbejaanmannetjie Glen Barrie is onlangs by Bergplaas in die Hoekwil-omgewing vrygelaat. Nie al die inwoners is opgewonde oor hul nuwe buurman nie (sien brieweblad). Foto: Verskaf GEORGE NUUS - Verskeie inwoners van Denneoord het na vore gekom met nog klagtes oor rondloper bobbejane, na 'n berig verlede week oor twee mannetjies wat in die buurt gevang is. Die twee bobbejaanmannetjies, Jan Langarm en Glen Barrie, is onderskeidelik in die Montagupas en by Bergplaas in Hoekwil vrygelaat. Hulle was nie deel van 'n trop nie en het in 'n veld langs Biesiestraat in Denneoord gebly. Volgens die bobbejaanmonitor Ian Driescher, het die bobbejane baie mak geraak en voortdurend inwoners se vullisdromme omgekeer op soek na kos. Hulle het ook met groot gemak na kinders gestap wat in die buurt speel. Aanvanklik was inwoners baie verlig oor die verskuiwing van Jan Langarm en Glen Barrie, maar ongelukkig blyk dit dat hierdie nie die enigste twee rondloper mannetjies is nie. Inwoners praat van nog bobbejane, waaronder een met 'n af stert, wat steeds hul rondes doen. "'n Navraag is na George-munisipaliteit gestuur om te verneem van moontlike planne om die "afstert-bobbejaan", soos inwoners hom noem, ook te verskuif. Volgens Debra Sauer, assistent mediaskakelbeampte van George-munisipaliteit, sal wetstoepassingsbeamptes uitgestuur word om op te tree sodra inwoners die munisipaliteit in kennis stel dat die bobbejaan-mannetjie in die omgewing is. Dié afstert-bobbejaan het verlede week vir Alet Greeff van Dassiestraat laat skrik toe sy hom op haar stoep gewaar. "Ek was besig om wasgoed op te hang," het sy vertel. "Hy het tussen my en die agterdeur gesit. Hy is gereeld by my vullisdrom en ek moes toe maar wag tot hy klaar eet en grawe voordat ek in die huis kon kom." 'n Inwoner van Bergplaas naby Hoekwil het in 'n brief aan die George Herald (sien brieweblad) sy misnoeë uitgespreek oor die besluit om bobbejane daarheen te verskuif. "Om bobbejane van een area te vat, en te neem na waar die probleem nóg groter is, is soos om vullis onder 'n mat in te vee," skryf die klaer. Vir hulp met die bobbejane kontak 044 801 6300. Klik hier vir vorige artikels: ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuuste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176225/Nog-rondloper-Bobbejane-in-buurt
2016-11-10 09:00:00
Speurder gevang met gesteelde skootrekenaar
Sers. Alrico Beukes van die George-speurtak wat ook die hoofafrigter van Evergreens-rugbyklub is, is gevang in die besit van 'n gesteelde skootrekenaar. GEORGE NUUS - 'n Polisiesersant, ook 'n bekroonde rugbyafrigter, het hom gister agter tralies bevind nadat die polisie 'n gesteelde skootrekenaar in sy huis gekry het. Sers. Alrico Beukes van die George-speurtak, waar hy juis gemoeid is met huis- en besigheidsinbrake, is Dinsdagaand by sy huis in Pacaltsdorp in hegtenis geneem. Hy sou na verwagting gister in die George-landdroshof verskyn op 'n klag van besit van vermoedelik gesteelde goedere. Beukes, hoofafrigter van Evergreens-rugbyklub, was verlede week ook in die nuus toe hy na afloop van die gewilde Goue Beker-rugbykompetisie aangewys is as klubafrigter van die jaar Die gesteelde skootrekenaar, 'n Dell Inspiron, is tussen 27 en 30 Oktober uit die kantoor van 'n prokureur, Nellville Collett, gesteel. Collett se praktyk is geleë in Collett-plein in Yorkstraat. Nog 'n skootrekenaar ('n Lenovo), 'n Russell Hobbs-ketel, 'n Samsung mini-musieksentrum en ander items is ook tydens die inbraak gebuit. Dié goedere is nog nie teruggevind nie. Groot was Collett se skok egter toe hy Dinsdagoggend via e-pos kennisgewings kry van aktiwiteit op die gesteelde Dell-skootrekenaar. "Ek wil nie te veel uitwei nie, maar ek het foto's van die persoon ontvang waar hy op sy bed lê, waar hy slaap, asook die webtuistes wat hy besoek het," vertel Collett. Een van die webtuistes wat hy besoek het, is pornografies van aard. Die persoon in die foto's is later as Beukes uitgeken. "Dis 'n skande dat 'n polisieman wat dié tipe sake ondersoek met gesteelde goedere in sy besit betrap word. Hy is veronderstel om misdaad te bekamp," sê Collett. Die inbraak is eers Maandag 31 Oktober ontdek en niemand weet hoe die inbrekers die alarmstelsels van MSec - een om die hele gebou en nog een by sy praktyk - omseil het nie. Nie een van die alarms het afgegaan nie en die een ogie wat afgebreek is, is steeds skoonveld. "Daar is een alarmstelsel met twee dele. Ons is tans besig met 'n ondersoek na die voorval." Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het by navraag Beukes se arrestasie bevestig. "Die polisie het inligting ontvang waarna verklarings en 'n lasbrief bekom is. Een skootrekenaar is in die verdagte se huis gevind. 'n Dissiplinêre ondersoek sal parallel met die kriminele ondersoek loop," het Pojie bygevoeg. Een van die foto's wat deur sekuriteitssagteware op die gesteelde rekenaar geneem is. Foto: Verskaf. ARTIKEL: GEORGE HERALD-VERSLAGSPAN 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Hennie Schröder, MSec se operasionele bestuurder, het gister gesê hulle beskou die voorval in 'n baie ernstige lig.
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176206/Speurder-gevang-met-gesteelde-skootrekenaar
2016-11-09 17:00:00
Vrou betrap vermeende dief in haar motor
Maryke Barnard het na die voorval hierdie foto op die Facebook-blad, Crime Spotters George, gedeel van waar dit wyd op sosiale media versprei is. "Insittendes vd voertuig amper my kar gesteel by George Voorb skool parkeerarea. Wees op d uitkyk. Ekt aangestap na my kar en knoppie gedruk om oop te sluit. Toe ek om d voertuig beweeg na my deur sit ta reeds agter d stuurwiel met my handsak op sy skoot." GEORGE NUUS - 'n Vrou van George het Dinsdag helder oordag 'n vermeende dief op heter daad agter die stuurwiel van haar wit Toyota Fortuner betrap met haar handsak op sy skoot. Die voorval het omstreeks 13:00 in die parkeerarea langs George Voorbereidingskool in Meadestraat plaasgevind. Die verdagte en 'n medepligtige, albei van Thembalethu, was gisteroggend nog in aanhouding by die George-polisiestasie nadat hulle kort na die voorval in Nelson Mandela Boulevard in hegtenis geneem is. Die mans, onderskeidelik 32 en 20 jaar oud, sal na verwagting vandag (Donderdag 24 November) in die George-landdroshof verskyn. Maryke Barnard, die slagoffer, het 'n foto van die verdagtes in hul swart Audi A4 geneem waar hulle in die parkeerarea in die druk verkeer vasgekeer was. Sy het die foto op die Facebook-blad, Crime Spotters George , gedeel vanwaar dit wyd op sosiale media versprei is. Barnard het gister gesê sy was slegs vir 'n minuut of twee weg van haar motor, wat sy gesluit het, om haar seun by die skoolhek te gaan haal. "Toe ek terugstap sien ek hoe die netjies geklede swart man inklim en het vir 'n oomblik eers gedink dit is nie my kar nie, maar toe ek by die deur kom, herken ek my handsak op sy skoot. Ek het die deur oopgeruk en hy het uitgespring en my handsak in my motor gelos. Hy het vreeslik verskoning gemaak en doodluiters weggestap. "Toe hy sien ek hou hom dop het hy begin hardloop en aan die passasierskant van die Audi, wat ook in die parkeerarea gestaan het, ingespring. Hulle kon egter nie agteruit ry nie, want die verkeer in die parkeerarea was druk en ek het kans gekry om 'n foto van die motor te neem," vertel Barnard. Sy het die polisie bedank vir hul flink optrede en uitstekende diens. Niks is tydens die voorval gesteel nie. Op 'n sektorvergadering tussen die polisie en besighede verlede maand het die polisie juis hul bekommernis uitgespreek oor die vlaag inbrake by motors in die middedorp, wat sedert September weer skerp toegeneem het. Die polisie het toe gesê dat baie van die motors tydens die inbrake deur 'n afstandbeheertoestel oopgesluit word. Hulle het gesê die inbrake kom voor in York-, Courtenay-, Hibernia-, Mark-, Cradock- en Laingstraat. Die polisie het motoriste opnuut gewaarsku om nie waardevolle items binne die motors te los waar verbygangers dit kan sien nie. * A George woman on Tuesday afternoon discovered an unknown man in her parked car at George Preparatory in Meade Street. He had her handbag on his lap, but when she opened the door, he jumped out and apologised profusely, leaving her handbag in the car. He walked off and hurriedly climbed into a black Audi. Police suspect the man and his accomplice in the Audi, used a jamming device to gain entry to the woman's car. Maryke Barnard took photos of the Audi and shared her experience on social media. Police arrested the two men from Thembalethu, respectively 32 and 20 years old, in town, shortly after the incident. They were expected to appear in the George Magistrate's Court today (Thursday 24 November). At a sector meeting between the police and business owners last month, the police expressed concern about thefts from motor vehicles in the CBD, which have increased sharply since September. ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Die polisie vermoed die mans het 'n afstandbeheertoestel gebruik om toegang tot Barnard se motor te bekom.
http://www.georgeherald.com/news/News/General/177219/Vrou-betrap-vermeende-dief-in-haar-motor
2016-11-23 16:00:00
Een van Satan se gunsteling strategieë is om jou te laat voel dat jy niks wat saakmaak kan bereik nie. Hy sal jou aan foute in jou verlede herinner sodat jou vrees vir mislukking jou sal saboteer wanneer jy 'n poging aanwend. Satan wil hê dat jy so sleg oor jouself moet voel dat jy geen selfvertroue sal hê nie. Jy het egter nie selfvertroue nodig nie - jy het vertroue in die God wat in jou lewe, nodig! Sonder hierdie vertroue, is jy soos 'n vliegtuig sonder brandstof wat op die aanloopbaan sit; jy lyk goed, maar jy het geen krag nie. Hoor mooi: Deur Christus het jy die krag om dit te doen wat jy nooit op jou eie stoom sou kon regkry nie. Wanneer jy hierdie waarheid leer, sal jy elke keer wat die Satan vir jou sê, 'Jy kan niks reg doen nie,' kan reageer met, 'Miskien nie, maar Jesus in my kan, en Hy sal omdat ek op Hom, en nie myself nie, staatmaak. Sy Woord sê dat ek sukses sal behaal in alles wat ek doen' (sien Josua 1:7). Wanneer die Vyand vir jou sê, 'Jy is nie in staat om hierdie te doen nie, moet nie eers probeer nie! Jy sal soos in die verlede misluk,' moet jou reaksie wees: 'Dis waar, sonder Jesus kan ek nie 'n enkele ding doen nie. Maar met Hom, en in Hom, kan ek alles doen wat ek moet.' Lees hierdie woorde en maak hulle vandag in jou hart vas: 'Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.' Die woord vir jou vandag is: Jy kan dit doen!
http://www.georgeherald.com/viewblog/1668/Jy-kan-dit-doen
"Want daar's niks beter as liefde nie, daar's niks beter as jy," sing die blondekop sangeres, gereken as een van Afrikaanse musiek se kroonprinsesse. In die musiekvideo van dieselfde liedjie dans sy met sterre in haar oë onder 'n boom vol liggies. Maar sterre skitter nie vir altyd nie. Hulle verskiet. Dieselfde verliefde blondine het intussen 'n bitsige gifappeltjie geword wat woedend twiet omdat sy en haar "Liefling" nou nie meer so danig met mekaar is nie. Dis die Van Jaarsveld-Hougaard-sage wat hier ter sprake is. Nie eens 'n geswore masochis wens hulleself 'n huwelik op die rotse toe nie. Veral nie as die gekyf blootgelê word in die sensasie-belaaide bladsye van Huisgenoot en Rapport nie. Tot die Christelike tydskrif, Finesse is nou by die hare bygesleep oor 'n gewraakte foto van die ex en die oulike tweeling. In 'n post-apartheid Suid-Afrika, blyk dit asof Afrikaanse musiek sy veglus verloor het. Enkeles sing nog oor patriotisme, Afrikanerskap en verdien hulle pak soos manne. Maar die grootste gros sing vir 'n baby met 'n Engelse naam wat hulle crazy maak. Iemand wat hulle heeltyd by 'n party wil soen, maar die baby lees nie meer so gereeld hulle hartstogtelike SMS'e nie. In September vanjaar, kort op die hakke van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se jaarlikse misdaadstatistieke, word die "dodetal" van 'n ander slagveld ook bekend gestel. Suid-Afrikaanse egskeidingsyfers. Kantlyn loop lankal en wonder: hoe is dit dan dat ons hartsake so beroerd lyk, maar plaaslike sangers bly 'n oppervlakkige liefdeskonkoksie opdis in die lirieke van hulle musiek? Volgens die navorsing is daar afname van 12,5% in huwelike sedert 2015. Daar is wel 'n toename in civil unions van 15,2%. Die navorsing toon 'n toename van 3,4% in egskeidings, vergeleke met die vorige jaar. Volgens 'n meningsopname op die webtuiste Divorce Laws, word nege vabonde gelys as verantwoordelik vir Suid-Afrikaanse egskeidings. Godsdienstige verskille lê laaste op die lys (2.25%), met finansies sowaar slegs in sesde posisie (5,74%). Heel bo aan die lys toring die groot sondebok uit - gebrek aan kommunikasie – op 23,47%. Suid-Afrika se toonaangewende webtuiste en bron vir egskeidings- en familiereg, www.divorcelaws.co.za, het 465 420 unieke besoekers tussen 1 Augustus 2015 en 30 Augustus 2016 gehad. Sestig persent hiervan, was vroue. Van hierdie besoekers, bly 59,56% in Gauteng en die kleinste persentasie, in die Noord-Kaap (0,25%). Volgens die jongste syfers, het meestal vroue (51,7%) skeisake aanhangig gemaak, teenoor 34,4% mans. Terug by die gevallestudie onder bespreking. Die jongste skermutseling tussen me Van Jaarsveld en mnr Hougaard, gaan oor hulle tweeling. Van Jaarsveld meen haar toestemming is nie deur Hougaard gevra vir 'n voorbladfotosessie met haar twee seuns nie. Ai, is dit tog nie alweer daardie ou karnallie, kommunikasie, wat met sy vernietigende vingertjies in die slaai kom krap het nie? En dit in 'n tyd wat daar meer kommunikasiemiddele is, as wat een gesonde mens in leeftyd behoorlik sal kan benut. Randall Wicomb het darem voor sy dood in 2015 gesing oor die liefde soos GA Watermeyer daaroor skryf in sy gedig Ballade op die dronkparty (1948): Die liefde is die bitter glas, die droë glas, die donker glas. Die liefde is die naverdriet, wat in die hart se holte pas. Dalk help dit ons om beter te verstaan. Voor die dood of iets dergerliks ons skei. DEUR CORNELLE CARSTENS
http://www.georgeherald.com/viewblog/1665/Tot-die-dood-ons-skei
Olieprys bring dalk effens verligting
Daar is moontlik die vooruitsig van 'n bietjie verligting met die brandstofprys vir Suid-Afrika. MOTOR NUUS - Daar is moontlik die vooruitsig van 'n bietjie verligting met die brandstofprys vir Suid-Afrika. Dit is die mening van die Automobiel Assosiasie (AA) in hul kommentaar op die ongeouditeerde prys vir die middel van die maand soos deur die Sentrale Energiefonds (SEF) vrygestel. "Internasionale oliepryse het deur Oktober stabiel gebly, maar sedert begin November effens begin daal," volgens die AA. "Die rand teen dollar-wisselkoers het oor dieselfde tydperk verstewig wat 'n welkome bydrae maak." Die AA het egter gewaarsku dat die rand skerp teenoor die dollar verswak het na die Amerikaanse verkiesing. Indien die plaaslike geldeenheid nie terugkeer na sy vorige vlakke nie, kan die prentjie teen die einde van die maand heel anders lyk. "Behalwe vir korttermynskommelinge, bly die rand blootgestel aan 'n moontlike ekonomiese afgradering van Suid-Afrika," het die AA in 'n verklaring gesê. "Die geldeenheid is nou ook kwesbaar vir moontlike verskuiwings in die Amerikaanse beleid aangesien die nuwe president, Donald Trump, vroeg in 2017 sal oorneem. Terwyl die verwagte vermindering voor die 2016-feesseisoen baie welkom is, sal Suid-Afrikaners wys wees om nie voortgesette afnames in die brandstofpryse in die volgende paar maande te verwag nie," het die AA afgesluit. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus' Huidige data dui op 'n waarskynlike afname van 45 sent per liter, met diesel 38 sent en paraffien 40 sent af.
http://www.georgeherald.com/news/News/Southern-Cape-Motoring/176861/Olieprys-bring-dalk-effens-verligting
2016-11-18 10:00:00
Die Hartenbos ATKV het vandeesweek 80 jaar oud geword. Bel hulle kantore en jy moet dalk aanhou, sing Bok van Blerk vir jou ewe patrioties sy liedjie, Jy praat nog steeds my taal. Op die oudste radiodiens in Suid-Afrika, RSG - Radio Sonder Grense - word daar hierdie week kunstefees gevier met 'n verskeidenheid aangrypende opdragwerke wat musiek, hoorbeelde, radioteater, profiele en dies meer insluit wat taalliefhebbers se tone laat krul van die lekkerte. 'n Groepie ondernemende skrywers en digters van Mosselbaai, het deelgeneem aan die Woordeboek van die Arikaanse Taal (WAT) se Borg 'n Woord-projek, en twee woorde eie aan die dorp en omstreke, "Swarttobie" en "mossel" geborg. Vir dié wat sterk genoeg daaroor voel, kan 'n woord aangekoop word vir R5000, dan behoort dit nét aan jou. Voormalige rocker en rebel, maar deesdae kultuurkampvegter en voorvrou van 'n gewilde geselsprogram, Karen Zoid se woord is "republiek". Die WAT is 'n omvattende sinchroniese verklarende woordeboek, primêr gerig op die huidige taalgebruik. Dit is 'n akademiese woordeboek wat op so 'n manier saamgestel moet word dat dit as 'n gesaghebbende naslaanbron deur taalkundiges, ander navorsers en liefhebbers van Afrikaans gebruik kan word. 2016 het gemaai onder die groot Afrikaanse taalgeeste. In een week, vroeër vandeesmaand val sommer drie seders - skrywer Dot Serfontein, ma van die bekroonde digter Antjie Krog; legendariese filmmaker Jans Rautenbach en die flambojante baanbrekermusikant, Nico Carstens. Dan is die ander gevallenes soos die digter Adam Small en skrywer Jaco Smith se onlangse selfdood nog nie eens bygereken nie. Laat staan maar dié wat ons in aanloop na 2016, in Desember 2015 reeds ontval het, naamlik volksanger Randall Wicomb en die skrywer / dramaturg Chris Barnard. Die verlies stop ook nie daar nie. Die Afrikaanse Taalstryd wat hom bewyer het vir Afrikaans as kultuurtaal het al in 1875 begin, maar uit die chaos op universiteitskampusse vanjaar, is dit duidelik dat Afrikaans maar steeds die spreekwoordelike swartskaap bly. Inisiatiewe soos die Virtuele Instituut vir Arikaans (VIVA) se Varsgebek en Afrikaans.com se Hoe lyk jou Afrikaans? nooi taalliefhebbers uit om Afrikaans op 'n avontuurlustige manier te ontdek met nuwe woorde en beelde wat die taal is sy volheid vier, maar dis steeds het einde niet. Op 14 November, buitekant die Bloemfonteinse streekhof, gesels Julius Malema van die EFF met sy aanhangers. Hy word soos volg aangehaal: "AfriForum is a boeremag. It's a group of Afrikaners who still wish for apartheid. They will never see it, Afrikaners boys! Die poppe sal dans. The EFF is coming for you. Afrikaner boys!" (Mnr Malema het verder voortborduur met verwysing na grondonteiening). Politieke ontleders reken hierdie onlangse optrede was mnr Malema se swakste vertoning tot nog toe. Swak vertoning ten spyt, die suiwere ironie is dat mnr Malema kennelik sy Afrikaanse idiome deeglik onder die knie het. Dit in ag geneem, hoe lyk dit mnr Malema, wil jy nie dalk daardie paar Afrikaanse woorde borg of dalk eerder koop nie? Dit is mos ook onteiening, of hoe?
http://www.georgeherald.com/viewblog/1681/Viva-Afrikaans-Viva
Kaalvoet buksie kry tekkies
Om ná skool al die pad George toe te ry van Knysna af, was oor en oor die moeite werd vir Macnita Samuels wat deur Just Water Southern Cape verras is met ‘n spoggerige paar Assic-hardloopskoene, sportdrag en ‘n reënbaadjie. GEORGE NUUS - Toe Macnita Samuels (18) haar nommer 2 kaal voetjies op die nat pad neersit tydens die onlangse Farm Run by Geelhoutboom buite George, het sy beslis nie gedroom dat ‘n weldoener haar sou raaksien nie. Die klein buksie van die Knysna Sekondêre Skool het op Saterdag, 29 Oktober in sagte reën onder die ander atlete uitgehardloop en was die eerste vrou oor die wenstreep in die 10 km-wedloop. Toevallig was Just Water Southern Cape een van die die waterborge by die geleentheid en kon bestuurder Duan Jonker nie sy oë glo toe die fyn meisietjie verby hom woerts sonder hardloopskoene nie. Dit het hom bygebly en terug op kantoor, het die bestuur saamgeklap om Macnita uit te rus met sportdrag, hardloopskoene en ‘n reënbaadjie. Haar afrigter, Heinrich Philander, het haar verlede week een middag ná skool spesiaal George toe gebring vir die inkopietog. Philander rig Macnita nou al amper vyf jaar af en sê sy “is so ‘n bietjie lui, maar met harde werk kan sy baie ver kom”. Om ná skool al die pad George toe te ry van Knysna af, was oor en oor die moeite werd vir Macnita Samuels wat deur Just Water Southern Cape verras is met ‘n spoggerige paar Assic-hardloopskoene, sportdrag en ‘n reënbaadjie. Hier is sy, hoogs in haar skik, saam met (van links) Duan Jonker, bestuurder, Just Water SC, haar afrigter, Heinrich Philander, en Samantha September, verkoopsverteenwoordiger, Just Water SC, tydens die inkopietog by SportsCentre. Om ná skool al die pad George toe te ry van Knysna af, was oor en oor die moeite werd vir Macnita Samuels wat deur Just Water Southern Cape verras is met ‘n spoggerige paar Assic-hardloopskoene, sportdrag en ‘n reënbaadjie. Hier is sy, hoogs in haar skik, saam met (van links) Duan Jonker, bestuurder, Just Water SC, haar afrigter, Heinrich Philander, en Samantha September, verkoopsverteenwoordiger, Just Water SC, tydens die inkopietog by SportsCentre. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Volgens Macnita was haar pa ook ‘n padatleet. “En ek hardloop self al van geboorte af,” sê sy. “Ek doen cross country ook, maar ek is nie lief om op gras te hardloop nie. Ek hou meer van die pad, hoewel ek niks hou van oefen nie; dis harde werk. Maar hierdie nuwe tekkies ... ek dink ek gaan my personal best hardloop met hulle!”
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176382/Kaalvoet-buksie-kry-tekkies
2016-11-11 13:00:00
Atletiek SWD vereer sy sportsterre
Alf Zehmke, president van Grasshopper Outeniqua Harriers, wens twee van sy klub se topatlete geluk met hul toekennings. Links staan Nolene van Rensburg en regs Elwick van Wyk, wat albei vir hul stapprestasies vereer is. SUID-KAAP NUUS - Meike Strydom, 'n gr. 10-leerder van Hoërskool Outeniqua, is Vrydagaand by 'n glansgeleentheid by die Wilderness-hotel aangewys as Atletiek SWD se sportvrou van die jaar vir 2016. Strydom het ook die trofeë ontvang vir die beste baan- en veldatleet vir dogters o.17 en het vanjaar by verskeie groot atletiekbyeenkomste goud in gewigstoot verower. Elwich wat ook aangewys is as die beste mansstapper van 2016. Jacques Wolfaardt is aangewys as afrigter, Eddie Mouton van Nedbank SWD as ysterman en Nedbank SWD as beste klub van die jaar. Die volgende persone is vereer vir tegniese uitnemendheid: Overton November, George Kock, Rose Linda Kock, Kidron Kaboni, Moses Gericke, Wessel van Brakel, Jan Booysen, William Jansen, Gwendolene Kopeledi, Reginald Mitchell en Desmond Prins. Die 71-jarige juweel van die Suid-Kaap, Toy Ungerer, wat by die meestersatletiekkampioenskappe in Perth, Australië, die 400 m vir vroue 70+ in 'n nuwe wêreldrekord van (73:97) gewen het, is aangewys as beste meesters-vroueatleet. Ungerer het ook 'n spesiale toekenning ontvang vir die wêreldrekord wat sy opgestel het. Johan Windt is aangewys as die beste mans-meestersatleet vir 2016. Die volgende atlete is ook vereer: Baan en veld (medaljes by SA junior en jeugbyeenkomste): Annuske Coertze - spiesgooi (46,39 m), Simonn Swanevelder - paalspring (3,2 m) en Russel Pratt - 10 km-stap (51:01.62). Marno April - seuns o.16, Nolene van Rensburg - dogters o.15, Bradley Carelse - seuns o.19 en Bianca le Grange - dogters o.19. Godwin Heyns - junior mansatleet, Melissa van Rensburg - senior vroue atleet, Elfonzo Pieterse - senior mansatleet, Anel van Wyk - vroue 35-39, Lana Theunissen - vroue 40-49, Lindile Tokota - mans 40-49, Annatjie Botes - vroue 50-59, Patrick Peters - mans 50-59 en Jan du Toit - mans 60+, Elfonzo Pieterse - mans-padatleet van die jaar en Melissa van Rensburg, vroue-padatleet van die jaar. Atlete jonger as 12: Xavariea Tekana (goud), Ashton Grootboom (goud), Shevonne Gentle (silwer), en Sheronique Noordman (silwer). Shane Webb - dogters 13 (goud), 17:03, Durando Aweries - seuns 13 (goud) 15:25, Nolene van Rensburg - dogters 14-15 (goud) 26:25, Mone Geldenhuys - dogters 14-15 (silwer) 27:33, Louis Plaatjies - mans 40-44 (silwer) 1:01:29, David Morgan-Smith - mans 75-79 (goud) 1:09.30, Ishmael Mohlaleni - mans 45-49 (silwer) 2:00.00. Nolene van Rensburg vroue padstapatleet vir 2016. Ita Stiglingh is as vroue padstap ambassadeur en David Morgan-Smith as mans padstap ambassadeur aangewys. Dogters 8 jr-span wat goud gewen het by die SA Landloopkampioenskappe: Sheroniqua Noordman, Elisma van Wyk, Lorezel Wolhuter en Phoebe Cairncross. Seuns 9 jr span het 'n bronsmedalje ingepalm: Kurt Botha, Katlego Letsoso, Juliano Solomons en Umalien Kleinhans. Kurt Botha (silwer), Hendry Isaac (silwer). Annatjie Botes -vroue 55-59 jr (silwer) en Ruben Dhlepu - junior mans (vierde). Linelle Groenewald het 'n trofee ontvang vir vroue-landloopambassadeur van die jaar. Botes en Dlephu is onderskeidelik aangewys as vroue en mans-landloopatleet van die jaar. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus' Die talentvolle stapper Elwick van Wyk, 'n gr. 11-leerder by Van Kervel, is aangewys as sportman van die jaar.
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Athletics/177298/Atletiek-SWD-vereer-sy-sportsterre
2016-11-24 12:00:00
Bestmed borg straatmylreeks
Die Bestmed-straatmylreeks is verlede Donderdag by NMMU George-kampus bekend gestel. Van die eregaste by die geleentheid was voor, van links: Moses Gericke (president van Atletiek SWD), prof. Quiton Johnson (kampushoof van NMMU George), Yoliswa Lumka (NMMU-sportdirekteur) en Sasja la Grange (bemarkingshoof van Bestmed). Agter: Dirk van der Westhuizen (Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport), Dave van der Walt (Eden-sportraad), LJ van Zyl (SA Olimpiese atleet), Karen Phipson (ATKV Hart SUID-KAAP NUUS - Bestmed gaan die Eden-straatmylreeks vir die volgende drie jaar borg. Dié mediese diensverskaffer het die aankondiging verlede Donderdag tydens die mediabekendstelling van die Bestmed Eden-straatmylreeks op Saasveld, tuiste van die NMMU se George-kampus, gedoen. Sasja la Grange, bemarkingshoof van Bestmed, het in antwoord op 'n vraag gesê die maatskappy sal sy betrokkenheid by dié reeks ten minste vir die volgende drie jaar voorsit. Sy het gesê Bestmed het sy fokus op die Suid- en Oos-Kaap verskerp en hulle beskou die straatmylreeks as 'n ideale geleentheid om die maatskappy beter te bemark. La Grange het gesê Bestmed se borgskapstrategie is om alle Suid-Afrikaners meer gesond te maak deur die ondersteuning van hul vyf gesondheidspilare: wees aktief, wees nutrisiewys, wees finansieel fiks, wees veilig en wees gelukkig. Sy het Bestmed-lede aangemoedig om die straatmylreeks by te woon en terselfdertyd 'n gratis gesondheidstoets by die Bestmed-gesondheidstente te laat doen. Tydens die bekendstelling het Karen Phipson van ATKV op Hartenbos ook aangekondig dat hulle R25 000 gaan bydra tot vanjaar se reeks. Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport gaan R10 000 tot die ontwikkeling van die reeks skenk. Ander sekondêre borge wat ook straatmylreeks ondersteun, is Klein Karoo Internasionaal, Coca-Cola, Kovsies, Karoopot-restaurant op Oudtshoorn, Karoo MTB Tours, Madibaz Sport, Plastics for Africa, Group Editors as mediaborg en Oudtshoorn Ford. Om die geleentheid suksesvol aan te bied, word sterk geleen op vennote soos Atletiek SWD, Eden-fietsry, die munisipaliteite van George, Oudtshoorn en Mosselbaai en hulle verkeersde-partemente. As akkommodasie-borge het die reëlingskomitee die ondersteuning van Kleinplaas-vakansieoord, La Pension-gastehuis, Advocate's Manor-gastehuis, NA Smit-rusoord (almal op Oudtshoorn) en Nelson Mandela Metropool Universiteit (George Kampus). Die bekende Olimpiese atleet LJ van Zyl se vrou, Irvette - in eie reg een van Suid-Afrika se topatlete - het hom uitgedaag tot 'n tweestryd tydens die straatmyl op Hartenbos. Prysgeld van R81 500 is in die reeks op die spel. Die eerste been van die reeks word op Oudtshoorn aangebied en staan bekend as die Bestmed Klein Karoo-straatmyl. Dit vind op Saterdag 17 Desember in Baron van Reedestraat plaas. Die tweede been op Dinsdag 20 Desember vind in George by NMMU se Saasveld-kampus plaas en staan as die Bestmed Nelson Mandela Metropool-straatmyl bekend. Die derde been is op 22 Desember in Hartenbos plaas as en staan nou as die Bestmed ATKV-straatmyl bekend. Van Suid-Afrika se topatlete wat alreeds aangedui het dat hulle gaan deelneem, is Dumisane Hlaselo en Simoney Weitsz, verlede jaar se reekswenners, asook Elroy Gelant (Olimpiese finalis in Rio vanjaar), Dullan Solomons, Chantel de Lange vanuit Nederland), Leanda du Bruyn (Kalifornië]), Thabang Matiwane, Henry Makane en Thandi Sehohle (albei Universiteit Johannesburg), Keso Molotsane (Kovsies), Godfrey Mothapo (Tembisa AC), Icarien van Deventer (Tygerberg), Amy Abrahams (UWK) en Anneline Roffey (FNB Multisport). Vanjaar word fietsry as deel van die program op Oudtshoorn aangebied. Die myl-snelren gaan beslis van die land se topfietryers trek. Klubs en oefen-groepe van die Kovsies, die PUK, FNB Multisport, Endurocad van Elana Meyer, Willie Engelbrecht se Zwarries-groep, Norman Ontong se Fit2Run-groep uit Worcester, die Riversdal SuperKids en die Cecil Roffe-groep het hul teenwoordigheid bevestig. Meer inligting kan op die webtuiste verkry word. Inskrywings kan ook aanlyn gedoen word www.edenmiles.co.za Vir enige navrae kontak Hans van der Veen by 083 462 0477. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus' Vanjaar se "nuutjies," wat deel van die program vorm, is die myl-fietsren as deel van die Bestmed Klein Karoo-straatmyl op Oudtshoorn en die gesinswedloop wat deel is van die Bestmed ATKV-straatmyl op Hartenbos.
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Athletics/177294/Bestmed-borg-straatmylreeks
2016-11-24 12:00:00
Opvolg: 1 van hospitaal-vermistes tuis
Die George-hospitaal. Foto: Hugo Redelinghuys. GEORGE NUUS - Slegs 'n paar uur nadat 'n berig oor vyf vermiste persone verlede week in die George Herald verskyn het, is een van die vroue veilig gevind. Lea Malan (44) van Proteapark is Donderdag 27 Oktober by haar woning opgespoor. Haar lewensmaat, Thys James, het haar in September as vermis aangemeld, maar nagelaat om die George-polisie in te lig dat sy vroeg verlede maand teruggekeer het huis toe. Malan, 'n diabeet, is op 23 September per ambulans na die George-hospitaal geneem nadat sy siek geraak het. Sy is volgens inligting van die polisie in die vroeë oggendure ontslaan, maar het nooit by haar huis opgedaag nie. Malan kon nie vir die polisie sê presies waar sy was nie, slegs dat sy vir 'n paar dae saam met 'n vrou "iewers by 'n see" was. Dit blyk dat sy soms verward en vergeetagtig raak weens haar mediese toestand. Die polisie vermoed Malan was na haar verdwyning by 'n vriendin in Suiderkruis, Groot-Brakrivier. Die vriendin se dogter het die polisie vroeg die oggend gebel nadat sy die artikel oor Malan se verdwyning in die George Herald gelees het. Sy het aan die polisie gesê dat hulle Lea as Sophie ken, en dat sy vir 'n tydjie by haar ma gekuier het voordat sy huis toe is. Die polisie het die inligting onmiddellik opgevolg en Malan by haar woning aangetref. Intussen gaan die ondersoeke na die ander vier persone voort. Hulle is Martha Lodewyk (71) van Vleistraat in Rosemoor wat op Woensdag 27 November 2013 verdwyn nadat sy buite die hospitaal gaan rook het. Sy is nooit opgespoor nie. Petrus Kammies (78), oorspronklik van Dysselsdorp, het op 5 Desember 2013, net soos Lodewyk buite die hospitaal gestaan en rook voor hy verdwyn het. Hy is met prostaatkanker gediagnoseer en sou 'n operasie ondergaan het. Pieter Pienaar (54) van Bellairstraat in Borcherds, het op 12 Oktober 2015 verdwyn. Pienaar is ook laas buite die hospitaal gesien waar hy die dag vir 'n mediese ondersoek was. Hy het die hospitaal omstreeks 16:35 verlaat en in Langenhovenstraat geloop in die rigting van die middedorp. Christina Damonds (35) van Goedemoedsingel, Golden Valley in Blanco, het op 6 Julie 2016 haar ouerhuis verlaat op pad na Waboomskraal. Iemand het haar terug na Blanco geneem en naby haar huis afgelaai, maar sy het nooit daar opgedaag nie. Sy was geklee in 'n grys en roomkleurige broek, swart en wit strepies T-hemp en een pienk skoen. Enigiemand met inligting oor die vermiste persone of wat hulle gesien het, kan ao. Wessie Westraad bel by 082 7222 010 of 044 803 4775. ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/175751/Opvolg-1-van-hospitaalvermistes-tuis
2016-11-03 08:00:00
KKNK 2017: Wat om te verwag
Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band. Foto: Verskaf Die multi-bekroonde regisseur en skrywer Neil Coppen se Buite Land (oorspronklik NewFoundLand) is ’n kontemporêre drama en debuteer by die fees. Dit vertel die storie van twee jong mans uit verskillende konserwatiewe kulture en hul realiteite en gewaarwordinge. Jacques Bessenger, Elize Cawood en Kopano Maroga is onder andere hierin te sien. Chris Barnard se klassieke stuk Pa maak vir my ’n vlieër Pa, onder regie van Albert Maritz en met Sandra Prinsloo, Waldemar Schultz en Wilhelm van der Walt is te sien, asook Henrik Ibsen se internasionale vertaalde, klassieke werk Die vrou uit die see, onder regie van Henry Mylne. Die KKNK se opelug musiekervarings keer vir die eerste keer sedert 2012 terug na die Rivierbuurt en bied meer waarde as ooit tevore. ’n Ongelooflike atmosfeer word in die Rivierbuurt geskep met stalletjies, smulkos, wyn- en deli-proeë, kindervermaak, rusareas, musiek by twee verhoë vanaf 12:00 én in 2017 ook aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog. ’n Feeskaartjie kos R250 (vir agt dae se vermaak) en dagkaartjies kos R50 per dag. Golden circle-kaartjies is vir uitgesoekte aande beskikbaar vir diegene wat voor in die gehoor wil wees, maar hierdie kaartjies bied nie toegang tot die Rivierbuurt nie. Kindervermaak is gefokus by Arbeidsgenot en kinders (jonk en oud) word hier getrakteer op ’n verskeidenheid teaterproduksies en aktiwiteite soos Crafty Kids se werkswinkels, ’n multi-media produksie TechnoPOP en verskeie Uitkampteaterstukke. Gunstelinge onder die kinderhelde soos Lollos maak ook ’n draai. Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za . Kaartjieverkope vir Kliek Klublede open Maandag, 28 November en Dinsdag, 17 Januarie 2017 vir die publiek by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan by verblyf@kunste.org.za of 044 203 8600 gedoen word. 'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus' SUID-KAAP NUUS - “Die 23ste KKNK bied hope geleenthede om die room van die Suid-Afrikaanse kunste in verskeie genres, dissiplines en vorms te beleef. Vermaak vir oud en jonk word met ’n program propvol drama, humor, musiek, diskoers en vermaak aangebied.”So sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK wat van Saterdag, 8 tot Saterdag 15 April 2017, vir die 23ste keer op Oudtshoorn aangebied word. Die datums val binne die nasionale skoolvakansie en die fees eindig oor Paasnaweek. Die feesprogram is op Sondag, 27 November by Rhebokskloof Wynlandgoed in die Paarl bekendgestel.“Ons vereer vanjaar vir Pieter-Dirk Uys met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys vir sy enorme bydrae as skrywer, satirikus, sosiale aktivis en humanis en ons is opgewonde om die jong teatermaker, Jason Jacobs wat as skrywer, regisseur en akteur ’n dinamiese en belangrike nuwe stem tot die Suid-Afrikaanse teaterbedryf voeg, met die Kunste Onbeperk Nuwe Stem-prys te vereer”, sê Snyman.Volgens Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, neem Uys die voortou met komedie en satire by die fees in ’n oorkoepelende feesprogram wat gewortel is in sosiale kwessies van kontemporêre Suid-Afrika. “Pieter-Dirk Uys keer na ’n lang afwesigheid terug na die KKNK en is in verskeie produksies te sien. ’n Intieme outobiografiese stuk Weerklink van ’n Wanklank en saam met sy “gunsteling”-politici uit die verlede en hede in Pasaanoffokof. Tannie Evita Bezuidenhout maak as eregas ook ’n paar verskynings tydens die fees”, sê Theart.Jacobs bied ’n trilogie van werk aan wat insluit In wag van, Kalahari Swaan en Stof Rooi. Volgens Theart is sy besondere styl van teater en sterk poëtiese aanslag ’n belewenis wat sorg vir uitmuntende teaterervarings.Verskeie nuwe en klassieke werke is op die toneelprogram te sien. Reza de Wet, wat in 2017 vyf jaar oorlede is, se kragtige toneelstuk Breathing In word vir die eerste keer in Afrikaans aangebied as Asem, onder regie van Marthinus Basson, met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt. Hierdie produksie word deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) aangepak.Die Hertzog-pryswenner vir Drama, Tertius Kapp, span kragte saam met sy Rooiland-vennoot Jaco Bouwer vir die debuut van Liewer, wat verhoudings tussen generasies in Suid-Afrika, seksuele spanning en kommunikasie ondersoek. Anna-Mart van der Merwe, Brendon Daniels, Wilhelm van der Walt en die jong aktrise Tarryn Wyngaard is hierin te sien.’n Aantal solovertonings debuteer by die fees waaronder Éric-Emmanuel Schmidt se roerende Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran met Dawid Minnaar, onder regie van Philip Rademeyer. Mark Behr se roman, Die reuk van Appels, onder regie van Lara Bye word deur Gideon Lombard lewe gegee. Sandra Prinsloo is te sien in ’n splinternuwe solostuk, Moedertaal, met teks en regie deur Nico Scheepers. Prinsloo is ook te sien in die treffer So ry miss Daisy, met John Kani en Jacques Bessenger, onder regie van Christiaan Olwagen.Lara Foot se multi-bekroonde Karoo Moose, maak sy eerste verskyning in die Klein Karoo en vertel ’n hartverskeurende verhaal met Afrika-storievertelling. Ander dramahoogtepunte sluit in Dop, met kragtoere deur André Odendaal en Wilhelm van der Walt, onder regie van Sylvaine Strike, Hond met Frank Opperman en Beurtkrag met Ivan Botha en Donnalee Roberts.Die baanbreker van Afrikaanse stand-up, Casper de Vries is terug en te sien in 3-in-1 saam met Schalk Bezuidenhout en Hannes Brummer. Bezuidenhout is ook in ’n solo-vertoning Voksbesit te sien.Marthinus Basson bring een van Duitsland se mees opgevoerde kontemporêre skrywers, Roland Shimmelpfenning, se komedie Die koninkryk van die diere na die verhoog met ’n geselskap van verskillende generasies spelers in Dawid Minnaar, Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Wessel Pretorius en Ludwig Binge. Pretorius se roerende komedie Die Ontelbare 48 is te sien en na suksesvolle Uitkampteaterstuk Klara Maas se Hart is gebreek, debuteer dié volwaardige toneelstuk.Pierre van Pletzen (Oubaas van 7de Laan) is na jare terug op die verhoog in sy solokomedie, Voël in die hand. De Klerk Oelofse debuteer met sy eerste solokomedie Strooijonker en Esther von Waltsleben (Francois Toerien Show en Die Republiek van Zoid Afrika–faam) debuteer met haar solostuk, O my goeie volk. Marion Holm se 14de solokomedie, Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis debuteer by die fees.Frans Swart se My man se skelmpie se skelmpie se vrou is ’n skreeusnaakse klug met o.a. Cobus Venter en Ana van Achterbergh en Saartjie Botha se komedie Gebore uit die huwelik, met Elize Cawood en Wilson Dunster maak sy debuut.Ander komedies sluit die verhoogverwerking van P.G. du Plessis se Koöperasie-stories (Chris van Niekerk, Marion Holm, De Klerk Oelofse, Margit Meyer-Rödenbeck en Carel Nel), Ooms (Tobie Cronjé en Gerben Kamper), Net ’n Chilliburger en Chips asseblief! (Deon Lotz en Waldemar Schultz) en Mike van Graan se treffer skerpskertsproduksie Pay back the Curry in.David Kramer se hip-hop musiekblyspel Amper Famous, saam met die jong hip-hop kunstenaar V.I.T.O. ontwikkel, is ’n eerste vir Suid-Afrika. V.I.T.O. is te sien in die hoofrol met ’n storie van ’n jong man van Okiep wat droom van nasionale sukses met sy Afrikaanse hip-hop.Coenie de Villiers span kragte saam met Deon Meyer vir Karoo Suite met van De Villiers se nuwe musiek en die Karoo Suite, ’n debuutwerk, struktureel gebaseer op Vivaldi se Vier Seisoene. De Villiers het die musiek gekomponeer en die internasionaalerkende skrywer Deon Meyer het gehelp met die teks. Hy wys ook van sy asemrowende fotografie wat ’n agtergrondtafereel vir dié multimedia-viering word.Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band trek ’n kontemporêre baadjie vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese protesalbum Eet Kreef aan en die musiekprogram tree in gesprek met ’n ander ikoniese musiekteaterstuk Piekniek by Dingaan wat deur die Feesteforum en NATi ontwikkel word as Piekniek by Mpande nee Dingaan.Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe gee ’n swing twist aan bekende Afrikaanse musiek in die splinternuwe Karoo Swing en Zolani Mahola (Freshlyground) kom Rock en rol in ’n produksies wat die rol van vrouwees in die wêreld van rock & roll vereer.Ander musiekdebute sluit in Amanda Strydom met So onder deur die maan, Andriette Norman en orkes met Goeie genade dis ’n dekade!, Jak de Priester met 15 Jaar met klavier en kitaar, Loki Rothman en Albert Frost met Die akoestiese kitaar, Ricus Nel en Pietman Geldenhuys met Die ding van ’n liedjie en Steffie le Roux en Les Javan wat hul musiektalente saamspan.Die Vlammende Fez, ’n literêre kabaret, kyk na skrywer I.D. du Plessis se lewe en skryfwerk oor die Kaapse Maleier-kultuur, onder regie van Abduragmaan Adams met o.a. Chris van Niekerk, Loukmaan Adams en ’n Kaapse Maleier-sanggroep.Angels on Horseback: Skop skiet and Blonder is sexy en satiriese vermaak en Jemma Khan bring die internasionaal suksesvolle We didn’t come to hell for the Croissants na die fees. Hierdie stout kabaret is verskillende storievertelling in die Japanese tradisie van prentjiestorievertelling (kamishibai), met die oorspronklike tekste deur verskillende vooraanstaande jong Suid-Afrikaanse skrywers in Engels geskryf, spesiaal vir die KKNK na Afrikaans vertaal deur Tertius Kapp.Nuwelinge op die program sluit in Elisha Zeeman wat na haar suksesvolle Uitkampteater-stuk van 2016 ’n volwaardige kabaret na die planke bring met Mond Verby. Die internasionaal bekende Suid-Afrikaanse pianis, Petronel Malan is na jare te sien in ’n spesiale uitvoering, Getranskribeer. Ander hoogtepunte sluit in Adam Tas, Rocco de Villiers, Elvis Blue en Mathys Roets.Literêre juwele is volop met boekgesprekke saamgestel deur Daniel Hugo, Jana Cilliers wat met In die Omtes van die Hart, Petra Müller se werk voordra, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte saamgestel en onder spelleiding van Juanita Swanepoel met akteurspaar Waldemar Schultz en Ira Blanckenberg en Eric Nobbs se vertellings oor Giel Swiegers en ander Karoo-duiwels. Die digter Danie Marais en RSG-aanbieder Haidee Muller bring bekende en minder bekende storievertellers van heinde en verre bymekaar om die ATKV-Kampvuur vir heerlike stories, kuier en musiek.Na die sukses van Uitkampteater in 2016, is dié kort-kuns projek terug en verskeie opwindende stukke word om die uur aangebied in tentjies met o.a. twee Nederlandse stukke, Diep en Wentel, wat jou omgewing letterlik omkeer. Baron van Reedestraat bied ’n feestelike program met internasionale straatteater uit onder meer België en Spanje en verskeie verrassings lê voor met geheime bekende kunstenaars wat in die straat ’n verskyning maak.Dr. Paul Bayliss, kurator van visuele kuns, het ’n diverse samestelling van kurators, kunstenaars en mediums byeengebring wat sorg vir ’n besonderse ervaring. ’n Feesuitstalling met die titel Die moontlikheid van sig / The possibility of sight, onder kuratorskap van prof. Raimi Gbadamosi word aangebied.Hannes van Wyk is op die bank met Kwêla-gesprekke waar hy met bekendes en kundiges in die industrie gesels. Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, en joernalis Ivor Price, lei Die Burger Praat Saam se diskoersreeks met onderwerpe waaronder Suid-Afrikaanse politiek, Afrikaans, kerke en klasgelde. Bayliss lei daagliks gesprekke oor kuns en rondleidings by die kunsuitstallings. Teatergesprekke na afloop van sommige vertonings bied insig agter die skerms.
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/177443/KKNK-2017-Wat-om-te-verwag
2016-11-28 10:00:00
Inwoners moet 'kla op papier'
John Damons (links) en Jeffrey Eswach is van die inwoners wat ongelukkig is oor vyf gesinne se beplande skuif na 'n area langs Kekkel en Kraai-kleuterskool. GEORGE NUUS - Inwoners van Borcherds was baie verbaas toe hulle hul griewe op papiertjies moes skryf tydens George-munisipaliteit se besoek aan die wyk Dinsdagaand. Die vergadering by Kidstop vorm deel van 'n reeks besoeke aan al 27 wyke om die dorp se geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die volgende vyf jaar te deel en die behoeftes en prioriteite van die gemeenskap te bepaal. Die griewe is na die afloop van die munisipaliteit se aanbieding aan die gemeenskapslede voorgelees. Volgens een van die inwoners wat die vergadering bygewoon het is dit "net nog 'n manier om monde te snoer". Die wyksraadslid Mercia Draghoender wou die vergadering na die voorlesing verdaag. Volgens Debra Sauer, assistent mediaskakelbeampte van George-munisipaliteit, word die gemeenskapslede na die aanbieding in groepe gedeel om wyksgebaseerde kwessies te bespreek en dit dan skriftelik in te dien. Munisipale beamptes is teenwoordig by elke groep om bystand te verleen, terwyl die wyksraadslid tussen die groepe beweeg. Hulle word ook 'n kans gegun om direk met 'n direkteur te praat as dit verlang word. Hierdie prosedure is nie tydens die vergadering in Borcherds gevolg nie. Twee inwoners het wel 'n spreekbeurt geëis om kwessies te opper. Die ANC se wykskandidaat tydens die regeringsverkiesing in Augustus, Clive Scheepers, het kapsie gemaak teen die verskuiwing van vyf gesinne van Spandielstraat, na 'n stuk veld agter Heidedal Primêr, langs Kekkel en Kraai-kleuterskool. Scheepers het inwoners se ontevredenheid verwoord, waaronder diegene wat naby die veld woon, en die gesinne wat gevra is om te skuif. Hy voer aan dat die skool en kleuterskool ook ongelukkig is oor die verskuiwingsplan. Die gesinne se plakkershutte in Spandielstraat het 'n paar jaar gelede afgebrand, waarna hulle verder op in dieselfde straat hervestig is met sinkhutte van George-munisipaliteit. In 'n brief aan die gesinne sê die munisipale bestuurder Trevor Botha dat dit onder die munisipaliteit se aandag gebring is dat die area "uiters gevaarlik is en nie geskik vir bewoning nie". Dit blyk dat die gesinne terug wil skuif na waar hulle gewoon het voor die brand, óf na die Metro-gronde wat glo aan inwoners beloof is vir huisvesting. Die Metro-gronde is 'n oop stuk veld tussen PW Botha Boulevard en Borcherds. Metro Cash & Carry was destyds oorkant die grond geleë. Ander sinkhutte is intussen opgerig in die deel van Spandielstraat waar die gesinne vroeër gewoon het. Volgens Scheepers het nie een van die gesinne hulle goedkeuring gegee om na die veld agter die skool te verskuif nie. Draghoender het benadruk dat die area waar die gesinne tans woon gevaarlik is. "Die walle is onstabiel, dit kan ingee, dan is dit die munisipaliteit se skuld as mense seerkry," het sy gesê. Navrae oor die kwessie is gister na George-munisipaliteit gestuur. Ann Adams (links), haar ma Elizabeth, Marlene Peterson en haar dogtertjie Chefmeen (3) is deel van die vyf gesinne wat hul sinkhutte moet skuif. Wyksraadslid Mercia Draghoender kyk toe terwyl Clive Scheepers 'n spreekbeurt eis. Foto's: Michelle Pienaar . "Ek is hier om my bors skoon te maak," het André Windwaai gesê. ARTIKEL & FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176212/Inwoners-moet-kla-op-papier
2016-11-10 15:00:00
Bekende filmmaker Jans Rautenbach oorlede
Jans Rautenbach. Foto: Marlene Malan NASIONALE NUUS - Die bekende filmmaker, Jans Rautenbach is vandag oorlede. Rautenbach is in die Bay View Hospitaal in Mosselbaai oorlede aan komplikasies van longontsteking. Boodskappe van regoor die land stroom tans in en word op sosiale media gedeel. "Een van Suid-Afrika, en Afrikaans, se grootste regisseurs en vervaardigers is vandag oorlede." So het filmresensent en skrywer, Leon van Nierop vandag op Facebook geskryf. "Jans Rautenbach, baanbreker-regisseur van Jannie Totsiens, Katrina en veral die briljante Die Kandidaat is nie meer by ons nie. Simpatie aan sy familie en almal wat soveel respek en bewondering vir hierdie grootse kunstenaar en filosoof gehad het, en veral vir sy versiende rolprente. Sy nalatenskap is geweldig en omvangryk en sal moontlik nooit oortref word nie." "Die filmmaker Jans Rautenbach is vandag op 80-jarige ouderdom in die Bay View Hospitaal in Mosselbaai oorlede aan komplikasies van longontsteking. "Hy is gebore in Germiston in 1936 en het in Boksburg grootgeword as 'n mynwerkerseun. In die laat 1960s het hy in vennootskap getreë met vervaardiger Emil Nofal en as regisseur van Die Kandidaat (1968), Katrina (1969) en Jannie Totsiens (1970) 'n bakenverskuiwende vernuwing in Afrikaanse film teweë gebring. Ander hoogtepunte was onder meer Die Ongewensde Vreemdeling (1974), Eendag op 'n Reëndag (1975), Blink Stefaans (1981) en Abraham (2015). "Na die verfilming van Pappa Lap (1971) op die dorpie De Rust het Rautenbach sy gesin hervestig in die Klein Karoo en saam met sy vrou Almeri die bergplaas Oulap aan die voet van die Swartberg ontwikkel. In die Klein Karoo was hy 'n stigterslid en direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en het oudpresident Nelson Mandela ontvang vir die Vryheid van die Dorp in 2001. Die Prins Albert Leesfees wat Vrydag begin word aan Rautenbach opgedra. Jans Rautenbach en van die Abraham-akteurs. Foto: Marlene Malan 'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Tuinroete, Hessequa nuus' Jans se seun, Gert Rautenbach, het 'n persverklaring uitgereik waarvan 'n deel hieronder geplaas word:In later jare het hy baie erkenning gekry vir volgehoue gemeenskapsdiens, veral vir die transformasie van die plaasskool Vlakteplaas UCC Primêr in een van die top landelike skole in die land. Sy laaste fliek - Abraham, in 2015 - is grootliks gevul deur plaaslike gemeenskapslede met geen formele drama agtergrond nie.Hy word oorleef deur Almeri - sy vrou van 60 jaar - en sy kinders Andri, Erika, Gert, Strydom en sy kleinkinders.
http://www.georgeherald.com/news/News/National/175735/Bekende-filmmaker-Jans-Rautenbach-oorlede
2016-11-02 20:00:00
Die Bybel sê dat jy genadig moet wees in wat jy sê. Dit beteken dat jou doel in gesprekke altyd moet wees om die beste in ander uit te bring, nie om hulle te verneder of om hulle af te sny nie. Goeie kommunikasie maak goeie vriende, so jy moet duidelik wees wanneer dit by jou persoonlike grense, waardes, begeertes en oortuigings kom. Dit mag dalk waar wees dat meer probleme vergete as opgelos word, maar gesonde verhoudings het soms gesonde konfrontasie nodig. Daar is egter 'n regte tyd en 'n regte manier om dit te doen. Wanneer jy 'n moeilike situasie moet hanteer, bid en staan op hierdie Skrifgedeelte: 'My mond sal wyse woorde praat, my gedagtes sal getuig van insig.' Jou woorde is die voertuig waarmee jy jou gedagtes oordra, en jou tong is die bestuurder. As jy dus nie op die verkeerde pad wil opeindig nie, of 'n ongeluk wil maak nie, bid: 'Here, gee my woorde van wysheid. Help my om die regte ding, op die regte manier, op die regte tyd te sê.' Die Heilige Gees is 'n wonderlike bestuursinstrukteur! Hy sal jou lei en onderrig, en aanhou om met jou te werk totdat jy dit regkry. Hy sal jou help om in genade te groei tot jy 'n plek van volwassenheid in jou verhoudings bereik waar jy kan sê, 'Alles wat ek sê, is reg. Daar is niks daarin wat krom of verdraai is nie. Hulle wat insig het, weet dat ek reguit praat. Hulle wat na kennis soek, weet wat ek sê, is reg' (Spreuke 8:8-9 NLV). Wanneer jy dit kan sê, weet jy dat jy vordering maak!
http://www.georgeherald.com/viewblog/1684/Woorde
Jans Rautenbach Saterdag ter ruste gelê
Jans Rautenbach. NASIONALE NUUS - Die bekende filmmaker Jans Rautenbach , wat verlede week in Mosselbaai in die ouderdom van 80 oorlede is, word hierdie naweek ter ruste gelê. Die begrafnisdiens is Saterdag 12 November om 15:00 by Vlakteplaas-skool by die plaas Oulap buite De Rust op die Willowmore-pad. Rautenbach is Woensdag, 3 November in die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai oorlede aan komplikasies van longontsteking. Hy is in 1936 in Germiston gebôre en het as 'n mynwerkerseun in Boksburg grootgeword het. In die laat 1960's het hy in vennootskap getree met die filmvervaardiger Emil Nofal en as regisseur van Die Kandidaat (1968), Katrina (1969) en Jannie Totsiens (1970), 'n bakenverskuiwende vernuwing in die Afrikaanse filmwese teweeggebring. Ander hoogtepunte was onder meer Die Ongewenste Vreemdeling (1974), Eendag op 'n Reëndag (1975), Blink Stefaans (1981) en Abraham (2015). Jans en sy vrou Almeri het in die sewentigerjare op Oulap aan die voet van die Swartberg naby De Rust gevestig. 'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo, Tuinroete, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/National/176164/Jans-Rautenbach-Saterdag-ter-ruste-gele
2016-11-09 13:00:00
Tekort aan asemklikkers in Suid-Kaap
'n Bestuurder se alkoholvlak kan met 'n blaastoets soos dié bepaal word. Foto: Lizette da Silva GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap het 'n tekort aan asemklikkers om die alkoholvlak van motoriste in die Suid-Kaap op 'n ongelukstoneel te toets. Die beheerinspekteur van die streek is druk besig om aandag aan die probleem te skenk, het 'n woordvoerder van die provinsiale verkeersdepartement, Jacques Mostert, bevestig. Hy het nie uitgebrei oor die redes vir die tekort nie. Navrae in die verband, sowel as die toelaatbare optrede van beamptes op 'n ongelukstoneel, is aan die departement gerig na aanleiding van twee voorvalle in Oktober. Die tekort aan asemklikkers en 'n beampte se onwilligheid om 'n bestuurder se alkoholvlak te toets het ter sprake gekom. Volgens Mostert word nie alle verkeersvoertuie met asemklikkers toegerus nie, maar wel elke verkeersentrum in die Wes-Kaap. Desondanks 'n beweerde stelling van 'n verkeersbeampte dat "almal op 'n toneel" getoets moet word indien een betrokkene vir alkohol getoets word, blyk dit nie die geval te wees nie. "Almal hoef nie noodwendig getoets te word nie," het Mostert gesê. "Daar moet ook die redelike vermoede bestaan dat die persoon alkohol gebruik het. Die verkeersbeampte sal indien hy/sy op 'n toneel is presies weet wanneer om te toets en wanneer dit nie nodig is nie. My ondervinding het my geleer dat die ander party glad nie 'n probleem het om getoets te word as hy/sy glad nie alkohol gebruik het nie." * There is a shortage of devices to test the blood-alcohol level of drivers in the Southern Cape. The control inspector of the region is working hard to address the problem, confirmed a spokesman for the provincial traffic department, Jacques Mostert. He did not give reasons for the shortage. ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176218/Tekort-aan-asemklikkers-in-SuidKaap
2016-11-10 07:00:00
Meestersatleet terug van wêreldkampioenskappe
Die verwelkomingskomitee by George-lughawe: Van links is Cassie en Jackie Kruger, Sandra van Rensburg (Tiger Wheel & Tyre), Toy Ungerer, Lorraine Verhagen (George Herald), Marelize Lindt en Nico Ungerer, Toy se man. Voor is die sanger Michael Lindt en Calista (4). GEORGE NUUS & VIDEO - Toy Ungerer, Oudtshoorn se wêreldkampioenmeestersatleet, is gister soos 'n held by die George-lughawe ontvang. Met haar aankoms by die lughawe is sy deur familie, vriende, die sanger Michael Lindt en personeel van die George Herald ingewag. Lof vir haar prestasies tydens die wêreldmeestersatletiekkampioenskappe in Perth, Australië het nie op die George-lughawe geëindig nie. Met hul aankoms op Oudtshoorn, was Enchanted Coffee Shop versier deur eienaar Adalene Rudolph en gevul met Oudtshoorniete na aan Toy en Nico. Uitvoerende burgemeester Colan Sylvester en onderburgemeester Noluthando Mwati, vriende, familie, Oudtshoorn-sportlui en van Toy se aanhangers het haar hartlik terug verwelkom en geprys vir haar prestasies by die wêreldkampioenskappe, waarvan die opstel van 'n nuwe wêreldrekord en wen in die 400 m vir meestersvroue-atlete sekerlik die kersie op die koek was. Ungerer het Saterdagoggend, 5 November kort voor 09:00 die finale van die 400 m by die wêreldmeestersatletiekkampioenskappe in Perth, Australië gewen. Terselfdertyd het sy die 400 m-wêreldrekord vir vroue 70 plus vir die tweede keer in een week by die spele verbeter. In die uitdunne het sy Woensdag 2 November die rekord van 75.81 sekondes verbeter na 75.38 sekondes. Saterdag het sy die baanitem in 'n sub-74 sekondes-wêreldrekordtyd gewen toe sy in 'n tyd van 73.97 eerste oor die wenstreep gehardloop het. Haar 400 m-droom is by dié Spele voorafgegaan met 'n goue wen in die 100 m vir vroue in 'n tyd van 15:26. Met dié wen het sy haar eie SA rekord vir die sesde keer in ses maande verbeter. In die 200 m vir vroue 70 plus het Ungerer ook voor gehardloop, maar spoed verminder net voor die wenstreep. So het Brittanje se Brende Fee haar van 'n wen 'beroof' toe Fee met 'n 21ste van 'n sekonde vinniger as Ungerer klaargemaak het. Fee het in met 'n tyd van 32 sekondes gewen. Ungerer het in 32:21 oor die eindstreep genael. Kyk hieronder na 'n video van Toy se verwelkoming by die lughawe: Toy word in Oudtshoorn verwelkom. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Athletics/176759/Meestersatleet-terug-van-wereldkampioenskappe
2016-11-17 10:00:00
Ondersteuningsgroep vir geweldslagoffers
Pastoor Alan Spies (links), leraar van die AGS Pacaltsdorp saam met pastoor Anne Ross-Maarman en kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder. Foto: Alida de Beer GEORGE NUUSFLITS - Die AGS-gemeente van Pacaltsdorp stel op 3 Desember 'n beradingsdiens bekend vir slagoffers van geweld. Dit sal veral op vroue en kinders ingestel wees. Kinders wat met dwelmverslawing sukkel, sal ook kan aanklop by die Grace and Royal Ministry soos die inisiatief bekendstaan. Pastoor Anne Ross-Maarman, wie se breinkind dit is, is tans kapelaan en pastorale berader by Bethesda Medical and Relief Services in Rosemoor. Sy is opgewonde oor 'n groep vroulike vrywilligers wat twee maande gelede reeds met opleiding as lekeberaders begin het. Fasiliteerders op verkillende professionele gebiede help met die kursusaanbieding wat by die kerk plaasvind. "Ons het ook reeds in Oktober 'n ondersteuningsgroep vir vroue en kinders op die been gebring. Op die oomblik word die diens slegs op Saterdae aangebied, maar dit sal in die nabye toekoms uitbrei na weeksdae ook," sê Maarman. 'n Amptelike bekendstelling van die bediening word op 3 Desember by die kerk gehou met die tema, 'Let me take you to the King'. Dit begin om 10:00. Alle belangstellende vroue is welkom. • Ross-Maarman het in die 1990's in die Kaap 'n projek by polisiestasies begin om ondersteuningskamers vir geweldslagoffers te vestig en sy was al ATKV Vrou van die Jaar vir haar werk onder slagoffers van geweld. Sy het verpleging gedoen voordat sy as pastoor opgelei en in 2010 in die AGS georden is. Vir meer inligting oor Grace and Royal Ministry, bel haar by 079 327 3273. Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176937/Ondersteuningsgroep-vir-geweldslagoffers
2016-11-22 12:00:00
Fondsinsameling vir leukemielyer
Anja van Niekerk en haar kinders. GEORGE NUUS - Nog goedere gaan by twee veilings van Tradesman Auctions vanjaar opgeveil word ten bate van Anja van Niekerk, leukemielyer, wat tans in Mediclinic Constantiaberg is. Sy moet 'n beenmurgoorplanting kry wat ontsaglike mediese onkoste meebring. Die veilings vind plaas op 26 November en 16 Desember en is deel van 'n aantal konserte en funksies wat van haar vriende en familie gedurende die jaar aangebied het om geld in te samel. "Ons is vreeslik dankbaar vir al die skenkings tot op datum. Ons sal enige verdere items vir die volgende twee veilings hoog waardeer," sê Suzette Coleske, een van die organiseerders. Goedere kan afgegee word by Tradesman Auctions se veilingslokaal in Foundryweg. Mense wat dalk 'n bakkievrag vol goedere het of 'n groot item wat hulle nie self kan vervoer nie, kan vir Suzette bel by 084 308 5500. Van Niekerk moet dringend 'n beenmurgoorplanting kry en 'n oorsese skenker is gevind. Die koste vir slegs die beenmurg beloop meer as R300 000. Die ma van twee dogters is in 2013 met leukemie gediagnoseer. Vir meer inligting oor die geldinsamelingsveldtogte, besoek die Facebook-blad, Die Bloed in my Are. Anja is tans in isolasie in 'n Kaapse hospitaal en word met ingevoerde medikasie behandel nadat die kanker nie op die vorige chemoterapiebehandeling gereageer het nie. Sy moet in remissie wees voordat die beenmurgoorplanting uitgevoer kan word. Volgens haar broer, Anton Meyer, het sy haar twee dogters en haar man twee jaar laas 'n drukkie of 'n soen kon gee omdat haar immuniteit onderdruk moet word. "Anja lê in 'n klein kamer, sien die verpleegsters elke dag, kyk uit by 'n venster wat nie oopgemaak kan of mag word nie. Haar enigste uitsig is die ander kant van die hospitaal waarin sy vasgevang is," vertel hy. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/177561/Fondsinsameling-vir-leukemielyer
2016-11-29 16:00:00
Dementia en Alzheimer se siekte is siektes wat stadig soos 'n skim in die nag op mens afkom en 'n totale warboel veroorsaak vir die persoon self, asook familie wat daarmee te doen kry. Dit affekteer gewoonlik persone ouer as 55 tot 70 jaar. Dit is 'n komplekse genetiese siekte wat meer algemeen by vroue as mans voorkom. Dié siekte word uitgeken deur die stadige en geleidelike verlies van geheue, onvermoë om nuwe inligting te leer en te onthou, om die regte woorde te vind, afname in logiese denke, agteruitgang van spraak en waarnemingsvermoë, inkorting van alledaagse handelinge, veranderde, ontoepaslike en onvoorspelbare optrede, depressie, waandenkbeelde, gewigsverlies, emosionele uitbarstings en psigoses. Meeste persone wat met die siekte gediagnoseer word kan tussen agt en 10 jaar lewe en is daar tans nie medikasie vir die siekte beskikbaar wat dit kan genees nie. Om met Alzheimer se siekte saam te leef sorg vir 'n totale verandering in die persoon, familie en versorgers se lewens en is ondersteuning van kardinale belang. Hoewel die diagnose van die siekte ontstellend kan wees, degenereer 'n persoon met Alzhemers so vinnig dat hul mettertyd geen insig meer het nie. Versorgers en familie kan versorging te veel vind en word berading en professionele hulp aanbeveel. Versorgers moet gereeld afgelos word, maar is dit somtyds die beste besluit om so 'n persoon in 'n tehuis te sit wat spesialiseer in die siekte en versorging van persone wat daarmee gediagnoseer is aangesien versorging in die tuisopset kan lei tot groter probleme. Sommige Alzheimers-pasiënte kan saggeaard en rustig wees terwyl ander weer aggresief, rusteloos en buierig raak. Buiten die persoon se fisiese en emosionele versorging moet die woonplek veilig gemaak word: Kombuise, bad- en slaapkamers moet veilig wees. Die persoon kan uiteraard nie meer 'n voertuig bestuur nie. Eenvoudige maatreëls soos om ‘n toesighouer aan te wys as die pasiënt kos maak (om seker te maak dat die stoof afgeskakel en die kraan toegedraai word), deure gesluit te hou om te voorkom dat hulle na buite dwaal, hulp met gewone versorging is van groot belang en raak al meer essensieel soos wat die toestand agteruitgaan. ‘n Rustige omgewing, met die klem op aangename aktiwiteite, help mee om die pasiënt gemaklik en hanteerbaar te hou. • Gee dadelik pad as die pasiënt gewelddadig word. Verlaat die vertrek indien nodig en keer eers terug nadat hy of sy bedaar het.• Moenie met hulle probeer redeneer nie; hulle het die vermoë verloor.• Laat vreemde gedrag toe as dit niemand anders benadeel nie. Dis pasiënte se manier om sin uit hul nuwe "vreemde" omgewing tussen "vreemde" mense te maak. Voorbeelde hiervan is om voortdurend 'n tas te pak, 'n kas reg te pak of 'n handsak in die bed weg te steek.• Let daarop dat vreemde gedrag 'n manier is om vir die oppasser te sê iets is fout. Die pasiënt sal dalk skielik uitroep, slaan, vloek, huil of lag. Probeer hul aandag aflei van dit wat hulle ontstel.• As jy kan bepaal wat die sneller is wat die oorreaksie uitlok, kan jy dit probeer voorkom of hulle kalm hou wanneer dit gebeur. Dit kan enigiets wees van 'n hallusinasie tot dat hulle dors is of toilet toe wil gaan.• Lyers raak dikwels geïrriteerd omdat hulle sukkel om take te voltooi. Wanneer jy vir hulle wys of sê wat om te doen, gee die opdragte een vir een en laat genoeg tyd tussen elkeen toe.• Moenie te veel keuses gee nie. Sê eerder "Wil jy hierdie rok aantrek?" as "Watter rok wil jy aantrek"?• Moenie bekende roetines verander nie.• Kry 'n MedicAlert-armband vir Alzheimer-lyers.• Sit 'n klokkie of metaalvoorwerp aan die buitedeur om jou daarop bedag te maak as dit oopgaan.• Lig 'n veiligheidswag en bure in die omgewing in oor die situasie.• Sluit die deur indien nodig, en maak seker hulle kan nie uitkom by gevaarlike voorwerpe en toestelle soos die stoof en gifstowwe nie.• Moedig vriende en familie aan om by die pasiënt te kom kuier. Dikwels loop hulle weg om by geliefdes te gaan kuier.
http://www.georgeherald.com/viewblog/1667/Gedagtes-soos-vlinders
Geen borg vir neef na moord op oom
Generiese foto. GEORGE NUUS - Die vermoorde Ernst Hartnick (54) van Pacaltsdorp se nefie is Dinsdag in die George-hof borgtog geweier en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 13 Desember. Hartnick se liggaam is in sy kamer op die vloer aangetref met 'n gapende wond aan sy kop. Hy is vermoedelik verskeie kere met 'n stomp voorwerp geslaan. Daar word beweer dat Hartnick en Stalmeester oor erfgeld gestry het. Hartnick se ma, Lenie wat ook Stalmeester se ouma is, het Dinsdag gesê sy is verlig hy bly in aanhouding. "Alles is nog so onwerklik. Ernst se dood en die feit dat my eie kleinkind dit gedoen het. Dit raak soms te veel," het sy gesê. Die Hartnick-egpaar het 'n paar maande gelede ook hul oudste seun, Patrick aan die dood afgestaan nadat hy in 'n ongeluk in Secunda dood is. Patrick was Stalmeester se pa. Die saak dien voor landdros Faith Twala en Samantha Hendricks verskyn vir die staat. Stalmeester word deur me. B Scheel van die Regshulpraad verteenwoordig. Ao. Vernon Jantjies van die Pacaltsdorp-speurdiens ondersoek die saak. Die vermoorde Ernst Hartnick ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Brandon Stalmeester (23) word van die bloedige moord op Hartnick op 29 Oktober verdink en is 'n paar dae na die voorval in hegtenis geneem.
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176690/Geen-borg-vir-neef-na-moord-op-oom
2016-11-16 17:00:00
Groot name by Bush Lapa Musiekfees
Jakkie Louw tree op 20 Desember by die Bush Lapa op. SUID-KAAP NUUS - Dubbel Sama-genomineerde sanger, skrywer en akteur, Jakkie Louw is vanjaar weereens by die bekende Bush Lapa met sy treffende solovertoning. Hierdie boerseun wat in Oudtshoorn gebore is, se kombinasie van oorspronklike Afrikaanse musiek en komedie sal 'n hoogtepunt wees by vanjaar se Bush Lapa Musiekfees. Jakkie word in die musiekbedryf gesien as die immergroen studentesanger. Van sy gewildste treffers sluit in Drie Pikkewyne, Bamboesbos, Gemaak in SA, Voshaarnooi en Die Hoendersong. Aanhangers se harte is veral gesteel deur die treffer, Een miljoen woorde opgeneem op sy CD, Gemaak in SA. Jakkie tree ook saam met Kevin Leo onder die verhoognaam Jakkals en Leo op. Hy het as musikant begin op Stellenbosch en het later na Pretoria verhuis. Louw is die outeur van die boek Liedjieskrywer 101, waarin hy mense leer hoe om liedjies te skryf en met ritme en rym te werk. Hy het die boek aan sy pa, Nico Louw, opgedra. Liedjies soos Drie Pikkewyne en Die marulaboom dans asook sy rustiger treffers soos Voshaarnooi en Een miljoen woorde kan tydens sy optrede by die Bush Lapa verwag word. As jy lus is vir 'n kwaliteit aand in Afrikaans moet jy nie vir Jakkie Louw misloop nie. Op 20 Desember is hierdie Pikkewyn terug by die Bush Lapa wanneer gaste 'n dubbele dosis vermaak kan geniet met Jonathan van die Oos-Rand wat ook op die verhoog klim met sy eenmanvertoning, Radio Raps - laat ek jou só sê. Laat ek jou só sê is 'n briljante eenmanstuk deur Jonathan van die Oos-Rand wat handel oor die alledaagse van die lewe wat ons kan irriteer. "Ons kies egter om nie aandag daaraan te gee nie. Ons fokus is op die nuus en ander groter gebeure, terwyl ons eintlik soveel genot en begrip uit die lewe kan put as ons fokus op die basiese, alledaagse goed," meen Jonathan. "Basics, boys. Basics!" som hy dit op. Jonathan verduidelik dat die lewe moeilik is om te verstaan, maar meen, "Laat ek jou só sê, dit is nie só complicated nie. Dit hang af aan watter kant van die draad jy staan, my tjom!" Radio Raps se oorspronklike materiaal van Jonathan op YouTube steek by die driemiljoen kyke verby. Sy CD getiteld Da vat hy Vol. 1, wat bestaan uit van sy gewildste grappe en stories met 'n klompie splinternuwes by, is in Augustus 2014 vrygestel. Die DVD-opname van sy eerste en uiters suksesvolle vertoning Life 201 is in 2015 uitgereik en het reeds goue status bereik. Die tweede vertoning, Life 201, is in 2016 op DVD uitgereik. (Ouderdomsbeperking weens TAAL : Geen onder 16's nie.) Deure open om 18:00. Plaaslike kunstenaars lewer die voorvertoning voordat die hoofkunstenaars omstreeks 21:00 optree. Kaartjies se pryse wissel tussen R60 en R120. Spesiale pakkette eksklusief vir plaaslike ondersteuners wat vier of meer vertonings van die fees wil bywoon kan direk met KD Fourie by admin@heroldsbayresort.co.za gereël word. Kuier gesellig saam om 'n tafel met geurige potjiekosetes, roosterkoek en soetpatats, of ander ligte etes. Vir meer inligting, kontak Herold's Bay Resort by 044 851 0113 of stuur 'n e-pos na marketing@heroldsbayresort.co.za Kaartjies word direk hanteer deur www.webtickets.co.za en is beskikbaar by Pick n Pay MoneyCounter-toonbanke in die George-, Groot-Brak-, en Mosselbaai-omgewing asook by die Musiekfees se spesiale kaartjiestoonbank by Eden Meander vanaf 1 Desember. Die Insomniac-partytjiebus doen roetes vanaf Mosselbaai en George na die Bush Lapa. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/176512/Groot-name-by-Bush-Lapa-Musiekfees
2016-11-15 12:00:00
Vrou (21) uit sekshuis geskop
Die 21-jarige Monique (skuilnaam) is by ‘n woning wat deur Nigeriërs besit word, opgespoor. Sy was daar uit vrye wil en het seksueel met van hulle verkeer. NASIONALE NUUS - Nadat ‘n jong vrou onlangs vermis geraak het, het haar bekommerde pa ‘n privaatspeurder gehuur om haar op te spoor. Die 21-jarige Monique (skuilnaam) is by ‘n woning wat deur Nigeriërs besit word, opgespoor. Sy was daar uit vrye wil en het seksueel met van hulle verkeer. Monique moes ook ‘n tyd gelede op aanklag van die handel in dwelms in die hof verskyn het, maar het nie by die hof opgedaag nie. Volgens inligting het sy gehandel met “liquid G”, ‘n gevaarlike “date rape” dwelm. Die pa van die dogter, die privaatspeurder, lede van die Valke, Vaalweekblad se verslaggewer en Anneri du Plessis van Crossroads het Donderdag besoek afgelê by die huis in die noordelike deel van Vanderbijlpark. Daar was drie vroue, Santa* (27), Nina* (30) en Christa* (41) by die huis. Hulle het eers ontken dat hulle vir Monique ken. Hulle het later beken dat Monique wel daar woon, maar dat sy Maandag (24 Oktober) hospitaal toe is om ‘n onbeplande swangerskap te stop. Dit was glo haar sewende swangerskap. Die Nigeriërs het oomblikke na die polisie by die huis opgedaag en moes bontstaan met die vrae waarmee die polisie hulle gepeper het. Geen bewyse van enige dwelms is gevind nie. Nina is ook swanger. Sy rook en gebruik steeds dwelms. Santa het ook erken sy gebruik daagliks tik wat haar sowat R100 per dag uit die sak jaag. Christa het bedwelm voorgekom, maar dit afgemaak as moegheid nadat sy en haar “kliënt” die oggend tot 04:00 by die Emerald Resort & Casino gekuier het.
http://www.georgeherald.com/news/News/National/175983/Vrou-21-uit-sekshuis-geskop
2016-11-07 13:00:00
Drank en dwelms onwettig verkoop
'n Houtstruktuur in aanbouing in Denneboomstraat. Die foto is Sondag 20 November geneem. GEORGE NUUS - "Die groen bakkie se mense." Dit is hoe inwoners van Touwsranten verwys na 'n groep nuwe intrekkers - glo afkomstig van die Oos-Kaap en Thembalethu - wat hulle onwettig in die nuwe ontwikkeling gevestig het. Hulle het hierdie naam gekry omdat 'n groen bakkie hulle die eerste keer in Mei-maand kom aflaai het, waarna die groep voor die ingang van Touwsranten gebraai het. Dit is ook die vervoermiddel waarmee hulle rondgery word. Só vertel 'n bekommerde inwoner, Ingrid Buys, wat aanvoer dat drie RDP-huise in die nuwe ontwikkeling tans deur die nuwe intrekkers bewoon word, terwyl houtstrukture teenaan die huise opgerig word. "Hulle woon eers saam met die huiseienaars en skuif dan net oor na die hut wanneer dit klaar gebou is," het sy gesê. "Hulle is almal swart mense, en ons kan hulle nie van mekaar uitken nie. Ons twyfel hulle is van hier, want hulle praat 'n ander taal." Volgens Buys verkoop die mense onwettig alkohol en dwelms vanuit die aangeboude hutte. Identiteitsdokumente en Sassa-kaarte is ook in een van die hutte gevind. "Die huiseienaars word betaal in geld en alkohol vir toestemming om op die grond te plak," het sy gesê. Die gemeenskap het op 4 November na 'n huis in Denneboomstraat opgetrek en 'n houtstruktuur afgebreek, onder die wakende oog van die polisie. "Die volgende dag was hulle op drie ander plekke besig om net weer aan te bou. Hulle is gevaarlik, aggressief en ons gemeenskap voel onveilig," het Buys gesê. Die houtpale is langs 'n huis in Sonneblomstraat ingedruk, maar die gemeenskap het dit dadelik weer afgebreek. Volgens Buys is daar een struktuur in Denneboomstraat wat bewoon word, twee in aanbouing in dieselfde straat en 'n stoor vir hul goedere in Adahliastraat. Hierdie situasie is verlede Donderdag tydens 'n vergadering met die George-munisipaliteit in die Touwsranten-gemeenskapsaal bespreek. Die munisipaliteit is vir kommentaar genader, maar het nog nie gereageer nie. Nog 'n vergadering is beplan vir Maandag 28 November tussen inwoners en die polisie. Navrae is ook aan die polisie gestuur oor hul rol in die aangeleentheid, maar kommentaar is nie teen druktyd ontvang nie. "Ons kan mos nie net agteroorsit en niks doen nie. Ons leef hier in vrees. Iewers moet iemand iets kan doen," het Buys gesê. "As ons nie nou reageer nie gaan dit net erger raak. Dit beïnvloed ons almal." Susan Syster, nog 'n ongelukkige inwoner, is baie bekommerd oor die gemeenskap se kinders. "Kinders lê my na aan die hart, ons kinders gaan soontoe en word nou aan dwelms bekend gestel," het sy gesê. "Ons is nou al moeg van die mense, ons kry hulle nie hier uit nie. Huiseienaars wat van plan verander en die plakkers wil wegjaag word geslaan." Volgens Debra Sauer, assistant mediaskakelbeampte vir George-munisipaliteit, het die vergadering verlede week goed verloop. "Die gemeenskap was tevrede met die voorstelle wat ter tafel gelê is. Die munisipaliteit is tans besig met verdere optrede in gevalle waar dit binne sy regsbevoegdheid val," het Sauer gesê. "Ons kan ongelukkig nie in hierdie stadium daaroor uitbrei nie, aangesien van die sake moontlik aan 'n regsproses onderwerp sal word." Kommentaar van die polisie is aangevra. Polisie hou 'n wakende oog in Amaroelastraat op 4 November, terwyl woedende gemeenkapslede van Touwsranten 'n taverne afbreek. Houtpale lê in Sonneblomstraat nadat gemeenskaps-lede van Touwsranten nuwe intrekkers se planne om 'n houthut op te rig in die wiele gery het. ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/177210/Drank-en-dwelms-onwettig-verkoop
2016-11-24 08:00:00
Die Campbells skop Bush Lapa Musiekfees af
Die Campbells se optrede op 19 Desember skop die jaarlikse Bush Lapa Musiekfees af. Die fees duur tot 31 Desember. SUID-KAAP NUUS - Die Bush Lapa Musiekfees by die Herold's Bay Resort skop hierdie jaar af op 'n hoogtepunt op Maandag 19 Desember met die immergewilde Campbells wat die verhoog aan die brand gaan sing. Wat dit nog soveel meer spesiaal maak, is dat die boeties, Harry en Tony Campbell sowat sewe jaar laas in George opgetree het en hulle kom met 'n splinternuwe CD. Hulle is bekend vir hulle op-en-wakker saamsingvertonings en musiekopnames. Hierdie legendariese duo het tot op hede meer as 'n miljoen CD's en DVD's in Suid-Afrika verkoop. Hulle geniet aanhang onder oud en jonk. Hul liedjiekeuse is altyd in die kol en danksy hul verhoogproduksie wat op 'n internasionale standaard is, bly Suid-Afrikaners eenvoudig mal oor die Campbells. Hulle het al in die meeste dorpe en stede in Suid-Afrika opgetree en sodoende duisende mense vermaak. Die twee broers Harry en Tony Campbell het 'n rits platinum-CD-toekennings en ses topverkoper-DVD's agter hulle naam. Hulle debuteer met die album You're my mate, 'n samestelling tussen country, rock en moderne popmusiek, in 2001. Skaars 'n jaar later verskyn die trefferalbum, Rooi rok bokkie en bereik platinumstatus. In die twee daaropvolgende jare volg Jy's die girl en die dubbelalbum Daar's iets innie die water wat albei platinumstatus behaal. Daarna verskyn 'n nuwe Campbells-album jaarliks op die rakke. Mamma Maria (2009), met onder meer 14 nuwe Afrikaanse liedjies op, bereik goue status en word vir 'n Sama benoem en in 2011 volg nog twee Sama-benoemings vir Komaan, kom dans en Keep it country volume 2. Die Campbells stig in 2013 hulle eie platemaatskappy, Campbell Records. Voet in die hoek is die eerste album wat hulle onder hierdie naam uitreik. Hul jongste album, die dubbel-CD Home grown country, sal oud en jonk tevrede stel. Dit bevat 30 van die grootste country-treffers asook moderne nommers en twee nuwe liedjies, Burning up en Anything you wanna do. Bespreek nou om te verseker jy kan die Campbells se voetejeukmusiek eerstehands op die gewilde Bush Lapa-verhoog ervaar. Kaartjies se pryse wissel tussen R50 en R120. Kinders onder 10 betaal slegs R50 (slegs van toepassing op sekere sitplekke). Spesiale pakkette eksklusief vir plaaslike ondersteuners wat vier of meer vertonings van die fees wil bywoon kan direk met KD Fourie by admin@heroldsbayresort.co.za gereël word. Radio Raps (ook bekend as Jonathan), Jakkie Louw, Dozi, Jay (van die befaamde Eden-groep), Arno Jordaan, Chris Chameleon, Theuns Jordaan en Francois van Coke tree by die fees op. Bring die hele gesin en kuier gesellig saam om 'n tafel met geurige "boskos" soos potjiekosetes, roosterkoek en soetpatats, of ander ligte etes. Kaartjies word direk hanteer deur www.webtickets.co.za en is beskikbaar by Pick n Pay-toonbanke in die George-, Groot-Brak-, en Mosselbaai-omgewing. By die Eden Meander Leefstylsentrum sal 'n direkte kaartjietoonbank beskikbaar wees vanaf 1 Desember. Die Insomniac-partytjiebus doen roetes vanaf Mosselbaai en George na die Bush Lapa. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus' Deure open om 18:00. Plaaslike kunstenaars lewer die voorvertoning voordat die Campbells omstreeks 21:00 optree.Parkering is volop. 'n Reuse-tent word oor die lokaal se oop gedeeltes gespan indien die weer nie saamspeel nie. Vir meer inligting, kontak Herold's Bay Resort by 044 851 0113 of stuur 'n e-pos na marketing@heroldsbayresort.co.za
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/176144/Die-Campbells-skop-Bush-Lapa-Musiekfees-af
2016-11-09 12:00:00
Die dag voordat ek aan 60 begin te raak, is internasionale verdraagsaamheidsdag. Wat ‘n edel gedagte. Een dag uit 365 en ‘n kwart wat almal in die wêreld gevra word om verdraagsaam te wees. In my ou HAT van 1994 (ek het nog nie ‘n nuwe een nie, want hy is vrek duur) word verdraagsaam gelykgestel aan inskiklik, toegeeflik, geduldig en “wat ‘n ander se gevoelens eerbiedig”. Ek maak ‘n koplysie van mense teenoor wie ek vandag verdraagsaamheid sal openbaar siende dat dit internasionaal van my verwag word en môre my verjaarsdag is. Maar, toe ek by die tweede naam in my kop kom dwaal my oë na die woord net bokant verdraagsaam in my ou HAT – verdraaglik. En daar skryf FF Odendaal en sy vier geleerde samestellers van die dik boek dat verdraaglik beteken om uithoubaar en uitstaanbaar te wees. Hulle gebruik die voorbeeldsin, “So ‘n hitte is nouliks verdraaglik.” Net daar begin ek met ‘n tweede koplysie. Met wie kan ek vandag verdraagsaam wees wat van sy kant af iets doen om verdraaglik te wees? Ek dink aan die agbare Malema wat hierdie week weer op ‘n appelkis gespring het en Afrikaners gewaarsku het dat hulle dag sal kom en ek dink aan die wye reaksie wat uitgelok is deur hierdie uitlating. Sy woorde se eggo het nog in die lug gehang toe ‘n video van twee Afrikaanse mans wat ‘n swart man in ‘n doodskis inprop en dreig om petrol oor hom uit te gooi en hom aan die brand te steek die wye wêreld invaar. Ek gaan geweldig sukkel om verdraagsaam teenoor Malema of die twee manne van Middelburg te wees, want hulle onderskeie optredes is eenvoudig nie verdraaglik nie – dit is nie eers onverdraaglik nie – dit is afstootlik en druis in teen alles wat in hierdie land behoort te gebeur. Ek is kwaad vir Malema omdat hy met een opruiende sin alle wit Afrikaanse mans oor dieselfde kam skeer en hom nie steur aan die gevolge en die implikasies van die snert wat hy kwytraak nie. Ek is ook kwaad vir Oosthuizen en Jackson omdat hulle juis vir mense soos Malema ammunisie staan en gee om my by te kom. Malema, Oosthuizen, Jackson, ons president en ‘n hele string politici en senior ampsdraers wat week na week daarin slaag om Suid-Afrika wêreldwyd vir al die verkeerde redes op die nuus te laat pryk laat my dink aan ‘n spotprent wat ek jare gelede gesien het om te wys hoekom ‘n sekere land se onderwysstelsel so swaarkry. In die spotprent grou ‘n hele span werkers (onderwysers) in die warm son aan ‘n reusesloot. Sodra hulle klaar is vir die dag en hulle gereedskap neersit sluip ‘n nuwe span (amptenare en ministers) uit en spandeer die hele nag om die sloot weer toe te gooi. Terwyl ‘n groot deel van Suid-Afrika se mense hulle hande vol blase werk om brûe te bou kom ander swerkaters en breek weer af wat gebou is. Ja, vandag is internasionale dag van verdraagsaamheid en ek hoop opreg daar is binnekort ‘n dag van boetedoening, want op daardie dag sal ek moet gaan bieg dat ek vandag onverdraagsaam was teenoor ‘n hele rits ‘nuusmakers’.
http://www.georgeherald.com/viewblog/1678/Verdraagsaam-en-verdraaglik
Topkunstenaars by Bush Lapa Musiekfees
Chris Chameleon is een van die kunstenaars wat by vanjaar se Bush Lapa Musiekfees te sien is. SUID-KAAP NUUS Musiekliefhebbers kan uitsien na nog 'n opwindende program wat 'n rits top- Afrikaanse kunstenaars na die verhoog bring vir vanjaar se negende Bush Lapa Musiekfees. Met die geknetter van brandende hout in die middel van die lokaal, die uiters behulpsame en vriendelike personeel, smaaklike etes en 'n elektriese atmosfeer wat jou begroet, is die Bush Lapa een van dié plekke om te wees hierdie Desember. Hierdie befaamde lokaal bied vir die negende jaar die musiek-alleen-fees aan wat alreeds in baie Georgiete se harte gekruip het. Baie beskou dit, tesame met die Bush Lapa, as een van George se eie waarop hulle trots is. Die fees vind plaas oor 'n twee weke tydperk van 19 tot 31 Desember. Daar is bykans daagliks 'n vertoning met die volgende kunstenaars wat die program uitmaak: Die Campbells, Radio Raps (ook bekend as Jonathan), Jakkie Louw, Dozi, Jay (van die befaamde Eden-groep), Arno Jordaan, Chris Chameleon, Theuns Jordaan en Francois van Coke. Die fees word op 31 Desember afgesluit met 'n voete-jeuk Oujaarspartytjie wanneer gaste 'n gesellige spitbraai en dans kan geniet sowel as die aftel tot 2017. Die fees bied ook die ideale bemarkingsplatform vir besighede in die Tuinroete om direkte bemarking aan duisende potensiële besoekende kliënte te bring. Belangstellende partye kan die oord direk kontak by 044 851 0113. Deure open elke aand om 18:00. Die Bush Lapa Musiekfees ondersteun die ontwikkeling van plaaslike kunstenaars en gebruik dan ook hoofsaaklik kunstenaars vanuit die Suid-Kaap-omgewing wat die voorvertonings lewer, voordat die hoofkunstenaar omstreeks 21:00 optree. Kaartjies se pryse wissel tussen R60 en R160. Kinders onder 10 betaal slegs R50 (slegs van toepassing op sekere sitplekke). Spesiale pakkette word eksklusief vir plaaslike ondersteuners aangebied wat vier of meer vertonings wil bywoon. Hiervoor moet kaartjiesoekers direk met KD Fourie in verbinding tree by admin@heroldsbayresort.co.za Dit is 'n gesinsvriendelike venue waar Pa en Ma gesellig saam met die kinders om 'n tafel kan kuier. Die nou al bekende "boskos" - potjiekosetes, roosterkoek en soetpatats - word tydens vertonings verkoop. Ander ligte etes is ook beskikbaar. Die Bush Lapa is deel van die Herold's Bay Resort wat ook spog met hul hoofvenue, die Down to Earth Venue en Restaurant waar gaste voor die tyd 'n skemerkelkie (of selfs 'n biefstuk, vis of kaasbord) kan geniet met 'n asemrowende uitsig oor die see en woud. Dit is in 'n landelike omgewing geleë en daar is oorgenoeg parkering. 'n Reuse-tent word ook oor die lokaal se oop gedeeltes gespan indien die weer nie saamspeel nie. Vir meer inligting, kontak Herold's Bay Resort by 044 851 0113 of stuur 'n e-pos na marketing@heroldsbayresort.co.za Kaartjies word direk hanteer deur www.webtickets.co.za Fourie sê hulle is opgewonde oor 'n paar toevoegings tot die fees wat die hele ervaring vir hul ondersteuners nog meer aangenaam maak. "Dit is dat kaartjies by Pick n Pay-toonbanke ook beskikbaar sal wees in die George-, Groot-Brak-, en Mosselbaai-omgewing vanaf vandag, Donderdag 3 November. As toevoeging, het die Eden Meander Leefstylsentrum hande gevat met die Musiekfees en daar sal 'n direkte kaartjiestoonbank by die winkelsentrum beskikbaar wees vanaf 1 Desember. Dan, vir die wat bekommer oor die ryery, die Insomniac-partytjiebus doen roetes vanaf Mosselbaai en George na die Bush Lapa!" 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/175693/Topkunstenaars-by-Bush-Lapa-Musiekfees
2016-11-02 13:00:00
Inwoner spring in na pyp bars
'n Loodgieter van Blanco, Cecilian Canary, spring self in om die oorsprong van erge watervloei in Pastoriestraat te vind, terwyl van die buurt se kinders 'n ogie hou. GEORGE NUUS - 'n Loodgieter van Blanco het verlede Donderdag sommer self probeer om erge watervloei in Pastoriestraat te stop nadat 'n pyp vermoedelik deur munisipale werkers afgespit is. "Die water het behoorlik gestroom in Pastoriestraat, hier in Blanco," het die loodgieter se broer, Eldrid Canary, gesê. "Toe niemand na vyf ure kom om te help nie, het my broer Cecilian probeer om die water te stop. Hy moes grawe vir die pyp, dit was 'n groot gemors." Cecilian Canary kon blykbaar daarin slaag om die stukkende pyp in die modder te vind. Hy het dit omgebuig en vasgebind om die watervloei te stop. Debra Sauer, assistent mediaskakelbeampte van George-munisipaliteit, het bevestig dat die klagte aangemeld en deurgegee is aan die waterspan. Sy voer egter aan dat die probleem veroorsaak is weens 'n lekkende watermeter, en nie 'n stukkende pyp nie. "Weens die geweldige hoeveelheid waterklagtes (meer as 30 op daardie tydstip) was daar ongelukkig 'n vertraging met die herstel van hierdie spesifieke meterlekkasie." Eldrid Canary hou vol dat 'n pyp omstreeks 10:00 Donderdagoggend deur werkers raakgespit is toe hulle 'n lamppaal wou plant. "Ons is bly oor die lamppaal, maar kan nie verstaan hoekom niemand kom help nie. Ons het mos waterskaarste," het hy gesê. Canary het na vele oproepe blykbaar 'n superintendent by die waterafdeling bereik, wat hom na bewering meegedeel het dat daar nie genoeg mense is om te help nie. "Op 'n stadium het werkers van elektrotegnies daar aangekom, maar hulle het weer gery want hulle kon nie met die pyp help nie," het Canary gesê. Volgens sy broer, Cecilian, is die pyp wel verlede Vrydag, 'n dag na die voorval, deur die munisipaliteit herstel. Volgens Sauers het twee groot, dringende lekasies prioriteit geniet en daarom is die spanne vertraag. "Die George-munisipaliteit vra om verskoning vir enige ongerief en wil die publiek verseker van ons diensingesteldheid. Ongelukkig gebeur dit soms dat daar tegelyk geweldig baie klagtes ontvang word, maar wees verseker dat alles moontlik gedoen word om die probleme in die kortste moontlike tyd op te los," het sy gesê. 'n Addisionele bystandspan is gebruik om al die klagtes te hanteer. ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176693/Inwoner-spring-in-na-pyp-bars
2016-11-16 17:00:00
Begroting mis teiken weens tesourietabel
GEORGE NUUS - Die kwartaallikse moniteringsverslag vir die munisipale begroting is Maandag 31 Oktober tydens 'n spesiale raadsvergadering aan die raad voorgelê vir kennisname. Die DA het met 'n vorige probeerslag nie 'n kworum gehad nie, en die vergadering is geskuif. Dié verslag gee 'n oorsig van die munisipaliteit se begrotingsprestasie oor 'n tydperk van drie maande (Julie tot September) en die raad het tot einde Oktober kans gehad om dit te aanvaar. ANC-raadslid Piet van der Hoven, het in die raad vrae gestel oor die feit dat 35% van die begroting in die eerste kwartaal van die 2016/2017 boekjaar nie spandeer is soos beplan nie. "Die invordering van munisipale inkomste is ook 30% minder as die doelwit tot dusver," het hy gesê. "Ons is bekommerd hieroor. As die operasionele begroting nie soos beplan bestee word nie, is daar dienste wat daaronder ly." Die hoof-finansiële beampte, Keith Jordaan het by navraag gesê dat die redes vir die onderspandering verband hou met die nasionale tesourie se versoek aan die munisipaliteit om die munisipale standaardtabel van rekeninge (mSCOA) vroeër te implementeer. "Die munisipaliteit is in die proses om die klassifikasie van bates volgens die mSCOA-voorskrifte in die bateregister te hersien en daarom is die depresiasie nog nie te boek gestel nie. Dit is grootliks die rede vir die variasie. Projeksies sal daarna hersien word." Volgens Jordaan hou hierdie omskakeling ook verband met die rede waarom 33% minder fondse vir die eerste kwartaal van die 2016/2017-boekjaar ontvang is. "As gevolg van die omskakeling van die ou poskodes na die mSCOA-kodes is die voorafbetaalde verkope nie toegewys nie. Hierdie rapportering sal in die maandverslag van Oktober aangebring word," het hy gesê. Van der Hoven bevraagteken die rede waarom die eerste item rakende 'n gewysigde delegasieregister onttrek is. "Kerninsette wat by 'n werkswinkel gemaak is, is nog nie in die oorspronklike dokument aangebring nie. Dit is 'n duur proses om 'n raadsvergadering te hê, dit is absoluut noodsaaklik om items na die raad te bring wat wel voor die raad kan dien." Assistent-mediaskakelbeampte van George-munisipaliteit, Debra Sauer, het by navraag geantwoord dat die item onttrek is omdat die DA-koukus 'n verdere bespreking in 'n werksessie versoek het. "Die veranderinge wat voortgespruit het uit 'n werksessie op 5 Oktober, is reeds aan aangebring, Geen raadsvergadering was vir Oktober beplan nie." ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/175782/Begroting-mis-teiken-weens-tesourietabel
2016-11-03 09:00:00
Munisipale hof wag net op landdros
George-munisipale hofpersoneel van links: Adrian Kraai (tolk), Michael Krige (stenograaf), Angelique Felix (klerk van die hof), Johan van Schalkwyk (hoof van regsdienste) en Benjamin Ngcwangu (aanklaer). Foto: Keano Leen GEORGE NUUS - Die George-munisipale hof is reeds aan die gang met die hantering van sekere dienste, maar wag steeds dat die departement van justisie 'n landdros aanstel. Die hofpersoneel het amptelik op 1 November hul intrek by die hofgebou in die George-burgersentrum geneem. Die ingang tot die hofgebou is by die hoofingang van die George-burgersentrum in Yorkstraat, en die hofsaal en personeel is op die eerste verdieping. Daar is 'n sekerheidsbeampte wat ook kan help met verwysings. Alle personeel, behalwe die landdros, is reeds aangestel. Die aanklaer, klerk van die hof, tolk en stenograaf is reeds werksaam en het hul intrek in hul kantore gemaak. Volgens adv. Johan van Schalkwyk, hoof van munisipale regsdienste, konsentreer die hof tans op plaaslike en provinsiale verkeersake. Die hof hanteer vertoë rakende verkeersake en hanteer die prosessering van reeds gemagtigde lasbriewe. Die aanklaer, Benjamin Ngcwangu, kan ook op navraag gesien word. Sodra die hof sit, sal sittings van 09:00 tot 16:00 geskied. Die hof sal mettertyd ook die toepassing van die raad se verordeninge en bouregulasies hanteer. George-munisipale hofpersoneel van links: Adrian Kraai (tolk), Michael Krige (stenograaf), Angelique Felix (klerk van die hof), Johan van Schalkwyk (hoof van regsdienste) en Benjamin Ngcwangu (aanklaer). Foto: Keano Leen 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/177566/Munisipale-hof-wag-net-op-landdros
2016-11-29 15:00:00
'Ja,die selfmoordseisoen kom ook nou weer nader...' sê die vrou agter die toonbank van 'n bekende restaurant in die dorp. Ons staan en gesels oor die aankomende feesseisoen en of hulle gereed is vir die jaarlikse groot intog van besoekers wat in Mosselbaai verwag word. Ongelukkig is dit waar wat sy sê. Die helfte van alle moorde in ons land is selfmoordgevalle. En vir elke geslaagde selfmoord is daar 'n hele paar pogings tot selfmoord... Ek wil graag by elkeen wat selfdood oorweeg pleit - moet dit nie doen nie! Hoekom nie? Daar is baie redes maar ek gee kortliks net drie: 1. Dit is 'n onreg teenoor jouself. Die lewe is 'n onherhaalbare unieke voorreg. Daar was nog nooit en sal ook nooit op aarde weer iemand presies soos jy wees nie. Jou vingerafdruk en iris van jou oog is uniek tussen meer as 7 biljoen mense. Om jouself te vernietig sou beteken dat 'n unieke bedreigde 'spesie' van die samelewing vir altyd weggeneem word. 2. Dit is 'n onreg teenoor elke mens wat jou ken. Om selfdood te pleeg is om elke persoon wat jou ooit ontmoet het met 'n skuldgevoel agter te laat. Dié wat die naaste aan jou geleef het, jou goeie vriende en familie, sal vir die res van hulle lewens hierdeur geaffekteer word. Hulle sal 'n verskeidenheid gevoelens van pyn, skuldgevoelens en woede ervaar. Dit mag hulle selfs laat twyfel aan die sin van die lewe en hulle ook tot een of ander wanhopige daad dryf. Dillan Lerm stel dit so in sy liedjie Emma's Song. 3. Dit is 'n onreg teenoor God. God het aan jou die onherhaalbare unieke gawe van die lewe geskenk. Hy belowe in Sy Woord dat Hy nie sal toelaat dat enigiets in die lewe vir jou te veel sal wees om te kan hanteer nie (1 Kor 10:13). Hy belowe aan jou dat in jou krisis '...Sy genade vir jou genoeg sal wees.' (2 Kor 12:9) Selfdoding is 'n mosie van wantroue in God en in die plan wat Hy vir jou lewe het. Jy mag dalk voel dat gegewe die moeilike omstandighede waardeur jy gaan, jy geregverdig is om "die laaste uitweg" te neem en ek en almal wat jou liefhet het groot begrip daarvoor! Maar in plaas daarvan om dit te oorweeg wil ek jou uitnooi om my te skakel (of enige ander geestelike leier of berader) of die 0800 150 150 tolvrye nommer van Lifeline. Daar is altyd hoop! Oor die volgende bult mag dalk die oplossing wees vir die probleem wat op die oomblik vir jou so onoplosbaar lyk. Selfdoding (selfmoord) kom meer voor in die feesgety as in ander tye van die jaar. Blykbaar ervaar alleenmense hulle eensaamheid erger in hierdie dae omdat almal om hulle in so 'n feestelike stemming is saam met ander.God is nou reg langs jou om jou hand te vat. Sal jy hom toelaat...?
http://www.georgeherald.com/viewblog/1688/Moet-dit-nie-doen-nie
25-Jarige dood: Familie ongelukkig oor vonnis
Die vermoorde Riaan Gelant se ma, Priscilla (regs), buite die hof nadat die twee mans wat Gelant aangerand het, onderskeidelik vyf en agt jaar tronkstraf opgelê is. Foto: Lizette da Silva GEORGE NUUS - Groot ongelukkigheid en woede het Dinsdag buite die Thembalethu-streekhof geheers na die vonnis van die twee mans wat die dood van Riaan Gelant veroorsaak het. Riaan Gelant (25) van Borcherds is op 9 November 2013 deur Bongani Tonga (26) en Winston Jacobs (29) aangerand en in die bors en rug gesteek. Die mans, wat aangekla was van moord, is vroeër skuldig bevind aan ernstige aanranding en strafbare manslag. Tonga is vyf jaar tronkstraf opgelê vir ernstige aanranding en Jacobs agt jaar vir strafbare manslag. Gelant se ma, Priscilla, was na die vonnisoplegging erg ontsteld en het gevra of haar seun se lewe vyf en agt jaar werd is. "Hulle het vandag weggekom met moord, al is hulle nie so skuldig bevind nie. Ons gaan dit ook nie so los nie, hulle het my kind vermoor en moet daarvoor gestraf word," het sy gesê. Kyk na 'n video hieronder: Christo Gawie, die bekende voormalige EdenFM-omroeper, het namens die Gelant-familie ter strafverswaring getuig. Hy het aan die hof vertel dat Gelant se familie sukkel om sy dood te verwerk en die hof versoek om die maksimum vonnis aan beide mans op te lê. Hy het Gelant as 'n kalm mens beskryf wat nooit met die gereg gebots het nie, nie bakleierig was nie en wat nie by enige bendes betrokke was nie. "Hy was populêr onder sy vriende en het nie vyande gehad nie. Hy het finansieël vir sy familie gesorg en hulle sukkel sedert sy dood." Gustav Deyce, die beskuldigdes se regsverteenwoordiger van die regshulpraad, en Gawie het tydens kruisondervraging goed koppe gestamp toe Deyce sy getuienis bevraagteken. Hy het aan Gawie gesê dat hy getuig het dat die familie daagliks sukkel, maar tog woon hy die afgelope paar maande nie meer hier in George nie. Gawie het getuig dat Gelant nie bakleierig was nie, tog het Gelant se vriend en staatsgetuie, Aldino Smith (24), getuig dat Gelant nie iemand was wat bang was vir baklei nie. Smith was saam met Gelant die aand van die voorval. Hierop het Gawie getuig dat Smith vir die hof gejok het omdat hy deur familielede van die beskuldigdes beïnvloed is. 'n Gefrustreerde Deyce, asook streeklanddros Nelson Mulaudzi, moes by tye vir Gawie aanspreek om slegs die vrae wat aan hom gestel word te antwoord, en nie teenvrae aan die verdediging te stel nie. Deyce het dit later aan die hof gestel dat Gawie nie net arrogant is nie, maar agressief is en weier om sy vrae te beantwoord. Deyce het dit op 'n stadium aan Gawie, wat verkies het om in Engels te getuig, gestel dat hy besef dat Gawie met die Engels sukkel en daarom nie sy vrae verstaan nie. "Hoekom kritiseer jy my oor my Engels wat nie goed is nie, dis ok. Wel in daai geval, jou Engels is ook nie te goed nie," het Gawie teruggekap. Deyce het in sy finale argumente gesê dat die hof hom nie moet laat voorskryf deur sekere mense uit die gemeenskap nie, dat die twee beskuldigdes nog jonk is en gerehabiliteer kan word. "Die hof moet ook nie vergeet nie - as dit nie vir die vloekwoord was wat die oorledene geuiter het nie, sou die moord nie plaasgevind het nie." Hankie Marx, die staatsaanklaer het gesê die gemeenskap het genoeg gehad van misdaad wat pandemiese afmetings bereik het. "Mense het nie meer respek vir mekaar nie en is nie meer verdraagsaam nie. Die geringste uitlokking lei tot 'n misdryf. Die beskuldigdes is ook nie beseer nie, terwyl die oorledene verskeie wonde voor en agter sy liggaam gehad het. "Hulle het ook verskeie vorige veroordelings wat daarop dui dat hulle moeilik gerehabiliteer gaan word." 'n Tante van Jacobs, Violet Maxim, het na afloop van die verrigtinge aan die George Herald gesê dat sy graag die Gelant-familie wil verskoning vra, maar dat hulle "nog te seer is oor wat gebeur het". "Ek voel werklik so jammer vir hulle. Hulle kind gaan nooit weer huis toe kom nie, Winston gaan weer huis toe kom. Hy bly sedert sy ma se dood by my en 'n mens stuur nie jou kinders uit om ander seer te maak nie. Ek kan net aanhou bid dat daar eendag vergifnis sal wees," het Maxim gesê. Klik hier vir vorige artikels Die twee beskuldigdes Winston Jacobs (links) en Bongani Tonga tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Christo Gawie . Christo Gawie . ARTIKEL & VIDEO: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/175744/25Jarige-dood-Familie-ongelukkig-oor-vonnis
2016-11-03 07:00:00
Baie voorvalle van seksuele geweld
Generiese foto. GEORGE NUUS - Die polisie is bekommerd oor die onlangse hoë voorkoms van seksuele geweld teen vroue en kinders in die streek. Die misdrywe kom in verskillende vorme voor en word dikwels gepleeg deur iemand bekend aan die slagoffer of in 'n vertrouensposisie. Al meer voorvalle kom ook voor waar kwesbare kinders deur buitelanders, wat huiswinkels vanuit woonbuurte bedryf, seksueel uitgebuit word. Ook kind-op-kind verkragtings neem toe. Lt. kol. Wilhelm Oktober, bevelvoerder van die gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid (GKS), sê dit is veral die voorvalle waar buitelandse winkeleienaars jong kinders uit arm gemeenskappe uitbuit, wat groot kommer wek. "Jonger kinders word maklik ingetrek met lekkergoed en jong meisies word geld aangebied in ruil vir hul stilswye of seksuele gunsies. In Knysna is 'n jong meisie deur 'n buitelandse winkeleienaar betas wat haar na die tyd geld aangebied het om die voorval geheim te hou," sê Oktober. In Thembalethu is 'n jong vrou (34) om die beurt deur vier Ethiopiërs verkrag. "Die slagoffer was volgens inligting die aand saam met 'n gesiene Ethiopiër en hulle het gemeenskap gehad by sy huis in Zone 6. Later het vier van sy vriende die kamer binnegekom en hy het die vertrek verlaat. Al vier mans het haar toe verkrag." Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bygevoeg dat die toename in seksmisdade teen kinders ook toegeskryf kan word aan die feit dat sekere voorvalle vals alarms is. "Sommige sake waarby kinders betrokke is, veral molestering, loop uit op niks. Daar word nadat die ondersoek voltooi is, uitgevind dat beserings wat die kinders gehad het en wat verdag gelyk het, nalatigheid aan die kant van die ouers was. "Kinders word na 'n dokter geneem met beserings of infeksies wat op die oog af verdag lyk. 'n Saak moet dan eers geregistreer word voordat 'n dokter (distriksgeneesheer) 'n volledige ondersoek kan doen. "Dis dan tydens dié ondersoek, of na afloop van die polisie-ondersoek, dat ons vasstel dat die kinders hulself op 'n speelraam beseer het of die baba se nat doek te lank aangehou is. Ons wil mense nie ontmoedig om voorvalle te rapporteer nie, maar versoek hulle om versigtig te wees en nie net aan te neem kinders is gemolesteer nie." Daar is ook 'n tendens onder kinders wat mekaar molesteer en selfs verkrag. Daar is voorvalle van seuns op seuns en in laerskole is al voorvalle gerapporteer waar jong meisies deur groepies jong seuns verkrag is sonder dat hulle besef wat hulle werklik doen of wat die gevolge van hul aksies is. Baie keer besef die slagoffers ook nie dat dit wat met hulle gebeur, verkeerd is nie en rapporteer dit nie. Polisie sê uit die aanmelding van seksuele misdrywe is dit duidelik dat dwelms, veral tik- en alkoholmisbruik, 'n beduidende rol speel. Die blootstelling aan pornografie deur die televisie en selfone dra ook by tot die kinders se gedrag. "Kinders sien ook soms hoe soortgelyke voorvalle in die huis afspeel, aanvaar dan dat dit die norm is en volg die verkeerde voorbeeld. Ouers moet te alle tye weet waarmee hulle kinders besig is, veral op selfone," sê Pojie. Pojie sê dat mishandeling nie tot 'n spesifieke ras, etniese groep of maatskaplik-ekonomiese groep beperk is nie. Dié tipe misdaad vind in elke deel van ons samelewing plaas en is dikwels moeilik om te polisieer omdat dit binnenshuis plaasvind." Hy sê ouers moet uiters versigtig wees aan wie hulle hulle kinders toevertrou. "Hulle moet met hulle kinders oor mishandeling praat en vir hulle vertel wat om te doen as hulle onveilig by iemand voel." As deel van hul bewusmakingsveldtog-insiatiewe gedurende die 16 dae van aktivisme van geen geweld-veldtog bied die GKS-eenheid verskeie programme aan by skole en besoek hulle nagklubs en tavernes. Pamflette sal ook by padblokkades oor die tydperk versprei word. ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/177217/Baie-voorvalle-van-seksuele-geweld
2016-11-24 12:00:00
November is reeds sinoniem met Movember en is dié inisiatief jaarliks verantwoordelik vir die groei van snorre op miljoene mansgesigte regoor die wêreld. Dit is ook die tyd van die jaar wanneer fondse in Suid-Afrika ingesamel en bewustheid geskep word vir gesondheidskwessies wat mans raak - veral prostaat- en testikulêre kanker, asook hul geestesgesondheid en fisiese onaktiwiteit. Die Movember Stigting se stryd is om gelukkiger, gesonder en langer te lewe deur navorsing en oorlewingsprogramme wat handel oor spesifieke siektes wat mans bedreig. Die tema van vanjaar se veldtog is 'Stop men dying too young' met die onderliggende boodskap: As jy kies om gesonde lewenskeuses te maak, 'n gesonde lewenswyse te volg, aandag te skenk aan jou gesondheid en waarskuwingstekens, kan jy help om vir jouself 'n voordelige toekoms te skep. Movember is die dryfkrag wat die boodskap uitdra dat vroeë opsporing die sleutel is tot 'n gesonde lewe: Jaarlikse mediese ondersoeke is van kardinale belang en 'n maandelikse testikulêre selfondersoek is nodig vir jou om jou liggaam te leer ken en om enige veranderinge in jou liggaam te monitor. • Movember moedig mans aan om Mo Bros (soos ondersteuners van die veldtog goedgunstiglik bekendstaan) te word deur aan te sluit op die webwerf: www.movember.com Die reëls vereis elke Mo Bro om op 1 November die veldtog af te skop met 'n skoongeskeerde gesig en om vir die hele maand 'n snor te groei en in toom te hou om sodoende 'n effektiewe advertensiebord te word wat vir die 30 dae van Movember rondloop en praat. Mans wat snorre groei vir die doel, moedig ander mans aan om die veldtog te ondersteun, om prontuit private en publieke gesprekke te voer oor mans se gesondheidsprobleme wat dikwels geïgnoreer word. Mans kan die veldtog vanjaar ondersteun in samewerking met die vroue in hul lewe of Mo Sistas, soos hulle bekendstaan. Vroue wat wil deelneem, kan ook aanteken op movember.com. • Vir meer inligting oor hoe om aan te teken as ‘n Mo Bro of Mo Sista, besoek www.movember.com
http://www.georgeherald.com/viewblog/1675/Movember-snorre-groei-vir-mansgesondheid
Selfmoord onder tieners neem toe
Generiese foto. GEORGE NUUS - Gedurende die eerste helfte van 2016 alleen, het 'n plaaslike psigiatriese kliniek vir tieners, Akeso George Teens, reeds 70 kinders as pasiënte opgeneem van wie baie al pogings aangewend het om selfmoord te pleeg. Volgens 'n maatskaplike werker van Akeso, Marianna Deysel wat al vir meer as twee dekades met jongmense in emosionele nood werk, neem selfmoord onder tieners toe. Sy het met die George Herald gesels omdat sy meer bewustheid in die gemeenskap wil skep oor dié realiteit, veral tans met druk op matrikulante op 'n hoogtepunt weens die naderende eksamens. "Daar is baie bykomende stres gedurende eksamentyd. Baie tieners raak paniekerig. Ons het ook nou seisoenale veranderings wat ons vind ook 'n effek op mense se gemoed het," sê Deysel. Sy sê tieners in die moderne samelewing ervaar groeiende druk van oral - by die skool, tuis en ook op sosiale vlak tussen vriende. By die skool kan dit druk wees weens skoolwerk, sosiale wanaanpassing en boelies. "Slagoffers van boeliegedrag kan meer geneig wees tot selfmoord. Verder is voorkoms deesdae so belangrik dat dit tieners maklik laat voel dat hulle tekortskiet, wat tot depressie lei." Gebalanseerde opvoeding tuis waar ouers behoorlike grense stel, maar ook nie onredelik streng is nie, is belangrik. "Daar moet dissipline en struktuur in 'n huis wees om kinders veilig te laat voel. Maar 'n ouer moet ook nie so streng wees dat die kind geen persoonlike spasie het en gevolglik geïsoleerd raak nie." Ouers leer hul kinders ook nie die nodige lewensvaardighede om effektief met hul probleme om te gaan nie. Die afwesigheid van ouers met al hoe meer ma's wat werk, speel in baie gevalle 'n rol. "Daar vind nie behoorlike kommunikasie plaas nie, want niemand het meer tyd nie. Etes voor die TV help nie veel nie," sê sy. Gebroke huise waar die ouers geskei is of alkohol en dwelms misbruik, is nog 'n faktor wat tieners sonder hoop laat. "Hulle vertrou nie, praat nie en voel nie. Negatiewe onderdrukte emosies en geen hoop vir die toekoms nie kan tot selfmoord lei." Die dood is ook geen vreemde konsep vir tieners nie weens voortdurende blootstelling daaraan op TV, die internet en in videospeletjies. "Hulle sien die dood uiteindelik as 'n oplossing." 'n Bykomende faktor is dwelmmisbruik wat besig is om geweldige afmetings onder tieners aan te neem. Net soos alkohol is dwelms depressante en dra dit by tot 'n slegte gemoedstoestand. Volgens 'n artikel in Tygerland, 'n publikasie van die Universiteit van Stellenbosch se Geneeskundefakulteit, het 'n studie onder tieners getoon dat die gebruik van tik lei tot breininkrimping. Skisofrenie is ook 'n moontlike gevolg van tikverslawing. Skanderings het gewys dat selfs 14 maande nadat iemand die gebruik daarvan gestaak het, die brein nog nie terugkeer na normaal nie. Deysel moedig tieners aan om hulp te soek. "Daar is hoop. Ons behaal baie suksesse deur middel van holistiese terapie vir depressie en dwelmverslawing. Gaan praat met iemand soos jou klinieksuster, predikant, 'n onderwyser of dokter, of selfs 'n maat, maar soek hulp as jy voel dinge raak te veel." Volgens Deysel is gekombineerde terapie nodig waar nie net sielkundiges, arbeidsterapeute en maatskaplike werkers betrokke is nie, maar ook kundiges soos persoonlike afrigters (vir fisiese fiksheid), dieetkundiges en mense wat musiek- en kunsterapie aanbied. ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/Lifestyle/175691/Selfmoord-onder-tieners-neem-toe
2016-11-02 14:00:00
Simmers eensklaps op kragkomitee
DA-raadslid Tertuis Simmers tydens die raadsvergadering verlede Vrydag. Foto: Michelle Pienaar EDEN DISTRIK NUUS - Die Eden-raad het verlede week bewys hulle het wel 'n sin vir humor - of dalk was dit net 'n blapsie? Simmers was vroeër gereeld in die nuus nadat hy geïmpliseer is in 'n klag deur George-munisipaliteit wat verband hou met peutery aan 'n kragmeterboks. Die kwessie het nog 'n nadraai gekry nadat die voormalige Eden-burgemeester, Wessie van der Westhuizen, hom van bedrog beskuldig het. Simmers was in die besit van 'n sogenaamde "polisiebrief" wat aandui dat die klagtes glo onttrek is. Die oorsprong van die brief is onbekend. Geeneen van hierdie sake het ooit in die hof geëindig nie. Ten spyte van al hierdie woelinge het Simmers sy kop hoog gehou en goed gevaar in die plaaslike regeringsverkiesing in Augustus. Die ander raadslede wat Eden op komitees verteenwoordig is: Raymond Wildschut (CP Nel-museum in Oudtshoorn), Erica Meyer (Diaz/Groot-Brakrivier-museum), Isaya Stemela (George-museum), Joslynn Johnson (Eden Agripark) en Simon Odendaal, Khayalethu Lose en Joslynn Johnson vir onderskeie waterverbruikersverenigings. ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus' Sommige raadslede is aangewys om as verteenwoordigers van die raad in verskeie eksterne komitees te dien.DA-raadslid Tertuis Simmers is sowaar aangewys as die verteenwoordiger vir Suid-Kaap elektrisiteitsverspreiding.
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176224/Simmers-eensklaps-op-kragkomitee
2016-11-10 12:00:00
Man kry 10 jaar vir piksteel-aanval
Generiese foto. GEORGE NUUS - 'n Man (63) wat drie jaar gelede sy saamleefvrou met 'n gebreekte piksteel doodgeslaan het, is verlede Woensdag 2 November in die George-streekhof 10 jaar tronkstraf opgelê. Abraham Alaart van Scorpiostraat, Parkdene het op 28 Oktober 2013 vir Monica Jantjies (46) in hul woning aangerand. Hy het daarna haar lyk tot voor hul bed gesleep en haar met 'n kombers toegegooi. Hy het later familielede ingelig van die moord waarna Jantjies se lyk onder die kombers ontdek is. In 'n bekentenis wat vroeër deur Alaart afgelê is, sê hy dat hy en Jantjies saam gedrink het. Tydens 'n rusie het sy met 'n mes na hom gesteek waarna hy die piksteel gegryp en haar oor die kop en lyf geslaan het. Jantjies is nie die eerste vrou wat aan die hand van Alaart sterf nie. In Mei 2007 is hy skuldig bevind aan strafbare manslag nadat hy sy destydse saamleefvrou ook met 'n voorwerp doodgeslaan het. Hy is toe agt jaar tronkstraf opgelê. In beide die strafbare manslagsaak en die moord is Alaart vir waarneming na Valkenberg-hospitaal in Kaapstad gestuur en is daar bevind dat hy geskik is om verhoor te word. Die waarneming kom nadat daar beweer is dat hy nie toerekeningsvatbaar is nie. Die hof het gelas dat Alaart, wat die afgelope maande in 'n rolstoel is na 'n beroerte, weens sy mediese toestand so ver moontlik in die hospitaal-afdeling van die tronk aangehou word en inskakel by 'n dwelmprogram. Die saak het gedien voor streeklanddros MP Fourie en Reinet de Waal het vir die staat verskyn. Mnr. N Vlok het vir Alaart verskyn. ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/176223/Man-kry-10-jaar-vir-piksteelaanval
2016-11-10 08:00:00
Blaastoetse onder vergrootglas
Die bestuurder van 'n Toyota Corolla het verlede Saterdag 'n noue ontkoming by 'n stop/ry-teken op die R102 beleef toe haar motor reg van agter deur 'n ander voertuig getref is. GEORGE NUUS - Kommer oor die gebruik, sowel as moontlike gebrek aan blaastoestelle om die bloed-alkoholvlak van motoriste in die Suid-Kaap op 'n ongelukstoneel te toets, neem toe. In die mees onlangse voorval verlede Saterdag 29 Oktober het 'n provinsiale verkeersbeampte glo laat blyk dat sy nie oor die magtiging beskik om 'n toets te doen nie. Die bestuurder van 'n VW Golf het omstreeks 05:30 by 'n stop/ry-teken op die R102 (naby die Outeniqua-proefplaas) in 'n stilstaande Toyota Corolla vasgejaag. Die vrou in die Toyota het wonderbaarlik ontkom en is na 'n volledige ondersoek by die hospitaal ontslaan en het slegs 'n seer lyf en skok van die ongeluk oorgehou. Die bestuurder van die Golf is ook ongedeerd. Volgens 'n omstander wat kort na die ongeluk op die toneel aangekom het, het die bestuurder van die Golf erg na drank geruik. "Ek en 'n ander man het die beampte herhaaldelik gevra om die bestuurder se bloed-alkoholvlak te toets," het hy gesê. "Sy het op 'n stadium gesê sy mag nie bloed trek nie, waarop ons haar daarop gewys het dat sy 'n asemtoets kan doen. Ons het later haar kollega om hulp genader. Die beampte het op haar beurt gesê: 'As ek dit vir een doen, moet ek dit vir almal doen.' Ons het haar geantwoord dat dit reg is, sy kan almal toets," het die getuie gesê. Die beampte het glo in die ambulans geklim waar die beseerde bestuurder gelê het. Volgens die getuie was die bestuurder nie lus om te blaas nie. Die omstander het ook vertel dat die polisie hom later ingelig het dat die Golf-bestuurder op 'n glukosedrip geplaas is, en dat hulle as gevolg daarvan nie sy bloed vir alkohol kon toets nie. Navrae rakende die gebruik van blaastoestelle deur verkeersbeamptes, asook die beskikbaarheid daarvan, is aan die woordvoerder van die provinsiale verkeersdiens Jacques Mostert gestuur. Terugvoering is nie teen druktyd ontvang nie. Tydens 'n voorval twee weke gelede op 21 Oktober in Stuurmanstraat, Le Vallia, kon verkeersbeamptes van George-verkeer na bewering nie dié apparaat voorsien nie. 'n Ooggetuie op die toneel was geskok toe sy wou weet hoekom die polisie dan nie ook opdaag nie, en 'n beampte van George-verkeer haar inlig dat die polisie nie sal kom nie omdat daar 'n tekort aan blaasapparate is. 'n Motoris, vermoedelik onder die invloed van drank, het teen 'n boom vasgejaag en 'n randsteen te pletter gery. George-munisipaliteit het navrae oor die beweerde gebrek aan blaastoestelle na die Suid-Afrikaanse polisiediens verwys. Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kon nie bevestig of die polisie wel 'n tekort ondervind nie. "Ons maak gewoonlik gebruik van die verkeersdepartement – plaaslik en provinsiaal – om ons met die toetse te help," het Pojie gesê. "Normaalweg is alle verkeersvoertuie toegerus met die blaasapparate." Pojie het gesê dat die gebruik van 'n blaasapparaat nie in alle gevalle nodig is nie. "Die wet skryf nie voor dat die blaasapparaat gebruik moet word nie. Beamptes op die toneel kan hul diskresie gebruik. Al wat nodig is, is voldoende bewysstukke en omstandigheidsgetuienis dat die persoon onder die invloed van alkohol is. As ons vermoed dat 'n persoon onder die invloed van alkohol bestuur, sal hy normaalweg na die hospitaal geneem word waar 'n bloedmonster geneem word. Dit word weggestuur na ons regs-mediese laboratorium vir ontleding. Die uitslag word dan gebruik as bewysstuk in die hof. Volgens Debra Sauer, assistent mediaskakelbeampte van George-munisipaliteit, het beamptes van siviele ingenieurswese by Stuurmanstraat, Le Vallia, ondersoek ingestel. "Daar is geen tekortkominge gevind ten opsigte van die padinfrastruktuur nie. Bo en behalwe die nodige padtekens is daar addisionele padtekens en spoedbeperkingstekens teenwoordig," het sy gesê. Ses motoriste in George is verlede naweek deur provinsiale verkeersbeamptes in hegtenis geneem omdat hulle onder die invloed van alkohol bestuur het, sowel as een dronk voetganger. "Ek doen nie bloed-alkoholtoetse nie," het hierdie provinsiale verkeersbeampte vir 'n omstander by 'n ongelukstoneel gesê. Die bestuurder van hierdie VW golf het teen 'n stilstaande Toyota Corolla op die R102 naby die Outeniqua-proefplaas gebots. ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/175740/Blaastoetse-onder-vergrootglas
2016-11-03 08:00:00
Kwagga-atlete maak weer skoonskip
Die belowende Stephaney Pedro het 'n tweekuns behaal in die middelafstande en is aangewys as beste dogtersatleet in die o.14-ouderdomsgroep. GEORGE NUUS - Die Hoërskool Outeniqua se atlete en afrigters het rede om te pronk in die Suid-Kaap nadat hul die afgelope jaar skoonskip gemaak het by verskeie atletiekbyeenkomste in Suid-Afrika. Die Kwaggas het oorheers by die HJS-uitnodigings, Loop-interskole, George-streek, SWD-talentidentifisering, Punt Top-10, Grey Bloemfontein en Bredasdorp Top-10-byeenkomste. Outeniqua het Saterdag hul seisoen op 'n hoogtepunt afgesluit toe hul koning gekraai het by die Moorreesburg Top-10-byeenkoms. Hulle het 15 goue, 15 silwer- en 9 bronsmedaljes ingepalm. Die Kwaggas het met 14 193 punte gewen, gevolg deur HS Brackenfell 13 873 punte, HJS Paarl 13 274 punte, HMS Bloemhof 13 065 punte en HS Parel Vallei met 12 982 punte. Die 16-jarige Meike Strydom is aangewys as die beste dogtersatleet in haar ouderdomsgroep. Die belowende Stephaney Pedro, wat 'n tweekuns behaal het in die middelafstande, is aangewys as beste dogtersatleet in die o.14-ouderdomsgroep. Sy het die 800 m in (2:24.56) 855 punte en 1 500 m (4:49.72) 924 punte gewen. Andreé Roux het in die dogters o.17-ouderdomsgroep vir haar skool twee goue medaljes ingeoes. Sy het die 100 m-hekkies in (15:46) 818 punte en 200 m (27:09) 764 punte gewen. Tharien Breytenbach het die 100 m vir dogters o.17 in (13:00) 795 punte gewen. Sy was ook eerste oor die wenstreep in die 400 m (1:01.14) 821 punte. Daniel Snyman het die hoogspringtitel vir seuns o.16 met 'n puik hoogte van (1,80 m) 636 punte gebuit. Nolene van Rensburg het die 800 m vir dogters o.15 met 'n tyd van (2:32.25) 737 punte ingepalm. Mire Reinstorff het die 90 m-hekkies vir dogters o.14 in (14:27) 888 punte gewen. Annuske Coertze het die spiesgooi vir dogters o.17 met (40,05m) 858 punte gewen. Die 16-jarige Meike Strydom is aangewys as die beste dogtersatleet in haar ouderdomsgroep by die Moorreesburg Top-10-byeenkoms. Sy het die gewigstoot en diskustitels ingepalm. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Sy het die gewigstoot en diskustitels met puik afstande van (16,45 m) 968 punte en (41,32 m) 952 punte ingepalm.Luné van der Westhuizen het die 200 m vir dogters o.15 met 'n vinnige tyd van (26:32) 847 punte gewen.Ancois Jordaan het met 'n puik afstand van (30,85 m) 779 punte goud verdien in hamergooi dogters o.14.Allen Kleinsmidt het in die dogters o.14-ouderdomsgroep die 100 m in 'n blitstyd van (12:71) 901 punte gewen.
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Athletics/175733/Kwaggaatlete-maak-weer-skoonskip
2016-11-03 07:00:00
Vrou kla dat polisieman haar klap
Denise Strauss (28) van Pacaltsdorp beweer dat sy 'n bebloede oog en beserings aan haar gesig (skaafwonde) opgedoen het na 'n polisieman haar geklap het. Foto: Verskaf. GEORGE NUUS - Die plaaslike kantoor van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) stel ondersoek in na 'n beweerde voorval verlede Woensdag waartydens 'n polisieman 'n vrou geklap het. Dit volg nadat Denise Strauss (28) van Pacaltsdorp 'n aanrandingklag teen 'n polisieman van George-stasie gelê het. Strauss beweer die voorval het tussen 18:00 en 18:30 in Cradockstraat naby die George taxi-staanplek plaasgevind kort nadat sy toegang tot 'n GO GEORGE-bus geweier is. Sy sê sy is toegang tot 'n bus geweier omdat sy volgens die bestuurder onder die invloed van drank was. Sy erken dat sy en haar vriende wat saam met haar was, alkohol gedrink het, maar ontken dat sy onbeskof, oproerig of onvas op haar voete was. Sy sê toe die bus wegtrek het sy oor die pad gestap na Pie City waar die polisievangwa langs haar gestop het. "'n Polisieman het uitgeklim en my aan my arm gegryp sonder enige rede. Ek wou by hom weet hoekom en het my losgeruk. "Dis toe wat hy my klap en ek met my gesig teen die sypaadjie val." Strauss sê sy is toe in die polisievoertuig gelaai en na die George-polisiestasie geneem waar sy melding gemaak het dat sy deur die polisieman geslaan is, maar sy is glo uitgelag deur die persoon agter die toonbank in die aanklagkantoor. "Hulle het my toe in 'n sel, wat bebloed was opgesluit, en later na 'n ander sel geskuif. Die volgende oggend 04:00 is ek uit die sel vrygelaat en aangesê om te loop. Ek weet nie waarvoor ek toegesluit was nie en het ook nie enige bewyse van enigiemand by die stasie gekry waar ek vir ure toegesluit was nie. Ek het in die donkerte alleen na Pacaltsdorp geloop," sê Strauss. Sy het later dieselfde oggend die voorval by die Pacaltsdorp-polisie gerapporteer en 'n verklaring afgelê. Volgens Strauss weet sy nie wie die polisieman is nie, maar sal sy kom kan uitken. "Ek het regsadvies ingewin en gaan die saak nie hier los nie. Hy het my verneder en sy hande op my gelê. Ek wag nog om te hoor wanneer hulle 'n uitkenningsparade gaan hou." Die George Herald het skiftelik navraag by die polisie gedoen oor die voorval. Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê hy is ongelukkig nie in 'n posisie om te reageer nie, aangesien die dossier alreeds aan Opod oorhandig is vir verdere ondersoek. Opod het nie teen druktyd op navrae reageer nie. Die jaarlikse nasionale veldtog '16 dae van geen geweld teen vroue en kinders' skop af op Vrydag 25 November. ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-NUUSREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Waarvoor was Denise Strauss in hegtenis geneem?Hoekom het sy nie 'n bewys ontvang toe sy vrygelaat is nie? Is dit praktyk?Hoekom is sy in die middel van die nag vrygelaat en moes sy haar weg alleen in die donker huis toe vind? Kon die polisie haar nie maar by die stasie laat wag het totdat dit lig was of haar huis toe geneem het nie?
http://www.georgeherald.com/news/News/General/175738/Vrou-kla-dat-polisieman-haar-klap
2016-11-03 11:00:00
ns lewe in 'n wêreld van groepsdruk. Ander mense stel die standaard en ons dra dit, bestuur dit, haal dit aan en doen dit. In sommige gevalle is dit reg so, maar nie wanneer dit by jou lewe se rigting kom nie. Jesus het gesê, 'As die Seun julle dus bevry, sal julle regtig vry wees.' Dit beteken dat jy vry is van die druk wat ander mense op jou probeer plaas; vry is om die persoon te wees wat God jou geroep het om te wees; vry om na Hom in plaas van na ander mense vir antwoorde te kyk. Die Bybel sê, '...'n Mens is nie in staat om iets te ontvang as dit nie vanuit die hemel aan hom gegee is nie' (Johannes 3:27 NLV). Wanneer jy verby die oppervlak kyk, sal jy vind dat baie van ons met onsekerheid sukkel. Ons is kompeterend; ons vergelyk onsself met ander. Ons is afgunstig op hulle besittings, vaardighede en prestasies. Ons probeer by sekere mense byhou, of ons probeer om net soos hulle te wees. Op die ou einde raak ons gefrustreerd omdat ons buite dit wat God ons geroep het om te wees, optree. Met ander woorde, ons is nie onsself nie! Verstaan mooi: Die Christelike lewe is 'n wedloop, en jy moet in jou eie baan hardloop. Jy sal nooit die volheid van God se seën kan geniet tot jy jouself verbind het om die persoon te wees wat Hy jou geskep het om te wees nie. Kyk dus vandag in die spieël en verklaar, 'Ek is wat ek is. Ek kan niks anders wees as wat God my geroep het om te wees nie. Ek gaan dus daarop konsentreer om die beste ek te wees wat ek kan wees - en ek gaan elke oomblik daarvan vier.'
http://www.georgeherald.com/viewblog/1677/Vry-om-jouself-te-wees
Honda se nuwe sportnuts
Die ontwerp vloei goed saam met interessante detail soos op die kantspieël. MOTOR NUUS - Honda Motor Suider-Afrika het sy opwin-dende en vertroude reeks sportnutsvoertuie (SNV's) met 'n derde, splinternuwe model uitgebrei. Die BR-V sluit aan by die gevestigde CR-V en die uiters gewilde HR-V, wat verlede jaar bekend gestel is. Die bekendstelling in Wes-Kaapland was, soos altyd, 'n gesellige en professionele geleentheid waar media aan die nuweling voorgestel is. Die ritgehalte, kragtige voorkoms en gewillige enjin het van die begin af tot end-uit die maatskappy se trefkrag in hul mark onderstreep. Die feite strook hiermee, want Honda-eienaars is oorwegend lojaal en is min geneig om hul motor vir 'n ander handelsmerk te verruil. Die lojaliteitsfaktor word bereken op sowat 75% van huidige Honda-eienaars wat in 'n Amerikaanse eienaarspeiling weer dieselfde fabrikaat sal koop. Die lys van toekennings vir betroubaarheid strek al vir dekades en sluit onder meer verskeie van J D Powers in. Hoewel die BR-V onmiskenbaar lid is van die Honda-familie, bied die nuwe SNV sy eie kenmerkende stilering met 'n rats, sportiewe voorkoms. Die voertuig staan hoog en stewig op die pad en dit gee die gespierde indruk wat van 'n SNV verwag word. Smukplate op die voor- en agterbuffers, asook dakrelings en wiele van 16" is van die kenmerkendste visuele elemente. 'n Mooi sierrooster, met chroomversierde dwarsbalk, duidelike Honda-kenteken en vaartbelynde kopligte sorg vir 'n kenmerkende Honda-voorkoms. Die ruim binne-afmetings beteken dat 'n derde ry sitplekke ingepas kan word, met sitplek vir sewe insittendes. Toegang tot al die sitpekke is maklik en gerieflik, danksy verdeelde sitbanke wat met die trek van 'n handvatsel maklik vorentoe oorvou. Die gemak waarmee die middelste en agterste sitplekrye gevou en vorentoe getuimel word, sorg ook vir die soort veelsydigheid wat eienaars van 'n nutsvoertuig graag wil hê. Die B-RV se binneruim kan dan op vele verskeie maniere ingerig word vir die variasie in die aantal sitplekke en vragruimte soos dit benodig word. Die binneruim is netjies en uitstekend afgewerk met 'n deftige indruk en geen ooglopende harde plastiek nie. Die afwerking in die algemeen is fyn en die soort gehalte wat Honda-eienaars sal herken. Selfs die Trend-intreevlakmodel bied lugreëling, elektries verstelbare ruite voor en agter, asook afstandbeheerde sentrale sluiting. 'n Klankstelsel met vier luidsprekers en USB-verbinding is standaard, terwyl selfone deur Bluetooth met die klankstelsel praat. Wat aktiewe en passiewe veiligheid betref, word die BR-V as standaard met ABS-sluitweerremme toegerus met dubbele lugsakke voor en rukstopgordels vir alle sitplekke buiten die middelste sitplek in die tweede ry, wat 'n skootgordel het. 6 600 r/min, tesame met 'n wringkragpiek van 145 Nm by 4 600 r/min. Die nuwe BR-V bied kopers die keuse van 'n sesgang-handratkas of Honda se verfynde Voortdurend Veranderlike Transmissie (VVT). Laasgenoemde is met skakelspane toe-gerus sodat bestuurders self ratte kan kies. Die BR-V is die heel jongste in Honda se reeks sportnutsvoertuie. Die modelreeks en kleinhandelpryse is as volg: Honda BR-V 1,5 Tren-handrat - R238 900; Honda BR-V 1.5 Comfort-handrat - R252 900; Honda BR-V 1,5 Comfort CVT - R268 300; Honda BR-V 1,5 Elegance-handrat - R272 900 en Honda BR-V 1,5 Elegance CVT - R288 300. Die prys sluit Honda se standaardwaarborg van vyf jaar of 200 000 km in, asook AA-padbystand van drie jaar. Comfort- en Elegance-weergawes kry ook 'n diensplan van twee jaar of 30 000 km. Diensintervalle is elke 15 000 km. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus' Al die plaaslik beskikbare BR-V-weergawes word deur dieselfde enjin van 1,5 liter aangedryf. Die viersilinderenjin met enkelbonokas maak van Honda se i-VTEC kleptydreëlstelsel gebruik en lewer maksimumkrag van 88 kW byKopers van die BR-V het 'n keuse van vier kleure: Orchid-wit, Urban-titaan, Alabaster-silwer en Carnelian-rooi.
http://www.georgeherald.com/news/News/Southern-Cape-Motoring/175775/Honda-se-nuwe-sportnuts
2016-11-03 12:00:00
Opvolg: Kerk stig slagoffergroep
Pastoor Alan Spies (links), leraar van die AGS Pacaltsdorp saam met pastoor Anne Ross-Maarman en kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder. Foto: Alida de Beer GEORGE NUUS - Die AGS-gemeente van Pacaltsdorp stel op 3 Desember 'n beradingsdiens bekend vir slagoffers van geweld. Dit sal veral op vroue en kinders ingestel wees. Kinders wat met dwelmverslawing sukkel, sal ook kan aanklop by die Grace and Royal Ministry soos die inisiatief bekendstaan. Pastoor Anne Ross-Maarman, wie se breinkind dit is, is tans kapellaan en pastorale berader by Bethesda Medical and Relief Services in Rosemoor. Sy is opgewonde oor 'n groep vroulike vrywilligers wat twee maande gelede reeds met opleiding as lekeberaders begin het. Fasiliteerders op verkillende professionele gebiede help met die kursusaanbieding wat by die kerk plaasvind. "Ons het ook reeds in Oktober 'n ondersteuningsgroep vir vroue en kinders op die been gebring. Op die oomblik word die diens slegs op Saterdae aangebied, maar dit sal in die nabye toekoms uitbrei na weeksdae ook," sê Maarman. 'n Amptelike bekendstelling van die bediening word op 3 Desember by die kerk gehou met die tema, 'Let me take you to the King'. Dit begin om 10:00. Alle belangstellende vroue is welkom. Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gaan gesels oor geweldsmisdaad en die impak daarvan op die gemeenskap. Medici en maatskaplike werkers gaan hul ervaring deel oor hoe misdaad en dwelm- en alkhoholmisbruik hulle in hul beroepe raak. Ross-Maarman sal daarna aan die woord wees. Grace and Royal Ministry word deur die polisie se Eden-gebiedsbevelvoerder, maj.-genl. Oswald Reddy ondersteun. Volgens Pojie beskou die polisiebestuur die bediening as 'n noodsaaklike verlengstuk van die beradingskamers by die onderskeie polisiestasies waar traumaberading aan slagoffers van geweld verskaf word. "Wanneer slagoffers hier klaar is, word hulle dikwels vir professionele hulp of na die hospitaal vewys, maar daarna is hulle aan hul eie lot oorgelaat. Danksy hierdie nuwe inisiatief sal 'n voortgesette diens in die gemeenskap aan slagoffers gelewer kan word." Ross-Maarman moedig ander kerke aan om 'n soortgelyke diens te begin. "Ek wil belangstellende vroue vanoor die hele George nooi om betrokke te raak. Ons sal leiding gee. Daar is ontsaglike nood vir emosionele en/of traumaberading en geestelike ondersteuning in die George-gemeenskap." Pojie sê die projek is in lyn met die gebedsinisiatief, ODI (Operation Divine Intervention) wat vroeër vanjaar by polisiestasies van stapel gestuur is waarvolgens gereelde gebedsessies deur geestelike leiers by die onderskeie polisiestasies aangemoedig word. Daar word gebid vir misdaadslagoffers en oortreders, polisiepersoneel en hul families, asook vir 'n afname in misdaad. • Ross-Maarman het in die 1990's in die Kaap 'n projek by polisiestasies begin om ondersteuningskamers vir geweldslagoffers te vestig en sy was al ATKV Vrou van die Jaar vir haar werk onder slagoffers van geweld. Sy het verpleging gedoen voordat sy as pastoor opgelei en in 2010 in die AGS georden is. Vir meer inligting oor Grace and Royal Ministry, bel haar by 079 327 3273. ARTIKEL & FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/177265/Opvolg-Kerk-stig-slagoffergroep
2016-11-24 09:00:00
November 2016 se trekker- en stroperverkope
Trekkerverkope van 453 eenhede in November is een eenheid meer as die 452 eenhede wat verlede November verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope 13% laer as verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar. Stroperverkope van 12 eenhede in November is, soos trekkerverkope, een eenheid meer as die 11 eenhede wat verlede November verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope ongeveer 15% laer vergeleke met die ooreenstemmende vorige tydperk. Goeie reën het in baie van die oostelike dele van die land geval en sekere damme begin voller maak. Dit is ᾿n goeie teken vir droëlandboere, asook vir boere wat aanvullend besproei. Sekere westelike dele van die land het steeds reën nodig om bevredigende somergewasse te lewer. Na die ergste droogte in jare is bankiers versigtig om aankope van landboutoerusting te finansier en boere is huiwerig om skuld aan te gaan voordat hulle meer sekerheid het oor hulle gewasse. Die onderliggende sentiment in die mark bly nietemin positief, maar versigtig. Huidige ramings vir die bedryf in 2016 dui daarop dat algehele trekkerverkope ongeveer 12,5% laer sal wees as verkope verlede jaar, of dat ongeveer 5 800 eenhede verkoop sal word. Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie
http://www.proagri.co.za/november-2016-se-trekker-en-stroperverkope/
2016-12-12 08:48:43
Stabiele skaapvleispryse verwag
Plaaslike skaapvleispryse kan ondersteun word deur maandeinde-aankope en ‘n verhoogde vraag in lyn met seisoenale neigings, maar die skerp toename in slagtings mag druk op pryse plaas. Internasionaal sal ‘n verbetering in aanvraag tydens die feesseisoen lei tot stabiele pryse vir lam- en skaapprodukte, volgens ABSA Agri Trends. Plaaslik Skaapvleispryse was in die week van 22 November effens hoër, met ‘n verwagte opwaartse neiging na die einde van die maand se kant toe. Die voorspelde ABSA-pryse was as volg: Klas A is 0,10% hoër teen R60,00/kg en Klas C is 0,02% hoër teen R45,90/kg. Die gemiddelde pryse van voerlammers is 2,08% laer teen R31,04/kg. Die gemiddelde prys van dorperskaapvelle het 1,29% hoër verhandel teen R35,45/vel en merino het 1,59% hoër verhandel teen R80,00/vel. Bulmark faktore Pryse sal deur maandeinde-aankope en hoër aankope tot en met die feesseisoen ondersteun word. Gunstige weervooruitsigte mag die veemark ondersteun omdat dit weiding sal laat herstel en kuddebou sal ondersteun. Beermark faktore Verbruikersdruk mag ‘n negatiewe impak op aanvraag hê, veral as pryse hoog is. Veepryse sal na verwagting steeds ondersteun word soos wat die onlangse reënval weiding laat verbeter. Die slagkoers van skaap het week-tot-week met 19% van die vorige week gestyg en ‘n verdere styging van 31% het in die week van 22 November plaasgevind. Internasionaal Nieu-Seelandse lamspryse was die week van 22 November laer vergeleke met die vorige week. Lam het 1,44% laer afgesluit op NZ$82,10/kop vir ‘n 15 kg lam. Lamspryse was 0,77% laer teen NZ$115,70/kop vir ‘n 21 kg ooi. Invoerpariteitspryse vir lam was 1,24% hoër teen R62,31/kg, terwyl die invoerpariteitsprys vir skaapvleis 2,45% hoër was teen R36,91/kg. Bulmark faktore In Nieu-Seeland is die jaar-op-jaar slagsyfers en lamverhandelingswaardes heelwat laer as wat tipies dié tyd van die jaar die geval is. Weens oorvloedige weidings is boere minder geneig om vee mark toe te stuur. Die huidige tekort aan sonskyn het ‘n impak op die gehalte van weiding en lammers vat langer om afrondingsgewig te bereik. Die gevolglike laer voorrade verooorsaak laer slagsyfers, wat moontlik eers in Desember sal verbeter. Beermark faktore Daar is oor die langtermyn steeds afwaartse druk op Nieu-Seelandse pryse. Die negatiwiteit van die Nieu-Seelandse lamsmark het die aanvraag redelik laag in winkels gehou en dit kan ‘n invloed op pryse het sodra daar meer volumes beskikbaar is. Bron: RPO bulletin
http://www.proagri.co.za/stabiele-skaapvleispryse-verwag/
2016-12-05 13:13:34
Boerderygemeenskappe staal hulle teen misdadigheid
Die boerderygemeenskappe van Umvoti in KwaZulu-Natal en Colesberg in die Noord-Kaap het hulleself verder gestaal teen misdadigheid. Dit volg nadat die Agri Securitas Trustfonds geldelike hulp aan die gemeenskappe bewillig het om nommerplaatherkenningkameras en ‘n radioseinversterker in hulle onderskeie gebiede op te rig. Die stelsels sal aangewend word om toegang te moniteer en radiokommunikasie tussen lede te verbeter. “Te midde van verskeie uitdagings, waaronder die negatiewe impak van misdadigheid op hulle ondernemings, is boerderygemeenskappe afhanklik vir hulle voortbestaan van die landbou en vind hulle dit toenemend moeilik om te oorleef en te produseer. Dit bly moeilik om aan diegene wat moet sorg vir voldoende voedselproduksie as ‘n primêre verantwoordelikheid te verduidelik dat hulle ook na hulle eie veiligheid moet omsien,” sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds. Die Trustfonds probeer om met dié ondersteuning, boerderygemeenskappe te help om hulle veiligheid te rig op voorkomende maatreëls, eerder as op reaktiewe optrede. “Deur te help om ‘n veiliger produksie-omgewing te skep wil die Trustfonds pro-aktief bydra om boerderygemeenskappe veiliger te hou en om voedselproduksie vir die land se groeiende bevolking in stand te hou,” sê Japie. Die Trustfonds het ook erkenning gegee aan sy strategiese vennote, naamlik; Nissan SA, Sanlam, CrisisOnCall en Sonfin vir hulle finansiële ondersteuning. Uitgereik deur Agri SA
http://www.proagri.co.za/boerderygemeenskappe-staal-hulle-teen-misdadigheid/
2016-12-06 11:27:53
2017 Chevrolet Trailbazer: Opgekikker buite en vars binne
Met Toyota se nuwe Fortuner wat harte op ‘n gallop wen, moes Chev iets doen om meer kopers te lok na sy Trailblazer es-joe-wee. Dit is nie net Hillary en Donald wat mekaar têkkel nie, Zumpta en Thuli is in die kryt en dit terwyl die geveg om markaandeel hewig woed tussen die Trailblazer, Fortuner en Ford se Everest. Jinne, ‘n man moet ten minste wiele hê wat die randstene kan klim wanneer jy by die baie gewilde Saxonworld Sjebien aan jou laataand knertsie wil gaan teug. Nou beide hierdie drie sewesitplekkers is ware sportnutse wat met lekker hoë grondvryhoogte en lae strek vierwielaandrywing meer as net sypaadjies kan verken. Hulle is hardebaard in die veld en sleep gemaklik ‘n groot wa of boot wat tot drie ton kan weeg. Dink net hoeveel valuta kan jy karwei uit “waardelose” steenkoolmyne na Escom se kragstasies. Van die driemanskap is die Trailblazer die een wat die minste gewild is. Chev se witjasse het egter besluit hulle gaan die eerlike ryding ‘n “Hannon”-tipe mooimaak sessie gee om te kyk of dit nie meer kopers gaan lok nie. Buite is die neus reggetrek vir ‘n varser, meer moderne voorkoms. Die sierrooster kom nou met ‘n prominente dwarsbalk waarop die bekende strikdas-kenteken pryk, om ‘n dubbeldek-voorkoms te gee. Die hoofligte is herontwerp en swiep skerp na agter. Die luukser LTD modelle kry ook ‘n strepie LED dagry liggies in die hoofligte. Kolligte is op die hoeke in die onderste luginlate geplaas. Binne is die kajuit deftiger beklee en is beter toegerus. Met ‘n groter klem op sagter materiale, asook die kontrasterende stiksels op die leerbekleedsel, vertoon die binneruim van die nuwe model meer modern en luuks. Instrumentasie is opgeknap en ‘n groot raakskerm is sentraal in die voorpaneel geplaas. Daar is, soos met meeste van hierdie SUV’s, byna al die moontlike geriefies wat klank-, kommunikasie- en ander elektroniese bestuurderhulpstelsels insluit. Die topmodelle kom met SatNav ingesluit, maar die goedkoper modelle laat jou toe om met behulp van die voertuig se “Android Auto” of “Apple Carplay” aanpasbaarheid jou slimfoon koordloos te koppel en dan, met ‘n toepassing soos Google Maps byvoorbeeld, op die skerm te vertoon. Daar is vyf 12V koppelpunte en agt(!) bekerhouers. Dit is vir wanneer jy en jou Saxon World Sjebien pelle julle koue geriefies as padkos wil saamneem na die volgende “vergadering”. Lugversorging is beskikbaar vir al drie rye sitplekke en kan afsonderlik verstel word. Twee enjins is beskikbaar in die reeks van vyf modelle. Die nuwe 2,5 liter LT turbodieselmodelle, beide 4×2, het verras. Gekoppel aan ‘n 6-gang handratkas lewer die wakker diesel 120 kW/380 Nm se piek krag, maar kies jy die 6-gang outomaties kry jy 132 Nm/400 Nm danksy ‘n slim turbo (VGT- Variable Geometry Turbo). Die LT weergawes het nou wyer 255/17” wiele terwyl die topmodel 2,8 LTZ modelle op 18” 265/60 tekkies loop. Die 2,5 Duramax turbodiesel in outomaties gebruik amptelik 8,6 l/100 km. Die handrat weergawe is effe minder dors teen 7,6 l/100 km. Die brandstoftenk vir al die modelle het ‘n kapasiteit van 76 liter en 50 ppm diesel word aanbeveel. Al die modelle behalwe die 2,5 LT handrat (2515 kg) kan 2965 kg sleep. Topmodelle kom met 2,8 l turbodiesel (VGT) enjins wat 144 kW en 500 Nm bied en is slegs met die 6-gang outokas beskikbaar ,maar bied ‘n keuse van 4×2 of 4×4 aandrywing. Pryse (BTW in) wissel van R 464 000 vir die intree 2.5D LT 4×2 handratmodel tot R 623 200 vir die topmodel 2.8D LTZ 4×4 outomaties.Al die opgekikkerde modelle kom standaard met ‘n “Chevrolet’s Complete Care” pakket wat ‘n klasleidende 5-jaar/120 000 km waarborg bied. Die pakket sluit ook ‘n 5-jaar/90 000 km diensplan in. Die opgekikkerde Chev Trailblazer bied hoë vlakke van standaard toerusting wat goed vergelyk met sy kompetisie en is ‘n goeie alternatief in hierdie hoogs kompeterende segment. My keuse is die intree 2,5 L handrat model wat lewendige verrigting en goeie brandstofverbruik gelewer het tydens my toetstydperk. Ek hou van die 3 de ry sitplekke wat met ‘n maklike patent sonder sukkel platvou en weer maklik opgeslaan kan word. Die groot en breë wiele het gehelp met goeie hantering en padgedrag op grondpad. Op die ooppad het die Chevvie beindruk met ‘n gerieflike rit in ‘n stil kajuit, grootliks te danke aan verbeterde kajuitklankdigting en stuurvibrasie. Deur Dirk Gallowitz van Utlimate Drive
http://www.proagri.co.za/2017-chevrolet-trailbazer-opgekikker-buite-en-vars-binne/
2016-12-22 07:36:07
Sekere insetkostes in die landbousektor gaan in 2017 verlig
Die droogte wat die land vanjaar ervaar het, het ‘n aansienlike daling in geplante gebiede veroorsaak. Daar was ‘n klein bietjie verligting met die reën wat die laaste tyd geval het en boere kon op die laaste nippertjie begin plant. Volgens die oesskattingskomitee sal ongeveer 3,753-miljoen hektaar beplant word gedurende die 2016/17 seisoen. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB sê: “As boere begin met hulle seisoenale bedrywighede, kyk ons na die relatiewe insetkoste wat hulle in die gesig staar. Terwyl insetkoste hoër is in vergelyking met geskiedkundige neigings, was daar ‘n paar dalings wat goed is vir die seisoen vorentoe.” Dawie voeg by, “kunsmis en brandstof is die belangrikste insette in die produksie van gewasse en is verantwoordelik vir ongeveer 35% en 11% van die totale veranderlike koste. “Die pryse van hierdie insette is grootliks beïnvloed deur die internasionale ru-oliemark. Die voordele van ‘n laer ru-olie prys is egter geneutraliseer deur die verhoogde wisselvalligheid in die rand-wisselkoers wat ons steeds ervaar.” Ander belangrike insette vir die somergraanprodusente sluit onkruiddoders, plaagdoders, elektrisiteit, water en arbeid in. Die sterkte of swakheid van die Rand het ‘n groot impak op insetpryse in die landboubedryf. ‘n Swakker Rand verhoog die prys van ingevoerde insette soos kunsmis, plaagdoders en onkruiddoders. Die pryse van meeste graankommoditeite is op invoerpariteit gegrond en die swakker Rand het gehelp om die prys van mielies te verhoog wat ‘n belangrike bestanddeel in die vervaardiging van veevoer is. Die sterker Rand het die teenoorgestelde effek. Geelmieliepryse is ongeveer 11% hoër jaar-op-jaar maar het redelik geval van die 2016 hoogtepunt van R4 021 per ton. Hierdie neiging gaan waarskynlik voortduur in die medium- tot langertermyn gegewe die verbeterde seisoenale vooruitsigte met die Mei en Julie 2017 geelmielies termynmark wat reeds onder die R3 000/t vlak handel. Winsgewende marges in die pluimvee, suiwel en varkbedrywe word verwag om in 2017 te verbeter as gevolg van verhoogde graanproduksie wêreldwyd. Bron: FNB
http://www.proagri.co.za/sekere-insetkostes-die-landbousektor-gaan-2017-verlig/
2016-12-09 08:36:19
Nuy Wynkelder se keldermeester aangewys as Worcester/Breedekloof Wynmaker van die Jaar
Nuy Wynkelder se keldermeester, Christo Pienaar, is as Worcester/Breedekloof se Wynmaker van die Jaar aangewys. Hierdie gesogde toekenning, nou in sy vyfde jaar in die huidige formaat, word jaarliks aan ‘n wynmaker uit die Worcester en Breedekloof toegeken. “Dit is lekker om jou wyne te meet teen ander wyne uit dieselfde streek. Ons werk almal met baie van dieselfde natuurelemente, dit maak die kompetisie baie uniek,” sê Christo. Die tweede plek is bekleë deur CP Conradie van Conradie Penhill en die derde plek is ingeneem deur Stettyn Kelder. Wedstrydformaat en beoordeling Die formaat van die kompetisie werk soos volg; elke kelder skryf drie tot vyf wyne in wat in hul proelokaal te koop aangebied word. Die kategorieë waarin die wyne beoordeel word, is chenin blanc, chardonnay, sauvignon blanc, rooi- en witversnitte, pinotage, cabernet sauvignon en gefortifiseerd. Die onafhanklike beoordelingspaneel bestaan uit vyf lede wat dan die wyne blind proe. In elke afdeling word die Top 5 aangewys. Die wynmaker wat die beste punte behaal in die onderskeie afdelings word as “Wynmaker van die Jaar” aangewys. Die jaar se beoordelaars was: Tom Block (Sameroeper) – Kaapse Wynmeester Nina-Mari Bruwer – Kaapse Wynmeester Danie Marias – Wynmaker by Windmeul Kelders Francois van Niekerk – Wynmaker by Wellington Wines Cobie Viljoen – Konsultant Wynmaker in Hermanus
http://www.proagri.co.za/nuy-wynkelder-se-keldermeester-aangewys-worcesterbreedekloof-wynmaker-van-die-jaar/
2016-12-07 08:25:01
RGMotorsport sit woema in jou werkesel
Die drastiese besnoeiing van uitgawes is deesdae nie meer net vir suinige of sukkelende boere nie. Die immer knellender kosteknyptang veroorsaak dat elke slim boer elke rand en sent moet omdraai sodat daar volgende jaar verder geboer kan word. Omdat jou bakkie jou trots is, kyk min boere daarna as net nog ’n kostesentrum op die plaas. Maar het jy al ooit gewonder of jy jou bakkie kan ombou sodat dit ook sy deel op die plaas kan bydrae om geld te bespaar? Rob Green, stigter en eienaar van RGMotorsport in Johannesburg, het saam met sy span slimkoppe ’n kwarteeu se navorsing en ondervinding in enjinombouings agter die blad. “Ek wil die enjinomskakelingsbedryf op ’n hoër vlak plaas. Wanneer jy ’n voertuig wat deur ons werkswinkel is se enjinkap oopmaak, moet dit lyk asof dit regstreeks uit die vervaardiger se fabriek kom. Ons beskou ons vakmanskap, materiaal en diens as die beste wat jy kan kry,” sê Rob. Hulle fokus uitsluitlik daarop om standaardvoertuie sterker en meer kostedoeltreffend te maak. “Ons wil nie ’n voertuig superaanjaag om lawwe resultate te kry nie. Ons bou ’n voertuig om sodat dit die maksimum kan lewer waartoe dit in staat is,” sê Rob. RGMotorsport het ’n ruk gelede ’n standaard 4,0 liter, V6, 2016-model Hilux wat 175 kW lewer aangekoop en hulle span ingenieurs en technici op die enjin losgelaat om die enjin se volle potensiaal te ontgin. Vandag lewer hulle ’n spogproduk met kraglewering wat uitstekend vergelyk met die sterkste kragmanne in die wêreld. Met ’n turboaanjaer, superaanjaer en verbeterde lugvloei lewer die voertuig nou met gemak ’n wringkrag van 545 Nm teen 5 500 omwentelinge per minuut om 327 kW se krag te lewer. ’n Bykomende bonus is dat die brandstofverbruik drasties daal. “Jy hoef nou skaars aan die versnellerpedaal te raak om dieselfde werkslewering te kry as voorheen,” sê Adrian Burford, eksterne skakelbeampte van RGMotorsport. Wat is nou geriefliker as om maklik en vinnig met ’n vol vuurvegter teen ’n bult uit te ry, of om met jou eentonbuffelbul op jou wildsleepwa ’n stadige vragmotor blitsvinnig verby te steek? Sonder vrag kan die bakkie in 12,2 sekondes vanaf 80 km/h na 160 km/h versnel! Die heen-en-weer see toe met die hele gesin terwyl jy ’n boot, woonwa of sleepwa trek is ook een groot plesier terwyl die bespaarde brandstofgeld eerder aan vermaak bestee kan word. Die brein van die voertuig se ombouing word ’n Unichip genoem. RGMotorsport pas die Unichip aan sodat dit pasmaak vir jou voertuig en beursie kan werk. Die Unichip-dieselenjinbestuurstelsel kan in die ouer 3,0 D-4D en in die nuwe 2,8GD (Global Diesel) waarmee die jongste generasie Fortuner en Hilux spog, geïnstalleer word (let wel, nie vir die 4.0 liter, V6 Hilux nie). Dit het vyf verskillende vlakke wat maklik met ’n knoppie gekies kan word: Teenkapingsfunksie wat die voertuig in ’n ‘kruppelmodus’ plaas. Standaardfunksie wat die voertuig na sy oorspronklike fase voor die ombouing terugskakel. Die ekofunksie is uitsluitlik vir brandstofbesparing bedoel. Die brandstofpedaal reageer nie aggressief nie. Die sleepfunksie gee baie krag tydens lae omwentelinge vir die oomblik wanneer jy met ’n swaar vrag moet wegtrek. Volkragfunksie gee die maksimum krag wat die enjin kan lewer regdeur al die ratverhoudings. Nadat die ombouing voltooi is, word elke voertuig by die Gerotek militêre voertuigtoetsbaan wes van Pretoria getoets om te verseker dat teorie en praktyk bymekaarkom. “Ons het baie kliënte wat byvoorbeeld in Afrika gaan toer, wat spesifiek hulle voertuie op rowweterrein beproef,” sê Jaques Joubert, RGMotorsport se bemarkingsbestuurder. RGMotorsport is AA-gehalteverseker en RMI-goedgekeur. (Die AA is die Outomobiel-assosiasie en RMI is die organisasie van die kleinhandelmotorbedryf.) Vir ’n 4.0 liter, V6 Hilux met minder as 10 000 km op sy meter en wat jonger as een jaar oud is, sluit RGMotorsport ’n tweejaar-/75 000 km-waarborgplan vir die superaanjaer-ombouing in. “Ons is petrolkoppe en het ’n passie vir wat ons doen. Die bedryf smag na reputasie, diens en werksverrigting, en dit is ons sterkpunte,” sê Rob Green. Skakel Rob Green by 082-554-5632 of 011-792-8352 of e-pos RGM by info@rgmotorsport.com.
http://www.proagri.co.za/rgmotorsport-sit-woema-jou-werkesel/
2016-12-13 15:01:38
Kareedouw se boere wen NWKV-toekenning
Die Bennie van der Merwe Wisseltrofee word sedert 1999 toegeken aan die NWKV-beplanningskomitee wat die meeste gedoen het ter bevordering van winsgewende wolskaapboerdery. Hierdie jaar het die Zuuranys Boerevereniging en studiegroep op Kareedouw, Oos-Kaap, met die louere weggestap. Die Zuuranys Boerevereniging se plase dek die hele area tussen die Tsitsikamma-bergreeks en die Baviaansberge, in die landboustreek tussen Humansdorp, Patensie, Kareedouw en Joubertina. Hulle het tydens die een-jaar evaluasietydperk, 5 reproduksie studiegroepbyeenkomste gehou waar ramvoorbereiding & -prikkelvoeding, kuddegesondheid, lamvoeding en kruipvoer, bestuur van ooie in die laaste derde van dragtigheid en kondisiebepaling behandel is. Augustusmaand is spandeer aan ooivoorbereiding en -prikkelvoeding, bestuur van ooie en ramme tydens paring terwyl die onderwerpe van veldbestuur en veldbrand in Novembermaand aangespreek is. ‘n Boeredag waar dr Jasper Coetzee oor presisievoeding en lamstelsels gesels het, was ‘n dagboekhoogtepunt en ‘n slagysterkursus vir jagters en plaaswerkers is deur roofdierspesialis, Niel Viljoen, aangebied. Drie deelnemers is deel van die ekonomiese studiegroep waar ‘n boer se ekonomiese syfers ontleed word en hy dienooreenkomstig raad ontvang. Prieur du Plessis van Laagte, Kareedouw, het sy plaas beskikbaar gestel as ‘n demonstrasieplaas en die deelnemers het ‘n Jongooiveiling gehou om geld in te samel vir die jagklub, wat ook die dienste van ‘n voltydse jagter geniet. Voorwaar ‘n dinamiese groep boere met ‘n wenresep van goeie beplanning, toepaslike en interessante groepbesprekings, samehorigheid en ‘n eenvormige visie vir winsgewende wolskaapboerdery in ‘n ideale wolskaap landboustreek met taamlik wisselvallige reënval. NWKV-bestuurslid en deelnemer, Niel Du Preez, sê die Zuurveld wolskaap lewer deurgaans ‘n bogemiddelde kwaliteit wol met hoë opbrengste en hulle skaaptjops word hoog aangeskryf as die smaaklikste en geurigste in die land. Niel praat met groot lof van dr Louis du Pisani se aansteeklike geesdrif en wye boerderykennis, wat hom die ideale landbouleier onder produsente maak. Sy nuttige kruipvoer- en koggelramkonsepte het hierdie jaar ‘n groot bydrae gemaak en is prakties toegepas deur menige deelnemers. “Louis word wyd onder lede aanvaar as een van die sterktste meningsvormende landbouraadgewers in die land,” sê Niel. Dr Du Pisani is die NWKV se nasionale bestuurder vir produksie-advies en ontwikkeling en speel ‘n fasiliterende en adviserende rol binne die studiegroep. Foto: Agter van links na regs – Niel du Preez, Chris Herselman, Louis Botha, Henco du Plessis, Henri du Plessis en Daan du Plessis. Voor – Dr. Louis du Pisani en Selwyn Jonker Bron: NWKV
http://www.proagri.co.za/kareedouw-se-boere-wen-nwkv-toekenning/
2016-12-15 17:22:20
Plaasseun word John Deere se wenner-werktuigkundige
John Deere is wêreldberoemd vir die etiese manier waarop hulle sake doen, maar hulle geheim lê dalk in die manier waarop hulle hulle werknemers motiveer, want hulle doen baie moeite om hulle staatmakers mildelik te beloon. Die prys vir vanjaar se Suid-Afrikaanse tegnikus van die jaar is ’n toer ter waarde van R100 000 vir hom en sy metgesel deur die VSA. Besoeke aan ’n paar John Deere-fabrieke is ook op die reisplan. Vanjaar se Tegnikus van die Jaar kom uit die AFGRI-meganisasietak in Bethlehem, wat die handelaar vir John Deere se produkte is. Dié AFGRI-tak is bekend daarvoor dat hulle John Deere-wenners oplewer. Die man wat vanjaar met die wenprys wegstap, is die gebore Bethlehemmer, Artie Bester, en die bloed wat in sy are vloei is groen – John Deere-groen. Artie is 33 jaar oud en hy en sy vrou, Anita, het ’n driejarige seuntjie, Liam. Ook wat sy stokperdjie betref, streef Artie hoog. Hy het in Junie vanjaar sy private vlieglisensie verwerf en gebruik sy vrye tyd om wyd en syd die land vanuit die lug te verken. Sy droom is natuurlik om eendag sy eie vliegtuig te besit. Artie is van kleins af ’n John Deere-man en van kindsbeen af was sy hande vol olie en ghries. Sy pa was ook ’n John Deere-tegnikus en is tans AFGRI se tegniese adviseur vir die streek. Artie het vakansies saam met hom op die plase gewerk. In standard ses het Artie ‘n boerseun geword toe sy pa besluit het om deeltyds te gaan boer op die familieplaas naby Paul Roux waar hy self John Deere trekkers kon inspan. Na matriek is Artie Amerika toe om op ’n plaas te gaan werk. Daarna het hy vir sy pa gaan boer en in 2004 is hy AFGRI toe om sy tegnikus-kwalifikasie by John Deere te kry. Vandag is Artie die hooftegnikus en hy moet somtyds bontstaan as die werkswinkelbestuurder, Jaco Terblanche, verpligtinge elders het. Met ’n N2 of gelykstaande matriekvakke kan jy ’n John Deere-tegnikuskursus volg wat uit vier vlakke bestaan. Jy begin as ’n vakleerling en as jy na wense presteer word jy later tegnikus, gevorderde tegnikus en meestertegnikus. Gereelde kursusse moet by John Deere se hoofkantoor in Boksburg gevolg word om jou kwalifikasies te behou en soos nuwe tegnologie verskyn moet dit ook daar onder die knie gekry word. Soos met enige hedendaagse tegnologiese ontwikkeling, is Artie se skootrekenaar sy belangrikste gereedskapstuk. Die foutopsporing, diagnostiese toetse en foutdatabasis is alles daarop. “John Deere maak dit deesdae so maklik,” sê hy. “Terwyl my vakleerlinghandlanger bestuur, kan ek solank op pad plaas toe op die skootrekenaar kyk wat die moontlike probleem is sodat ons die werktuig of trekker nog gouer aan die werk kan kry.” Sy diensbakkie is spesiaal aangepas vir die ruwe, maar gespesialiseerde, werk en het tot ’n ingeboude oliebad onder die bak om olie wat afgetap word sorgvuldig op te vang sodat daar later op ’n verantwoordelike manier daarvan ontslae geraak kan word. Die bakkie het ook ’n kragopwekker en kompressor sodat die boute en moere blitsig met lugdruk verwyder of teruggedraai kan word. Artie het spesiaal elke gereedskaprakkie met mat uitgelê sodat die duur gereedskap nie deur die rowwe Vrystaatplaaspaaie verniel word nie. Vir die kompetisie kon alle John Deere tegnici vir aanlyn-eksamens inskryf. Die top 50 tegnici is aangewys en hulle het aan die begin van die jaar ’n teoretiese eksamen by John Deere Boksburg geskryf. Die beste tien kandidate is daarna aangewys. Daarna het vyf teoretiese toetse en vyf praktiese toetse oor verskeie produkte by John Deere in Boksburg gevolg, waarna die wenners aangewys is. Nog twee vere in Bethlehem se hoed Met sy prestasie het Artie AFGRI Bethlehem se rekord van puik prestasie voortgesit. Kobus van Eeden is AFGRI Bethlehem se meganisasietakbestuurder. Hy het in 1981 as klerk by die destydse OTK aangesluit. 16 jaar gelede het hy Bethlehem toe gekom as streek- en takbestuurder. Later het hy besluit om op die meganisasietak te fokus. Hy verstaan hoe werk ’n tegnikus se kop, uit die tegnici se hande te neem sodat hulle die maksimum tyd in die veld kan bestee om boere te bedien. Bethlehem se meganisasietak is in 2013, 2014 en 2015 as Tak van die Jaar aangewys. Jaco Terblanche is AFGRI Bethlehem se werkswinkelbestuurder. Hy het na matriek die leer vanaf sy vakleerlingskap in 1997 begin klim. Onder sy leiding is die meganisasietak se werkswinkel die afgelope vyf jaar as Werkswinkel van die Jaar aangewys. Die boere is tevrede Artie is baie gewild onder die John Deere-boere in Bethlehem en hulle is getroue John Deere ondersteuners. Die streek is bekend vir sy mielie- en koringwisselboustelsel, maar die vensterperiode vir plant en oes word korter en die druk op die boere meer. Deur die jare het dit duidelik geword dat John Deere en hulle uitstekende diensspan die antwoord is as daar ernstig gemeganiseer word en presies geboer wil word. Om uitstekende John Deere-diens te ervaar, skakel gerus jou naaste John Deere-handelaar of besoek hulle webwerf by www.deere.co.za.
http://www.proagri.co.za/plaasseun-word-john-deere-se-wenner-werktuigkundige/
2016-12-13 13:54:12
Laat trap jou beeste in hulle spoor 3: Koeihakkigheid
deur Johan Hoewe Die volgende paar aflewerings in hierdie reeks handel oor een van die grootste probleme in my werk in die beesbedryf, naamlik agterbeenkonstruksie. Ons begin by koeihakkigheid. Koeihakkigheid is wanneer die agterbene se kniegewrigte na binne gedraai is sodat die tone na buite draai en oneweredige slytasie op die kloue kan veroorsaak waar al die gewig dan deur die buiteklou gedra word. ’n Verdere problem met koeihakkigheid is, wanneer die gewrigte in die agterbene nie in die korrekte posisie is nie, die gewrigte in die rug waarskynlik ook nie korrek sal wees nie. So ’n dier sal nie goed in die skouring of vir aanteeldoeleindes presteer nie. By teelbulle sal veral dekking ’n probleem wees aangesien’n groot deel van die gewig op die gewrigte geplaas word, wat sal veroorsaak dat die heupe later ook probleme soos gewrigsontsteking (artritis) kan ontwikkel. Wanneer ’n bul ’n koei dek, maak hy sy agterbene se gewrigte reguit en wanneer hy haar penetreer en deurstamp, plaas dit enorme drukking op die kniegewrigte. Koeihakkige bulle is geneig om hulle balans te verloor en baie keer af te val en so hulle geslagsdele te beseer. ’n Maklike toets by alle agterbeenkonstruksie is die “spoortoets”. Wanneer ’n struktureel korrekte bul loop, sal hy sy agterklou in presies dieselfde spoor plaas wat die voorklou gelos het, maar indien ‘n bul of koei koeihakkig is sal die agterspoor aan die buitekant van die voorspoor getrap word. As gevolg van die ekstra gewig wat die klou moet dra, sal die buiteklou groter as die binneklou wees. Die hoefsnoeier sal meer van die buiteklou moet wegsny, wat dan sal help dat die kootgewrigte agter oopmaak, om sodoende die lyn van die heup na die koot en die gewrig reguit te trek. Koeihakkigheid is beslis oorerflik. Die toestand kan vererger met faktore soos oorvoeding, mineraaltekorte, sagte grond ensovoorts. Die oorgroei moenie verwar word met rolkloue nie. Van agter af moet daar ’n reguit lyn vorm oor die metatarsis, die tibia en die kniegewrig. In die volgende uitgawe sal ons sekelhakkigheid bespreek, wat net so ’n groot probleem in die skoubedryf is, maar nie so erg soos regophakkigheid wat daarna bespreek sal word nie.
http://www.proagri.co.za/laat-trap-jou-beeste-hulle-spoor-3-koeihakkigheid/
2016-12-14 17:02:03
Jaguar F-Pace: Net die kat vir wanneer jy met jou kerkklere in die bos wil kattemaai
Jaguars is nie juis tuis in Afrika nie- dis nou daai leeuagtige Agentynse katgedierte. Ons hier in Afrika het leeus, tier se kind, luiperds, boskatte, tierkatte, muskeljaatkatte, en ja selfs straatkatte. Die tweebeen modelle op straathoeke is egter ‘n storie vir ‘n ander tydskrif. Daar’s natuurlike slimkatte ook, maar hulle is veral in die politiek waar hul boonop slu ook is. Maar daar is nog ‘n kat, weliswaar ook ‘n soort straatkat, wat uit Whitley, Coventry in England kom vanwaar ‘n roemryke geskiedenis en nalatenskap van pragtige en eksotiese sport- en renmotors sy oorsprong het. In 1922 het twee motorfiets entoesiaste, genaamd William Lyons en William Walmsley “The Swallow Sidecar Company” gestig. Na 12 jaar het Walmsley genoeg gehad en sy aandeel in 1934 aan Lyons verkoop, wie toe SS Cars Ltd gestig en Walmsley se aandeel met publieke aandelekapitaal gekoop het. In September 1935 het die SS Jaguar verskyn, ‘n passasiermotor met ‘n 2.5 liter petrolenjin. Oor die jare het Jaguar verskillende vennote en eienaars gehad, maar in 1945 is die naam amptelik verander na Jaguar Cars en in 1984 onder Margaret Thatcher, is Jaguar geprivatiseer en op die Britse beurs gelys. Die gesogte luukse motor het later die amptelike voertuig van die Britse eerste minister geword en spog ook met koninklike waarborge van die Koningin van Engeland en Prins Charles. Wamsley en Lyons sou seker in hulle komkommerbroodjies gestik het toe die Indiese reus TATA die maatskappy saam met Land Rover en Range Rover in 2008 oorkoop. Vandag word Jaguar motors in Jaguar Land Rover se ingeneurssentrums by die Whitley aanleg in Coventry ontwerp, waarna die eindprodukte in die Castle Bromwich en Solihull aanlegte gebou word. Die F-Pace is Jaguar se eerste luukse es-joe-wee en laat meeste Jaguar purist, wie hul motors as klassiek, luuks en sportief beleef, se bolippe behoorlik styftrek. ‘n Boskat uit Coventry? “Not on my driveway ‘ol chap!” F-Pace ontleen sy naam glo van die stigter Lyons, wie Jaguar beskryf het as “grace, space and pace” en is meer jagluiperd as leeu. Gebou op die modulêre onderstel van die F-Type sportmotor wat uit 80% aluminium bestaan, is die klem op spoed en sportiwiteit. Net reg om die ander straatkatte soos Audi Q5, Porsche Macan, BMW X3/X4, Mercedes GLC en stalmaats Range Rover Evoque in die blink strate van Sandton en Clifton aan te vat. Uiterlik van die kant bekyk, is daar effe trekke na Porsche se Cayenne, maar die stert, agterligte en kant kieuwe het duidelik inspirasie by die F-Type sportmotor geleen. Voor is die sierrooster en skrefie-oog hoofligte egter korporatief Jaguar. Die geheelbeeld straal van aggressie, krag en spoed – soos dit ‘n groot spiertier betaam. Ons het beide die V6 3.0 liter petrol met drukaanjaging (250 kW/450 Nm)as die V6 3.0 liter turbodiesel (221 kW/700 Nm)modelle gery. Beide modelle stuur krag na al vier die wiele. Binne is die F-Pace kajuit tipies luukse Jaguar, beklee in oordadige sagte leer met dubbelle stikwerk en omvattende moderne toerusting. Soos dit ‘n sportsnuts betaam is daar ruim sitplek vir vyf insittendes en bied die bagasieruimte 463 liter pakplek. Die agterste sitplekke beskik oor elektriese verstelling en kan ook platvou wat die pakruimte na 1740 liter vergroot. Modelle is SA kom standaard met ‘n volgrootte spaarwiel. Die instrumente se uitleg is soortgelyk aan die nuutste Jaguar XF en XE motors met ‘n digitale skerm wat die toere, spoed en ander ritinligting uitbeeld. ‘n Groot volkleur hoë-definisie raakskerm is sentraal in die voorpaneel geplaas en daarop is daar meer klank-, kommunikasie-, inligtingfunksies en megêfters beskikbaar as wat ‘n sak vol slimfone kan bied. Met die inklimslag gloei die aansitterknop polsend rooi soos ‘n kwaai ondier se oog. Druk jy dit, skakel die enjin aan en styg die ronde ratknop dramaties uit die middelkonsole. Die 8-gang outomatiese ratkas sorg vir soomlose ratskakeling en bied die soortgelyke Terrain Response permanente viertrekstelsel soos in die Land Rover en Range Rover modelle, waar die stelsel jou toelaat om ‘n ritmodus te kies na gelang van die terrein. ‘n Keuse uit sand-, sneeu- of rotsmodus laat die rekenaar die ratkas en dryfstelsel aanpas na gelang van jou keuse. Ek mis egter die modus wat sê “Sypaadjie/randstene”, want dit is die naaste aan “Off road” wat meeste van die F-Pace voertuie wat in SA verkoop gaan word,sal moet trotseer. Met ‘n grondvryhoogte van 210 mm sal die kat dit egter gemaklik kan spring. Soortgelyk soos in Jaguar motors is daar ook ‘n “Sport”-modus, waar die instrumentasie se agtergrondkleur na rooi verander en die veerstelsel, ratskakeling en stuurwiel verander vir ‘n meer dinamiese en sportiewe rit. Op die pad is die F-Pace indrukwekkend. Die V6 petrol se 0-100kpu lopie neem slegs 6,0 sekondes en amptelike brandstofverbruik word aangegee as 8,9 l/100 km. Die V6 turbodiesel model draf die 0-100 kpu af in 6,2 sekondes, terwyl amptelike verbruik aangegee word as 6,0 l/100 km. Die diesel is my keuse danksy ‘n gladder rit, beter brandstofverbruik en slegs maginaal swakker verrigting. Die F-Pace is myns insiens net te duur, grootliks weens ‘n swakker rand wat nou strop trek teen die sterk Britse pond. Jy kan kies tussen vier afwerkingsvlakke op beide modelle, met die V6 petrol se prys wat by R992 846 begin vir die intree “Pure”afwerking tot R1 331 146 vir die duurste “First Edition” weergawe. Die 3,0 turbodiesel trek weg by R942 646 vir die “Pure” en eindig by R1 222 546 vir die luukste “First Edition”. As jy egter hou van in die bos kattemaai met jou kispak aan, is die F-Pace net die regte kat! Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive
http://www.proagri.co.za/jaguar-f-pace-net-die-kat-vir-wanneer-jy-met-jou-kerkklere-die-bos-wil-kattemaai/
2016-12-20 19:07:43
Desember 2016
“Hy is oorval toe hy vroegoggend van die stal af huis toe geloop het.” In hoeveel berigte oor plaasaanvalle verskyn hierdie sinnetjie? Ek verstaan, dit is deel van jou daaglikse roetine, ’n normale aksie wat elke oggend vroeg jou dag begin. Wees gewaarsku – hierdie roetine-aksie is net die een waarvoor die wrede politieke moordenaars lê en wag. Hulle weet jy loop elke oggend op ’n bepaalde tyd alleen die paadjie. Moenie dat dié roetine jou dag en jou lewe se einde beteken nie. Wees asseblief paraat, veral hierdie tyd van die jaar. Die syfers toon dat plaasaanvalle oor die Kerstyd toeneem en daar is reeds ’n styging in die aantal voorvalle. Die stal, wat ’n hanetree van die huis af is, beskou jy miskien as deel van jou veilige hawe, dit is in die binnekring van jou bestaan. As Christen het die stal moontlik selfs nog ’n dieper betekenis vir jou. Dit is die plek waar die Verlosser gebore is en dit is die verhaal van hoop wat ons in hierdie dae weer vir ons kinders vertel. “Vrede op aarde” het ons egter verseker nog nie en tussen die droogte en swak ekonomiese toestande lyk die “welbehae” ook maar skraal, maar my wens vir elke leser is dat u hart en siel in hierdie dae weer gevul sal word met geloof, hoop en liefde en dat u die warm samesyn van goeie vriende en familie sal geniet. Dankie aan al ons boere en adverteerders se ondersteuning deur die jaar. Lekker lees aan hierdie laaste uitgawe van 2016 en ons sien mekaar weer vroeg volgende jaar. Boer slim! Annemarie Bremner > annemarie@proagri.co.za Laai ProAgri 202 hier af: proagri_202_desember_2016_web
http://www.proagri.co.za/proagri-202-desember-2016/
2016-12-13 09:51:45
Verspreider van die maand: By BKB Brandfort vlieg ProAgri van die rak af
ProAgri gee elke maand ’n R500-koopbewys aan die verteenwoordiger van ’n koöperasiehandelstak wat besondere moeite gedoen het om die tydskrif by die boere te bevorder. Een van die dorpe in ons land wat bekend is vir die moeilike tyd waardeur hulle gedurende die afgelope drie jaar se droogte gegaan het, is Brandfort. Daar is nou nog gedeeltes in die streek, soos Soutpan, wat nog geen reën gekry het nie; die wêreld daar lyk soos ‘n woestyn. Brandfort self het twee maande gelede behoorlike reën gehad. Gelukkig het daar goeie reën in Excelsior en Verkeerdevlei geval. Die trae reën bring egter nie die span van BKB Brandfort van stryk nie, want boere moet aanhou boer en BKB is belangrike leweransiers wat die noodsaaklike hulpmiddels aan die boere moet verskaf. Hulle gewildste produk is tans, om duidelike redes, veelek. Rondom Brandfort word oorwegend met Bonsmarabeeste, Merino’s, Vleismerino’s en Dorpers geboer. Die gesaaides word minder en deesdae word daar meer weiding aangeplant sodat die veeboere reg is vir die maer jare wat weer mag kom. Die saaiboere is maar skrikkerig om te plant as die opvolgreën wegbly. Ria Conradie is ’n handelsamptenaar by BKB Brandfort en sy is aangewys as November se verspreider van die maand. “Die boere geniet ProAgri vreeslik baie en daar is altyd mense wat gratis leesstof soek. Ons maak seker dat die tydskrif dadelik op die toonbank en in die kennisgewingbord se rakkie gesit word sodra dit afgelewer word. Die tydskrifte vlieg van die rakkies af,” sê sy. Neem só deel: Neem ’n foto of laat jou kollega ‘n foto neem van jou of julle tak se poging om te sorg dat ProAgri elke maand by elke boer uitkom en stuur dit na 079-515-9708 of na Angeline by versprei@proagri.co.za. Angeline sal verder met jou gesels. Sy gaan ook elke maand skakel om seker te maak dat julle wel julle tydskrifte ontvang het. Foto: Chris Jordaan van die plaas Paradys Melkery ontvang sy ProAgri van Ria Conradie van BKB Brandfort.
http://www.proagri.co.za/verspreider-van-die-maand-bkb-brandfort-vlieg-proagri-van-die-rak-af/
2016-12-13 11:34:46
Senwes presteer ondanks die droogtesiklus
http://www.proagri.co.za/senwes-presteer-ondanks-die-droogtesiklus/
2016-12-09 08:43:43
Dom Boer se lag vir die dag:
Babel ‘n Ingelsman bel die Duitse klub en vra: “May I speak to the Chairman?” Die Duitser wat die foon opgetel het antwoord: “Vhich one? Ve are all Germans here.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-254/
2016-12-19 09:39:28
O Kwid, dis ‘n Renault! Sakpas klein Fransman met uitstekende aanbod bekendgestel
‘n Knypende ekonomie met stygende brandstofpryse wurg kopers van nuwe motors om al hoe kleiner te gaan. Met ‘n swakker wisselkoers wat nuwe motors se pryse jaarliks laat styg en verkope wat die afgelope paar jaar laer duik, sukkel motormaatskappye om nuwe modelle van die vertoonvloer af te verkoop. Motorvervaardigers soek gevolglik na goedkoper alternatiewe en baie gevestigde handelsname het al vervaardigingsaanlegte in Indië, die Verre Ooste en China opgerig ten einde die voordele van goedkoper arbeid te geniet. Verder word platforms gedeel en goedkoper materiale soos plastiek onder andere word al meer gebruik by afwerking binne en buite. Elektroniese katoetertjies en fieterjasies in die kajuit word as opsionele ekstras aangebied om die basisprys so laag as moontlik te hou. Die Kwid is juis so ‘n produk, terloops moenie wonder waar die naam “Kwid” vandaan kom nie, want Renault SA weet ook nie. Gebou in Indië is die Kwid ‘n oulike klein luikrug tipe sportsnutsagtige buksie wat aan Renault se Sandero herinner (net veel mooier) en deel ‘n onderstel met Datsun se GO Plus, ook ‘n buksie sportsnuts tipe wat slegs in Indië verkoop word. Die Kwid vang visueel die oog met ‘n prominente en aggressiewe neus en uitgeboude wielboë.Die buksie vertoon astrant speels met ‘n kort breë lyfie en ‘n pens wat 180 mm bo die grond staan. Verder is daar plastiek beskerming onder voor by die neus, agter onder die stert en ook breë plastiekstroke wat die uitgeboude wielboë omsoom om die sportsnutsvoorkoms te beklemtoon. Die deure het ook breë plat stroke onder teen die kant vir as jy met jou Kwid tussen die bossie wil gaan speel. Binnekant is die kajuit verbasend ruim en met my 1,85 meter lange lyf was daar steeds genoeg kopruimte. Die kajuit is groot genoeg vir vier volwassenes en die bagasie ruim behoort ‘n normale gesin se maandelikse kruideniersware te kan akkommodeer. ‘n Spaarwiel is standaard ingesluit. Ek hou van die afwerking in die binneruim. Dit vertoon modern en funky met rooi en chroom afwerking in die oorheersend swart kajuit. Instrumentasie is oulik uitgedink met een groot ovaalvormige paneel voor die bestuurder. Daarin is ‘n groot digitale spoedlesing in die middel (selfs swaksiendes behoort dit maklik te kan raaksien) met brandstof- en temperatuurlesings aan weerskante, maar geen toerenaald nie . ‘n Ritrekenaarlesing is onder die spoedlesing te sien. Middel bo in die voorpaneel is ‘n groot tabletagtige ovaal waaronder die knoppe vir die lugversorger is. Laer ondertoe is die skakelaars vir die elektriese vensters geplaas. Ons het die duurder modelle tydens die bekendstelling bestuur wat ‘n raakskerm bied. Die stelsel bied SatNav, klankstelsel asook koordlose koppeling met ‘n slimfoon. USB koppeling en ‘n 12v sok is standaard ingesluit. Die Kwid word aangedryf deur ‘n 1liter 3-silinder petrolenjintjie met aandrywing na die voorwiele deur ‘n 5-spoed handratkas. Maksimum krag is 50 kW en wringkrag piek by 91 Nm. Topspoed is 152 kpu en amptelike brandstofverbruik word aangegee as 4,7l/100 km. Tydens die bekendstelling het ons die Kwid teen die kus van KwaZulu-Natal noord van Durban gery en versnelling op die ooppad was heel gaaf. Met die kenmerkende skor gebrul van die 3-silinder was stadsverkeer en ooppad ry aangenaam. Die wind het egter sterk gewaai en met die terugkeer lughawe toe teen die wind kon ek agterkom die klein enjintjie se keel trek toe teen die steil bulte uit. Met vier volwassenes in die dun lug van Gauteng kan dit dalk net knor. Moenie hantering en paddinamika van ‘n sportmotor verwag nie want die Kwid is vir intreekopers wat meesal stadsverkeer gaan ry. En hier is die neukery, die Kwid beskik nie oor ABS-remme of stabiliteitsbeheer nie. So as jy beplan om die Kwid vir boeta te kop as eerste motor op universiteit, moet jy dalk weer dink. Veral nie as jy weet boeta hou daarvan om die Schumacher in hom vrye teuels te gee nie. Renault bemark die Kwid teen R119 000 vir die goedkoper Expression en R129 000 vir die beter toegeruste Dynamique model. Wat die aanbod soveel meer aantreklik vir eerste keer en jong kopers maak, is dat jou eerste jaar se paaiement sluit ook omvattende versekeringsdekking in. Dit is ‘n meevaller wat maklik meer as R10 000 kos per jaar kan beloop as jy dit self moet hoes! Met ‘n maandelikse paaiement van R1999, versekering ingesluit bied die Renault Kwid ongeëwenaarde waarde. Voeg daarby Renault se 5 jaar/150 000 km waarborg en jy het ‘n wenner. Deur Dirk Gallowitz van Utlimate Drive
http://www.proagri.co.za/o-kwid-dis-n-renault-sakpas-klein-fransman-met-uitstekende-aanbod-bekendgestel/
2016-12-20 19:15:16
Sewe verdagtes deur boere in die Vrystaat aangekeer
Sewe verdagtes sal hierdie week in die hof verskyn na hulle die naweek tydens twee voorvalle op die Vrystaatse platteland deur boere en die Polisie aangekeer is. Verdagtes word steeds gesoek na ’n derde voorval. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting het boere van Theunissen en Brandfort die Polisie Vrydag, 2 Desember 2016, gehelp om vier verdagtes aan te keer na hulle ’n onderneming in Brandfort se informele nedersetting van kontant geroof het. Die verdagtes het in die rigting van Theunissen gevlug, en het op ’n plaaspad afgedraai. Plaaswerkers op die spesifieke plaas het die eienaar in kennis gestel van die verdagte voertuig, en die plaaswagstelsel is geaktiveer. Drie verdagtes wat in die voertuig was het te voet gevlug, en die bestuurder is aangekeer. Sakke kontant is in die voertuig gevind. Die ander drie verdagtes is aangekeer na ’n soektog van sowat drie ure deur boere en die Polisie. Tydens die tweede voorval is drie verdagtes in hegtenis geneem na veediewe vir die derde keer die jaar op Manus Muller, ’n boer van Lindley, toegeslaan het. Manus het ongeveer twee-uur Saterdagoggend, 3 Desember 2016, ’n oproep van ’n Polisiebeampte ontvang met ’n wenk dat vee glo op sy plaas gesteel sou word. Veediewe het reeds die jaar tydens twee voorvalle 22 en 45 skape onderskeidelik by hom gesteel. Manus het na sy skaapkampe gery, waar hy ’n verdagte voertuig gevind het. Hy het die bestuurder gevra om op die grond te lê na hy 16 geslagde skape in die voertuig gevind het. Terwyl hy die plaaswag ontbied het, het die verdagte Manus met ‘n groot klip op sy bors begin slaan. Manus het skote op die verdagte gevuur, waarna die verdagte gewond die veld in gevlug het. Sowat 15 boere het op die toneel opgedaag, en dié verdagte sowel as die ander twee verdagtes aangekeer na ’n soektog op die plaas van stapel gestuur is. Tydens die derde voorval is Meisie Pascalane, ’n huishulp op die plaas Paardekraal, Saterdagmiddag, 3 Desember 2016, met wapens deur drie verdagtes aangehou om toegang tot die plaashuis te kry. Sy was besig om te stryk in ’n buitegebou op die plaas toe die voorval plaasgevind het. Die eienaar van die plaas, dr Ramon Oosthuizen, en sy gesin was nie tuis nie. Die verdagtes het Meisie met haar lewe gedreig sou sy nie die huis se sleutel vir hulle gee nie. Sy het aan hulle verduidelik waar om die sleutel te vind, waarna sy vasgebind is en ’n kledingstuk oor haar kop getrek is. Die verdagtes het met verskeie huislike items asook kontant op die vlug geslaan. Na Meisie haarself kon loswikkel, het sy hulp ontbied. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Wet en Orde Komitee, maan boere weer dat die tipe voorvalle oor die feestyd gaan toeneem en dat hulle, hulle families en werkers uiters paraat moet wees. Verdagte persone en/of voertuie moet by plaaswagstelsels en by die Polisie aangemeld word. “Pas ook behoorlike toegangsbeheer op jou plaas toe, en moedig jou werkers aan om ook paraat te wees en verdagte omstandighede aan te meld. Kyk ook na die veiligheid van jou werkers, aangesien hulle ook deur aanvallers geteiken word.” Bron: VKB/VL veiligheidslessenaar
http://www.proagri.co.za/sewe-verdagtes-deur-boere-die-vrystaat-aangekeer/
2016-12-06 09:46:53