title
stringlengths
0
200
maintext
stringlengths
0
24.9k
url
stringlengths
21
190
date_publish
stringlengths
0
19
Jou sterre vir die naweek (24-25 Desember 2016)
Hier is wat jou sterre vandag voorspel, met Joanne Moore. SATERDAG JOU DAG Versprei hierdie Oukersaand vriendelikheid en deernis om jou. AS JY VANDAG VERJAAR Maak seker jy het ’n grootse visie vir 2017 en voer dit dan met volop passie en deursettingsvermoë deur. SONDAG JOU DAG Berei jou voor vir ’n tradisionele, opwindende Kersdag. AS JY VANDAG VERJAAR Jy is baie rusteloos vir ’n Steenbok. In 2017 moet jy met ’n belowende projek volhou tot jy resultate sien. RAM 21 Mrt.-20 Apr. Moenie hierdie naweek roekeloos wees nie, al wakker Uranus jou onvoorspelbare sy aan. Hopelik sal Saturnus jou kalm maak sodat jy nie uitgeput is nog voor die Kersete op die tafel is nie. BUL 21 Apr.-21 Mei Jy is in ’n uitermate feestelike bui terwyl jy ontspan en die Kersvieringe geniet. As jy egter te veel eet en drink, gaan jy Maandag knorrig wees. TWEELING 22 Mei-21 Jun. Jy sal ekstra diplomaties moet wees as jy hierdie Kersfees te veel wrywing wil vermy. Met Mercurius wat agteruitbeweeg, is chaos wat kommunikasie betref ’n moontlikheid. Trap dus versigtig. KREEF 22 Jun.-23 Jul. Kies tydens die Kersete jou woorde versigtig, aangesien Mercurius, wat agteruit beweeg, jou verhoudingsone aktiveer. As jy nie versigtig is nie, gaan jy op die verkeerde tyd teenoor die verkeerde mens die verkeerde ding uitblaker. LEEU 24 Jul.-23 Aug. Met die maan wat deur jou huishoudelike sone beweeg, gaan jy hierdie feesnaweek heel tuis voel. Doen jou bes om familie en vriende te vermaak en die Kersgees hoog te hou. MAAGD 24 Aug.-23 Sept. Moenie die Kersvierings oordoen nie, veral met eet en drink nie. As jy jou inhou, sal jy – en jou delikate spysverteringstelsel – die naweek selfs meer geniet. WEEGSKAAL 24 Sept.-23 Okt. Lewendige Weegskale is lief vir die sosiale aspek van die Kerstyd. Maak net seker jy dra jou deel by – met voorbereiding en skoonmaak; anders gaan jy teen Maandag in die slegte boekies wees. SKERPIOEN 24 Okt.-22 Nov. Om jou te bekommer oor al die dinge wat jy hierdie naweek moet doen, gaan niks help nie. As jy take prioritiseer en die pas markeer, gaan jy dinge gedoen kry sonder om ineen te stort. BOOGSKUTTER 23 Nov.-21 Des. Saturnus help om jou vurige energie te stabiliseer en Uranus wakker jou feesvierstreep aan. Maak dus reg om die Kersvieringe te geniet – sonder om teen Sondagaand heeltemal poegaai te wees. STEENBOK 22 Des.-20 Jan. Die positiewe Saturnus/Uranus-reghoek help jou om by die tradisionele deel van Kersfees te hou. Jy kan ook opwindende nuwe feesversierings byvoeg. Wat jy ook al doen, maak seker jy geniet die naweek. WATERDRAER 21 Jan.-19 Feb. Die Uranus/Saturnus-trigoon moedig jou aan om balans te kry tussen die bewaring van die status quo en die inbring van ’n paar skeppende nuwe idees. Jy kan dus ’n bevredigende en opwindende naweek te wagte wees. VISSE 20 Feb.-20 Mrt. Behou perspektief. Soos die Britse skrywer Quentin Crisp (1908-1999) verklaar het: “Behandel alle rampe asof hulle niks besonders is nie, maar moet nooit ’n kleinigheid behandel asof dit ’n ramp is nie.” © Joanne Madeline Moore
http://www.huisgenoot.com/jou-sterre/jou-sterre-vir-die-naweek-24-25-desember-2016/
KYK: Die beste, vreesaanjaendste en wildste Krugerwildtuin-oomblikke ooit
Die Kruger Nasionale Park is een van die grootste wildreservate en gewildste toeristebestemmings in Suid-Afrika. Dit is geen geheim dat baie van die verstommende diersoorte wat eie is aan Afrika hier te sien is nie en dis ’n alombekende feit dat die Kruger een van die beste wildbesigtigingsplekke op die vasteland is. ’n Mens kan dus daar die ongelooflikste oomblikke op video vaslê. Die Krugerwildtuin beslaan 19 633 km² in die noordoostelike provinsies van Suid-Afrika, Limpopo en Mpumalanga. Van noord na suid strek dit oor 360 km en van oos na wes oor 65 km. Laat jou oë feesvier, want hier is ’n samestelling van die beste, vreesaanjaendste en wildste tonele wat vasgevang is. 1. In die noute saam met leeus Hierdie besoekers was in ’n moeilike situasie. Die kêrel het sy arme ma se beste reaksie verfilm en dis een vir die boeke dié! Sit jy in die verkeer vas? Hierdie olifant het ’n padblokkade veroorsaak om die besoekers aan die park te wys wie’s baas. Die arme motoris het gedog hy het ryvoorrang, maar nee; in die Kruger is dit die diere se voorreg. Wag jou beurt af en wees volgende keer geduldig. Die uwe, die olifant. ’n Rotsluislang van 4,9 m het op ’n koue winterdag besluit om onder die enjinkap van ’n besoeker se motor in te seil. Die ongewenste gas wou eintlik net op ’n warm plek ontspan. Hoe lyk dit met dié klas van skuilplek? Tydens ’n hittegolf in die Kruger het ’n trop hiënas besluit om ’n watergat te kaap. In die video sien ’n mens die kekkelende lotjie wat besig is met ’n waterspeletjie wat uit byt, onderdompeling en ’n geplas in die water bestaan. Dit lyk of hulle dit nogal geniet. Soek enigiemand ’n nuwe gesigsbehandeling? Hierdie leeuwyfie is afgeneem toe sy om ’n bos dwaal en beesmis in die pad teëkom. Kort daarna vryf sy haar gesig in die mis tot dit heeltemal bedek is, dan lek sy aan die mis en daarna rol sy daarin. Die ongewone beeldmateriaal is al meer as 31 000 keer bekyk. Ons het gedog die leeumannetjie is die koning van die oerwoud, maar dis duidelik nie die geval nie. Hierdie duo is opgemerk waar hulle in die Kruger langs ’n pad naby die Krokodilbrugkamp sit. Die mannetjie probeer met die wyfie paar, maar misluk klaaglik. Het jy die uitdrukking op sy gevreet gesien? Haar reaksie het hom beslis geleer om nie weer met haar te mors nie. Hoe oulik is hierdie olifantjie wat ’n kopstand probeer doen? Hy wikkel sy slurp en skud sy ore terwyl hy regmaak vir die beminlike stootslag. Dit sal beslis jou dag opkikker! Hierdie safari-spoorsnyer se noue ontkoming met ’n leeumannetjie sal jou koue rillings gee. Op ’n video wat by die privaat wildreservaat Kapama naby die Krugerwildtuin geneem is, kan gesien word hoe ’n leeu na ’n safari-voertuig stap en naby die spoorsnyer se voet staan. ’n Mens kan sien hoe die leeu aan sy voete ruik en stip kyk na die spoorsnyer, wat doodstil staan. Dan begin hy wegloop. Hittete, nè? In ’n grafiese video kan ’n mens sien hoe ’n leeumannetjie ’n ongebore buffel uit sy ma trek. Die video is geneem by die Mazithidam, noord van die Tshokwane-piekniekplek. ’n Mens kan op 0:57 sek. sien hoe die klein buffel uit die ooi se pens geskeur word.
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/kyk-die-beste-vreesaanjaendste-en-wildste-krugerwildtuintonele-ooit-vasgevang/
Polisiekaptein in koma nadat 31-jarige man in Polokwane hom glo wreed aanrand
’n Verdagte wat daarvan beskuldig is dat hy ’n polisiekaptein gedurende ’n argument aangeval het en hy sodoende sy bewussyn verloor het, gaan glo die nuwe jaar agter tralies in. Die 31-jarige beskuldige het Woensdag vinnig in die Polokwane-landdroshof verskyn in verband met die aanval wat Maandag in die omgewing plaasgevind het. Die man staan tereg op klagte van poging tot moord, roof en crimen injuria. Die verdagte bly in aanhouding tot 5 Januarie wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Die verdagte en die polisiekaptein het na bewering in ’n argument betrokke geraak. Die argument het glo gewelddadig geraak en die kaptein het glo etlike tande verloor in die proses. Hy is na ’n hospitaal in Pretoria gevlieg waar hy tans in ’n ernstige maar stabiele toestand is. Polisie-woordvoerder brigadier Motlafela Mojapelo sê dit is onduidelik waaroor die argument gegaan het. Die polisiekaptein is volgens brigadier Mojapelo in ’n koma. Die verdagte het die polisiekaptein glo oorrompel, sy amptelike wapen by hom afgeneem en na bewering gedreig om hom te skiet. ’n Verbyganger het glo daarin geslaag om die vuurwapen by die verdagte af te neem, maar hy het na bewering aangehou om die polisiekaptein aan te rand todat hy sy bewussyn verloor het. Bron: News24
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/polisiekaptein-in-koma-nadat-31-jarige-man-in-polokwane-hom-glo-wreed-aanrand/
Kyk hierdie flieks as die see te onstuimig is of die wind waai
Dis mos lekker by die see! Maar wat gebeur wanneer die wind die dag geniepsig jou bene piets of die see te onstuimig is vir die kleingoed om in te baljaar? Dan span jy uit op die bank en kyk ’n lekker fliek of twee. Met die magdom rolprente daarbuite, kan dit ’n moeilike besluit wees. Huisgenoot het die fliek-ghoeroe en resensent Leon van Nierop gevra om sy top-10-flieks op Showmax te lys en ook die verpligte kykstof wat in die vakansietyd in teaters gaan draai. Wat om op Showmax te huur: Ek het my afgevra: As ek op ’n eiland moet uitspoel en 10 dae lank net een fliek per dag kan kyk, wat sou dit wees? Hier is die lysie: 1) Whiplash Dié fliek slaan jou katswink omdat dit heeltemal anders en slimmer is as wat jy verwag. ’n Jong tromspeler (Miles Teller) word genadeloos deur sy mentor (die Oscar-wenner J.K. Simmons) geboelie om die allerbeste tromspeler te word. Boeiend, verrassend en dikwels onthutsend. 2) The Grand Budapest Hotel As jy lus het vir ’n rolprent met meer om die lyf as dat alles jou met ’n teelepel ingegee word, kyk na hierdie Wes Anderson-meesterstuk oor die verhouding tussen ’n portier by ’n eksentrieke hotel in ’n fiktiewe land en sy wedervarings met al die vreemde mense wat tussen die Eerste en Tweede Wêreldoorlog daar tuisgaan. Met Ralph Fiennes. Dit is kuns met ’n skop. 3) Saving Mr. Banks Vir alle Mary Poppins-aanhangers (en daar word tans aan ’n opvolg op die klassieke rolprent geskiet). Hierdie vrolike maar hartseer dramakomedie handel oor die skepper van Mary Poppins, P.L. Travers (Emma Thompson), se geveg met Walt Disney (Tom Hanks) omdat sy haar eie raad wou volg oor hoe die draaiboek moes lyk. Snaaks, melancholies, smaakvol, inspirerend. 4) Gone Girl As jy twee uur lank absoluut vasgenael wil kyk na ’n getroude paartjie wat mekaar stukkie vir stukkie vernietig, is hierdie rolprentweergawe van Gillian Flynn se trefferroman verpligtend teen vakansieverveling. Jy sal kort-kort jou hand voor jou mond slaan en uitroep: “Ek glo nie wat ek sien nie!” Met Ben Affleck en Rosamunde Pike. 5) The Fault in Our Stars Dit is ongetwyfeld een van die mooiste en hartseerste romantiese dramas wat al verfilm is. Twee jong mense is sterwend, maar ontmoet mekaar en raak verlief. Hulle maak die meeste van hul laaste dae saam. Ongelooflik besielend. Met Shailene Woodley en Ansel Elgort. Jy sal jou oë met oorgawe uithuil, maar wat ’n lekker huil! 6) The Gift ’n Mens kan darem nie net lekker huil nie; jy wil soms gril ook. Hierdie ingewikkelde drama met sy kinkel-in-die-kabel-einde sal jou dae lank teister. Moenie eens probeer voorspel wat gaan gebeur nie. Maak net gereed om uitbundig geterroriseer te word! Met Joel Edgerton en Rebeca Hall. Elke boelie kry sy dag . . . 7) Salmon Fishing in the Yemen Vir lesers wat van die fynere dinge in die lewe hou – hierdie romantiese drama met Ewan McGregor en Emily Blunt vertel die onwaarskynlike verhaal van twee verlore siele wat in Jemen probeer om ’n sjiek tevrede te stel deur kunsvlieghengel na die woestyn te bring. Dit sal jou omslaan met sy onverwagte sjarme en slim draaiboek. 8) Jack Reacher Baie mense wat Jack Reacher: Never Go Back gesien het, maar glad nie kan verstaan waarom mense so oor die karakter tekere gaan nie – die oorspronklike het baie minder gepraat en gefilosofeer en meer gedoen en meer alies geskop. ’n Ondersoekbeampte probeer vasstel hoekom ’n sluipskutter vyf mense koelbloedig uitgewis het. Met Tom Cruise beter as gewoonlik, en ’n sexy Rosamunde Pike. 9) Nerve Hierdie byderwetse jeugdrama met sy moderne taal en storie is maklik die grootste verrassing van die jaar. Selfoongebruikers speel ’n gevaarlike selfoonspeletjie waarin deelnemers tot die uiterste beproef en uitgedaag word om ’n prys te wen. Lekker koel musiek, ysingwekkende tonele en baie sjarme kenmerk dié psigedeliese avontuur. Met Emma Roberts en Dave Franco. 10) Up Dit is verstommend hoe min kinders hierdie klassieke animasiefliek ken. Al kyk jy net een animasieprent dié vakansie, kies hierdie een. ’n Befoeterde ou man maak sy huis los van sy fondamente en vlieg oor die aarde na ’n geheime bestemming, maar sonder dat hy dit weet, het iemand in sy fondamente weggekruip en reis saam . . . Jy sal lag, skrik, opgewonde raak maar nie jou oë vir ’n oomblik van die skerm afhaal nie. ’n Onverwagte plesier. In fliekteaters van Desember en Januarie: 1) Star Wars: Rogue One (Ster-Kinekor/Disney) begin op 16 Desember Mon Mothma (Genevieve O’ Reilly) vra Jyn Erso, (Felicity Jones), ’n rebelse soldaat, om die planne vir die Death Star te steel. Die spesiale effekte is glo die beste tot dusver. Met Diego Luna. Ook in Imax. 2) Hacksaw Ridge (Black Sheep) begin op 16 Desember Desmond T. Doss is die eerste mediese offisier wat in Okinawa geveg het en wat weier om nog mense dood te maak. Glo aandoenlik en opwindend. Met Andrew (Spiderman) Garfield en Sam Worthington. Mel Gibson is die regisseur. 3) Underworld: Blood Wars (Ster-Kinekor) begin op 2 Desember Kate Beckinsale as die onverskrokke en dapper Selene veg tot die bitter einde in die oorlog teen die Lycans en die vampiere wat haar verraai het. Ook in Imax. 4) Passengers (Ster-Kinekor/Disney) begin op 30 Desember Jennifer Lawrence en Chris Pratt is twee ruimtevaarders wat 90 jaar te vroeg wakker word op pad om ’n geheime opdrag uit te voer . . . die duiwel bars in die ruimte los. Ook in IMAX 5) Monster Trucks (UIP) begin op 13 Januarie 2017 Dit lyk na vet pret. Die nuwe MacGyver (Lucas Till) bou ’n monstertrok uit ’n klomp skrootafval. Hy het ’n enjin nodig en kry ’n lieflike gedroggie, ’n kruis tussen ’n seekat en ’n dolfyn, wat as enjin dien. Hul avonture is ’n kombinasie van animasie en lewende aksie soos selde tevore.
http://www.huisgenoot.com/vermaak/flieks/kyk-hierdie-flieks-as-die-see-te-onstuimig-is-of-die-wind-waai/
Grimeerwenke vir die volmaakte selfie
1. Poleer jou pruil: Of jy nou lipglans, ’n lipbalsem met kersiegeur of mat skarlakenrooi lippe verkies – maak seker jou lippe is verleidelik as die kamera flits. PROBEER: MAC Retro Matte Liquid Lip Colour in High Heels, R300 Labello Lip Butter in Raspberry Rose, R32,95 2. Maak jou oë groot: Jou gesig lyk onmiddellik varser as dit lyk asof jou oë wakker is. Wend ’n paar lae maskara aan of plak vals wimpers aan as jy die moed het. PROBEER: Revlon Dramatic Definition Mascara, R149 Eylure Texture Strip Lashes No. 117, R59,95 3. Verfris gou jou vel, en nee, ons bedoel nie ’n volledige grimeersessie nie. Klad enige teken van olie met ’n sneesdoekie weg om ontslae te raak van blinkheid en wend ’n dun lagie weefselolie oor ’n droë vel aan vir kitsglans. PROBEER: Palladio Rice Paper Oil Absorbing Blotting Tissues, R69,95 BON Liquid Gold Pure Tissue Oil, vanaf R50 4. Deurmekaar lokke lyk oulik. Indien jy vetterige, hangerige hare het, moet jy droë sjampoe op jou haarwortels spuit en dit met jou vingers tot by jou haarpunte versprei – jou hare sal onmiddellik minder vetterig lyk en meer volume hê. Vir kroeshare wend jy ’n klein bietjie opknapper aan jou hare en laat dit net so droog word. Krap dan jou hare met jou vingers deurmekaar. Probeer: Label.M Dry Shampoo (Droë sjampoe), R254 Redken Diamond Oil Conditioner (Opknapper), R340 Soek ’n plek met goeie beligting, neem ’n prettige houding in en klik!
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/skoonheid/grimeerwenke-vir-die-volmaakte-selfie/
2016-12-18 14:52:38
Keelvol leser vaar uit: ‘Eensklaps is ek goed genoeg, want ek het ’n strandhuis’
Dis Desember en baie mense voel hulle word misbruik deur familielede wat vir die vakansie op hul strandhuis toesak. Een leser het die situasie in ’n anonieme brief opgesom. Dit is weer vakansietyd en ek het ’n huisie by die see; daarom ken julle my nou weer. Ek gaan julle ’n gratis, skoon bed gee (waarvoor julle by enige gastehuis R1 000 per nag sou betaal het). Julle gaan twee keer per dag bad of stort – dalk drie keer, as julle tussendeur strand toe gaan. Boonop gaan julle die ligte, waaier en lugversorging wil aanskakel, want dit is warm hier. In ruil hiervoor verwag ek van julle om ruim tot my koskas by te dra en saans wanneer ek moeg van die werk af kom, moet julle regstaan met aandete. Ek wil nie eers agtuur eet nie, want môreoggend werk ek weer, al is jy met vakansie. Dis vroeg eet, ’n bietjie kuier en dan gaan slaap – sonder ’n gedoef-doef. Terwyl julle hier is, kan julle gerus aanbied om ’n paar rand by te dra tot ons kragrekening, wat einde Januarie gewoonlik drie maal so hoog soos gewoonlik is. En wanneer julle vertrek, kan julle my huishulp ’n baie goeie fooitjie in die hand stop aangesien sy ekstra werk sal hê. As julle nie kans sien vir bogenoemde nie, bespreek asseblief jul week of twee se verblyf in ’n seewoonstel ver van ons af. Liefde, Jou familielid by die see
http://www.huisgenoot.com/ons-mense/keelvol-leser-vaar-uit-eensklaps-is-ek-goed-genoeg-want-ek-het-n-strandhuis/
Dryf liedjies wat in jou kop bly vashaak jou ook tot raserny?
Is jy ook ’n slagoffer van oorwurms? Nee wag, dis nie ’n mediese toestand of ’n aaklige infeksie nie. Dis net daardie liedjie wat soms tot groot konsternasie in jou kop bly vashaak. Wikipedia beskryf dit as ’n “breinwurm, taai musiek of vasgehaakte liedjie-sindroom”. Nes jy dink dis verby, dring dit weer na vore op die mees onverwagte, en soms onvanpaste, tye. En dit gebeur glo ook in gelyke mate met 98 persent van die mans en vroue rondom jou. Soms word dit deur ’n woord, ervaring of foto geaktiveer. En voor jy jou kom kry, haak daardie stukkie liedjie vas soos ’n stuk kougom op ’n warm teerpad. Wat die irritasievlakke nog hoër kan opjaag wanneer jy nie van die lastige oorwurm ontslae kan raak nie, is wanneer dit boonop ’n liedjie is waarvan jy glad nie hou nie. Hoe beland daardie liedjie in jou kop? Sommige liedjies het ’n groter kans om in jou kop vas te haak as ander. Dis die algemene ritme van Westerse popmusiek, veral waar dit hoog begin en laer eindig. Navorsers het glo gevind Moves Like Jagger deur Maroon 5 is een van die algemeenste oorwurms. ’n Liedjie met ongewone intervalle sal ook gou koers kies na die vashaak-sindroom. Die oorwurm is daar — nou wat nou? As jy alleen is, kan dit help om die radio se volumeknoppie oop te draai en aandagtig te luister na die liedjies wat speel. Maar hoe gemaak as jy in ’n kantoor vol mense sit waar dit dalk nie geduld sal word nie? Die eerste stap om daardie lastige oorwurm uit jou kop te verwyder, is om die liedjie van begin tot einde deur te luister. As dit nog nie werk nie, word voorgestel dat jy op ’n ander liedjie fokus. Maar dit kan ook weer die volgende oorwurm word. Kelly Jakubowski, ’n navorsingsassistent van die musiekdepartement aan die Durham Universiteit in Engeland, stel voor jy moet maar die liedjie op sy eie toelaat om te vervaag. Dr. C. Philip Beaman van die Sentrum vir Kognitiewe Navorsing aan die Reading-universiteit in Engeland, stel ’n taai teenvoeter voor vir die taai deuntjies: kougom! Dis nie so vreemd soos dit klink nie. Breinskanderings het getoon wanneer iemand aan ’n deuntjie dink, dit ook spraakproduksie aanwakker. Dus, as jy nie praat nie, kan die oorwurm nie jou denke oorheers nie. Hy erken egter heelwat navorsing moet nog gedoen word. Dr. Freya Bailes van die Leeds-universiteit sê selfs wanneer die musiek waarna jy luister, onderbreek word, word dit in gevalle deur jou brein voltooi. Dit staan as die Zeigarnik-effek bekend. Sy stel voor dat jy ’n ander deuntjie kliphard begin sing wanneer daardie oorwurm sy lastige kop uitsteek. Nog ’n manier om die oorwurm uit te skakel terwyl jy loop, is om ’n vinniger of stadiger pas as die liedjie se ritme te handhaaf. As jy reeds alles in die stryd gewerp het om die oorwurm stil te maak, stel sy voor jy hou op probeer en fokus jou aandag bloot op iets anders. Van die tien gewildste oorwurms: Gangnam Style – Psy Who Let the Dogs Out? – Baha Men We Will Rock You – Queen YMCA – Village People The Lion Sleeps Tonight – The Tokens It’s a Small World After All – Disney Shake it Off – Taylor Swift Call Me Maybe – Carly Rae Jepsen Single Ladies – Beyoncé Barbie Girl – Aqua Bronne: wonderopolis.org, wikipedia.org, livescience.com, today.com, mailonline.co.uk
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/gesondheid-leefstyl/dryf-liedjies-wat-in-jou-kop-bly-vashaak-jou-ook-tot-raserny/
Huldeblyke stroom in ná ‘prinses’ se dood
Harrison Ford het sy oorlede Star Wars-kollega, Carrie Fisher, as “briljant” en “enig in haar soort” beskryf in ’n roerende huldeblyk. ’n Woordvoerder van Carrie se aktrise-dogter, Billie Lourd, het die dood van die ikoon Dinsdag aangekondig, vier dae ná sy in die hospitaal opgeneem is nadat sy ’n hartaanval aan boord van ’n vlug tussen Londen en Los Angeles gehad het. Sy was 60. Carrie se ma, die Hollywood-veteraan Debbie Reynolds, het haar dogter se ondersteuners bedank vir hul liefde en ondersteuning kort na die ster se tragiese dood. Vroeë huldeblyke van Carrie se vriende en aanhangers het reeds begin instroom, insluitend van haar Star Wars-kollegas Billy Dee Williams en ’n “platgeslane” Mark Hamill wat gesê het hy het “geen woorde” om sy hartseer mee te beskryf nie. Nou het Harrison Ford, wat as Han Solo in die Star Wars-reeks verskyn het, gepraat oor Carrie wat sy silwerdoek-liefde prinses Leia vertolk het. In haar onlangse memoir, The Princess Diarist, het die aktrise ook onthul sy en Harrison het ’n drie maand lange buite-egtelike verhouding gehad terwyl hulle aan die eerste Star Wars-prent gewerk het in 1976. “Carrie was enig in haar soort…briljant, oorspronklik. Snaaks en vreesloos,” het Harrison in ’n verklaring gesê. “Sy het haar lewe dapper geleef…My gedagtes is saam met haar dogter, Billie, haar ma, Debbie, haar broer, Todd, en haar vele vriende. Ons gaan almal haar mis.” Die skepper van Star Wars, George Lucas, het ook sy hartseer uitgespreek: “Carrie en ek was vriende vir die grootste deel van ons volwasse lewens,” het die 72-jarige rolprentmaker gesê. “Sy was baie slim; ’n baie talentvolle aktrise, skrywer en komediant met ’n baie kleurvolle persoonlikheid wat almal liefgehad het.” “Sy was ons groot en kragtige prinses in Star Wars — vurig, wys en vol hoop in ’n rol wat meer vereis het as wat meeste mense sou dink. My gebede is met Billie, Debbie en al Carrie se familie, vriende en aanhangers. Almal gaan haar mis.” Volgens berigte het Carrie, wat in 2015 se Star Wars: The Force Awakens weer die rol van prinses Leia vertolk het, reeds haar tonele vir die opvolgprent, Star Wars: Episode VIII, voltooi. Hierdie Star Wars-prent, die agste, word aanstaande Desember uitgereik. © Cover Media
http://www.huisgenoot.com/bekendes/huldeblyke-stroom-in-na-prinses-se-dood/
Jou sterre vir Dinsdag, 27 Desember 2016
Hier is wat jou sterre vandag voorspel, met Joanne Moore. JOU DAG Hoe meer proaktief jy is, hoe beter gaan die dag verloop. AS JY VANDAG VERJAAR Jy voel op jou beste wanneer jy tot ’n groot saak kan bydra. In 2017 moet jy na ’n spesiale onderwyser, mentor of vriend/in luister en by hom/haar leer. RAM 21 Mrt.-20 Apr. Jy is vol energie; dis ’n goeie dag vir liggaamlike, sport- en buitelugaktiwiteite en ook alle soorte kommunikasie. Ander mense sal jou geesdrif inspirerend en hoogs aansteeklik vind. BUL 21 Apr.-21 Mei Jou verhouding met ’n intieme vriend/in lyk vandag belowend terwyl julle jul belangstellings deel en vakansiepret geniet. Moet egter nie hardkoppig wees oor ’n persoonlike saak nie. TWEELING 22 Mei-21 Jun. Tweelinge hou van skinder, maar pasop vandag vir die neiging om geheime uit te lap. As iemand jou iets vertrouliks meedeel, hou jou mond toe. KREEF 22 Jun.-23 Jul. Jupiter beweeg deur jou familiesone; doen jou bes om in die vakansietyd op die hoogte van sake te kom wat familielede betref. As jy gou spring, kan jy by die Nuwejaarsuitverkopings goeie winskopies opraap. LEEU 24 Jul.-23 Aug. Die son en Mars bevorder jou selfvertroue en charisma. Wat geliefdes betref: Probeer hulle koester pleks van baasspelerig wees terwyl jy persoonlike begeertes met die behoeftes van ander mense balanseer. MAAGD 24 Aug.-23 Sept. Jy gaan aan die pen ry, al doen jy ook wat. Maar moenie die stuur los as die band bars nie. Mercurius moedig jou aan om buigsamer en veelsydiger te wees. WEEGSKAAL 24 Sept.-23 Okt. Die dinamiese Mars beweeg tot 28 Januarie deur jou gesondheid- en fiksheidsone; kry jou liggaam aan die beweeg terwyl jy in die buitelug stap, kampeer of oefen – ongeag die weersomstandighede. SKERPIOEN 24 Okt.-22 Nov. As jy in jou gemeenskap nuwe bande smee, gaan dit jou na opwindende terreine lei. Moet egter nie verwag dat almal met jou intense idees en passievolle houdings gaan saamstem nie. Wees bereid om bes te gee. BOOGSKUTTER 23 Nov.-21 Des. Verwag ’n bedrywige dag, want vandag gaan jou gawe om baie dinge tegelykertyd te doen kort-kort in aanvraag wees. Maak seker jy beraadslaag met jou gesinslede as jy langtermynbesluite neem. STEENBOK 22 Des.-20 Jan. Probeer in die feestyd ’n balans handhaaf tussen jou sosiale sy en jou behoefte aan privaatheid en om alleen te wees. En is dit nie hoog tyd dat jy ’n blaaskans neem wat die sosiale media betref nie? WATERDRAER 21 Jan.-19 Feb. Jy wil munt slaan uit die uitverkopings ná Kersfees. Maar met die impulsiewe Mars wat deur jou geldsone jaag, moet jy ver wegbly van die aanloklike koop-nou-betaal-later-aanbiedinge. VISSE 20 Feb.-20 Mrt. Jy wil jou standpunt oordra, maar as jy nie duidelik kommunikeer nie, gaan jy verkeerd verstaan word. Jy droom groot drome, maar weerstaan die drang om meer te beloof as wat jy in werklikheid kan lewer. © Joanne Madeline Moore
http://www.huisgenoot.com/jou-sterre/jou-sterre-vir-dinsdag-27-desember-2016/
Kleuter van vermoorde polisieman kry teddiebere wat uit sy uniform gemaak is
Dis net twee maande sedert Malachi Snyder se pa doodgeskiet is terwyl hy aan diens was en die tweejarige kleuter vra onophoudelik na sy pa. Blake Snyder, ’n 33-jarige distrikspolisieman van St. Louis, is op 6 Oktober noodlottig in die gesig geskiet deur die 18-jarige Trenton Forsterth, terwyl hy ’n klag van rusversteuring ondersoek het. Maar hoe sê jy aan ’n kleuter hy gaan nooit weer sy pa sien nie? “Hy het baie na sy pa gevra en dit is moeilik,” het Elizabeth Snyder aan CNN gesê. “Ek weet nog nie wat om vir hom te sê nie. Elke keer as ek na hom kyk, word ek ook daaraan herinner dat my man nie gaan huis toe kom nie.” Lees ook: Daar is ’n hartseer storie agter die video van die kangaroe-uitklophou waaroor die wêreld so gons Dit was ’n moeilike en hartverskeurende taak vir die kleuter se ma om die skielike dood aan haar seuntjie te verduidelik. Malachi het darem een ding wat aan sy pa behoort: kosbare teddiebere wat uit sy uniform gemaak is. Die weduwee het op 30 November ’n foto van haar klein “Chi” gedeel waar hy, met ’n glimlag, twee teddies onder sy arms vasknyp. Die byskrif het gelui: “Hierdie pragtige bere is vir ons uit Blake se uniforms gemaak.” ’n Vriendin van die gesin het die kosbare bere as ’n vroeë Kersgeskenk vir die kleuter gemaak. Op elke beer is ’n spesiale boodskap vir Malachi. Woorde soos “sal jou altyd liefhê” en “altyd by jou” is op die teddiebere geborduur. “Hulle kan nie Malachi se pa vervang nie, maar hulle sal die seuntjie ten minste sien grootword,” het Elizabeth aan CNN gesê. Lees ook: Gebreklike Chihuahuas vermurwe paartjie se hart ná groot hartseer Sy voeg by sy wil hê haar seun moet, soos hy groter word, sy pa as “ ’n sorgsame, liefdevolle, toegewyde pa en held” ken. “Hy was ’n goeie man en ’n goeie polisieman. Die beste,” het sy gesê. “En hy het sy lewe vir ander mense opgeoffer. Hy het die hoogste offer gebring en ek sou nie meer trots kon wees op hom nie.” Bronne: Edition.cnn.com, www.fox25boston.com, www.boredpanda.com
http://www.huisgenoot.com/nuus/internasionaal/kleuter-van-vermoorde-polisieman-kry-teddiebere-wat-uit-sy-uniform-gemaak-is/
Kinders van betrokke pa’s toon beter gedrag
Daar is bevind voortieners wie se pa goed by ouerskap aangepas het, het minder gedragsprobleme. In ’n ondersoek wat in die aanlyn joernaal BMJ Open gepubliseer is, het navorsers van die Oxford-universiteit bevind mans wat hul rol as pa omarm en vroeg aan selfversekerd voel, maak kinders groot wat ’n kleiner kans het om probleme te ervaar wanneer hulle hul tienerjare nader. En die bevindinge dui daarop dis nie die hoeveelheid tyd wat ’n pa saam met sy kind deurbring wat die grootste invloed het nie, maar eerder hoe hy homself as ’n ouer beskou. Die ouers van meer as 10 440 kinders van die suidweste van Engelend is vir die ondersoek uitgevra. Hulle het toe hul kinders agt maande oud was ’n opname voltooi wat onderwerpe gedek het soos hulle en hul kind se geestesgesondheid, hul houding oor ouerskap, tyd aan kindersorg bestee, hul kind se gedrag en ontwikkeling en besonderhede van hul huishoudelike inkomste en opvoeding. Toe die kinders nege en 11 was, is die gesinne weer uitgevra. Altesaam 6 898 kinders was op nege jaar steeds deel van die ondersoek en 6 328 op 11 jaar. Daar is bevind pa’s wat hoër punte vir hul emosionele reaksie gekry het, was 21 persent minder geneig om kinders met gedragsprobleme op nege jaar te hê en 19 persent op 11 jaar. Die pa’s wat hoë punte behaal het vir hul sekuriteit in hul rol as ouer het nog ’n kleiner kans vir probleme gehad, met ’n 28 persent laer kans vir voortienerprobleme vir albeie geslagte. “Positiewe ouerskap deur pa’s kan op ’n aantal maniere tot goeie uitkomste by kinders bydra,” skryf die navorsers. “Betrokke pa’s kan kinders indirek beïnvloed deur ’n bron van bevorderlike en emosionele steun vir ma’s te wees, wat meer van die direkte sorg vir kinders verskaf. Die moontlike positiewe uitwerking daarvan op ma’s se welstand en ouerskapstrategieë kan dan tot beter uitkomste vir die kinders lei. Daar is bewyse dat pa’s se betrokkenheid ook die impak kan verlig van faktore soos moederlike depressie, wat bekend is dat dit kinders se risiko vir gedragsprobleme verhoog.” Hulle voeg by groter ouerbetrokkenheid kan ook lei tot of ’n manifestasie wees van ’n “gelukkige en kohesiewe gesin”, wat beter uitkomste in kinders na vore kan bring. Cover Media
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/superma/gesondheid-superma/kinders-van-betrokke-pas-toon-beter-gedrag/
Sewe boek-tot-rolprentverwerkings wat nie te sleg is nie
Fantastic Beasts and Where to Find Them het reeds die loket aan die brand. Eddie Redmayne, wat die hoofrol vertolk, is toegejuig vir sy vertolking van die towerdierkundige Newt Scamander. Hoewel ’n groot moontlikheid bestaan dat boek-tot-rolprentverwerkings kan misluk, het talle grootskerm-verwerkings bewonderaars in vervoering. Hier is sewe van die bestes. Fantastic Beasts and Where to Find Them J.K. Rowling het Fantastic Beasts oorspronklik geskryf as ’n vertakking van haar uiters suksesvolle Harry Potter-reeks. Nadat die lywige boek egter in ’n grootskermavontuur omskep is, met ’n rolverdeling wat Eddie, Colin Farrell en Katherine Waterston ingesluit het, het Rowling nog vier rolprente in die reeks aangekondig. En as jy die £382 miljoen (sowat R6,5 biljoen) in ag neem wat Fantastic Beasts tot nou by die loket wêreldwyd ingeoes het, lyk dit asof die opvolgprente net so suksesvol gaan wees. Harry Potter Rowling het vir die eerste keer sukses behaal met haar Harry Potter-boekereeks, wat in rolprente omskep is en waarin sterre soos Daniel Radcliffe, Emma Watson en Rupert Grint as Harry, Hermione Granger en Ron Weasley onderskeidelik geskitter het. Agt rolprente later kan bewonderaars steeds nie genoeg kry van Rowling se towerverhale nie en het hulle die skrywer aangespoor om nog ’n slag pen op papier te sit. Lees ook: Is hierdie die 10 beste Afrikaanse flieks van alle tye? Jurassic Park Michael Crichton se 1990-wetenskapsfiksieroman oor ’n temapark, gegrond op geneties herskepte dinosourusse, was ’n reusetreffer. Dit het daartoe gelei dat die skrywer die vervolgprent, The Lost World, in 1995 neergepen het. Steven Spielberg was aan die stuur van die 1993-rolprentomskepping van die oorspronklike boek en ook die vervolgprent in 1997. Ook Chris Pratt en Bryce Dallas Howard se Jurassic World van verlede jaar is besig om een van die suksesvolste lokettreffers tot nog toe te word. Bridget Jones’s Diary Toe Renée Zellweger die rol van die Britse enkelloper Bridget in die 2001-verwerking van Helen Fielding se boek van 1996 vertolk, het dit wêreldwyd ’n beroering veroorsaak. ’n Amerikaner kan nie die rol van Bridget vertolk nie, het hulle gereken. Renée het egter die kritici verkeerd bewys met haar uitbeelding van Bridget in die oorspronklike rolprent, die vervolgprent, Bridget Jones: The Edge of Reason in 2004 en Bridget Jones’ Baby vroeër vanjaar. Sy het selfs gewig aangesit om die rol in die eerste twee rolprente te vertolk, maar het dit reggekry om nie die kilogramme ’n derde keer op te stapel vir die jongste aflewering nie. The Hunger Games Jennifer Lawrence het in 2010 bekend geword nadat sy in die rolprent Winter’s Bone gespeel het. Maar dit was eers toe sy in 2012 die rol van Katniss Everdeen in die rolprentverwerking van The Hunger Games van Suzanne Collins vertolk, dat haar ster regtig begin skyn het. Sedertdien het sy een van die gewildste aktrises ter wêreld geword. Elke vervolgprent was meer suksesvol as die vorige. Haar medesterre Liam Hemsworth en Josh Hutcherson het ook vanweë die rolprentreeks groot sukses behaal. Lees ook: Sewe nuwe weergawes van ou flieks wat die moeite werd is om te kyk Twilight Kristen Stewart en Robert Pattinson het mekaar ontmoet en ’n verhouding aangeknoop toe hulle die rolle van Bella Swan en Edward Cullen in die 2008-rolprent Twilight aanvaar. Dit was ’n verwerking van Stephenie Meyer se boek, Twilight. Sy volgende vier vervolgprente het nou nie juis die kritici beïndruk nie, maar bewonderaars was desperaat vir meer. The Lord of the Rings Selfs die bes opgeleide regisseur sou bewe van vrees oor die taak om J.R.R. Tolkien se epiese werk, Lord of the Rings, na die groot skerm oor te dra. Peter Jackson het egter die kans verwelkom om die topverkoperroman in ’n rolprentreeks te omskep. Die boek is in drie dele gepubliseer en dit het aan Jackson ’n geleentheid gebied om dit in drie rolprentweergawes uit te beeld. Die regisseur het besluit om al drie weergawes terselfdertyd in Nieu-Seeland te verfilm, met ’n asemrowende begroting van meer as £226 miljoen (sowat R3,8 biljoen). Die risiko was die moeite werd, want elke rolprent het ’n geraamde £782 miljoen (R13,3 biljoen) wêreldwyd by die loket ingeoes. © Cover Media
http://www.huisgenoot.com/vermaak/boeke/sewe-boek-tot-rolprentverwerkings-wat-nie-te-sleg-was-nie/
Kyk: Nuwe foto’s van die bloubloed Monaco-tweeling sal jou hart vermurwe
Daar was groot opgewondenheid toe Prinses Charlene en manlief, Prins Albert, Woensdag in hul paleis in Monaco Kersfees saam met hul tweeling, Jacques en Gabriella, gevier het. Hulle het geskenke ontvang en daarna ’n vertoning bygewoon saam met ongeveer 600 ander gaste. Dié tweetjies het ook die hart laat smelt toe hulle onlangs Kersvader ontmoet het, asook op hulle verjaarsdag.
http://www.huisgenoot.com/bekendes/kyk-nuwe-fotos-van-die-bloubloed-monaco-tweeling-sal-jou-hart-vermurwe/
Dié eiland in Indonesië het ’n unieke manier om misdadigers te straf
As jy by die Gili Trawangan-eiland in Indonesië gaan vakansiehou en lus raak om die wet te oortree, wees gewaarsku! Dié eiland se misdadigers word op ‘n baie interessante manier gestraf. ’n Foto het onlangs aanlyn uitgekring wat wys hoe twee toeriste met bordjies om hul nekke deur ’n dorpie moet loop. Op die borde staan in gebroke Engels “Ek is ’n dief. Moenie doen wat ek gedoen het nie!” Die twee toeriste het na bewering fietse probeer steel. Dit is ’n ou praktyk op die piepklein eiland om misdadigers te straf deur hulle voor die gemeenskap te verneder, het beamptes op die eiland aan die BBC gesê. “Siende dat ons nie polisie op ons klein tropiese paradys het nie, het ons ons eie reëls vir diewe. As iemand gevang word, moet hy of sy die eiland op hierdie manier platloop,” het die beamptes vertel. “Die persoon word ook agterna van die eiland verban.” Boonop word die foto’s op die eiland se amptelike Facebook-blad gedeel. En die eiland is nie die enigste wat glo openbare vernedering is ’n goeie straf nie. In 2012 is twee Amerikaanse vroue van Bedford in die deelstaat Pensilvanië gestraf deur elk met borde op straat te moet sit waarop hulle erken hulle het by ’n nege-jarige gesteel. Die ma en dogter het glo die kind se geskenkbewys by ’n kettingwinkel gesteel en gebruik om vir hul eie items te betaal. Die hof het beslis hulle moet met die borde in hul dorp se sakekern sit. “Dit is sodat mense besef hulle kan nie ’n vreemde land besoek en net vat wat hulle wil sonder gevolge nie,” het die eiland se beampte verder beklemtoon. Bronne: BBC, Yahoo News, AOL Travel.
http://www.huisgenoot.com/nuus/internasionaal/die-eiland-in-indonesie-het-n-unieke-manier-om-misdadigers-te-straf/
2016-12-09 00:00:00
Hier’s wenke vir ’n gatskop-speellys om jou Nuwejaarsfeesvieringe onvergeetlik te maak
Nuwejaarsfeesvierings is ’n groot makietie, maar hoe moet jou musiekspeellys lyk vir dié geleentheid? Die tieners soek Francois van Coke, ouma is nie so mal oor hom nie en soek iets ligs, soos Romanz, en die manne soek hul visvangtreffers. Hoe balanseer jy jou speellys en is daar ’n formule om seker te maak almal se sitvlak wikkel op jou makietie? “Ek dink nie daar is vir my ’n spesifieke volgorde waarin jy jou musiekkeuses moet opstel nie, solank ’n mens net moeite doen en probeer om alle generasies wat op jou partytjie gaan wees, tegemoet te kom,” sê die Juxebox-aanbieder Pieter Koen. Haloda aan al my nuwe vriende hier op instagram. ..dankie vir die follow 😉 Sien julle iewers op n verhoog of op die kassie by Jukebox of Kwela @kyknettv @co_productions A photo posted by Pieter Koen (@pieterkoen_official) on Feb 26, 2016 at 3:32am PST “Dit help nie jy fokus die hele speellys op net die nuwerwetse of mees onlangse musiek en treffers nie – jy wil immers nie dat die ouer garde oor hul bril begin loer nie,” skerts hy. Hy sê jy moet die aand so genotvol moontlik maak vir almal, en voor jy jou oë uitvee, gaan almal lekker saamkuier op mekaar se musiek. “Boeremusiek is altyd belangrik – dit kan nogal mense uit hul stoel lig, die voete laat jeuk en hulle laat dans of uit hul gemaksone laat klim, of dié wat nie te mal is daaroor nie, kans gee om asem te skep en die glasies te vul.” “Moenie net by jou persoonlike musieksmaak hou nie sodat almal tuis voel en saam kan kuier,” sê hy. Die rocker Francois van Coke stem nie saam nie, en sê hy speel waarvoor hy lief is; sy vriende en familie weet al waarvoor hulle hulle inlaat wanneer hulle na sy makietie kom. Bellville, ek is 2pm by Willowbridge se nuwe @musica_africa Vir die opening van die nuwe winkel Kom sê hi! 📷: @snakeskull666 A photo posted by Francois van Coke (@francoisvancoke) on Nov 1, 2016 at 3:06am PDT “My Nuwejaarspeellys sal seker maar dieselfde wees as enige ander speellys wat ek op ’n partytjie opsit,” sê hy. “Vir my is dit belangrik om my gunstelinge daarin te hê, soos Queens of the Stone Age, Artic Monkeys, Tom Waits en Ryan Adams, om ’n paar te noem.” Hy sê ‘n mens los die goed waarvan jy nie hou nie en speel dit wat jy wel geniet. “Mense moet mos gewoond raak aan wat jy luister. Dis wat ek in my huis doen. Ouers, oumas en oupas moet maar luister wat hier gespeel word,” sê hy.
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/kinders-leefstyl/hiers-wenke-vir-n-gatskop-speellys-om-jou-nuwejaarsfeesvieringe-onvergeetlik-te-maak/
2016-02-26 11:32:37
Nianell se eerste Kersfees sonder haar ma en kinders
“Die laaste drie jaar was Kersfees vir my uitdagend. Niks was meer dieselfde nie,” vertel die sangeres Nianell. “Ons het elke jaar ’n spesiale dag saam met my ouers gereël, maar nou is my mammie nie meer daar nie en my kinders bring nou elke tweede Kersfees saam met hul pa deur. “Hierdie Kersfees is daardie tweede Kersfees. Ek het dus ’n oomblik baie hartseer gevoel en wou myself net begin jammer kry, toe besluit ek ek gaan dit nie doen nie. In die lewe het ons altyd ’n keuse en ek kies om hierdie Kersfees vir myself spesiaal te maak. Ek het gaan sit en dink wat vir my lekker is van Kersfees.” “Ek is mal daaroor om te kook, die tafel mooi te maak en mense te laat spesiaal voel – en dit is wat ek besluit het om te doen,” vertel sy aan Huisgenoot. “Ek het gereken daar is heelwat mense net soos ek wat dalk niemand het om Kersfees mee deur te bring nie. En ek was reg. “Daar is nou reeds ’n hele klompie vriende wat bevestig het. Op die 25ste Desember gaan ek ’n storm los kook vir my vriende. “Ek het geleer dat alles altyd verander. Dit is wanneer ek verandering kan aanvaar as ’n seëning pleks van ’n straf dat ek plek maak vir nuwe ervarings en wonderwerke in my lewe. Ek sien nou uit na ’n Kersfees vol liefde en vreugde en ek weet dit gaan so wees.” Wat beplan jy vir die Desembervakansie? Ek het baie werk om af te handel. Ek beplan ’n CD-bekendstelling vroeg in 2017 en in Desember gaan ek die album en bekendstellingskonsert saamstel. Is daar iets op die Kerstafel waarna jy die meeste uitsien? Ek geniet so ’n ietsie van als. Daar moet net ’n groot verskeidenheid van als wees. En daar moet beslis ’n lamsboud wees. Het julle enige tradisie oor Kersfees of Nuwejaar? My ma het altyd vir ons ’n mooi storie vertel. Ek vertel die storie nou namens haar. Wat is vir jou die lekkerste deel van die Desembervakansie? Mense wat hul hart vir mekaar oopmaak.
http://www.huisgenoot.com/bekendes/nianell-se-eerste-kersfees-sonder-haar-ma-en-kinders/
2016-11-25 19:51:23
Bejaarde Pta-paartjie aangeval, man vermoor tydens huisinbraak
’n Bejaarde man van die Pretoria-Moot is vermoor en sy vrou ernstig aangerand tydens ’n huisinbraak. Corrie Visser (75) is tydens die inbraak vroeër die week oorlede en sy vrou, Gerrie (78), verkeer tans in ’n stabiele toestand nadat ’n aanvaller toegang tot hul huis verkry het. Dit is nog nie duidelik hoe die aanvaller toegang verkry het nie, want daar is geen tekens van geforseerde toegang nie, berig Maroela Media. Polisie kon ook nog nie vasstel of enigiets uit die huis gesteel is behalwe ’n paar selfone nie. Dit is wel bevestig dat die paartjie alleen tuis was toe die aanval plaasgevind het. Die egpaar het albei steekwonde opgedoen en Corrie is ook met ’n voorwerp oor die kop geslaan. Hy is op die toneel dood. Volgens Netwerk24 kan Gerrie nog nie praat nie aangesien sy ’n steekwond tot haar keel toegedien is. Haar bure het haar, bedek in bloed, by hul huis se tuinhekkie opgemerk en hulp ontbied. Dit is nog nie presies duidelik wanneer die aanval gebeur het nie, want die nooddienste is eers om 14:00 Woensdagmiddag ontbied. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek tans ’n saak moord en poging tot moord. Bykomende bronne: Maroela Media; Netwerk24
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/bejaarde-paartjie-van-pretoria-aangeval-man-vermoor-tydens-huisinbraak/
Man se ysingswekkende Facebook-inskrywing kort voor selfdood
Vir Kieran Lister, ’n jong man van Engeland, was Kersfees 2014 die wonderlikste dag in sy lewe. Kort voor dit, op 20 Desember, het hy en die meisie van sy drome vas begin uitgaan. Maar skaars twee jaar later was die verhouding verby. En so ook Kieran se lewe, want hy kon eenvoudig nie sonder haar verder nie . . . Verlede Maandag, 12 Desember, het hy om half nege die aand op sy Facebook-blad geskryf hy sal nooit oor hierdie teleurstelling kom nie. Die volgende dag het die polisie Kieran se lyk in die Cottingley-gebied gevind. In sy boodskap het Kieran die Facebook-administreeders versoek om nie sy boodskap te verwyder nie, want hy hoop sy nota sal ander mense, wat net soos hy ook opsoek is na liefde en geluk, se oë laat oopgaan. Kieran het ook in sy inskrywing sy voormalige meisie verduidelik waar sy haar kersgeskenk in sy huis kan kry, met die wens “neem dit en geniet ’n gelukkige Kersfees”. Hy het sy huis en motor aan haar bemaak, met presiese voorskrifte hoe om van die res van sy besittings te verkoop sodat sy soveel geld as moontlik daaruit kan kry. ’n Naasbestaande van Kieran het daarna op sy Facebook-blad bygevoeg: “Ons hoop dat mense wat vir Kieran lief is, vertroosting sal vind deur sy profiel te besoek om sy lewe te onthou en te vier.” Lees sy volledige inskrywing hier:
http://www.huisgenoot.com/nuus/internasionaal/man-se-ysingswekkende-facebook-inskrywing-kort-voor-selfdood/
Blokraaigeesdriftiges: Voltooi ons interaktiewe blokraai!
http://www.huisgenoot.com/gons-pret/blokraaigeesdrigftiges-voltooi-ons-interaktiewe-blokraai/
Kaaskoek, rus en bootritte vir Amalia Uys dié Feestyd
Haar ma se gebakte kaaskoek en gerookte ham by die Kersete is waarna die aktrise Amalia Uys dié feestyd die meeste uitsien. Sy en haar kêrel, Shaun Golding, kuier hierdie vakansie by haar ouers, Celia en Abè, in hul strandhuis in Port Owen en later in die vakansie beoog hulle om KwaZulu Natal toe te gaan vir ’n troue. Tradisies oor Kersfees is gewoonlik skemerkelkies op haar pa se boot, Bearcat, lawwe geskenke en mooi versierings. “My ma is baie kunstig en bring elke jaar iets nuuts in die prentjie. Ons gaan elke jaar Muisbosskerm toe tussen Kersfees en Nuwejaar vir lekker kos en kuier.” Die lekkerste deel van die vakansie vir haar is om te rus saam met die mense wat sy die liefste in die wêreld het. “Ritte uit op ons boot met my pa as kaptein en braai as die weer mooi is.”
http://www.huisgenoot.com/bekendes/kaaskoek-rus-en-bootritte-vir-amalia-uys-die-feestyd/
4×4-bestuurders, julle is die probleem op ons paaie!
http://www.huisgenoot.com/ons-mense/4x4-bestuurders-julle-is-die-probleem-op-ons-paaie/
Skokkende statistieke skets reeds donker prentjie op SA paaie - sorg só dat julle nie deel word daarvan nie
Sonder motoriste landwyd se dringende samewerking kan hierdie nog een van Suid-Afrika se dodelikste feestye word. En die Automobiel Assosiasie (AA) en departement van vervoer het alle rede om sulke vrese te opper: Die reeds 17% meer padsterftes van 1-19 Desember as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, is ’n vroeë aanduiding dat dié feesseisoen-tol die ergste in etlike jare kan wees, maan die AA. In dié skaars drie weke is 845 mense reeds op ons paaie dood. “En ongelukkig openbaar ’n ontleding van die syfers ’n tendens – ’n gebrek aan wedersydse respek onder motoriste,” meld die AA. “Bestuurders se ingesteldheid is weereens die oorsaak van baie noodlottige ongelukke; en die probleem raak blykbaar erger, nie beter nie.” Die minister van vervoer, Dipuo Peters, het 82% van noodlottige ongelukke aan menslike faktore toegeskryf, 10% aan pad- en omgewingsfaktore en 8% aan voertuigfaktore in ’n voorlopige feesseisoen-beoordeling tot middel vandeesmaand. “Ons verdoem diegene wat volhard met onverantwoordelike en roekelose padgedrag. Hul onverskillige houding het die lewe van talle onskuldiges kortgeknip,” sê sy. Met voetgangers wat 35% van dié sterftes verteenwoordig, pleit die AA ook opnuut dat almal wat langs of digby paaie stap of draf, hulself so sigbaar moontlik moet maak, veral in swak beligte areas. Motoriste moet ook fyn oplet na voetgangers wat soms onder die invloed van drank ’n groot gevaar vir hulself en vir bestuurders inhou. Benewens die sterftes is nog ’n ontstellende syfer die meer as 2 500 mense wat byvoorbeeld in Gauteng alleen weens dronkbestuur gearresteer is, noem die AA. En hulle vra motoriste opnuut om ook dié wenke te onthou: Remember to not block your rear-view visibility when packing your luggage. #AAsafety https://t.co/mvokWdBL1p pic.twitter.com/f0WA5JkGx5 — AA South Africa (@AASouthAfrica) December 9, 2016 Increase your following distance when driving in the rain to compensate for increased braking distances. #AASafety https://t.co/0RLItkYEBE pic.twitter.com/7XqpC7jrQp — AA South Africa (@AASouthAfrica) November 25, 2016
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/skokkende-statistieke-skets-reeds-donker-prentjie-op-sa-paaie-sorg-so-dat-julle-nie-deel-word-daarvan-nie/
En nou vir die (vals) nuus. . .Keer só dat jy in die strik trap!
Julius Malema in hegtenis geneem weens dwelmhandel op die Heathrow-lughawe. Hillary Clinton se dronk ineenstorting nadat sy die Amerikaanse verkiesing verloor het. Robert Mugabe sterf. Koningin Elizabeth gaan aftree. Wie sou dit kon weerstaan om op webstories met sulke hoofopskrifte te klik? Maar as jy het, is jy ’n rat voor die oë gedraai, want nie ’n woord daarvan is waar nie. Dis vals stories wat saamgeflans is met net een doel voor oë: Om voordeel te trek uit niksvermoedende lesers se liggelowigheid. En vir die skeppers daaragter beteken dit groot geld – hoe meer hierdie stories gedeel word, hoe meer mense sal daarop klik en dit beteken meer advertensie-inkomste wat inrol. Maar vals nuus wat vinnig en oral versprei, maak nie net die bedrieërs ryk nie; dit het ook ’n impak op die mense wat dit lees – dit vorm hul menings en beïnvloed hoe hulle op wêreldgebeure reageer, sê kommentators. Het vals nuus Donald Trump gehelp om die Amerikaanse verkiesing te wen? Dit is wat sommige ontleders nou wonder ná die omstrede sakemagnaat se klinkende oorwinning in ’n verkiesing wat die meeste kenners verwag het Hillary Clinton sou wen. In navorsing deur die Amerikaanse nuuswebtuiste Buzzfeed is bevind dat die top-20 vals verkiesingstories meer gereeld op Facebook gedeel is as regte nuus deur betroubare nuusbronne. En die meeste van hierdie stories was ten gunste van Trump en teen Clinton. Vals berigte soos: Die pous steun Donald Trump se veldtog; Hillary gaan aangekla word; en FBI-agent betrokke by die uitlek van Hillary se e-posse dood gevind in wat lyk soos ’n moord of selfdood is miljoene kere binne enkele dae gedeel. In teenstelling hiermee het die onthulling deur die gerespekteerde New York Times dat Donald ’n verlies van $916 miljoen op sy belastingopgawes van 1995 verklaar het, ’n relatief klein aantal Facebook-interaksies van 175 000 oor ’n hele maand ontlok. “Hierdie (vals) stories is nadelig vir die mense wat dit lees en dit oor en oor deel,” sê die Amerikaanse media-ontleder Brian Stelter. “Baie van hierdie vals stories versterk kiesers se mening en isoleer hulle van die waarheid. Die stories fokus op mense wat die slegste oor die teenstander wil glo.” En in ’n bisarre kinkel het dit nou uitgekom dat die skrywers van talle van die vals stories duisende kilometers weg van al die verkiesingsaksie was — in Masedonië in Suidoos-Europa. Minstens 100 vals nuuswebtuistes wat gewy word aan Amerikaanse politici word uit die klein dorpie Veles in hierdie klein Balkan-republiek bedryf. Boonop word die meeste van hierdie webtuistes nie bestuur deur politiek partydige volwassenes nie, maar deur tieners wat nie die minste omgee oor wie in die Withuis is nie. Hul mikpunt is bloot om geld te maak en hulle het uitgepluis dat pro-Trump artikels die meeste klikke sou ontlok. Pres. Barack Obama het reeds vroeg in Hillary se presidentsveldtog gewys op die gevare van sosiale media. “So lank as wat dit op Facebook is, begin mense dit glo,” het hy gesê. “Dit skep hierdie stofwolk van absolute twak.” Maar Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van die sosiale netwerk, het ná Trump se oorwinning die kritiek afgemaak. Hy het in ’n inskrywing op sy Facebook-blad daarop gewys dat 99 persent van wat mense op die webtuiste sien, betroubaar is en dat slegs ’n klein hoeveelheid uit vals nuus en ’n gekul bestaan. “Dit maak dit oor die algemeen hoogs onwaarskynlik dat vals stories die uitkoms van hierdie verkiesings in die een rigting of die ander laat swaai het,” het hy geskryf. Maar nadat die soekenjinreus Google vals nuuswebtuistes verbied het om hul aanlyn advertensiediens te gebruik, het Facebook hul voorbeeld gevolg en gesê hulle sal nie advertensies deel wat webtuistes bemark wat misleidende inhoud vertoon nie. “Ons span sal aanhou om alle voornemende uitgewers noukeurig te bestudeer en bestaandes te monitor om te verseker hulle voldoen aan die reëls,” het hulle in ’n verklaring gesê. Maar talle ontleders meen meer moet gedoen word. “Daar is ’n tuisnywerheid van webtuistes wat net vals nuus versin wat ontwerp is om een of ander groep goed op te werk,” sê Fil Menczer, ’n dosent aan die Indiana-universiteit in Amerika wat die verspreiding van verkeerde inligting bestudeer. Hy sê daar is ’n vertraging van sowat 13 uur tussen die publikasie van ’n vals berig en die daaropvolgende ontmaskering of regstelling. Dis genoeg tyd vir ’n storie om deur miljoene mense gelees te word. Pleks daarvan om ’n plek te wees waar jy jou uitkyk kan verbreed deur teenstrydige standpunte te bestudeer, is Facebook meer dikwels ’n “eggokamer”. Jy’s meer geneig om vriende te wees met mense wat soos jy dink en wat inhoud deel wat by jou aanklank vind. “Mense is meer geneig om vals inligting te aanvaar en om inligting wat van die normale afwyk, te ignoreer,” sê die Italiaanse rekenaarwetenskaplike Walter Quattrociocchi, wat die verspreiding van vals inligting bestudeer het. “Ons soek net na wat ons wil hoor.” En Facebook se algoritmes slaan munt hieruit, waarsku Fil. “Jy word gemanipuleer deur die stelsel (deur nuusopskrifte te kry wat jy nie kan weerstaan om op te klik nie) en jy word die oortreder omdat jy dit met jou vriende deel wat jou vertrou, en so gaan die uitbreek voort,” sê hy. HOE OM ’N VALS NUUSSTORIE UIT TE KEN Melissa Zimdars, ’n medeprofessor van kommunikasie en media aan die Merrimack-kollege in Massachusetts, het die volgende raad: Kyk na die URL/internetadres. Dit lyk dalk soms nes ’n betroubare webtuiste, maar sal effens anders wees – byvoorbeeld pleks van independent.co.uk sal dit 1ndependent.co.uk wees. Gaan die storie na voor jy dit deel. Indien ander betroubare webtuistes nie daaroor berig nie, is dit waarskynlik ’n vals storie. Wees agterdogtig as daar geen skrywersnaam by die artikel is nie. Gaan die hoofopskrif na by die webtuistes Snopes.com of hoax-slayer.net wat feite nagaan. Swak webontwerp en die gebruik van net hoofletters kan ook ’n teken wees dat die bron nagegaan moet word. Dooie skakels op die webtuiste wat nêrens lei as jy daarop klik nie, is nog ’n teken. Satiriese webtuistes soos The Onion en Newsbiscuit steek die draak met die nuus. Die stories is veronderstel om snaaks te wees, maar baie mense wat dit op Facebook raak lees, besef nie dis ’n grap nie. DIE WAANSINNIGSTE VALS HOOFOPSKRIFTE Nasa Bevestig Agt Dae van Donkerte. Dié een doen elke jaar die ronde. Die bewerings behels gewoonlik dat ’n naderende sonstorm stof en ruimterommel gaan rondstrooi wat sonlig gaan blokkeer. Dis totale onsin. Anders as aardse storms kan sonstorms nie stof en rommel rondstrooi nie. Jacob Zuma gee Oscar Pistorius tydelike presidensiële kwytskelding sodat hy by Paralimpiese span kan aansluit. Dit is wat Gossipmillsa.com in Julie berig het. “Tronkstraf en kriminele aanklagte motiveer mense om uit te blink,” word pres. Zuma aangehaal. “As hy sy tydelike vryheid toegestaan word, sal Oscar vinniger hardloop.” Vrou Met Drie Borste. ’n Masseuse van Florida, wat haarself Jasmine Tridevil noem, laat die internet gons met bewerings dat sy ’n operasie ondergaan het om ’n derde bors te kry in die hoop om ’n werklikheidsreeks los te slaan. Groot nuuswebtuistes het die storie opgetel, maar dae later het dit uitgekom Jasmine se ongewone borsgleufie is danksy slim fotoredigering eerder as plastiese snykunde. Stanley Kubriek het Gehelp om Maanlanding te Vervals. Daar is verlede jaar beeldmateriaal uitgereik wat glo wys hoe die rolprentmaker Stanley Kubrick erken hy’t die Amerikaanse regering en Nasa gehelp om die maanlanding in 1969 te vervals. Mense het dit geglo, hoewel die man in die video net effens lyk soos die regisseur van die fliek 2001: A Space Odyssey. Die mense agter die video beweer hulle het in Mei 1999 toegang tot die kluisenaar gekry – vreemd, aangesien Stanley twee maande tevore dood is. BRONNE: NEWYORKTIMES, CNET.COM, THE GUARDIAN
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/verbruiker/en-nou-vir-die-vals-nuus-keer-so-dat-jy-in-die-strik-trap/
Vyf wenke wat jou kan help in moeilike ekonomiese tye
Deesdae se ekonomiese nuus maak Suid-Afrikaners senuweeagtig. Van bedrogaanklagte teen ons Minister van Finansies, hoë belastingkostes vir 2017 tot petrolpryse wat styg. Hoewel ’n swaar finansiële realiteit verbruikers in die gesig staar, moedig Wikus Olivier, skuldbestuur-kenner by DebtSafe, verbruikers aan om nie hoop te verloor nie. Volgens Olivier is daar ʼnpaar dinge wat gedoen kan word om kop bo water te hou tydens uitdagende ekonomiese tye: Hou matigheid voor oë ʼn Uitspattige leefstyl is duur, lewe eerder in matigheid. Om jou leefstyl en doelwitte so nou en dan aan te pas is nie noodwendig sleg vir jou nie, veral as dit diehuidige ekonomiese situasie van die land reflekteer. Daarom is dit tyd dat jy ’n begroting opstel en by dit hou. Hou ’n ogie op die items wat jy elke maand aankoop, sodat jy bewus is van wat jy spandeer. Dit stel jou ook in staat om alles wat onnodig is (soos verskeie luukshede) uit die weg te ruim. Selfs klein, oënskynlik onbenullige luukshede soos wegneem-koffie of sjokolade maak oor tyd ’n groot verskil in jou begroting. Lees ook: Spaar so geld Moenie dat jou voete jeuk nie Die samelewing skep die indruk dat jy moet uitgaan en dinge weg van die huis af doen om ware geluk te ervaar. Die probleem is dat dit gewoonlik geld kos. Daar is baie bekostigbare en lekker dinge wat mense saam met hulle vriende of gesin kan doen – stap om die blok, hou piekniek buite op die gras, geniet aandete om die eetkamertafel en luister na geliefdes se stories en so meer. Kies wat en waar jy koop Die klein winkeltjie om die hoek het nie noodwendig die beste pryse vir jou sak nie. Doen jou huiswerk en besluit watter winkel die beste waarde vir watter aankope bied. Dit is nie net belangrik om te besluit waar jy sekere items moet koop nie, maar ook wat jy moet koop. As jy byvoorbeeld kyk na kos, is gemorskos (geproseseerde voedsel) nie altyd die beste vir jou gesondheid of jou beursie nie. Hou ook die weeklikse koerantadvertensies dop. Kettingwinkels het dikwels spesiale aanbiedinge wat die druk op jou sak ligter maak. Spaar geld op krag, water en ligte Mens word van kleins af geleer om spaarsamig te werk met krag, water en ligte. Klink hierdie wenke nie bekend nie? Moenie die yskasdeur te lank oophou nie. Wees bewus van die energievrate soos die oond en die skottelgoedwasser. Sonkrag-geisers is beter as konvensionele geisers. Skakel alle lamp- en kragpunte af. Maak gebruik van lae-energie of LED-ligte. Moenie die krane te groot oopdraai of laat drup nie. Stort eerder as om te bad. Gebruik badwater vir die tuin. Daar is eindelose maniere hoe energie en kostes bespaar kan word, besoek gerus die energiebesparingswebblad van Kaapstad vir nog opsies. Lees ook: Beheer jou ego, beheer jou geldsake Raak ontslae van jou skuld As gevolg van stygende rentekoerse gebeur dit deesdae dat jou skuld teen die spoed van wit-lig ophoop. Prioritiseer jou doelwitte om oortollige skuld te vereffen. Dit is beter om korttermynskuld met hoë rentekoerse eerste af te betaal, soos byvoorbeeld klererekeninge en lenings. As jy ’n hoop skuld het moet jou eerste priorteit wees om ontslae te raak daarvan. Dit sal jou vry maak van maandelikse verpligtinge wat jou kontantvloei opvreet. Gebruik hierdie wenke om jouself beter finansieel voor te berei wanneer die land se ekonomie ernstig begin byt. Indien jy egter reeds oorweldig is met jou skuld, kontak DebtSafe se span om jou by te staan met hulle doeltreffende skuldhersieningsprogram.
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/geldsake/vyf-wenke-wat-jou-kan-help-in-moeilike-ekonomiese-tye/
Kersfees kom vroeg vir Michael Kliment, pa van ‘ontvoerde’ dogter
Dit was nie vir Michael Kliment nodig om tot die feestyd te wag om vreugdevol te voel nie. Kersfees het reeds in Julie vir dié sakeman van Port Elizabeth aangebreek toe hy daarin slaag om sy “ontvoerde” dogter terug te bring van Slowakye nadat hulle vier jaar geskei was. Hy sê dit het hom die gelukkigste man ter wêreld gemaak om sy Mijah’tjie terug te hê by hom in Suid-Afrika. “Dit gaan baie goed met ons. Mijah geniet die lewe – ek moet haar elke naweek na ’n ander verjaardagpartytjie neem,” vertel die 43-jarige karate-ghoeroe aan Huisgenoot. Toe ons die Kliment-gesin in Augustus vanjaar besoek, was Mijah net vier dae in die land. Sy en haar pa moes vir die owerheid wegkruip tot hy toegelaat is om sy jongste dogter met hom saam terug te bring na Suid-Afrika. Die drama het in November 2012 begin toe Mijah Slowakye saam met haar ma, Janka Klimentova, besoek. Hulle sou net vir ’n besoek na Michael se destydse vrou se geboorteland gaan, maar Janka het besluit sy wil bly – en Michael is hof toe in ’n poging om sy dogter, wat in Port Elizabeth gebore is, terug te kry. Die paartjie is in Mei verlede jaar geskei. Michael wou nie sy dogter van haar ma skei nie, maar toe Janka in April vanjaar aan ’n breingewas sterf, was Michael vasbeslote dat Mijah moet huis toe kom. Janka se ouers het egter geweier en wou nie hul kleindogter laat gaan nie. Hy is toe Slowakye toe saam met Mikaila (19), sy dogter uit ’n vorige verhouding, en het vir Mijah “ontvoer” en Interpol vyf weke lank ontwyk voor ’n hof hom verlof toegestaan het om haar Suid-Afrika toe te bring. “Ons haal steeds in, maar Mijah het baie goed aangepas en haar Engels het soveel verbeter dat sy volgende jaar as gr. 3-leerder by die Summerwood Primary School ingeskryf is,” vertel Michael. Sy vreugde is duidelik in sy stem hoorbaar. Voor hulle Kersfees saam met sy familie in Port Elizabeth gaan vier, vertrek hy en sy “meisies” op 4 Desember Mauritius toe vir ’n eksotiese eilandvakansie. “Hulle is opgewonde. Ons gaan skubaduik, swem en ontspan,” sê hy en voeg by Mikaila – ’n student in joernalistiek aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit – se laaste eksamen sal teen daardie tyd ook agter die rug wees. Hulle vier Kersfees tradisioneel op die aand van 24 Desember met ’n familie-ete en ruil dan geskenke uit. “Dalk sal dit beter wees as Mijah se negende verjaardagparty in November. Ons het ’n springkasteel, ’n fotohokkie en ’n spitbraai gehad en alles was in pienk en blou versier,” sê Michael. Mijah sien uit na haar nuwe skooljaar. Sy doen gimnastiek en dans. Sy het aan Michael gesê sy doen net ballet om haar gimnastiek “aan te vul”, aangesien dit vir haar belangriker is. “En ek moet bloot glo wat sy my vertel,” sê Michael en trek sy skouers laggend op, duidelik nog oorstelp van vreugde om sy dogters albei so naby hom te hê. Soos hy in Augustus aan Huisgenoot gesê het: “Ek het nou albei my dogters by my – wat meer wil ’n pa hê?” Vir Michael Kliment het Kersfees vanjaar vroeg gekom.
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/kersfees-kom-vroeg-vir-michael-kliment-pa-van-ontvoerde-dogter/
Van plaasvakansies tot Kersfees in die Bosveld: Bekendes deel hul geliefkoosde Kersherinneringe
Kersfees bly darem ’n vrolike tyd vir ieder en elk. Ons het ’n paar Suid-Afrikaanse bekendes gevra wat is hul geliefkoosde Kersherinneringe. Aletté-Johanni Winckler Menige Kersherinneringe uit my kleintyd staan uit, maar ek dink die mees onlangse Kersfees vat die koek. Kersfees 2015 was ons eerste een in die Kaap en saam in ons nuwe huis. Ek het amper deurnag gewerk om foto’s teen die mure te hang en alles eksie-perfeksie te kry vir al die gaste (ons het twee weke tevore ingetrek). Vandat ek en Heinz getroud is, was ons nog nie een Kersfees by ons eie huis nie. Daardie Kersfees tuis was dus ’n besonderse mylpaal! Ek het dit saam met my gesin, my skoonouers, my ouers, my suster en haar gesin, Heinz se suster, Mia, en haar man, Jurgen, en my skoonma se familie gevier. Dit was ongelooflik om almal te kon huisves en vermaak en al die wonderlike kos wat almal saamgebring het, het vir baie vol magies gesorg. Hannes van Wyk Ek het al wonderlike Kersfeestye gehad, maar twee staan uit. As seuntjie op my ouma en oupa Van Wyk se plaas het ons niggies en nefies Kersliedjies gesing en baie geëet. Ek onthou dié Kersfees veral goed, want ek het laatmiddag buitentoe gehardloop en nie gesien die glasdeur is toe nie. Dit was net bloed waar jy kyk en ek het daardie Kersdag afgesluit met 12 steke in my kop. Ek was ’n held onder my nefies en niggies! ’n Ander onvergeetlike Kersfees was toe ek op my eie op ’n klein dorpie in Engeland was. Dit was bitter koud. Ek het alleen by ’n bistro Kersmiddagete gaan eet en myself so effe jammer gekry. Die locals het hulle egter oor my ontferm en ons is eers middernag daar uit. Andries Potgieter Geen Kersfees oortref ’n Bos-Kersfees nie! Al my mooiste en beste Kersherinneringe, en daar was baie, kom uit my kinderjare. Ons het van ons tuisdorp, Jeffreysbaai, gery en vir ’n paar weke in die Krugerwildtuin gaan kuier. Ons het van die een kamp se restaurant gery om net weer by die volgende een in te stap; buffelpastei, slaptjips, hoender-mayo-broodjies, burgers of koedoeworsrolle het deurgeloop. Ons het altyd net ’n paar aande by ’n kamp gebly. Dit was ongelooflik om elke paar dae by ’n nuwe chalet in te boek en dan saam met my boetie en sussies kattekwaad aan te vang — iets wat ons natuurlik van my pa geërf het. Saans het ons die buitelugbioskoop geniet; wildprogramme is vertoon en dit was tonne beter as ’n Kersboom en geskenke. Ons geskenk was die familie-eenheid wat ons kon ervaar. Dwarsdeur die jaar werk ons in die buiteland en is ons baie op die pad, so niks is beter as Kersfees op eie bodem nie. Vanjaar bring ek dit saam met my vrou, Sya, Wiaan (Fourie, die ander helfte van DZL), familie en skoonfamilie deur. Ons gaan deur Graskop, die Wildtuin en Hoedspruit toer en daarna eindig ons vakansie y ons renosterprojek in Limpopo. Daar is geen groter geskenk as dit nie. Marno van der Merwe Vir my staan 2010 se Kersfees op my ouers se vorige plaas uit. Die hele familie kon daar wees en ons het heeltyd motorfiets gery, geswem, perdgery, gebraai en waatlemoen geëet. Ek was 26 en my loopbaan het op dreef begin kom. Boonop is dit altyd goed om tyd saam met my familie te kan deurbring, veral wanneer almal saam kan wees. Vanjaar doen ons dit weer. Dis baie spesiaal.
http://www.huisgenoot.com/bekendes/van-plaasvakansies-tot-kersfees-in-die-bosveld-bekendes-deel-hul-geliefkoosde-kersherinneringe/
Bring dié 10 sterk vroulike karakters terug kassie toe
Daar is ongetwyfeld ’n toename in sterk vroulike hoofspelers op televisie. Dis nou danksy TV-vervaardigers soos Shonda Rhimes. Maar wie het ons gehad voor die briljante Annalise Keating en die vurige Daenerys Targaryen? Kom ons kyk na ’n paar van die beste sterk vroulike karakters op die kassie, in geen bepaalde volgorde nie. 1. Buffy, Buffy the Vampire Slayer Vertolk deur Sarah Michelle Gellar Buffy, moontlik een van die sterkste vroulike karakters op TV, was die toonbeeld van kragtig. Probleme met vampiere? Sy beskerm jou terwyl sy terselfdertyd die beproewings van hoërskool die hoof bied. 2. Lorelai Gilmore, Gilmore Girls Vertolk deur Lauren Graham Nie alle superhelde dra mantels nie. Lorelai, as enkelma, was vasbeslote om die lewe vir haar en haar dogter beter te maak. Sy is slim en skerp en kan net die regte dosis gevatte gekskeerdery kwytraak. 3. Joan Clayton, Girlfriends Vertolk deur Tracee Ellis Ross Hoewel sy ietwat vol draadwerk was, kon jy nie help om Joan toe te juig nie. Sy was gedrewe en taai in haar najaging van sukses, liefde en vervulling – ’n heldin wat elke duisend jaar moes verskyn. 4. Claire Huxtable, The Cosby Show Vertolk deur Phylicia Rashad Daar is ’n rede waarom Claire Huxtable altyd een van die beste televisiema’s sal wees. Sy het nie net hard gewerk as prokureur nie; sy het steeds oorgenoeg tyd vir haar vyf kinders ingeruim. 5. Kimberly Hart en Trini Kwan, Mighty Morphin Power Rangers Vertolk deur Amy Jo Johnson en Thuy Trang Komaan, krag-veldwagters! Die pienk en geel krag-veldwagters het ons geleer meisies kan net so goed veg soos hul manlike eweknieë – ’n les wat die jonger geslagte gerus ter harte kan neem. 6. Ntsiki Lukhele, Generations Vertolk deur Pamela Nomvete Die oorspronklike Generations het ons aan Ntsiki, een van die naarste vroue in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse televisie, voorgestel. Hoewel haar magshonger kragtoere die oë laat rek het, het dit ongetwyfeld tot televisiegenot gelei. 7. Cherel de Villiers, Isidingo Vertolk deur Michelle Botes Van skurke gepraat: Cherel was een karakter vir wie Suid-Afrikaanse kykers met liefde gehaat het. Cherel, ’n perfekte konkoksie van bedrieëry en manipulasie, het jou op die randjie van jou stoel gekluister gehou. 8. Lara Croft: Tomb Raider Vertolk deur Angelina Jolie Lara, wat altyd van grotte verwissel en rewolwers gedra het, is as heeltemal onbereikbaar beskou. 9. Trinity, The Matrix Vertolk deur Carrie-Anne Moss Briljant. Dis een manier waarop Trinity beskryf kan word. Sy was ’n algehele gatskopper: tegnologies kundig, slim en goed bedrewe in die gevegskuns. 10. Clover, Sam en Alex, Totally Spies Met die stemme van Andrea Taylor, Jennifer Hale en Katie Griffin Wie sê alle kragtige vroulike karakters moet mense wees?!
http://www.huisgenoot.com/vermaak/tv/bring-die-10-sterk-vroulike-karakters-terug-kassie-toe/
Wenke om jou kind te leer om beter met hul geld te werk
Ons erf meer as net ons groot ore of temperament van ons ouers; in die meeste gevalle leer ons ook hul slegte geldgewoontes aan en dra dit lewenslank met ons saam. ’n Studie van ekonomiese gedragspatrone bevestig die manier waarop ons met geld werk, is meestal in ons kinderjare aangeleer en gewoonlik onbewustelik. Ons leer dit dus deur na ons ouers te kyk. Ongelukkig is daar op skoolvlak min fokus oor hoe om met geld te werk. Gevolglik val jy terug op jou aangeleerde finansiële gewoontes wanneer jy die dag jou eerste salaristjek ontvang. Hier is ’n paar idees om jou kind te leer om beter met hul geld te werk: 1. Geld vir niks As ons kinders alles op ’n skinkbord ontvang, sal hulle as volwassenes meer vatbaar wees vir die bemarkingsbeloftes van kredietkaarte en winkelkaarte se skynbaar kostelose skuld. Stel ’n lys op van takies wat kinders kan verrig om geld te verdien, met ’n waarde gekoppel aan elk. Die geld wat hierdie takies inbring, kan jou kinders se sakgeld vervang of aanvul. Sit die lys van takies op die yskas en laat die kinders toe om hul name langs die take in te vul. 2. Stel ’n begroting op Dit is sekerlik een van die belangrikste geldlesse wat jy jou kind kan leer. Nooi jou kind om by te sit wanneer jy jou begroting beplan en verwys terug na jou begroting wanneer jy geld uitgee. Sit dan saam met jou kind en beplan hul begroting, met moontlike kategorieë vir maandelikse of gereelde uitgawes, spaar en skenkings. 3. Leer om te deel Soms, as onverwagte nadraai van die eerste twee stappe, kan ’n kind te geheg raak aan sy of haar geld. Dit is immers lekker om te sien hoe jou spaarvarkie vol word en dit raak moeilik om jou grassnygeld weer uit te gee of om enigiets wat jy met jou swaar verdiende geld gekoop het, met jou vriende te deel. Oorweeg die tradisionele reël wat ons in finansiële beplanning vir kinders gebruik: Spaar 50 persent, bestee 40 persent en gee 10 persent aan behoeftige sake of jou kerk. Jy kan doelwitte aan jou spaargeld verbind – soos daardie Xbox wat jou seun soek – en jy kan met jou kind gesels oor hoe hul skenking van 10 persent ’n verskil in iemand se lewe gaan maak. 4. Nie alle verantwoordelikhede moet ’n geldwaarde hê nie Dit is belangrik om kinders verantwoordelikheid te leer as teenwig vir die gevaar dat alles later om geld draai. Sekere take, soos om hul bed op te maak of klere weg te pak, kan verpligtend wees, wat verhoed dat jou kinders ’n beloning vir elke werkie of opoffering verwag. Om seker te maak dat hierdie lewensles gaan werk, moet jy jou verwagtings met jou kinders bespreek. Verduidelik waarom dit belangrik is dat hulle sekere take sonder klagtes of verwagtings verrig en hoe julle op die lange duur daarby kan baat vind. 5. Nee beteken nee Ja, dis maklik om hierdie voorskrif te gee, maar ek is nie in die kamer wanneer jou kind stilstuipe of ’n woedeuitbarsting kry nie. In ons navorsing oor finansiële gedragspatrone het ons gevind ons swak geldbesluite as volwassenes het dikwels hul oorsprong in die feit dat ons as kinders nie duidelike grense gehad het nie. Die kind wat nie gespaar het vir sy 10 persent-bydrae vir sy Xbox nie, is later die volwassene wat ’n stel gholfstokke op sy kredietkaart koop en op 35 nog nie ’n spaarfonds opgebou het nie. Stel duidelike grense, deel jou verwagtings met jou kinders, leer hulle beplan en verantwoordelik bestee en beloon hulle vir harde werk en hulle sal die vrugte pluk as geldslim en onafhanklike volwassenes. Deur: Wouter Fourie – 2015/16 FPI finansiële beplanner van die jaar.
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/geldsake/wenke-om-jou-kind-te-leer-om-beter-met-hul-geld-te-werk/
George Michael se lewensmaat onthou hartverskeurende oomblik toe hy popster se liggaam vind
“Dit is ’n Kersfees wat ek sal nooit vergeet nie”. Die popster George Michael is op Kersdag in die ouderdom van 53 oorlede. Volgens ’n roerende Tweet Maandag was dit skynbaar sy lewensmaat wat eerste op sy lewelose liggaam afgekom het. Die Londonse haarkapper Fadi Fawaz het na bewering ontdek die Last Christmas-sanger is dood in sy huis in Goring-on-Thames, Oxford. “Dit is ’n Kersfees wat ek nooit sal vergeet nie: om jou lewensmaat rustig en dood in die bed (te vind) eerste ding in die oggend,” het Fadi op Twitter geskryf. “Ek sal nooit ophou om jou te verlang nie xx.” Dié twee is al sedert 2012 ’n paartjie, berig MailOnline . ITs a xmas i will never forget finding your partner dead peacefully in bed first thing in the morning.. I will never stop missing you xx — Fadi Fawaz (@fadifawaz) December 26, 2016 Die Wham!-sanger is “vreedsaam in sy slaap oorlede” op 25 Desember in sy huis in Oxford, Engeland, het sy reklameagent Maandag bevestig. “Dit is met groot hartseer dat ons bevestig ons geliefde seun, broer en vriend George het vreedsaam by sy huis oor die Kerstyd gesterf,” lui die verklaring. “Die familie vra dat hul privaatheid in hierdie moeilike en emosionele tyd gerespekteer word. Daar sal geen verdere kommentaar in hierdie stadium gelewer word nie.” Volgens die BBC het die Thames Valley-polisie bevestig een van hul ambulanse het Sondag, 25 Desember, ’n eiendom in Goring-on-Thames in Oxfordshire om 13:42 besoek. Geen oorsaak vir George se dood kon dadelik bepaal word nie, maar die polisie vermoed nie vuilspel nie. Sy voormalige agent, Michael Lippman, het wel aan die media gesê hy is dood weens hartversaking. ’n Nadoodse ondersoek gaan in die komende dae uitgevoer word om die presiese oorsaak te bepaal. Intussen het talle bekendes se huldeblyke vir die ontslape popster steeds bly instroom. Mariah Carey en Paul McCartney tel onder diegene wat hul medelye teenoor George en sy geliefdes uitgespreek het. Paul het ’n roerende huldeblyk op sy webwerf gedeel, waarin hy skryf: “George Michael se mooi siel en musiek sal voortleef selfs na sy skielike dood. Ons het al op verskeie geleenthede saamgewerk en sy merkwaardige talent het altyd deurgeskyn en sy sin vir humor het die ervarings selfs meer aangenaam gemaak.” En Mariah het haar goeie vriend onthou terwyl sy vakansie hou in in Aspen, Colorado. “George Michael, jy was so ’n inspirasie. Ek is geseënd om nie net ’n aanhanger nie, maar ook ’n vriend van jou te wees. Mag jy in vrede rus…” George Michael 💔😢 You were such an inspiration. I'm honored to have not only been your fan, but a friend as well. May you rest in peace. pic.twitter.com/jJKSz22fHH — Mariah Carey (@MariahCarey) December 26, 2016 Intussen het George se voormalige lewensmaat, Kenny Goss, in ’n verklaring gesê hy was ’n “vriendelike en vrygewige man”. Die voormalige paartjie is in 2009 uitmekaar na byna 15 jaar saam. Volgens Kenny was hulle steeds goeie vriende nadat hul verhouding verbrokkel het. “Ek is hartseer oor die nuus dat my liewe vriend en jare lange liefde George Michael dood is,” het Kenny geskryf. “Hy was ’n groot deel van my lewe en ek het hom baie, baie lief gehad. Hy was ’n uiters vriendelik en vrygewige man.” © Cover Media
http://www.huisgenoot.com/bekendes/george-michael-se-lewensmaat-onthou-hartverskeurende-oomblik-toe-hy-popster-se-liggaam-vind/
Huisgenoot Mobi
Om croissants te maak verg tyd en moeite, maar al jou gevou en gerol sal beloon word. Lewer 20 croissants Bereiding: 4 uur Rus: minstens oornag Gaarmaak: 10 min. 1,25 L (5 k) witbroodmeel, plus ekstra vir rol 5 ml (1 t) sout 80 ml (⅓ k) suiker 20 g droë gis 500 g botter, verkoel 250 ml (1 k) ricottakaas 60 ml (¼ k) strooisuiker 1 eier, gemeng met 5 ml (1 t) water versiersuiker Voorverhit die oond tot 200 ºC. Plaas die meel, sout, suiker en gis in ’n groot mengbak. Meng ’n bietjie water stadig by tot die mengsel ’n buigsame deeg vorm. Plaas die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en knie tot elasties. Sit die deeg terug in die bak, bedek en plaas vir ’n uur in yskas. Plaas die verkoelde deeg terug op die meelbestrooide oppervlak en rol in ’n driehoek. Rol die verkoelde botter in ’n reghoek uit. Plaas die botterreghoek in die middel van die deegdriehoek sodat dit die middelste derde van die deeg bedek. Vou elke kant van die deeg oor die botter sodat daar ’n laag deeg onder, dan ’n laag botter en dan twee lae deeg is. Draai die deeg in kleefplastiek toe en sit vir nog ’n uur in die yskas. Strooi liggies meel op die werkoppervlak en rol die deeg in ’n reghoek uit. Herhaal die vouproses, vou die lang punte tot in die middel en sit die deeg dan weer vir nog ’n uur in die yskas. Herhaal die proses van vou en afkoel nog twee keer, en draai dan die deeg in kleefplastiek toe en laat dit eenkant staan om oornag te rus. Rol die deeg met ’n deegroller uit. Sny die uitgerolde deeg in vierkante van 20 cm². Sny elke vierkant skuins en maak twee driehoeke. Plaas die deegdriehoeke op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is met die regterhoek wat weg van jou wys. Rol die croissant in die rigting van die regterhoek se punt en vou die deeg in ’n tradisionele sekelvorm. Klits die ricotta en suiker saam tot glad en smeer dit oor die breedste deel van die driehoek en rol dit dan op. Plaas die gevormde croissants op bakplate wat met bakpapier uitgevoer is en laat dit ’n uur rys. Smeer die eiermengsel liggies oor die croissants en bak 10 min. of tot goudbruin. Strooi die versiersuiker oor en sit voor. Deur Hope Malau Foto: David Briers
http://www.huisgenoot.com/wenresepte/ontbyt-kos/ontbyt-kom-nooit-te-vroeg-nie-hier-is-11-heerlike-ontbytresepte/
Doodgewone groen vlieg? Moenie glo nie - dit bied glo ’n wonderkuur
In ’n klein kamer in die buik van die Steve Biko Akademiese Hospitaal (SBAK) in Pretoria is ’n luidrugtige gesuis. Jy dink ’n oomblik lank dit is die verkoelingstelsel, maar dan kom jy tot verhaal. Dit is die derduisende vlieë wat soos ’n wolk saamkolk en zoem in die plastiekhouers waarin hulle aangehou word. Die meeste mense gril en ril wanneer hulle dink aan vlieëmaaiers wat op dooie vleis krioel. Party mense wil nie eens begrawe word nie, want die gedagte aan ’n maaier wat hulle liggaam gaan vreet, is net een te veel vir hulle. Nie Adriaan de Klerk (64) nie. Dié pensioentrekker van Pretoria is van mening maaiers het sy lewe gered. “Dit is regtig ’n wonderkuur,” sê hy. Adriaan, wat ’n diabeet is, het in 2014 gangreen in albei sy voete gekry. Hy het by die SBAK gaan hulp soek en gaan aanklop by Prof. Herman du Plessis, ’n algemene chirurg wat in wondsorg spesialiseer. Weens die gangreen moes hulle reeds sy linkerkleintoontjie afsit en omdat hy ’n diabeet is, het die wond nie gesond geraak nie. Die gangreen het versprei en hulle moes sy voet by sy enkel laat afsit. Herman en sy span besluit toe om Adriaan met maaiers te behandel. “Die wond wou nie genees nie. Maaierbehandeling is baie meer kostedoeltreffend en spaar die pasiënt boonop die tyd in die teater,” sê Herman. Maaiers is op die oop wond gesit en met ’n verband toegemaak. Adriaan het sowat drie dae lank so rondgeloop terwyl die maaiers lustig aan die dooie weefsel gevreet het. Die wondergoggas het dit Adriaan se lewe gered, en hoewel hy nou met ’n prostese rondloop, sê hy hy kan omtrent alles doen wat hy in die verlede gedoen het. “Ek kan nog loop en selfs los werkies doen wanneer ek die dag rusteloos is,” sê hy. Maaierbehandeling word al sedert toeka se tyd beskou as ’n praktiese manier om wonde te behandel, sê Herman. “Tydens die Amerikaanse burgeroorlog het hulle gesien wonde met maaiers op is baie skoner as dié wat net verbande om het,” verduidelik hy. “Dit was natuurlik vlieë wat eiers daarop gaan lê het.” Tussen 1929 en 1931 het die mediese wêreld die wonder van maaiers begin erken. “Tussen 1930 en 1940 het die praktyk baie toegeneem in Amerika. Oor die 100 hospitale het die behandeling aangebied, maar met die koms antibiotika en penisillien het maaiers in onbruik verval,” sê prof. Herman. Tans is die SBAK die enigste hospitaal in Suid-Afrika wat hul eie maaierkolonie het en die behandeling bied. “Die maaierkolonie is sedert 2007 hier,” sê Herman. Die biotegnologiemaatskappy inqaba biotec het op 11 April 2016 ’n vennootskap met die Universiteit van Pretoria se departement van chirurgie aangegaan om kragte saam te snoer en maaierbehandeling toegankliker te maak. “Ons het Herman se artikels oor maaierbehandeling gekry en begin kyk na hoe ons die produksie kan bevorder sodat maaiers daagliks beskikbaar sal wees,” verduidelik Butana Mboniswa van Inqaba Biotec. “Dokters en verpleegsters kan sê hulle soek teen môre die maaiers en ons sal dit kan verskaf. Die logistiek is daar om dit selfs verder te voer sodat ons die produk aan die hele vasteland kan verskaf,” sê hy. Maar hoekom sal ’n mens maaiers bo tyd in teater verkies? “Dit werk baie goed,” sê Herman. “Veral vir wonde wat baie dooie weefsel en etter in het.” Hy verduidelik tyd in die teater kan ’n pasiënt baie geld kan kos en ook pynlik wees. “ ’n Mens het nie altyd die tyd of die kapasiteit nie. Pleks van die pasiënt teater toe neem om die dooie weefsel onder narkose uit te sny, kan ’n mens maaiers gebruik. Dis baie goedkoper.” Die hospitaal maak gebruik van die Lucilia sericata – beter bekend as ’n groen brommer. “Dié vlieg is spesiaal omdat sy maaiers net dooie weefsel eet,” verduidelik hy. “Ander vlieë se maaiers sal lewendige weefsel ook eet.” Herman sê hulle beste jaar was in 2010, toe hulle sowat een pasiënt per week met maaiers behandel het. Vanjaar het hulle sowat een pasiënt per maand wat kans sien vir die behandeling. “Twee derdes van die pasiënte het hoë bloeddruk, is rokers of het suikersiekte. Sulke mense is geneig tot infeksies ná ’n operasie.” Butana sê hierdie wonderkuur sal veral ʼn verskil kan maak in rampsituasies, soos tydens aardbewings of met tsoenami’s. “Dit sal veral goed werk wanneer jy duisende beseerdes het, maar nie die kapasiteit het om almal tegelyk teater toe te vat nie. Dit sal ook goed werk in arm lande in Oos- en Wes-Afrika, waar mediese sorg gebrekkig is,” sê Butana. By die maaierkolonie is Dewald Swanepoel, ’n tegnikus van inqaba biotec, besig om na sy grillerige kinders om te sien. Hy is verantwoordelik daarvoor die vlieë en die maaiers te voer. “Dis klein larwe dié en eiers wat gister uitgebroei het,” verduidelik hy en wys na die roomysbak waar die larwe op ’n rou stuk lewer feesvier. “Die lewensiklus is sowat twee weke vandat die larwe uitbroei, ’n papie en eindelik ’n vlieg word,” verduidelik hy. “’n Wyfievlieg kan tot 300 eiers lê. Ons sal hulle twee tot vyf uur in die boks los om eiers te lê. Daarna verwyder jy die vlieë en steriliseer die eiers.” Volgens Dewald kan hulle elke 24 uur vlieë steriliseer om eiers te lê. Die bokse word bo met sykouse bedek. Dit laat Dewald toe om sy hand in te druk en die eiers of maaiers met gemak uit die bokse te haal. “Wat hierdie behandeling so uniek maak, is die feit dat ’n verpleegster die behandeling kan toepas. Buitepasiënte kan inkom vir behandeling en ná ’n halfuur weer huis toe gaan. Daar is geen groot onkoste om ’n bed te kry nie en geen pynlike teatertyd nie,” sê Herman. Johannah Legodi is die plaaslike verpleegster wat die maaierbehandeling toepas. Sy verduidelik hoe sy te werk gaan. “Eerstens moet jy aan die pasiënt verduidelik dit kan voel of iets in hulle beweeg; so hulle moenie skrik nie. Diabetes sal egter nie noodwendig iets voel beweeg nie,” sê sy. Sy verduidelik verder met die hulp van ’n model. Eerstens moet die wond skoongemaak word; dan word die maaiers óf in ’n ryssakkie óf net so op die wond geplaas. “Dit hang af hoe die wond lyk. As dit diep hoeke het, moet die maaiers los ingesit word sodat hulle maklik by die dooie weefsel kan uitkom.” Dan word die wond met verbande toegemaak sodat die gulsige maaiers hul werk kan doen. Die groen vlieë druis voort in die houers waarin hulle aangehou word. Andries dink deesdae anders aan die brommers wanneer hulle in sy kombuis rondzoem, maar die vraag is: Wat doen jy?
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/doodgewone-groen-vlieg-moenie-glo-nie-dit-bied-n-wonderkuur/
Maak só seker jy oorleef finansieel tot die volgende betaaldag
Almal sien uit na die Desembervakansie: Son, see, roomys, Kersfees, braai en kuier. Aanvanklik dink jy nie twee keer daaraan om jou beursie oop te maak en vir iets te betaal nie, maar wees gewaarsku – Desember is ’n lang maand. “Die meeste mense word in die middel van Desember en weer einde Januarie betaal,” maan Nikki Roos van Nikki sê Nee op VIA. “Ses weke is ’n lang tyd en dan is Kersfees nog in die middel ook.” Sy meen dit is ’n goeie idee om goed te koop wat jy in Januarie sal nodig hê, soos skoolklere en skryfbehoeftes, voor jy met vakansie gaan. “ ’n Vol stel skoolklere kos baie geld. Probeer dalk by die skool se tweedehandswinkel uitkom voor dit sluit. Kyk ook in die kas of daar nie skryfbehoeftes is wat die kinders aanstaande jaar kan gebruik nie.” Nikki sê ’n mens sal nie daarmee kan wegkom om niks in Januarie te eet nie, maar dit is dalk ’n goeie idee om Januarie met geen drank nie aan te pak. “Dit kan vir sommige mense goed vir die figuur en die sak wees.” Sy stel voor jy koop vroeg in Desember langleef-kosprodukte en skoonmaakmiddels sodat jy voorraad het wanneer jy ná die vakansie terugkeer huis toe. “Sorg dat jy jou yskas en vrieskas dolleeg eet voor jy met vakansie gaan. Daar kan ’n kragonderbreking in die vakansie wees en dan gooi jy as’t ware kos en geld in die asblik,” sê Nikki. Sy dink dit is ’n goeie idee om jou vakansiemaaltye so te beplan dat jy oorskietkos ten volle benut. “Daar bly altyd braaivleis oor. Braai net elke tweede dag of maak die volgende oggend ’n Spaanse omelet met die vleis wat oorgebly het saam met uie, soetrissie, eiers, olywe, tamaties en kaas. “Neem jou gaskoeldrankmasjien saam op vakansie om sodawater te spaar en ’n paar plastiekbottels om koue water in die yskas te hou. Gebottelde water is duur en veroorsaak rommel.” Neem jou eie fles met koffie saam strand toe en pak jou eie padkos in, sê Nikki. “Sommige vulstasies het die opsie waar jy R5 vir kookwater kan betaal. Jy kan ook probeer om mooi te glimlag – dalk kry jy dit gratis en dit is goedkoper as R80 vir vier koppies koffie.” Nikki stel voor jy kry iemand wat in jou omgewing woon om na jou honde te kyk. “Die tarief vir twee honde by die hondeherberg is amper net so duur soos ’n vliegtuigkaartjie Parys toe.” As jy kinders op skool het, maak seker jy het vir die volgende begroot (afhangende van hoe oud jou kind is): Skryfbehoeftes soos kleurpotlode, kryte, penne, potlode, liniaal, uitveër, skêr, potloodsakkie, gom en skerpmaker. Onthou ook die kosblik, koeldrankbottel wat nie lek nie, boekesak, skoolskoene wat pas, sportuitrustings, sakrekenaar, huiswerkboek, sneesdoekies en sambreel.
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/geldsake/maak-so-seker-jy-oorleef-finansieel-tot-die-volgende-betaaldag/
Kyk hoe baljaar die Wincklers tussen die branders
Dit lyk of die sanger Heinz Winckler en sy gesin omtrent die see en son geniet! Great family time yesterday at the beautiful Jacobsbaai. What a spot! #celebratefamily @alettewinckler A photo posted by Heinz Winckler (@heinz.winckler) on Dec 19, 2016 at 4:04am PST Van visvang tot luilekker dae op die strand. Heinz en sy vrou, Aletté-Johanni, en hul drie seuns, Lian (6), Simeon (4) en Reuben (2), geniet hulle gate uit tydens die Desembervakansie. Fishing fun with my fantastic fraternal! #summerChristmas #saholidays A photo posted by Heinz Winckler (@heinz.winckler) on Dec 17, 2016 at 9:23am PST Too much hotness! Die oudste en jongste #maartmanne @heinz.winckler A photo posted by Alette-Johanni Winckler (@alettewinckler) on Dec 18, 2016 at 9:33am PST Blessed beyond measure! A photo posted by Alette-Johanni Winckler (@alettewinckler) on Dec 18, 2016 at 9:31am PST Die paartjie en hul kroos gaan Kersfees by Heinz se ouers, Theo en Elsa Winckler, op Bettiesbaai deurbring. Ons het by Aletté-Johanni, ’n ma van drie en voorkomskonsultant en stilis, gaan hoor wat hulle vir Kersfees en die Nuwejaar beplan… Wat beplan julle vir die Kersvakansie? Ons is meestal hier by die huis in Somerset-Wes (in die Kaap). Ek en Heinz reis albei so baie deur die jaar dat dit vir ons ’n voorreg is om net ons huis te geniet en dis die eerste Desember wat ons nou die swembad en als ingesit het en die tuin is reg en ons bly immers in ’n vakansiedorp so ons gaan net hier bly. Wat beplan julle vir Kersfees en Nuwejaar? Ons gaan vir Kersfees ’n bietjie Bettiesbaai toe na Heinz se ouers toe. Nuwejaar geniet ons gewoonlik saam met vriende. Wat is van die Kerstradisies wat julle elke jaar volg? Oukersaand is dit gewoonlik presente oopmaak tyd en dan het ons Kersvader. Dis gewoonlik ’n oupa of oom wat in ’n pak moet kom. Die oudste enetjie, Lian, weet nou al wat aangaan en hy maak lekker grappies daaroor. Kersfees gaan altyd gepaard met heeltemal te veel eet en almal sê dit altyd. Is daar iets op die Kerstafel waarna jy die meeste uitsien? O genade! Daar is heeltemal te veel goed op die Kerstafel waarna ek persoonlik baie uitsien. Dis gewoonlik my skoonma se poedings. My skoonma maak haar eie roomys, sulke peppermint crisp en karamel roomys wat regtig mal lekker is. En ook gemmerpoeding. Enigiets wat my skoonma maak is belaglik. Sy is soos ’n secret sjef. Wat was vir jou van die hoogtepunte en laagtepunte van 2016? Daar was baie hoogtepunte. Die Here was vir ons baie goed hierdie jaar. Ek is onlangs aangewys as die nuwe uitvoerende hoof van die South African Image Academy wat nogals amazing is. Nog ’n hoogtepunt is Heinz se (Christelike) album (The Roar) wat so ongelooflik deur die hele volk opgeraap is. Die laagtepunt sal seker die 10 kilos wees wat ek nog nie hierdie jaar verloor het nie!
http://www.huisgenoot.com/bekendes/kyk-hoe-baljaar-die-wincklers-tussen-die-branders/
2016-12-19 12:04:32
Seun (10) vermink ná dokter se hand gly tydens besnydenis
’n Deel van ’n jong seun se penis is afgesny nadat ’n roetine-besnydenis by ’n “ongeregistreerde kliniek” lelik skeefgeloop het. Die seun (10), wie se naam nie bekend gemaak is nie, is 20 Desember ingeboek vir ’n besnydenis by ’n kliniek net buite Maleisië se hoofstad Kuala Lumpur. Volgens berigte het alles goed verloop, tot die dokter se skalpel, wat met ’n laser werk, gegly het en ’n deel van die seun se penis morsaf gesny is. Metro berig die seun se pa het rustig buite die prosedure-kamer gesit en wag, toe mediese personeel hom inlig sy seun se penis is per ongeluk vermink. Die tienjarige is inderhaas na ’n hospitaal in Kuala Lumpur gehaas waar ’n spesialis daarin kon slaag om die twee dele van sy penis weer bymekaar te voeg. Daar word gesê dat die dokter wat die prosedure uitgevoer het meer as 21 jaar se ervaring in die mediese bedryf het. Die kliniek, wat self al 15 jaar lank besigheid doen, was wel nie geregistreer by Maleisië se gesondheidsraad nie. Intussen het die dokter ’n verslag saamgestel oor wat presies tydens die prosedure gebeur het, en volgens hom was dit ’n ongeluk. Die seun se pa het wel ’n klag by die polisie ingedien. Maleisië beskik oor ’n groot Moslem-gemeenskap waarin jong seuns gewoonlik voor of op tienjarige ouderdom besny word. Bronne: Metro; Mirror
http://www.huisgenoot.com/nuus/internasionaal/seun-10-vermink-na-dokter-se-hand-gly-tydens-besnydenis/
Jou sterre vir Vrydag, 30 Desember 2016
Hier is wat jou sterre vandag voorspel, met Joanne Moore. JOU DAG Vandag se sterre is voordelig vir kreatiewe projekte en spirituele strewes. AS JY VANDAG VERJAAR Jy is pragmaties en hoogs vaardig. Jy kan egter ook baie baasspelerig wees. In 2017 moet jy skeppende idees in konkrete projekte omskep. RAM 21 Mrt.-20 Apr. Die planete vuur jou rustelose geaardheid aan. Dit is tyd vir ’n paar prominente, groot skuiwe. Jou huidige motto kom van die Franse skrywer Émile Zola (1840-1902): “Ek is hier om myself luidkeels uit te leef.” BUL 21 Apr.-21 Mei Dit kan lyk of ’n doelwit of aspirasie ’n knou kry. Moenie stres nie. Wees proaktief en geduldig (al is dit ’n moeilike kombinasie); dan sal jy jou spesiale droom kan verwesenlik. TWEELING 22 Mei-21 Jun. Wat ’n professionele projek of probleem betref, benut jou intuïsie om met ’n kreatiewe plan vorendag te kom. Gee ook aandag aan jou drome. Probeer hulle iets sê? KREEF 22 Jun.-23 Jul. Met Mercurius wat agteruit deur jou verhoudingsone beweeg, moet jy nou veral deernisvol en geduldig wees – veral teenoor jou romantiese of besigheidsmaat. LEEU 24 Jul.-23 Aug. Positiewe son/Neptunus-aspekte sorg vir 24 uur vol kreatiwiteit en deernis. Hoe meer liefde, vrygewigheid en hulp jy ander bied, hoe meer sal jy ontvang. MAAGD 24 Aug.-23 Sept. Probeer buigsamer wees wat ’n problematiese intieme verhouding betref. As jy ’n kombinasie van intellek en intuïsie gebruik, sal jy ’n geliefde heelwat beter begin verstaan. WEEGSKAAL 24 Sept.-23 Okt. Die fokus is vandag op die gesin terwyl jy besig bly met ’n magdom take. ’n Geliefde het dalk verbasende nuus, maar kry eers al die feite voor jy gevolgtrekkings maak. SKERPIOEN 24 Okt.-22 Nov. Wat ’n knaende probleem met ’n kind, tiener of vriend betref, sal ’n proaktiewe en simpatieke benadering die beste langtermynresultate oplewer. Streef daarna om voortdurend vlot te kommunikeer. BOOGSKUTTER 23 Nov.-21 Des. Die sosiale Venus moedig jou aan om aktief te raak in jou plaaslike gemeenskap. Doen jou bes om verhoudings met bure te vertroetel en ontdek opwindende nuwe kontakte verder weg. STEENBOK 22 Des.-20 Jan. Die maan beweeg deur jou teken; jy gaan dus heel tuis voel. Jy is in ’n bui vir harde werk. Maak seker jy ruim tyd in vir persoonlike projekte wat ’n lied in jou hart sit. WATERDRAER 21 Jan.-19 Feb. Waterdraers haat dit om ingeperk en ingehok te voel; julle verkies om wild en vry te wees. Met Jupiter wat deur jou reissone beweeg, is dit tyd om in die nabye toekoms ’n reis iewers heen te beplan. VISSE 20 Feb.-20 Mrt. Uitmuntende son/Neptunus-aspekte verhoog jou sensitiwiteit, kreatiwiteit en spiritualiteit. Jy gaan ook baie simpatie en deernis vir mense in nood ervaar terwyl jy ’n helpende hand uitreik. © Joanne Madeline Moore
http://www.huisgenoot.com/jou-sterre/jou-sterre-vir-vrydag-30-desember-2016/
Ma se hartroerende brief ná eerste Kersfees sonder haar geliefde Johnathan
Sy sukkel om woorde te kry, maar sy wil graag vir haar geliefde Johnathan ’n brief skryf, oor hoe hulle hom hierdie Kersfees mis. Vier maande ná die dood van die seun met die “verwronge lyfie maar ’n volmaak vlekkelose hart” bly sy plek pynlik leeg in sy ma, Johleen Bezuidenhout (32), en haar lewensmaat, Quintin Carter (43), se huis in Blouwaterbaai naby Port Elizabeth (Rus sag, dapper vegtertjie, 1 September 2016). Tog is hy steeds deel van hul lewe. Sy oupa en ouma, Johan en Doreen Bezuidenhout, voel nog sy teenwoordigheid aan in hul huis hier naby in Swartkops, waar Johnathan vir die grootste deel van sy lewe saam met sy ma gewoon het, vertel Johleen. Ouma Doreen was een oggend, net ’n paar dae ná sy dood, besig om haar te grimeer toe die son op die slaapkamerdeur skyn. Toe sien sy dit vir die eerste keer: ’n duidelike afdruk van Johnathan se twee geknobbelde handjies in die ligstrale op die hout. “Hoe lank is dit al daar?” wonder Johleen nou. Dit was met die jare vir die dokters moeilik om te besluit aan watter seldsame, genetiese toestand haar erg gestremde kind gely het. Teen sy twaalfde verjaardag het hulle gemeen dit is mukopolisakkaridose, ’n toestand wat by net een uit ’n miljoen geboortes voorkom en onder meer tot misvormde ledemate lei. Sedert ’n beroerte meer as ’n jaar gelede, het hy ál maerder en swakker geword. En nou lê die eerste Kersfees sonder Johnathan vir sy familie voor. Dan vind Johleen tog die woorde om ’n roerende brief aan hom te skryf: My Johnathan, die helderste ster daarbo, Op 11 Augustus 2016 om 09:45 het jy, my klein Superman, ons verlaat. Dit was een groot skok, maar ek weet jy het so lank geveg en ek kon sien jy was moeg. Kort-kort het jy na jou asem gesnak. Ek kon sien jy wag op my toestemming om jou oor te gee aan Liewe Jesus, maar hoe leef ek met so ’n gewete saam? Sal jy my ooit kan vergewe dat ek besluit het om jou te laat gaan? Vier ure lank het die personeel van die St. George-hospitaal se kindersaal gesukkel om >i Die monitors se alarms het bly afgaan en ek was vreeslik onrustig. Ek en jou ouma het jou handjie styf vasgehou en vir jou gesing. Jy het met jou groot, bruin ogies vir ons die laaste kyk gegee en ’n laaste traan het oor jou wang gerol. Met die laaste asem het jou hartjie gaan staan. Ons weet jou engele en liewe Jesus het daar langs jou bed gestaan om jou te kom haal. Die afgelope vier maande huil ek elke keer dat ek in die winkels rondloop en die Kersliedjies hoor speel en wanneer mense vra: “Wat wil jy vir Kersfees hê?” Dis ’n persent wat ek nooit sal terugkry nie, want jy is vanjaar en elke jaar wat voorlê, by Liewe Jesus. Jy, Johnathan, sal altyd die grootste geskenk wees wat Jesus my kon gee. Kersfees gaan ’n dag van baie seer wees en ek vra my af hoe ek daardeur gaan kom. Dan herinner ek my daaraan Johnathan sou wou gehad het ons moet met dankbaarheid deur hierdie dae kom. Hy kon nooit praat nie, maar hy sou gesê het: “Verbly julle.” Jou boodskap vir ons almal was: Wees dankbaar vir elke oomblik wat jy saam jou geliefdes het. Baie liefde, Jou trotse Mamma.
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/ma-se-hartroerende-brief-na-eerste-kersfees-sonder-haar-geliefde-johnathan/
45 minute sonder pols en sewejarige leef steeds ná verdrinkingsvoorval in vakansiedorp
Volhardende paramedici het ’n sewejarige seun wat langer as 45 minute geen pols gehad het nie bygebring, het veiligheidsdienste Woensdag gesê. Volgens Kyle Van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het die seun om sy lewe geveg ná ’n “verdrinkingsvoorval” by ’n gewilde hotel in Umhlanga Rocks, noord van Durban. Kyle het gesê nooddienste is kort ná 14:00 na die toneel ontbied toe die seun gevind is waar hy bewusteloos in die hotel se swembad dryf. “Die kind is uit die water gehaal en daar is gevind hy het hartstilstand. ’n Gas by die hotel wat toevallig ’n gekwalifiseerde mediese dokter is, het dadelik met kardio-pulmonêre resussitasie begin terwyl ’n oproep om bystand gemaak is.” Kyle het gesê tydens gesamentlike pogings van verskeie nooddienste, onder meer Crisis Medical en Netcare 911, het “paramedici langer as 45 minute onvermoeid gewerk voor ’n pols herstel is”. “Die seun is dadelik per Netcare 911-ambulans onder volgehoue gevorderde lewensondersteuning-monitering na die Umhlanga-hospitaal gehaas waar hy in ’n kritieke, maar stabiele, toestand is,” het hy gesê. Bron: News24
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/45-minute-sonder-pols-en-sewejarige-leef-steeds-na-verdrinkingsvoorval-in-vakansiedorp/
Wat moet jy maak as iemand verstik?
Ons almal was in ’n situasie waar iemand effens verstik het. Maar hoe gemaak wanneer iemand in jou geselskap se lewe werklik in gevaar is weens iets wat hul lugweg blokkeer. Die noodwerkers van Crisis on Call (www.crisisoncall.co.za) vertel hier wat jy dan moet doen. Hou dit byderhand, want jy kan iemand se lewe red. Verstikking Wat is die tekens dat iemand verstik? Wanneer die persoon se keel net gedeeltelik geblokkeer is, sal hy nog kan hoes en proes. Maar wanneer hy glad nie kan asem kry nie, sal die persoon na sy keel gryp angstig en verbaas lyk se gelaatskleur blouerig vertoon eindelik sy bewussyn verloor. BEHANDELING: Hoe behandel ek iemand wat gedehidreer is stap-vir-stap? As die persoon kan praat, hoes of huil, moet jy hom/haar aanmoedig om daarmee voort te gaan. Hou die persoon so kalm as moontlik. As die persoon nie kan praat, huil of hoes nie, doen die volgende: Ontbied die nooddienste Vra die persoon om sy mond oop te maak. As jy die voorwerp kan sien, verwyder dit met jou vingers. As die voorwerp onsigbaar is, moenie jou vingers in die mond insteek nie. Jy kan dalk die voorwerp onwetend dieper indruk. Moenie iemand wat ouer as een jaar oud is op die rug slaan nie. Dit kan die voorwerp nog stewiger laat vassit. Heimlich-maneuver vir persone vanaf geboorte tot een jaar oud: Hou die baba oor jou voorarm met die gesig na onder en gee vyf harde houe met die palm van die hand tussen die skouerblaaie Draai die baba om en dien vyf borskas drukke met die palm van die hand/of die vingers toe. Trek ’n streep tussen die twee tepels en druk op die borsbeen net onder hierdie streep. Kyk in die mond of die obstruksie losgekom het. As dit in die mond lê, verwyder dit met jou vingers. Indien nie, herhaal die prosedure tot die obstruksie losgekom het en in die mond is. Heimlich-maneuver vir persone ouer as een jaar oud: Staan agter die persoon en sit jou arms om die persoon se middel onder die borsbeen en vat jou hande voor vas. As die persoon swanger of baie groot is, skuif jou arms hoër op tot jou arms om die persoon kan gaan. Maak ’n vuis teen die persoon se lyf. Gryp die vuis met u ander hand vas en gee vier vinnige kragtige inwaartse en opwaartse drukke. Herhaal ses tot 10 keer tot die lugweë skoon is. As die persoon sy bewussyn verloor, lê hom op sy rug neer en hurk oor hom. Dien vier vinnige, kragtige opwaartse houe toe met die palm van jou hand net onder die borsbeen. Hou die elmboë reguit. Draai die persoon se kop sywaarts en kyk of die voorwerp losgekom het. Herhaal tot die lugweë skoon is. Heimlich-maneuver op jouself wanneer jy alleen is: Leun vooroor oor ’n stoel met ’n regop rugleuning. Plaas jou vuiste net onder jou borsbeen. Val neer op die stoel sodat jou vuiste met ’n opwaartse beweging op die abdomen druk. Persone wat hul bewussyn weens verstikking verloor het, moet altyd deur ’n dokter gesien en ondersoek word.
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/gesondheid-leefstyl/noodhulp-reeks-verstikking/
Kyk: Kung fu-held skop selfoondief van sy bromponie af
’n Video wat wys hoe ’n Chinese man ’n man na bewering sy selfoon gesteel het reg sien, het Donderdag behoorlik die internet aan die gons gehad. Dié voorval, wat het homself in Foshan in die Suid-Ooste van China afspeel, wys hoe die man, wie se naam nog onbekend is aan Westerse media, in sy vragmotor besig is om ’n oproep te maak toe die opportunistiese grypdief sy selfoon deur die venster gaps en wegjaag op sy bromponie. Wat hý nie mee rekening gehou het nie, is dat dié vragmotorbestuurder ook ’n Kung fu-meester is. Toe die dief later die oggend deur dieselfde omgewing verby ry, was die bestuurder reg vir hom. CCTV-materiaal wys hoe die bestuurder oor die pad hardloop en die skobbejak van sy bromponie afskop. Bykomende bronne: MailOnline, NowThisNews
http://www.huisgenoot.com/nuus/internasionaal/kyk-kung-fu-held-skop-selfoondief-van-sy-bromponie-af/
’n Maklike selfdoen-manikuur
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/skoonheid/selfdoen-manikuur/
Jou sterre vir Woensdag, 28 Desember 2016
Hier is wat jou sterre vandag voorspel, met Joanne Moore. JOU DAG Vandag gaan dol wees; markeer jou pas. AS JY VANDAG VERJAAR Jy is ’n selfversekerde, gesofistikeerde siel. Sluit in 2017 ontspanning by jou daaglikse roetine in. RAM 21 Mrt.-20 Apr. Moenie aannames maak nie. Maak seker jy het al die feite en syfers voor jy ’n besluit neem. Wat ’n moeilike verhouding betref, moet jy meer proaktief wees om ’n bevredigende oplossing te vind. BUL 21 Apr.-21 Mei Vandag se sterre belig opvoeding en internasionale verbindings; dit is dus ’n goeie tyd om ’n nuwe studierigting vir 2017 te beplan. Mercurius is nog in trurat, so wees versigtig wanneer jy boodskappe aan vriende in die buiteland stuur. TWEELING 22 Mei-21 Jun. Moenie verbaas wees as dit vandag moeilik is om met ’n geliefde saam te werk nie. Dit gaan moeilik wees om uit te pluis wat hy/sy bedoel, so moenie eens probeer nie. Geniet eenvoudig die vakansie. KREEF 22 Jun.-23 Jul. Onthou, Mercurius beweeg steeds agteruit deur jou huishoudelike sone. Wees ekstra taktvol wanneer jy met gesinslede kommunikeer as jy probleme wil systap. En begin sommer nou. LEEU 24 Jul.-23 Aug. Alle soorte studie en navorsing word vandag bevoordeel terwyl jy jou kundige brein inspan. ’n Kind, tiener of vriend/in het iets gewigtigs op die hart; maak seker jy luister werklik. MAAGD 24 Aug.-23 Sept. Die maan en Saturnus moedig jou aan om jou gevoelens op ’n reguit manier oor te dra. Familie en vriende sal ongeduldig wees as jy te lank dink. Sê eenvoudig wat jy op die hart het. WEEGSKAAL 24 Sept.-23 Okt. Vriendskap en pret word vandag bevoordeel terwyl jy aan vakansiebedrywighede deelneem en saam met vriende en familie kuier. Volg jou instinkte as jy ’n belangrike besluit moet neem. SKERPIOEN 24 Okt.-22 Nov. Vandag moet jy ekstra taktvol wees, anders gaan jy jou reg in die middel van ’n plofbare familievete bevind. Emosies loop hoog; kies jou woorde met wysheid. BOOGSKUTTER 23 Nov.-21 Des. Avontuurlike Boogskutters is steeds in die luim vir hope vakansiejolyt en familiepret. Jy is uitbundig, want die sterre vuur jou baldadige sy – en jou ingebore ongeduldigheid – aan. STEENBOK 22 Des.-20 Jan. Jou kop, hart en intuïsie kan vandag tou trek terwyl jy sukkel om ’n besluit te neem. Laat die wyse stemmetjie in jou binneste jou lei. WATERDRAER 21 Jan.-19 Feb. Kwessies uit die verlede kan vandag jou oordeel beïnvloed. Geniet die vakansietyd, maar neem eers later, wanneer jy weer meer rasioneel dink, belangrike besluite. VISSE 20 Feb.-20 Mrt. Dit is die ideale dag om op die hoogte te kom van familie en vriende se sake terwyl julle jul verwagtinge, drome en versugtinge vir die komende jaar deel. Dan kan julle jul Nuwejaarsvoornemens agtermekaar begin kry. © Joanne Madeline Moore
http://www.huisgenoot.com/jou-sterre/jou-sterre-vir-woensdag-28-desember-2016/
Jou sterre vir Donderdag, 22 Desember 2016
Hier is wat jou sterre vandag voorspel, met Joanne Moore. JOU DAG Dit is tyd om die sonkeerpunt op jou eie, spesiale manier te vier. AS JY VANDAG VERJAAR Jy kan soms baie nougeset wees en onverbiddelik oor jou sienings. In 2017 moet jy buigsamer wees – geestelik en fisiek. RAM 21 Mrt.-20 Apr. Moenie nou baie steun van gesinslede verwag nie; hulle het hul eie probleme om op te los. Dit is tyd vir die sonkeerpunt; streef daarna om meer balans en harmonie in jou besige wêreld te kry. BUL 21 Apr.-21 Mei ’n Verhouding met ’n kind, tiener of vriend gaan dalk vandag getoets word terwyl jy uitvind wat hul ware agenda is. Toegewings word benodig – van albei kante af – as jy dinge weer wil laat vlot. TWEELING 22 Mei-21 Jun. Soos jy deur die vakansietyd jaag, moet jy versigtig dink voor jy enigiets omstrede sê of doen – veral teenoor ’n gespanne geliefde. Onthou: ’n Mens kan lank spyt wees oor iets wat jy oorhaastig gedoen of gesê het. KREEF 22 Jun.-23 Jul. Jupiter is tot Oktober in jou huishoudelike sone; daarom is jy rusteloos en gretig om te reis, te verhuis of opknappingswerk te doen. ’n Problematiese gesinsverhouding behoort te verbeter. LEEU 24 Jul.-23 Aug. Het jy frustrerende probleme met ’n geliefde ervaar? Dit is tyd om die regverdigingsbaadjie uit te trek en eerder die olyftak van vrede uit te hou. Probeer die saak van albei kante sien. MAAGD 24 Aug.-23 Sept. Neem spesiale sorg met finansies en vriende. Moenie ander kritiseer nie, al word dit ook hoe opbouend bedoel. Probeer om jou gedagtes op die positiewe gefokus te hou. WEEGSKAAL 24 Sept.-23 Okt. Jy gaan vandag gemaklik en goed gebalanseerd voel omdat die maan deur jou teken beweeg. Dis ook die ideale tyd om ’n intieme verhouding te vertroetel wat effens afgeskeep is. SKERPIOEN 24 Okt.-22 Nov. Hoe meer jy dinge vandag probeer beheer, hoe meer buite beheer gaan jy voel. Konsentreer op persoonlike projekte en hou jou neus uit ander se sake. BOOGSKUTTER 23 Nov.-21 Des. Boogskutters lok dikwels goeie geluk van ver, maar op die oomblik gaan dit vrugte afwerp om kontakte in jou plaaslike gemeenskap te koester. Moet egter nie meer beloof as wat jy bereid is om te lewer nie. STEENBOK 22 Des.-20 Jan. Met hierdie sonstilstand is die spesiale boodskap aan jou om die balans tussen professionele sake en gesinsverantwoordelikhede reg te kry. As jy net heeltyd werk en geen pret het nie, gaan dit jou feestyd bederf. WATERDRAER 21 Jan.-19 Feb. Die huidige sterstand moedig jou aan om ’n balans te kry tussen sosiaal wees en stil alleentyd om na te dink oor jou hoop, drome en wense vir 2017. Vir rustelose Waterdraers sal afwisseling die lewe opkikker. VISSE 20 Feb.-20 Mrt. Aanpasbaarheid is vandag nodig, maar jy is uitstekend daarmee. Verander jou benadering na gelang van die uitdagings wat ophoop. Luister ook fyn na wat ’n wyse geliefde te sê het. © Joanne Madeline Moore
http://www.huisgenoot.com/jou-sterre/jou-sterre-vir-donderdag-22-desember-2016/
Tanderinge kan babas se gesondheid om dié rede benadeel
In ’n onlangse studie is bevind ’n chemikalie waarmee weggedoen is by bababottels en -bekers, word steeds algemeen in tanderinge gebruik. Amerikaanse navorsers het 5 000 van dié toestelle getoets en bevind al die ringe bevat bisfenol-A (BFA) en ander chemikalieë wat endokriene (buislose kliere) ontwrig. Studies op diere het getoon endokrienontwrigters meng met hormoonwerking in en dit beïnvloed ontwikkeling, voortplanting en neurologie negatief. Gevolglik het die Europese Kommissie in 2011 die gebruik van BFA in bababottels ingekort. ’n Jaar later het Amerika die gebruik daarvan in bababottels en drinkbekers vir kinders verbied. Die navorsers het ook opgemerk die meeste van die tanderinge wat hulle getoets het, het BFA bevat, al is op die produk aangedui dit bevat geen BFA nie en is nietoksies. Bowendien het die tanderinge almal parabene en die antimikrobiese agense triklosan en triklokarban, wat ook endokrienontwrigters is, ingehad. Lees ook: Die storie van ‘n blou bekertjie met twee ore gaan jou hart vermurwe “Die bevindings kan gebruik word vir die ontwikkeling van toepaslike beleide om kinders te beskerm teen die blootstelling aan potensieel giftige chemikalieë wat in tanderinge gevind word,” het die skrywers verklaar. Babas kou aan tanderinge om hul tandvleis te streel terwyl hulle tande kry, gewoonlik tussen die ouderdom van drie tot sewe maande. Die moontlike teenwoordigheid van skadelike chemikalieë in tanderinge is dus kommerwekkend, veral ook omdat die navorsers sê BFA en ander chemikalieë kan vanuit die tanderinge in water beland. Tydens die ondersoek is 59 soliede, jel- of watergevulde tanderinge bekyk wat aanlyn in Amerika gekoop en toe getoets is vir 26 chemikalieë wat endokrienontwrigtend kan wees. Die studieresultate is die eerste keer in die Amerikaanse Chemiegenootskrif se tydskrif, Environmental Science & Technology, gepubliseer. © Cover Media
http://www.huisgenoot.com/leefstyl/superma/raad-superma/tanderinge-kan-babas-se-gesondheid-om-die-rede-benadeel/
Aktiviste vra dat Gerrie Nel die moordsaak teen Poppie se ma, stiefpa hanteer
’n Donker Kersfees lê voor vir die Koekemoers en dalk nog ’n donkerder nuwe jaar met die Geregtigheid vir Poppie-aktiviste wat vra dat die welbekende Bulhond, adv. Gerrie Nel, die saak teen Louisa en Kobus hanteer… Die kanse dat Louisa Koekemoer, ma van die vermoorde driejarige kleuter Poppie van der Merwe, voor Kersfees in ’n dringende aansoek om borgtog in die Noord-Gautengse hooggeregshof gaan slaag, raak al hoe skraler. Sy sal waarskynlik Oukersaand steeds in die selle op die grond slaap. Kobus Koekemoer (43), Poppie se stiefpa, se doppie is ook reeds geklink aangesien hy ook eers weer op 25 Januarie in die hof sal verskyn. Intussen het die Geregtigheid vir Poppie-aktiviste besluit om ’n petisie aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voor te lê om die welbekende staatsadvokaat Gerrie Nel op klein Poppie se moordsaak te sit wanneer dit ook na verwagting volgende jaar in die hooggeregshof begin. Die hofrekords van Louisa (45) se vorige mislukte borgaansoek Maandag in die Brits-landdroshof, was teen Donderdag getranskribeer, maar nog nie in die hande van haar regspan om teen landdros Jethro Mosime se beslissing in die hooggeregshof te gaan appelleer nie. Dié rekords is nodig om vir die dringende aansoek voor te berei. “Dit is onwaarskynlik dat dit voor Kersfees gaan gebeur,” het Adrian Nell, Louisa se regsverteenwoordiger aan Huisgenoot gesê. “Almal is al met vakansie, so dit gaan moeilik.” Hy het Huisgenoot egter verseker hulle gaan met alles in hul vermoë steeds probeer voortbeur. Adrian glo nie sy kliënt, wat soos haar man van moord aangekla word, is ’n vlugrisiko nie en hou vol sy het deurentyd haar samewerking aan die polisie gegee. Haar sieklike ma, Susan Bothma (69), is ook sonder heenkome gelaat terwyl haar dogter agter tralies is. Poppie is Dinsdag, 25 Oktober, oorlede op ’n opstal naby Mamogaleskraal buite Brits, waar die gesin gewoon het. Poppie, wat ook ’n boetie het, is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar en Kobus is dieselfde aand aangekeer. Die hof het gehoor die amptelike oorsaak van Poppie se dood was kopbeserings wat deur ’n stomp voorwerp toegedien is. Sers. Gift Matome, die ondersoekbeampte, het in sy getuienis gesê die dogtertjie het voor haar dood verskeie beserings oor haar hele lyf opgedoen, maar Louisa het dit nooit aangemeld nie. Hy is van mening daar was geen manier dat Louisa nie van die beweerde mishandeling bewus was nie. Sy het ook verskeie weergawes gehad van wat daardie dag gebeur het. Die Geregtigheid vir Poppie-aktiviste se versoek om mense aan boort te kry om Gerrie op die saak te kry, word wyd op sosiale media gedeel. Hulle wil hê die egpaar moet albei “minstens lewenslank” sit vir wat na bewering aan dié engelkindjie gedoen is. Adv. Gerrie Nel, wat hom graag vir geregtigheid van vroue en kinders beywer, het internasionaal bekendheid verwerf toe hy die staatsaanklaer was in die hofsaak waartydens die paralimpiese atleet Oscar Pistorius aangekla is vir die dood van sy meisie, Reeva Steenkamp. Hy staan as die “Bulhond” van die NVG bekend aangesien hy tot die bitter einde veg en as hy sy kop daarop gesit het dat iemand skuldig is nie laat los nie.
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/aktiviste-vra-dat-gerrie-nel-die-moordsaak-teen-poppie-se-ma-stiefpa-hanteer/
Lyk van pasgebore baba tussen vullis gevind
Die lykie van ’n pasgebore baba is Dinsdag verlate in ’n vullisblik in Ester Robertsweg in Davenport, KwaZulu-Natal, gevind, het paramedici gesê. Woordvoerder vir Rescue Care, Garrith Jamieson, sê hulle is net na 11:00 Dinsdagoggend na die toneel ontbied waar paramedici die baba in ’n swartsak langs die pad aangetref het. Met hul aankoms was die baba reeds dood. Garrith kon nie onmiddellik bevestig of die babatjie ’n seun of ’n dogtetjie was nie. Die polisie ondersoek die saak. Bron: News24
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/lyk-van-pasgebore-baba-tussen-vullis-gevind/
Jong pa maak hart oop oor die uitdagings van vroeggeboorte en (bors)voeding
Die eerste dae van vaderskap is uitdagend om die minste te sê. Een so jong pa, Andries de Beer, lig die sluier oor slapeloosheid, laataand-voeding en die uitdagings wat kom saam met vroeggeboorte. Dis vreemd hoe ’n mens se liggaam gewoond raak aan min tot geen slaap. Die hoop en illusie beskaam nie dat jy wel eendag ’n goeie nagrus gaan hê. Dis nie dat jy glad nie slaap nie; inteendeel, as jy die ure bymekaartel, klink dit heel billik en heeltemal normaal. Maar dis die onderbroke slaap wat ’n mens vang. Die eerste week jaag elke piep en kwê jou op, saam met die opwinding en onsekerheid en die feit dat die klein bliksempie nie die bors wil vat nie. Terwyl sy moeder dus sit en uitpomp (elke twee uur), verander jy in die melkman – gewapen met ’n spuitnaald en voedingsbekertjie, want die kind moet drink. Die eerste paar sessies as melkman het maar beroerd gegaan, en ná ’n uur se geworstel was daar darem 25 ml in die klein lyfie. Dan die winde (droog en nat), doeke ruil, skoon aantrek en dan hopelik ’n halfuur se slaap voor die proses van voor af begin. Boonop is hondekind Ragel se roetine ook omvergewerp en wil sy skielik gereelder uitgaan om ’n draai te loop. Ek moet wel meld ons geval is ’n bietjie anders is as die meeste mense s’n. Bababeer het op die ouderdom van 28 weke en vyf dae besluit om sy opwagting te maak; dus het ons gesit met ’n vroeggebore seuntjie wat ons nie graag weer hospitaal toe wou stuur nie, want 66 dae daar was genoeg. So dit was van uiterse belang dat hy drink en gewig aansit. Week vir week, gram vir gram, ná boererate en borsvoedingsklinieke, begin die vetjies bykom. Tog was dit ’n onheilspellende stilte voor die storm. Hy was drie weke tuis en het net ’n roetine begin ontwikkel toe ons weer ontnugter word; melkkoors oftewel “mastitis” is nie vir sissies nie. Veral nie as die ontsteking die vorm van ’n tennisbal aanneem en jou vrou weer by die hospitaal ingeboek moet word nie. Die “vinnige operasie” raak toe ’n naweek in die hospitaal en siedaar: Dis my en bababeer se eerste mannenaweek by die huis. Dit was nou nie presies wat ek in gedagte gehad het nie, maar ons het toe darem al ’n bietjie van ’n roetine gehad en dit so half en half probeer volhou. Maar skielik was die melkfonteintjie droog en moes pa noodgedwonge ’n blik poeiermelk aanskaf en hoop vir die beste. Gelukkig kan ek lees. En Google is mos ’n boesemvriend? Genadiglik was die oorgang na die poeiermelk nie so dramaties nie en kon ek steeds die titel as melkman behou. Sowat twee maande gelede was pa en seun saam in die hospitaal. Weer was dit nie die volmaakte eerste uitkamp-uitstappie waarop ek nog altyd gehoop het nie. Tog was dit steeds ’n kans om die lewe saam met my seun aan te durf. Op 26 Desember was dit ’n jaar sedert ons seun se geboorte. Ons kind is spekvet en gesond en seil die hele wêreld vol. Slaap bly iets wat ons voortdurend ontwyk, maar sommige nagte is dit gelukkig ononderbroke. Maar die mens is nou eenmaal ’n gewoonte dier. Die melkman is nie meer so erg in aanvraag nie en vyfuur in die oggend is nie meer botteltyd nie; dis speeltyd.
http://www.huisgenoot.com/ons-mense/jong-pa-maak-hart-oop-oor-vroeggeboorte-en-borsvoeding/
Huisgenoot-joernalis sê ‘Koebaai aan die rampspoedige jaar van 2016!’
Hulle sê Fidel Castro, die glorieryke of goor (afhangende van jou politieke voorkeur) eertydse Kubaanse leier, het oor die 600 sluipmoordaanvalle oorleef, maar nie eens hy kon 2016 oorleef nie. Wie die “hulle” is wat hierdie kwinkslae uitdink, weet nugter alleen, maar “hulle”, “hul” nefie, skoonsuster, nefie se dogter se vrou se broer se oom se kleinkind — almal — is dit in die sosiale media eens: 2016 was rampspoedig. Maar is dit werklik so? Ja, dit was ’n chaotiese jaar in die wêreld se politieke landskap en plaaslik het pres. Jacob Zuma en sy kornuite se manewales joernaliste soos Pokémon Go-verslaafdes selfone in die hand al twietend van die een skandaal na die ander laat spaander, maar was 2015 regtig so wonderlik en het ’n mens enige waarborge dat 2017 enigsins beter gaan wees? Kan ’n mens uitsien na ’n jaar waarin Donald Trump as die 45ste president van die Verenigde State van Amerika ingelyf word as ’n goeie een? En die aanhoudende terreuraanvalle wat ons gemoedere tot op die jaar se nippertjie teister – sal dit ophou in 2017? G’n mens weet nie, is die eenvoudige antwoord. Wat wel ’n feit soos ’n Nkandla-koei is, is dat onse president, Jacob Gedleyihlekisa Zuma, ’n annus horribilis beleef het. Eers moes hy in die konstitusionele hof die ontbering verduur dat hy ons land se Grondwet oortree het deur nie ag te slaan op adv. Thuli Madonsela (die voormalige openbare beskermer) se verdoemende verslag oor die sogenoemde “veiligheidsverbeteringe” by sy herewoning in KwaZulu-Natal nie. Daarna is in die wandelgange gefluister hy het Nhlanhla Nene (voormalige minister van finansies) verlede jaar in opdrag van sy hegte vriende die Gupta-familie van Saxonwold so onverwags afgedank. Dié sagte geskinder het ’n groot doring in die president se vlees geraak toe die stoere Vytjie Mentor (’n voormalige ANC-parlementslid) op Facebook aanvoer die einste Gupta-broers het haar al voorheen ’n kabinetspos aangebied. Boonop was Zuma op die toneel om haar te bemoedig nadat sy hul aanbod van die hand gewys het, beweer Mentor. Nene se afdanking was ’n groot slag vir die ekonomie en Zuma is gedwing om Suid-Afrika se geldkluis se sleutels weer aan die formidabele Pravin Gordhan te oorhandig. Dié is natuurlik weer op sy beurt met groot trompetgeskal in Oktober van bedrog aangekla, maar adv. Shaun Abrahams (hoof van die nasionale vervolgingsgesag) moes ná ’n maand terugkrabbel en erken die saak teen Gordhan was so dun soos die papier waarop die klagtes aangedui is. Verskeie burgerlike organisasies eis nou Abrahams se kop oor die onnodige skade wat dié skuif die ekonomie berokken het. Intussen het die resultate van die munisipale verkiesing in Augustus onse uBaba (soos die Twitterati na Zuma verwys) se jaar verder versuur: Die ANC moes vir die eerste keer sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het drie groot stede aan opposisiepartye afstaan, en Madonsela se swanesang het die sluier gelig oor die baantjies vir Gupta’s, wat “staatskaping” sweerlik een van ons land se gonswoorde vir 2016 gemaak het. Tog is dit nie net die politiek wat ons vanjaar soms stom gelaat het nie. Ons moes groot geeste soos Leonard Cohen, David Bowie, Alan Rickman en Jans Rautenbach groet en die stukke van ons lewe probeer optel ná die skokaankondiging dat die skone Angelina Jolie die aantreklike Brad Pitt uit hul liefdesnes geskop het. Hoe moet gewone sterflinge – met huisverbande, karpaaiemente en uitstaande e-tol-rekeninge – hul voorstedelike liefde laat gedy as die nimlikes en superrykes hul oënskynlike sprokiesromanse nie kan laat werk nie? Nietemin, in 2016 het die internasionale Brangelina-fenomeen helaas ook gesneuwel. Another one bites the dust. . . Inderdaad. So is die lewe, so is die lot. En voor ek afsluit, net ’n vriendelike aanmaning aan ieder en elk van julle – vriende en familie ingesluit: Ek gaan iets oorkom as ek weer sien of hoor hoe mense mekaar troos dat 2018 beter gaan wees of hulle planne vir 2018 bespreek. Dit is nou 2016. Vriende, 2016 plus een is 2017. Net omdat die slaagsyfer vir wiskunde volgende jaar waarskynlik na 20 persent gaan daal, is dit geen verskoning om laks te raak met basiese hoofreken nie. En hou die goeie moed: Indien 2017 ook ’n katastrofiese jaar is, kan ons minstens tot verdere kennisgewing saam met die voormalige Eskom-baas, Brian Molefe, krokodiltrane huil en ons sorge by die Saxonwold-sjebien gaan verdrink. Met die rasse skrede waarteen tegnologie nou vorder, behoort die ligging van dié misterieuse watergat teen 2017 op GPS-padkaarte op te duik. Soos “hulle” tereg sê: Die hoop beskaam nie.
http://www.huisgenoot.com/nuus/internasionaal/huisgenoot-joernalis-se-koebaai-aan-die-rampspoedige-jaar-van-2016/
2016-12-20 00:00:00
Huisgenoot Mobi
Die lyk van Dion Dumas, ’n polisieman van Malmesbury wat Oukersdag spoorloos verdwyn het, is Dinsdag tussen sy tuisdorp en Atlantis buite Kaapstad gevind. Sersant Denzil Frans van die Atlantis-polisiestasie het die nuus aan Huisgenoot bevestig en gesê dat ’n moordsaak binnekort daar geopen gaan word. “Die provinsiale taakspan is nog op die toneel, so ons wag nog vir verdere inligting voor ons kan voortgaan,” het Denzil bygevoeg. Konst. Henry Durant, die ondersoekbeampte, sê Dion is beslis op ’n onnatuurlike wyse dood. Volgens hom kon hulle nog nie bepaal hoe of wanneer Dion oorlede is nie, maar hy kan wel bevestig dat sy lyk binne loopafstand van ’n Atlantis-nedersetting gekry is. Vier mense is ook reeds aangekeer. “Dis een man en drie vroue. Ons skat hulle almal onder 30,” sê Henry. Volgens hom kan nog arrestasies volg in ’n dag of twee. Dion se motor, ’n wit BMW 318, is ook gevind. Die 57-jarige is sedert Oukersdag vermis nadat hy die middag ’n Kersgeskenk by sy ma se dokter se huis gaan aflewer het. Hy is nie daarna weer gesien nie. Volgens die dokter is hy omstreeks 16:00 daar weg. Die lid van die Malmesbury-polisie het saam met sy ma en een van sy broers gewoon. Sy niggie, die sangeres Jennifer Zamudio, het ook naarstiglik na hom help soek. “Ek is so dankbaar vir almal wat gehelp het om Dion te probeer opspoor,” het sy Dinsdag aan Huisgenoot gesê. “Ons harte is stukkend en ek vra dat julle ons en in besonder die Dumas-familie in julle gedagtes en gebede sal dra”. Dion word oorleef deur sy ma, vyf broers en twee susters.
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/lyk-van-vermiste-malmesbury-polisieman-by-atlantis-gevind/
Dié plaaslike spookstories gaan jou nekhare orent laat staan
Wanneer mense vir ’n aand se gesellige kuier nader skuif aan die braaivleisvuur, is dit gewoonlik die tyd dat die stories begin loop. En natuurlik sal iemand ook kort voor lank ’n spookstorie of twee te vertelle hê. Ons storiekas is immers propvol spookverhale en ander legendes wat op Suid-Afrikaanse bodem afspeel en van geslag tot geslag oorvertel word. Jaco Hough-Coetzee het in dié kas gaan krap op soek na van die bekendste spookverskynsels in die land. Die wreedaardige gifmoordenares (Johannesburg en Pretoria) Daisy de Melker was ’n kort, mollige en vrek lelike vrou met ’n gesplete verhemelte. Boonop het sy ook die vreemde gewoonte gehad om al die mans in haar lewe te vergif – uit pure selfsug. Uit die lewenspolisse en erfporsies van haar eerste twee mans, asook haar volwasse seun, wat die een ná die ander pynlik aan haar hand gesterf het, kon sy ’n heel gemaklike lewe lei. Ongelukkig vir De Melker het die apteker by wie sy die gif gekoop het hond se gedagte gekry. Hy deel toe sy agterdog met die polisie, wat die drie lyke vir ’n ondersoek laat opgrawe. Die apteker was reg: Hul liggame was deurtrek met arseen. Op Vrydag 30 Desember 1932 is De Melker in die Ou Tronk in Pretoria gehang, maar dit was nie die laaste sien van die gifmoordenares nie. So haatdraend soos sy altyd was, en miskien steeds is, spook sy tot vandag nog in feitlik elke plek waar sy gewoon, gewerk en as gevangene aangehou is en ook waar sy gesterf het. ‘n Televisiereeks, waarin Susan Coetzer die rol van Daisy vertolk, is in 1993 op die destydse SAUK uitgesaai. Kon maj. Mathilde Small, wat in 1992 in die Polisiemuseum in Pretoria gewerk het, een van die talle mense wees wat deur De Melker se gees getreiter is? In Junie daardie jaar was Mathilde een middag ná toemaaktyd alleen in die gebou. Skielik het haar interkom gegons asof iemand met haar wil praat, maar daar was niemand aan die ander kant nie. Sy sien toe die “boodskap” kom van die interkomstasie op die eerste vloer en stel ondersoek in, maar daar was niemand in sig nie. So het vir omtrent twee weke elke middag gebeur, presies om 16:40. ’n Tegnikus het na die stelsel kom kyk, maar kon geen fout vind nie. Toe Mathilde tydens een reënerige Vrydagmiddag gereedmaak om huis toe te gaan, gebeur dit weer. Sy het haar bloedig vererg en skree: “Daisy, kom nou tot rus en gaan slaap!” Sy vertel sy weet nie eintlik hoekom sy De Melker se naam geroep het nie; “dit het sommer net op die ingewing van die oomblik gebeur”. Maar “iemand aan die ander kant” was net so vererg: Die interkomgonser het skielik sonder ophou aan- en afgegaan, aan en af. Toe, net so skielik, stop dit. Die gebou wat die Polisiemuseum huisves, was in die 1930’s die polisiehoofkantoor. En ja, dit is in dié einste gebou waar De Melker destyds as verhoorafwagtende ondervra en aangehou is. Dan is daar ook baie vertellings van wagte wat haar soms opmerk in Hof 3 van die Johannesburgse hooggeregshof, waar sy in 1932 verhoor is. Sy wil ook nie finaal afskeid neem van haar huis in Clubstraat in Turffontein, Johannesburg, nie. Dit staan nog, en staaltjies van ’n figuur wat saans deur die venster uitloer terwyl niemand tuis is nie, is volop in die buurt. Duidelik het De Melker haar nie veel gesteur aan Mathilde se opdrag om “tot rus te kom” nie. Die Vlieënde Hollander seil steeds (Kaapstad) Nog een van Suid-Afrika se legendariese spookverhale het in die 17de eeu tydens ’n stormagtige nag naby Tafelbaai ontstaan. Die ongenaakbare Nederlandse skeepskaptein Hendrick van der Decken wou in dié tyd met alle geweld met sy seilskip om Kaappunt vaar, al het sy bemanning smekend volgehou die weersomstandighede is te gevaarlik. Die klein houtskip het hulpeloos rondgedobber en heen en weer gekantel namate die storm vererger het. Met ’n drankbottel in die hand het ’n aggressiewe Van der Decken die matrose swetsend beveel om nog ’n seil te hys terwyl hy die stuur by die bootsman oorneem. Die bootsman het teëgestribbel, maar Van der Decken het hom met een veeg oorboord geeslaan. Van der Decken het niks gevrees nie – nie dié storm nie, en ook nie die duiwel of selfs God nie. Die skip het krakerig voortgebeur. Die kaptein het nog ’n sluk uit sy bottel gevat en vreesloos na Bo gebulder: “Ek sweer ek sal om die verdomde Kaappunt seil, al neem dit my ook tot die oordeelsdag!” Sekondes later was die hemelruim spookagtig verlig en het ’n harde bliksemstraal die skip getref. Dit het in twee gebreek en stadig in die donker water weggesak. Net ’n paar matrose kon die strand met ’n reddingsbootjie bereik om die verhaal te vertel. Blykbaar word Van der Decken aan sy eed gehou, want vir dekades daarna is die spookagtige verskynsel van Die Vlieënde Hollander tydens stormweer gereeld opgemerk waar hy nog “tot die oordeelsdag toe” probeer om om Kaappunt te vaar. Gedurende die laat 1800’s en vroeë 1900’s is in talle skeepsjoernale voorvalle opgeteken van hoe beangste matrose tydens ’n stormagtige nag aan Kaappunt gesien het hoe ’n onbekende boot op hulle afpyl. Die boot het volgens oorlewering ’n paar meter bo die onstuimige golwe by hulle verbygeskiet. Op die dek, agter die stuur, het ’n swart figuur gestaan wat die vaartuig met swaaiende arms deur die storm probeer stuur. Dan het die beeld net so onverwags in die niet verdwyn. Meer as net teatergangers besoek die staatsteater (Pretoria) Geeste en spoke het die gewoonte om nie net agter die gordyne en onder die verhoë van teaters wêreldwyd te dwaal nie; hulle verskyn ook in aantrekkamers, voorportale en restaurante in teatergeboue. Dit is dan ook die geval van die Pretoriase Staatsteater, wat in 1981 geopen is met die Allegro-restaurant op die grondvloer. Sommige van die restaurantpersoneel, veral dié wat van Atteridgeville kom en nie hul eie vervoer het nie, moes dikwels saans in die restaurant oornag wanneer opvoerings te laat geëindig en daar nie meer openbare vervoer beskikbaar was nie. Hulle was huiwerig om dit te doen, maar had geen keuse nie . . . Die een ná die ander sou hulle op hul matrasse aan die slaap raak, net om dikwels in die vroeë oggendure wakker te skrik weens harde voetstappe wat stadig oor die marmervloere aankom. Deur die restaurant. In by die kombuis. Dan volg die klapgeluide van kasdeure wat wild oop- en toegemaak word. Soms sou iemand waaghalsig genoeg wees om te gaan kyk wie in die kombuis doenig is, maar dan was daar niemand. Wanneer dié ritueel hom afgespeel het, het die meeste egter hulle beddegoed vinnig weggebêre en buite op die sypaadjie vir die eerste taxi’s gaan wag. Die publiek het blykbaar ook nie te veel van die Allegro-restaurant se atmosfeer gehou nie, en sy deure is later in 1996 gesluit. Die voetstappe deur die teatervoorportaal en die restaurant het onverwags opgehou. Maar waar kon dié verskynsel vandaan kom? Toe die Staatsteater gebou is, het ’n konstruksiewerker in die nat sement van die fondasie geval. Hy het versmoor voor iemand hom kon red. Die Allegro is gebou op die plek waar hy gesterf het. Kan dit hy wees wat daarna steeds deur die restaurant gestap het? Alles is nie pluis by dié kasteel nie (Kaapstad) Tien jaar nadat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 in Tafelbaai voet aan wal gesit en die eerste verversingspos vir verbygaande skepe aan Kaappunt geskep het, was sy opvolger, kdr. Zacharias Wagenaer, verantwoordelik vir die bou van die imposante Kasteel de Goede Hoop, wat vandag ’n gewilde toeristebestemming is. Maar dit is nie net toeriste wat hier ronddwaal nie . . . Wagte wat snags by die kasteel aan diens is, vertel hulle hoor gereeld voetstappe, stemme en selfs bloedstollende gille. Dan is daar ook die vreemde figure wat gereeld hul verskyning maak. Die eerste gerapporteerde voorval dateer terug na 1915, toe ’n 2 m lange figuur gesien is wat op die buitemure van die kasteel rondloop. In 1947 is hy oor ’n tydperk van weke weer gesien waar hy sy wandeling op die muur voortsit en kort-kort stop om oor die muur te loer. Dit is die tipiese gedragspatroon van ’n soldaat op patrollie. Vreemde voetstappe is selfs gereelder in dieselfde gebied gehoor. ’n Wag het hom 200 jaar gelede in die kloktoring opgehang – kan dit hy wees wat dié klok steeds met ongereëlde tussenposes laat lui? Destyds het baie veroordeeldes weens marteling of uitputting omgekom in die aanhoudingsel. Dit staan bekend as “Die Donker Gat” omdat daar nooit daglig inskyn nie. Vandag vertel wagte ’n onheilspellende geskree kom soms uit die sel. Sommiges weier ook om in die vroeë oggendure die roete verby die sel te volg, “want dit voel of ’n bose mag jou wil insuig”. En wat van die groot swart hond wat saans uit die niet verskyn, vir die wagte knor terwyl hy dreigend nader kom en dan skielik verdwyn? In die Buuren-bastion word ligte saans aan- en afgeskakel sonder dat enige mense betrokke is. En in die omgewing van die wagtekamer word die stemme van ’n man en vrou gehoor wat stry. In die einste wagtekamer is ’n elektriese klokkie wat soms onverklaarbaar afgaan. Dit word toegeskryf aan ’n wag wat in die vroeë 1900’s daar sy lewe geneem het. Die gestalte van goew. Pieter Gysbert van Noodt word weer dikwels opgemerk waar hy in sy kantoor vloekend heen en weer loop. Hy was bekend vir sy barbaarse behandeling van soldate wat tot drostery gelei het. Op 23 April 1729 het hy weer sewe soldate die doodstraf opgelê. Een van hulle het in ’n vloek uitgeroep die goewerneur sal saam met hulle “voor God se geoordeel word”. Kort nadat die doodstraf uitgevoer is, is Van Noodt dood in sy stoel aangetref. Hy is blykbaar aan ’n hartaanval dood, maar op sy gesig was ’n benoude uitdrukking van vrees. Lady Anne Barnard, vrou van die koloniale sekretaris Andrew Barnard, het tussen 1797 en 1802 in die kasteel gewoon. Sy het gereeld elegante onthale aangebied. Blykbaar kon sy nie van die sosiale leefstyl afstand doen nie, want haar deurskynende figuur – kompleet met haar kenmerkende krulhare en geklee in ’n tipiese balrok van daardie tyd – word gereeld gesien waar sy by belangrike funksies opdaag. Talle mense het oor die eeue heen in die kasteel gewoon en gewerk, waarvan sommiges heel duidelik vergeet het om te vertrek . . . Moenie ’n spook tart nie (Schubartpark, Pretoria) ’n Spook kan hom bitsig vererg, veral as hy uitgelok word. Dit is die seer les wat ’n motorwerktuigkundige van Pretoria in 1994 geleer het. Rudolf Steyn het destyds ’n woonstel met sy suster gedeel. Hulle het in die Schubartpark-woonstelkompleks in die middestad van Pretoria gewoon. Dié gebou is vandag erg verwaarloos en verniel, maar jare gelede het hoofsaaklik jong mense daar gewoon en toe het dit gebruis van lewe en opwinding. Een aand in 1994 het Rudolf in die bad gesit. Hy was geïrriteerd, want die badkamerlig het weer onverklaarbaar aan- en afgegaan. Hy het ook onthou sy suster het hom al skrikkerig vertel van die vreemde figuur wat sy soms in hul kombuis sien staan. Dis alles jou verbeelding, het hy haar stories afgemaak. Maar vir die badkamerlig kon hy nie ’n verduideliking kry nie. Net toe Rudolf die skeermes na sy gesig bring, gaan die lig weer af. Hy het hom vererg en kliphard geskree: “Spokie, spokie, aan die rand, wys my jou gesiggie in die land!” Sy woorde was skaars koud, toe voel hy ’n harde klap teen sy skouer, gevolg deur ’n brandgevoel. Die volgende dag was daar ’n bloedrooi, opgeswelde merk op sy rug – net mooi op die plek waar hy die klap gevoel het. En in die vorm van die hand van ’n groot volwasse man. Inwoners van die kompleks het later aan ’n Pretoria News-verslaggewer vertel ’n vorige huurder het in daardie einste badkamer aan ’n hartaanval gesterf. Die man was glo kort van draad en het vinnig die vuiste ingelê wanneer hy gekonfronteer is. Sy gees was blykbaar nie veel anders nie. Die spookmeisie van Uniondale (Klein-Karoo) Sy is sekerlik die bekendste bonatuurlike verskynsel in Suid-Afrika. Maria Roux, die spookmeisie wat Paasnaweke buite Uniondale in die Klein-Karoo staan en duimgooi, se verhaal is in omtrent elke plaaslike spookboek opgeteken. Suid-Afrikaanse tydskrifte en koerante het oor haar geskryf, terwyl oorsese TV- en rolprentspanne haar storie met hul kameras gevolg het. Dit het alles begin op ’n triestige, koue aand in die Klein-Karoo. Paasnaweek, 1968. Op die donker N9-roete, sowat 20 km van Uniondale, het lt. Giel Pretorius gesukkel om sy Volkswagen Kewer in die nat pad te hou. Op die agtersitplek het sy verloofde, Maria Roux, gelê en slaap. Sy het ’n donkergroen broek en dik jas aangehad om haar warm te hou. Die verliefde paartjie was op pad na Riversdal om vir haar ouers te gaan kuier – ’n bestemming wat hulle nooit sou bereik nie. Giel het behoorlik aan die Kewer se stuurwiel geklou, want die stormwinde en windvlae het die motortjie hewig heen en weer geskud. Toe, om ’n skerp draai, ruk die wind hulle weer. Giel het remme aangeslaan, maar beheer verloor en die Kewer het die pad verlaat. Maria is uit die rollende motor geslinger. Sers. Pat McDonald van die Uniondale-polisiestasie was die eerste op die grusame ongelukstoneel. Hy het Giel bewusteloos agter die stuurwiel aangetref en Maria se lyk ’n entjie verder weg in ’n sloot. Sy is op slag dood – dalk so vinnig dat sy moontlik nie eens besef het sy sterf nie. Dié tragiese ongeluk op die Uniondale-pad het gelei tot een van die vreemdste bonatuurlike verskynsels in Suid-Afrika. Liedjieboer Anton Goosen het hierdie liedjie aan die meisie neergepen. Talle mense het die spookmeisie daarna naby die ongelukstoneel langs die pad gesien staan. Sommige het haar selfs opgelaai. Hul ondervinding is bevestig deur die polisie van die Uniondale-polisiestasie, waar verskrikte motoriste gaan hulp soek het nadat hulle besef het hul pad het met dié van ’n spook gekruis. In 2014 is daar ‘n rolprent vervaardig met die Spookmeisie as tema. Almal vertel dieselfde onverklaarbare storie: Hulle het net buite Uniondale ’n swygsame duimgooier in ’n donkergroen broek en dik jas opgelaai. Sommige het duidelik gehoor hoe die motordeur oop- en toegaan toe sy inklim; ander het haar skril hoor gil. Maar dan het sy skielik verdwyn. Laaste waagtoertjie van ’n befaamde ruiter (Tokai, Kaapstad) Vir natuurliefhebbers wat rustig deur die Tokai-bos in Kaapstad wandel, is die pragtige Tokai-herehuis op die landgoed ’n bekende gesig. Dis in 1796 gebou en word vandag deur die Tafelberg Nasionale Park as kantoor gebruik, maar een van die bekendste spookverhale in Kaapstad het juis sy oorsprong in hierdie einste huis, wat in die vroeë 1800’s deur die skatryk Eksteens bewoon is. Petrus Eksteen was nie net bekend as ’n wynboer van formaat nie; mense het ook geweet van die luidrugtige partytjies wat hy in die herehuis gehou het. Vanselfsprekend was daar geen tekort aan die wyn wat aan die gaste bedien is nie. Ná ’n glasie of drie het Petrus se seun, Frederick, gewoonlik van selfvertroue oorgeloop en kon hy nie genoeg spog oor sy vermoëns as perderuiter nie. Op daardie tragiese Nuwejaarsaand in die vroeë 1800’s was dit dieselfde storie. Dit was reeds laat in die aand toe ’n aangeklamde Frederick uitgedaag word om te wys wat in hom steek deur met sy perd by die steil stoeptrappies tot onder die veranda te jaag. Frederick het nie op hom laat wag nie, en kort voor lank het hy sy perd opgestuur met die trappies – tot op die stoep, waarna hy die onthaalkamer binnegejaag het. ’n Uitbundige Frederick het om die tafel gery, nog ’n bottel wyn gegryp en vinnig ’n paar slukke geneem. Die jillende gaste het hande geklap, maar toe raak die perd verbouereerd. Met Frederick steeds op sy rug, het die dier vervaard uit die eetsaal gevlug en vir die trap gemik. Sy pote het egter gegly en perd en ruiter het van die hoë stoep na benede getuimel. Met die valslag het albei hul nek gebreek. Frederick probeer glo egter tot vandag toe nog om sy domastrante toertjie suksesvol uit te voer. Volgens oorlewering word dikwels snags gehoor hoe perdehoewe om die huis opklink en dan op die trap afpyl. Van die plantasiewerkers beweer selfs van hulle het al die vreemde verskynsel gesien. Die ruiter dra klere uit ’n era van lank gelede, word vertel.
http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/die-plaaslike-spookstories-gaan-jou-nekhare-orent-laat-staan/
Vakansiepret: Die maklikste nuusvasvra ooit!
http://www.huisgenoot.com/gons-pret/vakansiepret-die-maklikste-nuusvasvra-ooit/
Inwoner op kleinhoewe vermoor
‘n Inwoner van die Spitskop plotte by Thabazimbi, die 54-jarige Bertie Cilliers, is in sy huis op sy kleinhoewe doodgeskiet. Polisie het inligting aangaande die vermeende moordenaar ingewin nadat Bertie se seun op sy pa se lyk afgekom het. Die vermeende moordenaar, die 25-jarige Coenie van Wyk, is Saterdag deur die polisie in Rustenburg na ‘n wilde jaagtog aangekeer en is in ’n hospitaal in Rustenburg dood nadat hy homself tydens die jaagtog in die kop geskiet het. Geen motief vir die moord is gegee nie. Cilliers, wat vermoedelik Donderdagaand agt keer geskiet is, het alleen op die hoewe gebly nadat sy vrou in 2009 oorlede is.
http://www.kwevoel.co.za/2016/12/08/inwoner-op-kleinhoewe-vermoor/
2016-12-08 15:10:25
Min water vir Thabazimbi gedurende die feesseisoen
SABC TV het Vrydag 23 Desember ‘n berig gebeeldsend waarin melding gemaak is dat die Magalies Waterraad waterbeperkings vir die Thabazimbi Munisipaliteit ingestel het aangesien die munisipaliteit in gebreke was om die waterrekening, wat R35 miljoen beloop, te vereffen. Volgens die berig is alle inwoners sowel as besighede hard getref deur hierdie waterbeperkings en was dit ‘n sombere inleiding tot die feesgety. Volgens die raad se Speaker, dr Bertie Joubert, is hierdie skuld geërf van die vorige ANC beheerde munisipaliteit. Die huidige raad probeer alles in hul vermoë om die situasie op te los. Tans word die dorp, sedert die munisipale verkiesing sowat vier maande gelede, deur ‘n DA alliansie met ander partye bestuur. Vir tyd en wyl is water op ‘n baie beperkte basis beskikbaar. Hierdie water sal aangevul word uit die beskikbare boorgate en die reservoirs wat intussen herstel is, alles deel van ‘n proses wat deur Kumba gefinansier is maar waar die vorige raad in gebreke was om die onderhoudwerk behoorlik te voltooi. Joubert het aan die SABC se TV span gesê dat die dorp slegs 4,5 megaliter ontvang teenoor die 7 megaliter wat dit veronderstel is om vanaf Magalies Water af te kry. In ‘n stadium was die voorsiening so laag as 2,3 megaliter per dag. Samesprekings is vanaf vandag, Dinsdag 27 Desember, met die Magalies Water verskaffers gevoer om ‘n werkbare oplossing vir die situasie te bewerkstellig. Raadslid Joubert het voorts gesê dat gedurende die afgelope maand, die munisipaliteit reeds R3 miljoen vir water oorbetaal het. “Die munisipaliteit het op 3 Desember die eerste betaling in sewe maande vir water gemaak en die munisipaliteit is nou reeds in ‘n posisie om R1 miljoen per maand vanaf volgende jaar te betaal tot op die stadium dat die voorafbetaalde meters geïnstalleer is. Teen die einde van Maart sal die Munisipaliteit R20 miljoen inkomste maandeliks kan genereer. Huidig funksioneer die Thabazimbi Munisipaliteit met ‘n tekort van R8 miljoen per maand”, het Joubert aan SABC TV gesê. Die huidige munisipale raad het die munisipaliteit geërf met ‘n skuldlas van R400 miljoen wat deur die vorige ANC beheerde raad opgebou is. Boonop moes hulle ‘n week wag nadat hulle veronderstel was om die leisels oor te neem, voordat hulle toegang tot die munisipale geboue kon verkry. Voordat hulle die gebou kon betree, moes hulle ook toesien hoe die balju beslag lê op alle kantoormeubels en rekenaars.
http://www.kwevoel.co.za/2016/12/27/min-water-vir-thabazimbi-gedurende-die-feesseisoen/
2016-12-27 16:55:53
Om goed te doen, is goed vir jou
Solidariteit Helpende Hand se projekte tydens 2016 was nie net goed vir gemeenskappe nie, maar ook vir die persoon wat die projek bedryf. ’n Studie onder se vrywilligers wys presies watter motiewe skuil agter onselfsugtige dade. Hierdie teorie is weereens bewys nadat Helpende Hand se vrywilligers in ’n opname hulle motiverings neergepen het. In 2016 het Helpende Hand se 165 takke 1303 takprojekte en 330 streeksprojekte aangepak ten bedrae van R8 227 684. En toe die 2000+ vrywilligers gevra is hoekom hulle by Helpende Hand betrokke is, het 60% aangedui dat hulle ’n verskil in hulle gemeenskappe wil maak. Nie net baat die samelewing by die projekte nie, maar vir 80% van die vrywilligers is dit ’n bron van vreugde om ander te help. Verder het hulle aangedui dat dit betekenis aan hulle lewens gee en ook dat dit help om hulle te laat ontspan. Volgens René du Preez is daar nog redes waarom betrokkenheid by liefdadigheid goed is vir individue. “Vir vrywilligers is dit ook ‘n goeie geleentheid om hulle netwerke op te bou aangesien 66% van vrywilligers aangedui het dat hulle tak ’n netwerk van organisasies het wat hulle kan bystaan en ondersteun,” sê Du Preez. Buiten vir die projekte wat deur takke geloods is, het Helpende Hand ook nasionale projekte geloods wat vir 4600 graadeens ’n skooltassie met skryfbehoeftes in voorsien het en daagliks vir 4420 kleuters van ’n warm bord kos voorsien. Verder is R750 000 spandeer om 3697 meisies in die skool te hou deur hulle van die nodige sanitêre ware te voorsien. “Dankbaarheid lê sentraal tot vrywilligers se motiewe,” sê Du Preez. “Toe ons vrywilligers vra wat hulle meer wil hê van Helpende Hand, het die meeste bloot hulle dankbaarheid betuig. Hulle doen goeie werke, want hulle is dankbaar vir wat hulle het en ons as organisasie wil daardie tradisie voortsit.” Om hulle dankbaarheid te betoon wil Helpende Hand vanjaar vier projekte in die samelewing ondersteun met ’n finansiële inspuiting van R10 000. Die eerste van hierdie projekte is die Kideo’s Kleuterskool in Daspoort se Kerspartytjie. Hierdie kleuterskool het baie behoeftige kleuters wat baie min die geleentheid kry om ’n partytjie te hou. Daarom gaan Helpende Hand op 6 Desember 2016 vir die kinders ’n spesiale Kerspartytjie hou. Meyer le Roux van Buffelsfontein Baard-olie gaan optree as Baardvader en geskenke aan die kinders uitdeel. Volgens Barbera Fouché, een van die onderwyseresse by die skool, was die kinders reeds dae voor die tyd opgewonde oor die partytjie. “Dit beteken baie vir die kinders om so bederf te word. Dit is iets anders waaraan hulle glad nie gewoond is nie,” sê Fouché.
http://www.kwevoel.co.za/2016/12/06/om-goed-te-doen-goed-vir-jou/
2016-12-06 21:50:28
Zuma oorleef aanslag om hom uit pos te verwyder
President Zuma het aan die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NEC) na afloop van die NEC se debat om hom uit sy pos te verwyder of nie, gesê dat daar mense is wat spook om hom te laat toesluit en dat hy nie sal bedank nie. Indien hy dit sou doen, sou hy homself daardeur aan sy vyande oorhandig. President Zuma het nog ‘n poging om hom uit sy amp te verwyder oorleef met die NEC vergadering waar 34 ANC lede ten gunste was vir sy verwydering uit sy amp as President van die ANC en 30 lede wat ten gunste daarvan was dat hy sy amp behou. Nog 14 lede moes steeds aandui waar hulle ten opsigte van hierdie besluit staan. Ten minste drie lede van Zuma se kabinet is genoem dat hulle hom gevra het om uit te tree of dat die NEC moet stem om Zuma uit sy pos te verwyder. Die minsters was Derek Hanekom (Minister van Toerisme), Aaron Motsoaledi (Minister van Gesondheid) en Thulas Nxesi (Minister van Openbare Werke). Hulle het blykbaar ook die steun van die ANC Hoofsweep, Jackson Mthembu, gehad. Die president se vermeende onbehoorlike verhouding met die Gupta familie, die afname in steun vir die ANC tydens die plaaslike regerings verkiesing en die Nkandla skandaal is as rede gebruik vir die debat. Die uitmergelende drie dag lange debat om Zuma se toekoms te bepaal, is geïnisieer deur minister Derek Hanekom, minister van toerisme. Die vergadering sou Sondag afgesluit word, maar is tot Maandag verleng aangesien opponerende kante nie konsensus kon bereik nie. In sy reaksie op hierdie poging om hom te onttroon het Zuma die komitee toegespreek, waar hy genoem het dat hy bewus is van diegene binne die party wat sedert die onttroning van Thabo Mbeki hom in die tronk wil sien, en dat hulle nie sal ophou nie. ‘n NEC lid het bekend gemaak dat die president gesê het dat indien hy die probleem was, sou hy dit oorweeg het om uit te tree. Volgens Zuma was sy vyande verantwoordelik vir die daarstelling van aanklagte rakende Nkandla, die korrupsie aanklagte en die spioenasie bande. Zuma is op 14 Junie 2005 afgedank as adjunk president van die land nadat hy geïmpliseer is in korrupsie en bedrog deur sy voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik. Die korrupsie aanklagte teen hom het egter toegeneem sedert sy aanstelling as President van die Republiek van Suid-Afrika. Hierdie is opgevolg deur die onlangse verdoemende verslag aangaande die Staats-kaping wat deur die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, vrygestel is. Volgens die NEC lid was daar nie oor die mosie gestem nie aangesien die Zuma ondersteuners her-gropeer het om hul verdediging te versterk.
http://www.kwevoel.co.za/2016/12/01/zuma-oorleef-aanslag-om-hom-uit-pos-te-verwyder/
2016-12-01 21:46:39
Hoe om die perfekte sonbril te kies
Volgens Meriek van den Berg, oogkundige, is ’n sonbril nie net ’n modebykomstigheid nie. Te veel blootstelling aan UV-bestraling kan jou kanse tot oogsiektes verhoog en daarom is dit belangrik om in ’n goeie sonbril te belê. Die volgende wenke sal help om die beste sonbril vir jou oë te kies. Wenke vir gesonde visie en oogsorg vir die somer UV-beskerming: Kies ’n sonbril wat ten minste 99% UVA- en UVB-strale blokkeer. Geel filter: Ook ‘blou versperrings’ genoem omdat hulle blou lig blokkeer. As gevolg hiervan sien oë beelde effens geel geskakeer. Die voordeel hiervan is ’n beter kontras van voorwerpe wat ver is, veral op ’n bewolkte dag. Jagters, seiljagters en vlieëniers trek die meeste voordeel hieruit. Gepolariseerde lense: Hierdie lense blokkeer ligdiffusie, soos sonlig wat vanaf wateroppervlaktes of sementpaaie weerkaats. Omdat hulle verblindende lig verminder, is hierdie lense veral handig vir bestuur en visvang. Spieëllense: Hierdie lense verminder die hoeveelheid lig wat die oog bereik, maar bied geen weerstand teen UV-strale nie. Beskerming van die kante: Sonbrille met hierdie eienskap beskerm die oë van lig wat gewoonlik van die kant van die bril inskyn. Gradiënt geskakeerde lense: Hierdie lense is donker van kleur in die boonste deel van die lens en is ligter in die onderste deel. Dus word verblindende lig van bo versper, maar normale afwaartse sig word toegelaat. Bestuurders vind hierdie lense handig, maar word nie vir watersport of die strand aanbeveel nie. Fotochromatiese lense: Hierdie lense word outomaties donkerder in skerp lig en raak weer ligter in die skadu. Die verandering in skakering kan baie vinnig plaasvind, afhangende van die UV-bestraling en temperatuur. Kontaklense: Sommige kontaklense bied UV-beskerming, maar sonbrille verseker bykomende beskerming. Meriek van den Berg is ’n oogkundige by Mellins i-Style
http://www.rooirose.co.za/hoe-om-die-perfekte-sonbril-te-kies/
2016-12-05 13:48:34
Wen met Cafféluxe
Cafféluxe is bekend vir hul luukse koffiemasjiene en hoë kwaliteit koffie-kapsules wat ’n moet-hê in enige kombuis is. Bederf jou innerlike koffie-liefhebber met ’n splinternuwe Cafféluxe Verona Espresso-masjien en 8 bokse kapsules ter waarde van R1 850. Meer nog: Gebruik die afslagkode, ROOIROSE, op die Cafféluxe-webtuiste en kry R150 afslag op jou aanlyn-inkopies! *Let wel: die geskenkbewys is slegs geldig op aanlyn-aankope met ’n minimum waarde van R400 en kan nie gebruik word vir aankope op enige van die Kersfees-aanbiedinge nie. Beantwoord die maklike vraag en voltooi die onderstaande vorm om in te skryf. Sluitdatum: 18 Desember 2016 Reëls en voorwaardes geld. VRAAG: Wat is die naam van die Cafféluxe-koffiemasjien wat jy kan wen? * Naam * Van * Kontaknommer * E-posadres * Posadres * Mag rooi rose jou van enige spesiale aanbiedinge laat weet? * Ja Nee Ek het die reëls en voorwaardes gelees. * Ja Nee
http://www.rooirose.co.za/wen-met-caffeluxe/
2016-12-05 05:00:31
Perfeksionisme: gawe of pyn?
Die strewe na perfeksie het vir baie mense ’n lewensingesteldheid en doel geword. Die keersy daarvan is dat perfeksionisme dikwels ’n verwoestende uitwerking op mense en verhoudings kan hê. Jack Kirby sê perfeksioniste is hul eie duiwels. Die perfekte en in-beheer beeld is te dikwels net ’n emosioneel dreinerende masker vir ’n onseker, gestresde mens wat soms selfs soos ’n mislukking en bedrieër voel. Dit word met selfbeeld- en gesondheidsprobleme, soos angstigheid, depressie en hartprobleme verbind. Perfeksionisme kan letterlik en figuurlik jou hart en dié van die mense om jou breek. Perfeksioniste raak verdwaal en vasgevang in ’n labirint met massas inligting en detail wat oorgeanaliseer word en wat baie rigiede, spesifieke en onrealistiese eise en verwagtinge stel waaraan alles voortdurend gemeet word. Die strewe na perfeksionisme is ’n verslawing, want jy voel jy het nie die keuse om anders te dink, te voel en op te tree nie. Jy moet alles volmaak doen, anders val jou lewe en selfbeeld uitmekaar. Hoewel temperament ’n rol speel, is dit gelukkig grootliks aangeleerde gedrag wat deur jou agtergrond, persepsies, aannames, geloof oor jouself en die wêreld, maar ook deur jou vrese bepaal word. Perfeksionisme het twee gesigte: Die gawe gesig waarmee jy verwagtinge oortref en almal verstom met jou uitmuntende werk, prestasies, organisasie, beplanning, deeglike voorbereiding, doeltreffendheid en netheid. Jou hoë standaarde en die ekstra wat jy met dryfkrag en deursettingsvermoë regkry, verseker jou uit- nemendheid en dat jy jou doelwitte bereik. Die kritiese gesig van perfeksionisme ervaar die lewe as gebroke en dat almal voortdurend tekort skiet. Onvolmaaktheid en klein foutjies mergel jou uit, veroorsaak baie stres en steel jou geluk. Intussen offer jy soveel op, ervaar soveel druk maar voel jy het nie ’n keuse om anders op te tree of te dink nie. Perfeksioniste se selfwaarde hang van hul prestasies, werk en omgewing af. Daarom geniet die perfeksie van hul werk, huis of voorkoms voorrang bo tyd met vriende en geliefdes. Hulle sukkel om af te skakel en kasty hulself dikwels nog lank ná die tyd oor foutjies. Thea is supervrou, superma en superwerknemer. As vennoot in ’n prokureursfirma het sy ’n uitdagende en tydrowende werk maar intussen maak sy werklik tyd vir haar kinders. Hulle kon voor skool reeds lees en jy kan hulle altyd deur ’n ring trek. Sy onthaal met styl en kreatiwiteit – van die uitnodigings, die tafelversierings tot die kos wat van Kokkedoor-standaard is. Tuis is dit ’n spanningsvolle bontstaan en almal loop deur as alles nie skitterskoon en perfek is nie. Die gaste bewonder haar, maar nooi haar nie graag terug nie. Al lyk haar huis, huwelik en gesin op die oog af perfek, is daar min plesier, want daar is immer iets waarmee sy ontevrede is. Sy is gedurig oormoeg en voel dat haar gesin nie hul deel doen nie. Pieter is ’n uitmuntende dosent. Hy is werklik ’n kenner en werk ongekende ure. Hy is krities op sy mededosente en studente, meedoënloos oor sy verwagte standaard. Hy laat ander dikwels voel hul bydraes is ondeurdag en afgeskeep. Intussen werk hy nou al 15 jaar aan sy doktorsgraad. Daar is altyd nog iets wat hy meen hy moet navors en herskryf telkens gedeeltes daarvan. Studente voltooi hul studie terwyl hy steeds aan die perfekte verhandeling swoeg. Waar kom perfeksionisme vandaan? Perfeksionisme hou verband met aangeleerde denkpatrone oor jouself en die wêreld. Dit word geleer deur goedkeuring en beloning. Mense leer dat hulle goed voel wanneer hul ander se lof vir werk van hoë standaard kry en stadigaan word die strewe na sukses, prestasie en ’n hoë standaard ’n rigiede denkpatroon: Mense gaan net trots op my, of tevrede wees wanneer ek presteer en suksesvol is. As dit nie perfek is nie, is ek nie goed genoeg nie. Kinders van perfeksionistiese ouers kry dikwels goedkeuring vir wat hulle doen en nie vir wie hulle is nie: “Dink net hoe goed kon dit wees as jy net nog ’n bietjie harder probeer het.” So word die lewe ’n konstante strewe daarna om liefde te verdien. Liefde mag nie verdien word nie. Enigiets wat iemand moet verdien, is net goedkeuring, nie liefde nie. Dit ontwikkel ook deur ’n gebrek aan goedkeuring en beloning, of deur straf en kritiek vir foute. Die negatiewe ervaring lei tot rigiede gedagtes soos: Ek mág glad nie ’n fout begaan nie; my werk móét altyd netjies en goed wees, anders is ek onaanvaarbaar. Dit word ook indirek deur modellering van ander se voorbeeld geleer. As ouers dinge perfek doen en snags en naweke tuis ook werk om hul standaard te handhaaf, leer hulle: Werksukses is belangriker as enigiets anders. Sekere mense het ook ’n temperament wat tot perfeksionisme geneig is. Mense wat van jongs af verandering vrees, afhanklik van ander se goedkeuring is, asook geneig is om ondanks moegheid of frustrasie met ’n sterk wil en deursettingsvermoë doelgerig aan te hou, is meer geneig om perfeksionisme te ontwikkel. Hulle het op ’n jong ouderdom al ure lank gehuil as hulle verloor, of nie na hul wense presteer het nie, ondanks hul ouers se gerusstelling dat dit nie regtig saak maak nie. Jou standaarde en perfeksionisme het ’n rigiede en neurotiese kant as: • Jy konstant met jou uitsette ontevrede is, want dit kan en moet nog beter – pleks dat jy vir jouself krediet gee vir jou suksesse en vreugde en genoegdoening daaruit put. • Jou werk vir jou vreugdeloos is, en dit jou dreineer en verlam omdat jy vrees dat jy onsuksesvol sal wees en dit nie so goed kan doen soos jy dit wil hê nie. • Jy die groot prent mis omdat jy obsessief fokus om elke klein deeltjie perfek te kry, ten koste van jouself, jou gesondheid, verhoudings of ander prioriteite. • Jy foute haat en dit nie sien as leer en ontwikkeling nie, maar as mislukkings. Jy kasty jouself nog lank daarna oor foutjies. • Nuwe geleenthede by jou verbygaan, of jy uitstel om dinge te doen omdat jy vrees jy dit nie perfek sal kan doen nie. • Jy dinge weer en weer nagaan, herhaaldelik lysies maak en verander, regpak, orden of skoonmaak sonder dat jy voel dis reg. • Dit jou isoleer van ander en jou verhoudings en selfbeeld skaad. Perfeksionisme het ’n neurotiese kant as dinge net swart of wit is – alles-of-niks. Enigiets minder as honderd persent is ’n mislukking. Dit veroorsaak selfvernietigende spanning, angstigheid en lei dikwels tot depressie en kan ook saam met ’n obsessief-kompulsiewe versteuring voorkom, waarvoor daar mediese behandeling is. Lees ook: 7 wenke om obsessief-kompulsiewe gedrag baas te raak Navorsers meen perfeksionisme verhoog mense se kans op angstigheid, slaaploosheid, depressie, hartprobleme en ook selfdood. In ’n Britse studie is bevind dat 70% van jong mense wat aan selfdood gesterf het, geweldige eise aan hulself gestel het. Lees ook: Skep ’n sterk selfbeeld Volgens die Australiese Sentrum vir Kliniese Intervensies hou mense hul perfeksionisme op die volgende manier in stand: • My selfwaarde word bepaal en gemeet aan my prestasie en onverbiddelike standaarde. • Dit aktiveer my onderliggende reëls en aannames van presies hoe ek dinge móét doen of nie mag doen nie. Ek moet die hoogste punt in die klas kry / die grootste verhoging kry. • Ek stel vir my onverbiddelike standaarde. • Dit aktiveer my perfeksionistiese gedrag: Ek gaan alles herhaal-delik na om foute uit te skakel, vermy uitdagings wat nie sukses waarborg nie, stel besluite uit, weet nie wanneer iets goed of skoon genoeg is om op te hou nie. • Indien ek nie aan die verwagte standaard voldoen nie, lei dit tot genadelose selfkritiek met die negatiewe gevolge dat dit meer tyd in beslag neem, my angstig en depressief maak, gesondheids-probleme veroorsaak, my sosiaal isoleer, die uitdagings waarvoor ek kans sien, beperk en my selfwaarde en vertroue skaad. • Slaag ek wel daarin, is daar positiewe gevolge: Ek geniet ander se lof en goedkeuring. Maar dan devalueer ek die aktiwiteit as nie uitdagend genoeg nie: “Ag, dit was niks (of maklik)”. En stel die volgende keer my standaarde net hoër. Hanteer jou perfeksionisme • Moenie jouself of ander vir jou perfeksionisme kwalik neem nie. • Identifiseer en bevraagteken jou onderliggende vrees vir mislukking, jou rigiede perfeksionistiese gelowe, aannames, reëls vir jouself (en dalk vir ander) oor wat reg en goed is, asook die verband tussen jou gedagte- en gedragspatrone en die onbuigbare standaarde wat jy stel. • Maak ’n lys van die voordele en negatiewe gevolge van jou strewe na die standaarde. • Maak ’n lys van moontlike voor- en nadele as jy jou onverbiddelike standaarde sou verlaag. • Kies ’n spesifieke doelwit waarvan jy werk kan maak, soos jou fokus op jou voorkoms of oefenprogram, die netheid van jou huis, ’n deel van jou werk. Pas nou jou standaard tot ’n redeliker en haalbare vlak aan. Identifiseer gedagte- en gedragspatrone wat moet verander. Stel ’n tydraamwerk: wanneer jy dit gaan doen, wanneer jy gaan ophou. • Werk aan jou selfrespek deur met sagtheid na jouself te kyk, soos jy graag wil hê ander na jou moet kyk. Gebruik bevestigende, positiewe selfpraat en kommunikeer met jouself asof jy jou eie, beste vriendin is. • Maak jou gesondheid ’n prioriteit. Strewe na balans met dieet en oefening. Slaap genoeg. Eer jou en jou eie behoeftes met tyd en ontspanning. • Stop afbrekende gedagtepatrone. • Gebruik jou ideale en doelwitte as riglyne en nie absolute standaarde of optredes nie. • Leer om te laat gaan … Jou ou gedagtepatrone, gewoontes, maar veral beheer. Delegeer en kry hulp. Dis nie ’n teken van swakheid nie, maar van wysheid en leierskap. • Koester jou verhoudings en belê daarin, want dit bring sin en heelheid. As jou perfeksionisme ’n neurotiese kant het, kry hulp by ’n sielkundige en mediese hulp by ’n psigiater. Perfeksionisme kan funksioneel wees, mits iemand dit regkry om net in sekere dele van sy lewe perfeksionisties te wees sodat dit nie sy gesinslewe raak, of sy selfwaarde beperk nie. Perfeksie is nie die geheim tot ’n suksesvolle en vervulde lewe nie. Inteendeel. Niemand was nog op sy sterfbed spyt dat hy nie hard genoeg gewerk het of meer perfeksionisties was nie, terwyl die teendeel dikwels waar is. Navorsing dui daarop dat hoogs suksesvolle mense ook hoë standaarde het wat hulle met harde werk nastreef, maar sonder om perfeksionisties en rigied te wees. Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark, Pretoria • 012 460 7366 • [email protected]
http://www.rooirose.co.za/perfeksionisme-gawe-of-pyn/
2016-12-08 11:42:40
Strandsakke
Ons hou daarvan om al wat ’n ding is in ’n strandsak te gooi. Oorgroot strandsakke is perfek vir alles: boeke, sonblok, handdoeke, versnaperings en nog baie meer. Oorgroot strandsakke is nie net prakties nie, maar ook stylvol. Maar wat as jy net vining strand toe gaan vir ’n vroegoggend swem? Al wat jy kort, is ’n sakkie om jou sonskerm en selfoon in te stoor. Mikro-strandsakkies is perfek vir so ’n geleentheid. Meer formele strandsakke is ook baie gewild vir skemerkelkies langs die see. Kies ’n meer gestruktureerde strandsak wat van geperforeerde leer gemaak is. Strandsak-modes wat hierdie jaar op die strande sal pronk Tossels en pompoms in ’n reënboog van kleure Geometriese afwerkings en bedrukkings Geperforeerde materiaal – van leer tot katoen Geweefde strandsakke Vloot-geïnspireerde strandsakke Hier is ’n paar van ons gunstelinge: Geweefde strandsak met tossels (R399) H&M Wit strandsak (R629.50) Collette Hayman Koraal strandsak (R1 299.95) Dune London Kleurvolle strandsak (R279) Zara Geweefde strandsak (R299) H&M Gestreepte strandsak (R2 599.99) Scotch & Soda
http://www.rooirose.co.za/strandsakke/
2016-12-06 05:00:51
Sonbril-modes
Vra vir Susra Wat is die hoofreël as dit by die versorging van jou sonbril kom? Moet nooit jou sonbril met papierhanddoeke, snesies of servette afdroog of skoonmaak nie. Die papier is wel baie sag op die vel maar die getekstureerde oppervlak daarvan kan maklik jou lense krap. Gebruik liefs ’n mikrovesel-lappie. Vlieënierstyl Jy kan steeds nie ’n fout maak met die klassieke vlieënierstyl nie. Dit haal eenvoudig jaar na jaar die modeboeke. Prada-sonbril (R3 690) Luxottica. Sonbril (R399) Mango. Miss Maxi-sonbril (R329) Zando. Sonbril (R2 375) G-star. Emporio Armani-sonbril (R2 090) Sunglass Hut. Rond Hou jy van die style uit die jare sestig? Hier’s jou kans om een van dié ronde sonbrille aan te skaf – dis terug op die rak. Sonbril (R3 078) G-star. Emilio Pucci-sonbril (vanaf R4 255) SDM Eyewear. Vogue-sonbril (R1 090) Luxottica. Sonbril (R249,50) Colette Hayman. Ray-Ban (R2 290) Luxottica. Katoog Die glansryke sonbrille voeg soveel drama en styl by jou uitrusting dat jy maklik pure rolprentster kan voel. Burberry-sonbril (R3 190) Sunglass Hut. Dolce & Gabbana- Sonbril (R3 490) Sunglass Hut. Tom Ford-sonbril (R4 186) SDM Eyewear. Emilio Pucci-sonbril (R4 255) SDM Eyewear. Vogue-sonbril (R1 090) Sunglass Hut. Wayfarer-styl Jy sal nie ’n fout maak met ’n Wayfarer nie – die styl pas almal, ongeag ouderdom en voorkoms. En was die Wayfarer-sonbril al ooit uit die mode? Burberry-Sonbril (R2 990) Sunglass Hut. Emporio Armani-sonbril (R1 790) Sunglass Hut. Sonbril (R1 799) Von Zipper. Ray-Ban-sonbril (R1 960) Luxottica. Prada-sonbril (R3 090) Luxottica.
http://www.rooirose.co.za/sonbril-modes/
2016-12-05 14:27:20
Rikus de Beer lag en leef voluit
“Ek was nie soseer bang om dood te gaan nie – ek was eerder vies omdat ek nog so baie wou doen. Ek was dan nog so jonk!” So gesels Rikus de Beer, onder sy duisende aanhangers beter bekend as Jonathan van Radio Raps. Ons gesels oor wat alles vyf jaar gelede deur sy kop gemaal het toe sy lewe aan ’n draadjie gehang het. Kardiomiopatie, ’n toestand van die hartspier wat sy hart laat vergroot het, het hom met twintig persent hartfunksie gelaat. “Die dokters het nie gedink ek gaan dit oorleef nie – hulle het in ’n stadium selfs my ouers laat kom om te groet. Net daar het ek besluit: ek het net een lewe – ek gaan hom leef!” Rikus het nie net sy werk as finansiële adviseur bedank en sy eie herwinbare energie-onderneming begin nie, maar sommer ook besluit om iets meer te maak van die komiese sketse waarmee hy gereeld sy vriende op ’n WhatsApp-groep vermaak het. Jonathan, die uitgesproke Oos-Randse karakter met sy kenmerkende “ôlrite”, skreeusnaakse (hoewel soms heeltemal onvanpaste) raad en die tennispet wat bokant sy een oor die lug intoring, is amptelik gebore. Binne maande was hy volksbesit en binnekort gaan selfs fliekgangers Jonathan op die silwerdoek in aksie sien. Maar waar het alles begin? Was hy van kleins af snaaks? “Seker maar. Ek was beslis ’n bietjie loud – ek was hoofdirigent, daai soort ding. Toe kry ek ’n rugbybeurs by die Universiteit van Johannesburg en ek skryf in vir ’n B.Com.-graad in entrepreneursbestuur. Mense het toe al vir my gesê ek moet ’n entertainer word. Maar waar begin jy?” Rikus was ’n goeie rugbyspeler en lid van die Goue Leeus se 0/20-oefengroep tot hy vroeg in sy eerste jaar sy rug in ’n rugby-oefening gebreek het. “Die einde van my rugbyloopbaan het my gedwing om aan kultuurdinge deel te neem, soos die sêr en die eerstejaarsfees. By die sangfees kry ek toe glads die prys as beste akteur!” Die skielike gesondheidsprobleme het hom laat besef dat hy die enigste een is wat sy komediedrome kon bewaarheid. Sy vriende het gereeld sy lawwe WhatsApp-boodskappe vir hul vriende aangestuur. Een aand het ’n wildvreemdeling by ’n geselligheid vir Rikus vertel van ’n skreeusnaakse storie wat iemand vir hom aangestuur het. “En daar speel hy my eie storie vir my, maar weier om te glo dat dit ek is!” vertel Rikus laggend. Net daar het hy besluit dis tyd om Jonathan se kaskenades op video vas te lê. Binne weke was Jonathan en Radio Raps ’n Internetsensasie. Die akteur en TV-aanbieder John-Henry Opperman het die potensiaal in Jonathan raakgesien. Hy het Rikus gekontak en hom sedertdien gehelp om van Jonathan volksbesit te maak. “Ek onthou nog die eerste keer toe ek vir John-Henry ’n stukkie stand up-komedie in Impala, ’n kroeg in Potch, gedoen het Dit was seker my swakste vertoning! Ek het gewonder wat my besiel het om te dink ek kan ’n komediant wees. Ek kon dit dan beswaarlik regkry om tien minute lank snaaks te wees. Hoe gaan ek ooit ’n uur hiervan op ’n verhoog doen, of daarvan ’n loopbaan maak?” Maar ses maande en baie ure se harde werk later, het hy ’n gehoor van duisend mense by die Emperors Palace in Johannesburg laat skater en kort daarna is sy eerste DVD opgeneem. Sedert Februarie 2014, toe hy sy eerste, amptelike skerpskerts-vertoning as Jonathan gedoen het, het daar baie water in die see geloop. Met ons onderhoud was Rikus al hard aan die voorberei vir die opname van sy derde DVD in November, en ’n uur of tagtig minute op die verhoog voor gehore van tot 3 500 mense is nie meer vir hom vreemd nie. Ons gaan hom ook vroeg in Desember die eerste keer op die silwerdoek sien in Jonathan, ’n komedie gegrond op die Radio Raps-karakter met dieselfde naam (lees onder.) “Dis net die begin. Ek en John-Henry en Sallas de Jager, die vervaardiger, werk al klaar aan die draaiboek vir die opvolg,” vertel hy. “Ons beplan drie flieks, want die storie leen hom lekker tot minstens nog twee opvolgflieks.” Hoe word ’n mens ’n professionele komediant? “Dis aan die begin baie moeilik. Jy kan dit net op die verhoog aanleer. Ek het al die internasionale meesters se DVD’s gekyk en by almal iets geleer. Die belangrikste is dat jy jou eie stem moet kry en dat jy jou tegniek moet verfyn. Dit raak gelukkig makliker sodra jy op jou gehoor ingestel is. ’n Mens kan jou gehoor ook later ‘lees’ om te sien wat werk en wat nie.” Wie is sy gunsteling-komediante? “Michael McIntyre, Robin Williams en Eddie Murphy,” rits hy die name sonder huiwering af. “McIntyre is my held! Sy menslikheid is opvallend en as hy iets sê, sien jy jou in daardie selfde situasie en dis eintlik hoekom jy lag.” Rikus besef Jonathan se Radio Raps-kaskenades is dalk nie vir almal ewe snaaks nie. “Maar ek dink sy absolute eerlikheid maak dat mense van hom hou. As mense eerlik met hulself is, sal hulle erken hy sê die soort goed hardop wat baie van ons dink, maar voel ons behoort nie te sê nie.” “Ek dink ons het almal so ’n stukkie Jonathan in ons. Hy draai nie doekies om nie maar hy het ’n goeie hart,” sê hy oor sy karakter. Rikus is glad nie soos Jonathan nie. Hy is nie luidrugtig nie, vloek in ons onderhoud nie eens een maal amper nie en probeer so onopsigtelik moontlik bly in die restaurant waar ons mekaar ontmoet het. ’n Goed gemanierde gentleman. Hy is pas terug van ’n week lange wegbreek en kan nie wag om sy twee honde, Hennie en Inge, later die middag weer te sien nie. “Kyk net hoe mooi is hulle,” vertel hy terwyl hy na foto’s op sy selfoon soek. Alles aan hom verklap ’n goeie opvoeding. “My ouers is die rustigste mense wat ek ken,” vertel hy oor sy kinderjare op ’n plaas naby Klerksdorp. “My pa werk by Senwes en boer ook, en my ma werk in die Hervormde Kerk se kantoor. Ek het ’n jonger sussie. My pa is eintlik ’n introvert, en my ma wou haar aan die begin doodskaam vir Jonathan. Sy hanteer dit nou beter vandat mense vir haar kom vertel het hoe baie hulle dit geniet,” lag hy. Sedert hy net twee weke voor ons onderhoud die derde keer met hartmoeilikheid in die waakeenheid beland het, besef hy opnuut dat hy na homself moet omsien. “Gelukkig herken ek nou al die tekens – ek was die keer net daar vir ’n dag – en my dokter het gesê ek sal moet gewig verloor, meer oefen en alkohol vermy,” vertel hy. Hy is dol op sy werk, hoewel dit soms vir hom moeilik is om mense te laat besef hy is nie soos Jonathan nie. “Ek wil nie saam drink en tot diep in die nag kuier ná ek iewers ’n vertoning gegee het nie. Daardie tagtig minute op die verhoog is my werk, nie wie ek is nie. Mense verstaan dit nie altyd nie, ook nie dat dit uitputtend kan wees nie.” Tog bly dit vir hom heerlik dat mense gek na Jonathan is. “Ek het in Amerika twee vertonings vir Suid-Afrikaners gegee en kon nie glo dat daar mense was wat tot agt uur lank moes ry om na my te kom kyk nie.” Hy is steeds verstom oor wat die karakter vir mense beteken. “’n Vrou het eenmaal vir my ’n boodskap op facebook gestuur oor hoe Jonathan haar man, toe terminaal siek aan kanker, laat lag het. Ek dink dis waar- oor my werk gaan: ek wil mense help om ’n bietjie van al die moeilikhede in die lewe te vergeet, al is dit ook net vir ’n klein rukkie.” Hy beskou sy sin vir humor as sy oorlewingsmeganisme. “Ek kan nors mense nie hanteer nie, ook nie mense wat hulself te ernstig opneem nie.” Die bekendheid het nie na sy kop toe gegaan nie. “Ek het sedert my universiteitsdae nog dieselfde vriendekring – hulle hou my nederig. Toe ek in die hospitaal daardie eerste keer so tussen lewe en dood gehuiwer het, was daar altyd so vier of vyf pelle om my bed. Ek het besef hoe kosbaar vriende is. Dis hoe ’n mens jou rykdom op aarde meet – nie aan besittings nie. “Ek het toe ook besluit om alle negatiewe mense en dinge uit my lewe te sny. Dit was ’n bewustelike besluit – ek hou regtig nie van onnodige drama nie.” Sy vriendin van die afgelope paar maande, Kaylee van den Berg, dra ook tot sy kalmte by. “Maar sy het ’n wonderlike sin vir humor en kan heerlik lag!” Het Jonathan hom wat Rikus is, verander? “Ja, ek dink nogal so. Ek is nou baie rustiger – ek dink dis omdat ek nou my droom kan uitleef om mense te vermaak. Vroeër was ek baie luidrugtiger – ek het onophoudelik gepraat. Ek was beslis ’n gefrustreerde entertainer.” Dis vir hom belangrik om elkeen van sy verhoogoptredes met ’n positiewe boodskap af te sluit, al word dit ook met humor verbloem. “Ek wil iets by mense laat waaroor hulle kan nadink.” Meer oor ‘Jonathan’ die fliek Wanneer het ouers genoeg gehad van hulle dertigjarige se drome om ’n skerpskertser te word? Toe Jonathan ’n groot komediekompetisie verloor, verdrink hy sy sorge so deeglik dat hy sy pa se splinternuwe bakkie in ’n stuk skrootmetaal verander. Net daar besluit sy pa (Eric Nobbs) en sy ma (Rika Sennett) die jongste kuiken moet nou die nes verlaat. Hy word die eerste keer gedwing om sy eie potjie te krap, maar waar begin ’n mens? Jonathan besluit om ’n motorwag te word – dit kan tog nie só moeilik wees nie! Die ander wagte is minder geneë om hul gebied met die arrogante vreemdeling te deel, tot hul leier Hartog, vertolk deur Paul Eilers, besluit om hom ’n kans te gee. Of wil hy hom ’n les leer? Daar, op die parkeerterrein in die bloedige son, leer Jonathan daagliks van verantwoordelikheid, respek, medemenslikheid, vriendskap en mededeelsaamheid. En, veral, van nederigheid. Maar toe raak hy verlief en hy en Hartog wen die Lotto … Hoe gaan hy dit hanteer? Jonathan is prettige vermaak met volop kinkels wat ’n mens laat skaterlag. Dis beslis nie net vir Radio Raps-aanhangers nie. My kollegas het saamgestem dat die fliek ’n mens ook met ander oë na motorwagte laat kyk, want uiteindelik is ons almal mense, elkeen met ’n eie storie, eie drome en ’n hart vol hoop én spyt. En niemand wil regtig alleen wees nie. Met Jonathan waag die bekroonde vervaardiger, skrywer en regisseur, Sallas de Jager, die eerste keer sy hand aan komedie. Kyk hier na die lokprent:
http://www.rooirose.co.za/rikus-de-beer-lag-en-leef-voluit/
2016-12-06 14:38:22
Wit Kersfees
Met wit wat nou hoogmode is, kan jy jou eie idee van ’n spierwit Kersfees by jou klerekas voeg. ’n Wit rokkie met pragtige skouer-detail of vleiende neklyn kan wondere verrig. Dra dit saam met bloedrooi lipstiffie of mooi rooi geverfde naels om steeds die Kersfees-gevoel te behou. Speel met bykomstighede. Jy kan ekstra rooi by jou uitrusting voeg deur ’n palmhandsakkie, skoene of juwele in dieprooi by jou wit voorkoms te dra. Behou ’n balans deur seker te maak die bykomstighede wat jy kies, komplimenteer die wit goed. As jy iemand is wat hou van ’n tikkie glans, kan jy as alternatief wit saam met silwer dra. Dink silwer blinkers, kralewerk of ’n assimetriese insetsel van dié sprankelende kleur. Probeer selfs ’n kop-tot-toon silwer voorkoms – jy sal beslis skitter vir Kersfees! Ons is mal oor dié wit items Toppie (R599) Poetry Toppie (R1599) YAYA Baadjie (R1599) YAYA Handsak (R2299) YAYA Hemprok (Prys op aanvraag) Tally Eenstuk (Prys op aanvraag) Witchery Rok (R7000) Replay Langbroek (R4800) Replay
http://www.rooirose.co.za/wit-kersfees/
2016-12-19 05:00:51
Margaret Gardiner: 'n ma soos myne
Dit verg ’n baie spesiale ma om ’n suksesvolle dogter groot te maak, en dis inderdaad die geval met Margaret Gardiner, ons eerste Mej. Heelal en deesdae ’n gewilde en gesoute vermaakjoernalis in Hollywood. Hulle het in Januarie 2015 eksklusief met rooi rose oor hul ma-en-dogter-verhouding gesels. In sy memoirs skryf die oud-koerantman en tydskrifredakteur Izak de Villiers uitvoerig oor sy ontmoetings met Margaret Gardiner. Van al die vroue wat hy in sy loopbaan ontmoet het, skryf hy, is Margaret Gardiner, die Mej. Heelal van 1978, ongetwyfeld onder die topvyf. Met hul eerste ontmoeting het dit hom opgeval hoe geanker hierdie beeldskone langbeen van Woodstock in Kaapstad was. Hoe, wou hy weet, kry sy dit reg? “Ek weet dis ’n cliché om te sê ’n mens is ryk in ander dinge. Maar ek is!” was haar antwoord. Sy het vertel van haar “wonderlike gesin”, en van die baie onderlinge liefde en respek. “My familie is my rykdom. My ma is ’n ongelooflike sterk vrou. Vol begrip en moed.” Dit was haar ma wat die geleentheid gesien het wat die internasionale skoonheidsbedryf aan haar jongste dogter bied, en wat haar pa omgepraat het om haar te laat gaan. Maar nie sonder dat sy reguit gepraat het oor al die slaggate nie. “Tog het sy ook gesê sy laat my gaan omdat sy my vertrou,” onthou Margaret nou. Sy praat steeds met die grootste deernis en ontsag van Dawn, ’n fyn vroutjie van 85. (Margaret se pa, Alfred, is in 2000 oorlede.) Ja, hulle het soms verskil, maar niks meer as alle kinders en ouers nie. “Ek het net goeie herinneringe aan my ma. Ek onthou hoe glansryk sy altyd vir my gelyk het wanneer sy en my pa uitgegaan het. Ek onthou haar rooi lipstiffie en parfuum en die sagte swiesj-swiesj van haar rok.” Sy onthou ’n ma wat haar kinders saans kom nag soen het, ’n omgee-ma wat haar kinders met alles in haar sou verdedig en onvoorwaardelik in hulle geglo het. “Sy het ons altyd aangemoedig in wat ons ook al gedoen het.” Vra jy haar om haar ma te beskryf, vertel sy dadelik hoe baie haar ma sing. “En ek bedoel baie! En sy sal sommer dans ook.” Die Gardiner-dogters – Margaret het twee ouer susters, Sandy en Bev – is streng grootgemaak, maar daar was hope pret en onvoorwaardelike liefde. Maar, vertel sy, saam met die liefde was daar “klein klousules van verwagting” oor dinge soos vriendelikheid, hoflikheid, regverdigheid en hardwerkendheid. Dit was nie onderhandelbaar nie. Sy onthou die huislikheid waarvoor haar ma gesorg het. “Sy is ’n wonderlike kok, en het elke liewe aand gesorg vir die lekkerste aandete. En sy kan heerlik bak! Dis te danke aan my ma dat die kombuis een van my gunstelingplekke is. Dit was ook die plek waar ons ná ete sit en gesels het.” Het sy baie by haar ma geleer wat moederskap betref? “Sjoe. Sy was so ’n perfekte ma. Ek het geen idee gehad hóé gelukkig ek was om haar te hê, of hoe moeilik ma-wees soms is, of hoe dikwels ons haar as vanselfsprekend aanvaar het nie. Ons het maar net aanvaar alle ma’s doen wat sy gedoen het, maar ek het intussen geleer dis vir seker nie die geval nie.” Haar ma is haar klankbord. “Sy onthou van die dinge wat ek vergeet om te doen, en skroom nie om eerlik te sê as ek iets verkeerd doen nie, of as ek te maer is, of iets dra waarvan sy nie hou nie! My ma gee haar mening oor alles, of ek nou gevra het of nie,” skerts sy. “Maar, op ’n ernstige noot: ek is so dankbaar vir haar. As my gemoed onstuimig is, bel ek net my ma.” Margaret se ster brand steeds helder, anders as baie ander skoonhede en glansmense s’n. Daar was nog geen skandale of egskeidings nie, en sy het boonop ’n baie suksesvolle loopbaan as vermaakjoernalis. Tussendeur was daar haar eie kwota swaarkry en hartseer, onder meer ’n buisswangerskap wat haar by die dood laat omdraai het en DF sarkoom in haar borskas. Het haar ma ’n aandeel in die vasberade benadering tot die lewe? “Sy het my deur haar voorbeeld geleer. Sy het sekere dinge verwag van mense, ’n sekere standaard gestel, en mense verantwoordelik gehou vir sekere dinge. Sy doen wat gedoen moet word en kla nooit, maar nooit, daaroor nie. Sy het nie ’n idee hoe doeltreffend sy is nie.” As sy ooit in ’n geveg moet wees, skerts Margaret, sou sy beslis haar ma aan haar kant wou hê. Wat was die heel beste raad wat haar ma haar gegee het? “Moet nooit iets op skrif stel wat jy nie wil hê ander mense moet sien nie … ” lag sy. “Maar ernstig: ek hoef net na haar te kyk, na hoe sy vir mense omgee. Oral waar ons gaan, ken mense haar, gesels hulle met haar. Hoe sy haar lewe leef – dís die beste raad wat sy my kon gee. En sy hou nooit op om nuwe dinge te beproef nie.” Hoe, wil ek vir oulaas weet, hou mens ’n gesin bymekaar as julle op verskillende vastelande woon? “Ek moes op 16 al leer om sonder my gesin klaar te kom. Ek het nie ’n padkaart gehad nie, en moes maar uit my foute leer. Daar is min dinge so alleen soos om in ’n land te wees waar jy niemand ken nie, nie die taal kan praat nie en waar jy ’n werk doen wat jy nie regtig ken nie. Ek het nogal ’n slag met mense, maar daar is eintlik maar net ’n paar mense in die wêreld wat deel van my binnekring is. Hulle is almal selfstandige, sterk vroue wat nie daaglikse kontak nodig het om te weet dat ons nog vriende is nie. Ek dink dis iets wat ek by my familie geleer het. Ons is sterk en baie geheg aan mekaar, maar ons is low maintenance. Die band tussen ons is onbreekbaar.” Ordentlik en sterk Dawn onthou hoe hul gesin alles saam gedoen het, van kerk toe gaan tot uitstappies en vakansie. “Ons het saam speletjies gespeel en die dogters het vir ons klein opvoerinkies gehou.” Sy en haar jongste was nog altyd na aan mekaar. “Ek het Sondae altyd ’n spesiale ontbyt gemaak, en dan kuier net ek en sy om die tafel. Ek het altyd vir haar verrassinkies op haar bed gelos, en briefies vir wanneer sy ná ’n afspraak tuis kom. Ons het altyd in die swembad gespeel, selfs toe sy al getroud was.” Hoe ’n soort kind was Margaret, wil ek weet? Stout, stil, ordentlik, ’n rabbedoe? “’n Bietjie van al daardie dinge. Sy was ’n vreeslike mooi dogtertjie wat maklik gebloos het, en so skaam dat sy maklik sou wegkruip as daar gaste opdaag. In sommige opsigte was sy ’n regte dametjie, en een van ons bure het haar ‘Prinses’ genoem. Maar ons ander buurman het haar sommer ‘Charlie’ genoem, want sy was ’n bietjie van ’n rabbedoe wat van treine en motors gehou het.” En, sê sy, Margaret kon nog altyd skryf. “Sy het die mooiste gedigte geskryf. Haar eerste gedig is gepubliseer toe sy 15 was.” Sy verklap dat Margaret ’n regte slimkop was, altyd in die topvyf van die klas. “Gewoonlik onder die eerste drie.” Dawn se enigste droom vir haar dogter was dat sy “ordentlik en sterk” sal wees as sy groot is. Maar op 15 het die mooi jongmeisie se lewe ’n heel ander wending geneem toe die fotograaf Bernard Jordaan haar “ontdek” het. Haar lewe het verander van skoolmeisie na internasionale model na Mej. Heelal. Was Dawn verras toe Margaret ’n model word? “Ja! Ons het geen ander modelle in die familie gehad nie. Ons het geen klem op voorkoms geplaas nie, maar eerder op studies.” Sy was darem nie te verbaas oor haar dogter se sukses in die skoonheidswêreld nie. “Sy het ’n soliede basis gehad. Ons het haar geleer om te onderskei tussen reg en verkeerd, om weg te bly van dwelms, om goeie waardes te hê. Sy was nog altyd suksesvol in alles wat sy voor dit aangepak het, so ek het gehoop dit sou weer die geval wees. Maar ek het ook seker gemaak dat sy weet ons sal haar steeds liefhê, ongeag.” Dis nie enige 16-jarige wat alleen oorsee kan gaan woon en werk nie. Dat sy dit so goed hanteer het, sê iets van die goeie opvoeding en sterk rolmodelle wat Margaret gehad het. “Ek het haar in my briewe aangemoedig om haar land na haar beste vermoë te verteenwoordig,” onthou Dawn. Tipies ma, het sy elke maand ’n pakkie gestuur met al Margaret se gunsteling-lekkernye. Dit was nooit vir haar lekker dat Margaret so ver van hulle af woon nie. “Maar ons het met baie briewe daarvoor vergoed. En wanneer sy in Suid-Afrika is, is dit asof ons net aangaan waar ons die vorige keer opgehou het. Dan gesels ons sommer deur die nag, onthou al die lekker dae, bak en brou in die kombuis … ” Dawn is ooglopend trots op haar dogter. “Sy is ’n goeie dogter, en ’n wonderlike ma en vrou.”
http://www.rooirose.co.za/margaret-gardiner-n-ma-soos-myne/
2016-12-06 12:48:05
Ons gesels met die akteurs van Jou Romeo
Ruan Wessels Vertel ons van die oomblik toe jy uitvind jy het die rol gekry? Wat het jy gedoen en hoe het jy dit gevier? Ek het baie goed gevoel en ek was verskriklik opgewonde. Ek het myself sommer bederf en ’n pizza bestel. Vertel ons meer van jou karakter, Marko? Marko is die coolste ou in die skool. Hy is baie soos enige ander skoolseun. Hy is mal oor sport, veral krieket, hy haat wiskunde en hy hou daarvan om tyd te spandeer saam sy vriende. Watter uitdagings as akteur het jy tydens die verfilming van Jou Romeo ervaar? Ek sou sê die grootste uitdaging wat ons ervaar het, was die weersomstandighede. Ons het twee-uur soggens in yskoue water geswem – in die koudste kouefront wat Gauteng al gehad het! Hoekom, dink jy, moet hoërskoolleerders Jou Romeo kyk? Hoërskoolkinders gaan die fliek baie geniet omdat sosiale media baie ingetrek is en daar is baie moeite gedoen met die kamerawerk en dit is DIE beste tienerfilm wat al ooit gemaak is. Wat is jou toekomsplanne? Ek wil volgende jaar graag begin skryf. Daar is een fliek, Kampterrein, wat volgende jaar gaan uitkom. En ’n reeks, Seepglad, wat ook volgende jaar begin draai. Lees ook: Nuut in die flieks – Kampterrein Christopher van der Westhuizen In watter hoërskool is jy? Ek is tans ’n matrikulant in Hoërskool Randburg. Die skool is baie goedgesind teenoor ek wat die film kon doen tydens my Matriekjaar. Hoe het jou hoërskoolloopbaan jou voorberei om die rol van Tyler te speel? Ek is in my hoërskoolloopbaan dikwels as die buitestaander gesien en ek het soms ook so gevoel. Ek het maar altyd die kultuuraktiwiteite gedoen en veral in my senior jare myself in die dramaklas bevind. Ek is baie betrokke met die kultuur by my skool, soveel so dat ek hierdie jaar gedien het as die hoofverteenwoordiger van kultuur op ons leerlingraad. As ek kyk na die karakter van Tyler het daar beslis aspekte van my skoolloopbaan ingeglip. Dit is maar so met alle karakters wat jy as akteur vertolk. Jou karakter word amper die spraakbuis vir jou eie gevoelens soos jy as akteur probeer om die “bladsy-karakter” in die werklikheid te skep. Een van die goed wat my skoolloopbaan my beslis van die film geleer het, is hoeveel politiek daar in die skoolsisteem is. Veral as ons begin kyk na die korrelasie tussen sport en kultuur. Dit gaan maar oor wat die populêre ding is. Te dikwels verskoon skole die menslike sensitiwiteit wat gepaard gaan met die mense wat sy gange loop. Om self in ’n skool te wees het my toegelaat om dit raak te sien en dit te probeer uitwys in my karakter. Is daar enige ooreenstemmings tussen jou (as Christopher) en jou karakter? Ek dink as jy dit vir enige akteur sal vra, sal hy/sy die vraag met ’n ja kan antwoord. Iets wat my nog vir ’n lang tyd bygeval het, is ’n paar wyse woorde wat ek raakgelees het in my voor-slaap-Facebook-scrolls, ek kan nou nie onthou wie dit gesê het nie maar dit lui so: “No matter how different your character is, always look for yourself.” Hierdie help nogal baie om ’n realistiese, geloofwaardige karakter te skep. Ek beweeg nou van die punt af. 🙂 Ek en Tyler het wel ooreenkomste. Ons albei wil die meeste van die tyd net hê wat die beste is vir ons familie (vriende wat familie word), naamlik: Yvette en die brigade se Show. Al is die maniere hoe ons dit probeer regkry nie altyd so goed nie, ons motiewe bly suiwer. Ons is ook albei soms effe dramaties. Tyler wel meer as ek. Maar ek sukkel om myself so aggressief soos Tyler te sien. Dit was juis ’n ding wat moeilik was vir my om in die karakter te kry, hoe kwaad en aggressief die karakter is teenoor baie van sy medekarakters. Hoekom, dink jy, moet hoërskoolleerders Jou Romeo kyk? Hierdie film is vir my verskriklik relevant. Die gemiddelde ouderdom van die spelers is dieselfde as die meeste matrikulante, wat verseker dat dit nou toepaslik is. Dit is vinnig, gepas en relevant vir sy tyd en gehoor. Onder André Velts se spelleiding is daar ’n eerlikheid in die film wat ek voel mens nie sommer sien nie. Maar behalwe dit, weg van die tegniese interessantheid en spel wat so lekker speel, voel ek die vraagstuk wat die film raak is veral relevant. Ek persoonlik dink dit is iets wat ek sou wou hoor toe ek as groentjie met my hoërskoolloopbaan begin het. Dat die skool-omgewing ons almal in boksies probeer druk, maar eintlik pas ons saam in een boks, dit is dat ons almal mense is. Ons ontmoet mekaar daar en sien die liefde in mekaar raak, sien hoekom iemand iets doen en nie net die ding wat gedoen word nie. Kyk na motief, nie noodwendig na die aksie self nie. Daar is redes hoekom mense goed doen. Dit is maar net een van die goed wat die film probeer wys maar wat ek voel die meeste vir my uitgestaan het. Wat sê jou vriende oor die feit dat jy ’n hoofrol in ’n fliek vertolk? Ek is al ’n ruk bedrywig in die bedryf. Ek het my eerste rol in graad ses gekry (Die ongelooflike avonture van Hanna hoekom), so my vriende het geweet ek probeer al lank, so dit was vir lank op die sy gewees tot onlangs. Toe ek self die goeie nuus gekry het, kon ek dit nie heeltemal glo nie, maar toe Lelia Etsebeth vir my vertel, het ek gedink dit is tyd om die nuus te breek. Hulle was amper net so bly soos ek. Sommige van hulle was effe bekommerd oor my matriekjaar wat ook nog voltooi moet word. Nou dat dit amper ’n werklikheid is, en die skerm amper gaan flikker met my gesig daarop, sien ons almal verskriklik baie uit. Ek is ongelooflik geseën om die vriende te hê wat ek het. Juis soos Tyler is dit vriende wat eintlik nou familie is. Wat is jou toekomsplanne? Sjoe, dis ’n vraag wat dikwels gevra word hier teen die einde van matriek. Ek wil baie graag aangaan met wat ek nou doen, die ontdek van mense. Dit wat ons almal laat tick … stories. Ek wil dit baie graag my lewe lank doen. Ek weet ek gaan dit doen, al wat nou sal verander is waar en hoe. Dit was vir nou eers skool wat moes klaarkom. Nou is die toekoms oop vir speel en avontuur binne hierdie kunswêreld! Ruan Blum Wat is jou gunsteling Shakespeare-toneelstuk en hoekom? My gunsteling-Shakespeare is “The Merchant of Venice”. Ek is mal oor die storie en lewensles wat mens daaruit leer. Op skool het ons dit in diepte bestudeer en het dit my liefde vir Shakespeare begin. Ek moet ook bysê, Al Pachino wat die rol van Shylock in die film vertolk, het ook ’n groot impak op my gehad. Hoe het jy vir jou rol voorberei? ’n Groot voorbereiding wat ek gedoen het, was die krieket-oefeninge. Ek het nog nooit in my lewe krieket gespeel nie, en om letterlik die basics te leer en beter te raak, het ek nogal lief geraak vir die sport. Ek haal my hoed af vir professionele krieketspelers, dit is nie so maklik soos wat dit lyk nie. Wat is die snaaksste ding wat tydens verfilming gebeur het? Iets wat ek nooit sal vergeet nie was toe ons die Brink “party scene” geskiet het. Dit was 4-grade daai aand, net toe die jaar se eerste kouefront getref het. Ek sal nie sommer vergeet hoe die ekstras en Ruan Wessels tweeuur die oggend in die koue water moes swem nie. Ek het lekker vir hom gelag, maar meer vir die feit dat ek bly was dat dit nie ek hoef te wees nie nie. #Respect Hoekom, dink jy, moet hoërskoolleerders Jou Romeo kyk? Omdat dit ’n vars romantiese komedie is, wat veral hoërskoolleerders sal raak. Omdat dit in die hoërskool-wêreld plaasvind, en omdat soveel leerlinge hulself met van die karakters sal kan vereenselwig. Om ’n lekker tyd te hê, om te lag, en om ’n romantiese tiener-komedie te sien wat op ’n baie unieke en moderne manier gedoen is. Daar is iets vir almal, van krieket-jocks tot drama-nerds. Wat is jou toekomsplanne? Op die oomblik is dit net om as akteur te kan werk, en om my drome te volg. Ek vat dit maar soos dit kom, en probeer elke oomblik geniet. Kyk hier na die lokprent van Jou Romeo
http://www.rooirose.co.za/ons-gesels-met-die-akteurs-van-jou-romeo/
2016-12-08 14:21:06
Maak jou eie binnenshuise 'hopscotch'
~ Ons het ’n klompie oulike idees by Your Family-tydskrif gekry waarmee jy jou kinders in die vakansie besig kan hou.
http://www.rooirose.co.za/maak-jou-eie-binnenshuise-hopscotch/
2016-12-05 13:33:55
Sonskerm en branderige oë
Ek het onlangs sonskerm (’n baie goeie een) te naby aan my oë gebruik. My oë het so getraan en vir ’n paar uur lank geswel dat ek besluit het om hierdie artikel te skryf (en volgende keer meer simpatiek gaan wees as my kinders kla oor sonskerm wat hulle ogies brand)! Dr. Ian Webster, dermatoloog en eienaar van die aanlynwinkel dermastore.co.za, gee raad. Definisie van jou oog-area: die vel rondom en naby jou oë en ook jou ooglede. Mense met sensitiewe oë en vel rondom die oë moet eerder fisiese sonskerms gebruik en versigtig wees om dit te naby aan hul oë te wend. Wat is ’n fisiese blok? Dit bevat mineraal-bestanddele soos titanium-oksied (beskerm teen UVB, maar nie teen volle spektrum UVA nie), of sink-dioksied (beskerm teen UVB en UVA). Die superfyn natuurlike metale wat ’n lagie bo-op jou vel vorm (en nie geabsorbeer word nie), sodat die UV-strale nie jou vel kan binnedring nie. Hoekom laat sonskerm jou oë brand? Chemiese/nie fisiese sonskerm bevat chemiese bestanddele soos preserveermiddels (wat nodig is om die produk se integriteit te behou). Sonskems wat alkohol bevat kan ook jou oë irriteer, so vermy sonskerms wat dit bevat naby jou oë. Fisiese sonskerms sal minder geneig wees om jou oë te irriteer en as dit in jou oog kom, sal dit ook minder irriterend as ’n chemiese sonskerm wees. Hoe verskil sonskerm vir jou oë van sonskerm vir jou gesig of lyf? Dit is spesiaal geformuleer vir die dunner en meer sensitiewe vel rondom jou oog-area. Dit word ook so gemaak dat die nie hardloop en smeer en so in jou oë beland nie. Hoe lyk die ideale sonskerm vir jou oë? Hoë faktor SPF50+ Breë spektrum wat teen UVA en UVB beskerm Droë aanraak formule met ’n mat afwerking sodat dit nie smelt en in jou oë loop nie Fisiese blok of een met minder chemiese bestanddele. Die meeste sonskerms bevat ’n mengsel van fisiese en chemiese bestanddele. Probeer hierdie produkte Waterbestand La Roche-Posay Anthelio XL Dry Touch SPF 50+ Face/Eyes (R250 beskikbaar by Dis-Chem en dermastore.co.za) Fotoprotector ISDIN Fusion Water SPF50+ sonskerm (R284, dermastore.co.za) SkinCeuticals Physical Eye UV Defense SPF50 (R450, dermastore.co.za) is baie belangrik vir mense met sensitiwe oë/vel of rosacea Oogkundige groep Mellins i-Style, deel raad oor hoe om jou oë tydens die somermaande te beskerm. Lees meer onder. 6 feite oor visie en die uitwerking van die son op jou oë Jou oë kan sonbrand kry. UV-sonstrale wat weerkaats is net so gevaarlik soos direkte sonstrale. Water weerkaats tot 100% UV-sonstrale. Oggend (08:00 tot 10:00) en laatmiddagson (14:00 tot 16:00) is twee keer meer beskadigend as die middaguur om 12:00. 5-10% van velkankers ontwikkel op die ooglid as gevolg van oormatige blootstelling aan UV-sonstrale. Bewolkte dae kan net so skadelik wees vir jou oë omdat ongeveer 40% van UV-sonstrale jou oë in die buitelug bereik. Daar is gewoonlik ’n rede vir die duur prys wat mens soms vir ’n sonbril betaal en dit het gewoonlik te doen met die kwaliteit van die lense en die raam. Daar is egter baie goedkoper sonbrille beskikbaar wat soortgelyke beskerming bied as die duurder handelsname. Dit is belangrik om te onthou om altyd ’n sonbril te kies wat UV-beskerming bied en wat ten minste 99% tot 100% UVA- en UVB-strale blokkeer, of wat sê ‘UV400-beskerming’. Die rede is dat langdurige blootstelling aan die son se strale tot oogprobleme soos katarakte, kanker van die ooglid, skadelike vergroeisels op die oog self, en keratitis (of sonbrand van die oog), kan lei. Dit kan selfs die agterkant van die oog beskadig. Volgens die Amerikaanse Visieraad (US Vision Council), kom 5-10% van velkankers op die ooglid voor as gevolg van oormatige blootstelling aan UV-sonstrale. Fel sonlig tydens die somer kan amok maak met visie en ooglede, maar dit is ook belangrik om te onthou dat verskeie ander faktore benewens skadelike sonstrale die ooglede kan aantas. Probeer hierdie nuwe sonbrilstyle wat albei UV-beskerming bied: Foto’s Tom Ford (SDM Eyewear) Puma (R3 450) Emilio Pucci van SDM Eyewear (R4 975)
http://www.rooirose.co.za/sonskerm-en-branderige-oe/
2016-12-26 05:00:25
Wat is jou geldstyl?
1 Ek kry uit die bloute R250 000, my eerste impuls is om a Vermy enige besluite tot ek minder oorweldig voel. b Sit die geld dadelik in ’n afsonderlike rekening sodat dit nie “verdwyn” nie. c Ondersoek maniere om die geld te belê sodat ek die beste opbrengs kry. d Bestee dit aan goed wat ek wil hê en geskenke vir ander. 2 My primêre finansiële doelwit is a Onduidelik vir my. b Om genoeg geld te spaar sodat ek my nie oor my oudag hoef te bekommer nie. c Om so gou moontlik, so veel moontlik te maak. d Om genoeg te hê sodat ek kan koop net wat ek wil. 3 Wat my begroting betref a Ek het nie ’n begroting nie en sal nie weet waar om te begin nie. Ek hoop die geld na sal hulself omsien. b Ek is trots dat ek my begroting nougeset volg. c Ek bestee tyd daaraan om uit te werk hoe ek meer geld kan hê om te bestee en te spaar. d Begroting? Nooit! Die woord laat my klaar rebels voel. 4 Wat besteding betref a Ek hoop ek het genoeg geld vir onbeplande uitgawes. b Ek spaar eerder my geld. Dit maak my senuweeagtig as ek dit uitgee. c Ek hou daarvan om geld uit te gee, solank ek geld verdien en kan spaar sodat my geld kan groei. d Dis vir my heerlik om geld uit te gee en ek bestee meer as wat ek verdien. 5 Spaar a Ek weet ek behoort te spaar, maar ek kom net nie so ver nie. b Dis vir my lekker om te spaar en dink gereeld hoe ek meer kan spaar. c Dis vir my tweede natuur om te spaar. Ek spaar gereeld en konsekwent. d Dis vir my moeilik om te spaar en dit pla my soms. 6 Kredietkaarte a Ek is baie keer verras oor hoeveel ek skuld, veral as die bedrag vir laat betalings bygevoeg word. b Ek vermy eerder kredietkaarte en verkies debietkaarte en kontant. c Ek gee nie om om groot bedrae op my kredietkaart te sit nie solank ek dit vinnig afbetaal. d Ek gebruik my kredietkaarte gereeld en betaal aan die einde van die maand meestal net die minimumbedrag. 7 In ’n noodgeval a Ek weet nie of ek genoeg spaargeld het nie en hoop op die beste. b Ek het genoeg gespaar vir byna alle noodgevalle, maar hoop dat ek dit nooit hoef te bestee nie. c Ek het heelwat opsygesit vir noodgevalle, maar ek is nie seker dat dit genoeg is nie. d Ek het nie genoeg geld oor om vir noodgevalle te spaar nie. 8 As ek iets wil koop wat buite my begroting is a Begroting? Alles sal wel uitwerk. b Ek sal hard moet dink voor ek myself toestemming sal gee om die geld uit te gee. c As dit belangrik genoeg is, sal ek my portefeulje aanpas. Andersins sal ek daarvan vergeet. d Ek sal dit koop, of ek dit kan bekostig of nie. 9 Ek sal in hierdie omstandighede om ’n lening aansoek doen a Ek weet nie. b Net in ’n ernstige noodgeval. Ek hoop nie ek hoef ooit geld te leen nie. c Om in ’n onderneming te belê wat ’n goeie opbrengs verseker. d Om met vakansie te gaan, of iets te koop. 10 Ek bekommer my oor geld a Slegs wanneer ek ’n finansiële krisis het. b Heeltyd. Dis die ding waaroor ek die meeste tob. c Soms, maar ek doen alles om seker te maak dat ek genoeg het. d Moet ek bekommerd wees? Nee wat, ek geniet net om dit te bestee. 11 As as ek dink aan beplanning vir my toekoms a Ek kan net hoop dat die toekoms vir homself sal sorg. b Ek voel redelik gerus omdat ek deur die jare gespaar het. c Omdat ek beplan om oorge-noeg geld te hê, sal die toekoms waarskynlik reg wees. d Ek is redelik bekommerd, want dit was baie moeilik om iets te spaar. 12 As ek R15 miljoen in ’n lotery wen, sal my eerste reaksie wees om a Ek sal nie weet hoe om dit te hanteer nie. b Verlig te voel dat ek nou finansieel veilig is. c Aan maniere te dink hoe ek die geld verder kan laat groei en vir my plesier kan gebruik. d Om histeries opgewonde te wees oor die vooruitsig dat ek van nou af alles kan koop wat my hart begeer. 13 Belasting a Ek is altyd verstom oor hoeveel belasting ek moet betaal b Ek spaar vroegtydig vir belasting en vul my vorms lank voor die tyd in. c Ek is trots as ek met goeie beplanning minder belasting betaal, hoewel my inkomste gestyg het. d Dis altyd ’n geskarrel om my vorms in te vul en genoeg geld te kry om dit te betaal. 14 My finansiële verslae a Ek is nie sekere watter verslae ek moet hou nie. b Ek hou my finansies noukeurig dop. c Ek hou daarvan om deur my vorige state te gaan en te sien hoeveel geld ek het. d Ek hou nou en dan ’n verslag. Wat is jou uitslag? Niemand het gewoonlik net een geldstyl nie. Hier is vier geldstyle wat jou ’n goeie idee sal gee van hoe jy en jou geliefde se ingesteldheid ten opsigte van geld verskil. Noudat jy duidelikheid oor jou eie styl het, kan jy ook sien hoe om dit te verbeter. Meeste a’s: Kop in die sand As jy nie verantwoordelikheid vir jou geldsake wil aanvaar nie, sal jy gedurig laat wees met betalings en op die laaste oomblik skarrel om jou belasting in te vul. Jy begroot ook nie, spaar nie eintlik nie, en hou geen finansiële rekord nie. Omdat jy nie aandag aan jou beleggings gee nie (as jy het), weet jy nooit hoeveel geld jy het, of hoeveel jy skuld nie. Hoekom probeer jy jou geldsake ignoreer? Dalk voel jy ontoereikend en oorweldig geldsake jou. In ernstige gevalle voel mense selfs angstig en amper verlam as dit by hul geldsake kom. Die meeste ignoreerders voel dat hulle nie genoeg weet nie, en dat die ingewikkeldhede en detail van geldsake hulle intimideer. Meeste b’s: Spaarder Jy hou van geld spaar en jou gelddoelwitte kry voorrang. Jy het waarskynlik ’n begroting en jy hou daarvan om die begroting op te stel en gereeld aan te pas. Dis waarskynlik vir jou moeilik om geld op jouself en geliefdes uit te gee, asook vir weelderige of selfs praktiese items. Sulke aankope kan vir jou ligsinnig voorkom. Jy kan geld vir vakansies, vermaak en klere as onnodig beskou. As jy geld belê, dink jy nie aan beskikbaarheid nie, maar eerder aan sekuriteit vir jou oudag. Meeste c’s: Opgaarder Jy is op jou gelukkigste as jy groot hoeveelhede geld tot jou beskikking het om te spaar, bestee en belê. Jy voel “leeg” en sonder doel as jy nie besig is om iets met jou geld te doen nie. Jy is geneig om mense (en jou eie) se waarde en hul mag aan hul geld te meet. ’n Gebrek aan geld kan tot gevoelens van depressie en mislukking lei. Jy hou waarskynlik daarvan om jou eie besluite oor jou geld te neem, maar as jy gedurig bekommerd is oor jou geld, kan dit bevrydend wees om ’n betroubare adviseur aan te stel. Meeste d’s: Spandeerder Jy hou daarvan om jouself en ander te bederf. Die probleem is dat jy waarskynlik sukkel om te spaar en op die langtermynprioriteite in jou lewe te fokus. Jy beplan nie genoeg vir jou toekoms en groot aankope nie. Jy bestee elke maand waar-skynlik die meeste van jou geld en het dalk selfs skuld. As jou inkomste nie genoeg is om jou uitgawes te dek nie, sal jy nuwe strategieë moet kry om meer geld te maak.
http://www.rooirose.co.za/wat-jou-geldstyl/
2016-12-19 16:16:35
Laai jou 2017 rooi rose-kalender af
~ 2016 is op sy rug en ons maak gereed vir 2017! Hier is 12 verskillende kalenders, vir elke dag van die jaar, wat jy kan uitdruk of op jou rekenaar, tablet of slimfoon gebruik.
http://www.rooirose.co.za/laai-jou-2017-rooi-rose-kalender-af/
2016-12-19 11:37:32
Pulse: Jou mening maak saak
Hoe werk dit? PULSE is ’n maklike app vir jou slimfoon wat ons gebruik om met jou te kommunikeer sodat ons vir jou meer leesstof van jou keuse kan gee. Laat jou mening tel deur vandag nog vir ons paneelbespreking in te teken. • Laai die Pulse-app af vanaf iStore of Google Play • Volg die aanwysings om te registreer • Antwoord “Ja” wanneer jy gevra word of jy ’n paneelkode het en tik Pulse01 as die kode in • Jy sal ’n boodskap op jou slimfoon ontvang wanneer nuwe vrae beskikbaar is Dit is so maklik!
http://www.rooirose.co.za/pulse-jou-mening-maak-saak/
2016-07-06 11:23:33
Hou die kleinspan besig teen ’n sakpas-prys
Hier is nog vier maniere waarop ShowMax jou lewe as ouer makliker kan maak: 1 Dit sal kinders vir dae lank besig hou Die wye verskeidenheid programme sal jou kinders lank besig hou. Al die gewildste Afrikaanse programme is beskikbaar PLUS daar is ook ’n heerlike internasionale aanbod, met titels soos Lassie, Shaun the Sheep en Aladdin. Dora the Explorer, Curious George en Dennis the Menace kuier ook almal by ShowMax, terwyl groter kinders sal hou van programme soos Victorious, Naturally Sadie en iCarly. 2 Daar’s iets vir elke ouderdom As jy ’n hele stel orrelpypies het, kan jy seker wees daar is iets op ShowMax vir elke fase. Animasiereekse en opvoedkundige programme vir die kleintjies, tienerflieks, asook vermaak vir ma en pa! 3 Jy het volle beheer oor wat kinders kyk Met ShowMax se eenvoudige verbruikersprofiel kan jy seker wees dat jou kinders nie per ongeluk iets gaan kyk wat nie geskik is vir hul ouderdom nie. Gebruik die ouderdomsverstellings om seker te maak almal sien net wat hulle mag sien – selfs wanneer jy nie naby is om ’n oog te hou nie. Daar is vier kategorieë: programme vir jonger kinders, ouer kinders, tieners en volwassenes. Dis maklik om die verskillende profiele op te stel, en jy kan dit met PIN-kodes beskerm. 4 Jy kan programme aflaai wat enige tyd gekyk kan word Laai tuis tot 25 programme op jou slimfoon of tablet af wat die kinders in die kar kan kyk – al ry julle deur die gramadoelas waar daar geen internetverbinding is nie. Hierdie funksionaliteit gaan sommer baie van jou vakansie-frustrasies vir altyd verlig … Dit alleen is die bekostigbare maandelikse fooi tien maal werd! Wat is ShowMax? Kyk al jou gunsteling-programme enige tyd, enige plek met ShowMax internet-TV teen slegs R99 per maand. Dis voltydse vermaak, met die beste internasionale en plaaslike programme op jou slimfoon, skootrekenaar, tablet, Apple TV, DStv Explora of slim TV. Dit kan ook gebruik word met AirPlay en Google Chromecast. Stroom terwyl jy aanlyn is op enige van hierdie toestelle, of laai tot 25 programme op jou slimfoon of tablet af vir wanneer jy nie aan die internet verbind is nie. Meer as 25 000 episodes van reekse, flieks, dokumentêre en kinderprogramme. 14-dae gratis proeflopie vir nuwe intekenare Gaan na ShowMax.com en teken aan vir jou gratis 14-dae proeflopie.
http://www.rooirose.co.za/hou-die-kleinspan-besig-teen-n-sakpas-prys/
2016-12-19 10:19:00
Is dagga veilig?
Is dagga veilig, noudat die nuwe wetgewing sê mediese of terapeutiese dagga is wettig? Jou dokter sal nou vir jou dagga kan voorskryf. Dit laat mens skielik voel asof dagga soos ’n antibiotika is. Soms is dit net die regte ding vir jou. En daarmee saam voel jy asof dagga veilig is. Of is een se medisyne ’n ander se gif? Wat doen dagga aan jou? Ons het twee kenners gevra om uit te klaar wat dagga aan gesonde mense doen. Prof. Lize Weich, dosent in psigiatrie aan die Universiteit van Stellenbosch, en Tertius Cronjé, senior konsultant by SANCA lys die volgende nadele. Interessant: Hulle sê die nadele geld álmal. Siek mense wat dagga gebruik loop presies dieselfde risiko’s as gesonde mense. Siek mense sal egter die nadele teenoor die voordele opweeg. Nog ’n feit wat mens laat nadink oor daggaveiligheid: Ontleding van daggaplante wys moderne dagga is rondom 400% sterker as die dagga van die hippi-era en vroeër. Daggakwekers in hul soeke na die volmaakte euforie het daggaplante veredel, net soos enige ander landbougewas. Navorsing in 1980 het gewys dat blare gemiddeld 2% kannabinoïede bavat; teen 1997 het dit op 4,5% gestaan en op 8,55% in ’n 2006-ondersoek. Die dagga waarmee tieners vandag eksperimenteer is dus rondom vier keer sterker as wat vorige geslagte kon kry. Die uitwerking hiervan moet meer intens wees. 1 Dagga beskadig jou brein permanent Tot onlangs was mense meer bekommerd oor die moontlikheid dat jy verslaaf kan raak aan dagga. Na uitgebreide navorsing weet ons nou die probleem met dagga lê eintlik by die skade wat dit aan die brein doen. ’n Kykie na die syfers wys die volgende: Volgens ’n VN-raming was daar in 2010 tussen 119 miljoen en 224 miljoen daggagebruikers wêreldwyd. Daar is sowat 13 miljoen permanent afhankllikes wêreldwyd, volgens die 2010 Global Burden of Disease-ondersoek. Dus raak 5-10% van mense afhanklik van dagga. Dit bevestig dat verslawing nie die groot risiko is nie. Die groot probleem is die feit dat dagga jou brein permanent verander (lees ‘beskadig’). Afhanklikheid kan potensieel omgekeer word maar die veranderings wat dagga aan die brein veroorsaak blyk permanent te wees. Die brein van jong mense tussen 15 en 25 jaar is die vatbaarste vir daggaskade, sê prof. Weich. “Ons weet die brein gaan in die laat tienerjare en vroeë twintigs deur ’n baie kritieke periode van finale ontwikkeling. Dagga werk ongelukkig juis spesifiek in op hierdie areas.” “Hierdie areas het veral te doen het met goeie oordeel, inhibisie en emosionele konneksies met ander mense. Met ander woorde hierdie mense sukkel om gelukkige verhoudings te bou, waag makliker dom kanse en kan hul vermoë om goeie keuses te maak verloor. “Dit is juis hulle wat met dagga eksperimenteer. Die feit is dat hulle blootstelling aan dagga die minste bekostig.” 2 Dagga verswak jou konsentrasievermoë en geheue Jou vermoë om te leer en te onthou word erg benadeel, sê Tertius Cronjé van SANCA. “Om dit prontuit te stel: dagga maak jou dom. Dit is nie maar net vermoedens nie, die navorsing hieroor is goed gevestig.” Hoe langer jy dagga gebruik, hoe meer word jou geheue en konsentrasie aangetas. Wanneer jy na langtermyn gebruik ophou, keer jou konsentrasievermoë en geheue nie noodwendig terug nie. Hierdie skade kan dus permanent wees. In die mediese wêreld staan dit bekend as blywende kognitiewe skade (residual cognitive impairment). 3 Dagga veroorsaak ‘dom-en-lui-sindroom’ Die korrekte term is afhanklikheidsindroom, sê Tertius. “Dit is ’n algemene waarneming dat mense wat dagga gereeld gebruik mettertyd werksku raak. “Ons verstaan steeds nie hoe dit gebeur nie. Vermoedelik verander dagga die beloningsentrum in die brein. Gereelde gebruikers verloor dus alle motivering om te werk en na hulself om te sien.” As jy dus droom van ’n lewe met genoeg geld vir ’n mooi huis, motors, vakansies en werksukses, vergeet daarvan dat dagga veilig vir jou sal wees. 4 Dagga kan skisofrenie, psigoses, angsaanvalle en depressie sneller Só lyk van die syfers oor psigiese siektes en dagga: ’n Ondersoek deur prof. Weich by Stikland Psigiatriese Hospitaal in die Kaap wys dat 51% (die helfte) van die pasiënte wat oor ’n periode van drie maande toegelaat is ook dwelms gebruik het. In die meeste gevalle was die betrokke dwelmmiddel dagga. Navorsing in die VSA wys dat een uit elke ses pasiënte met psigose en een uit elke 30 pasiënte met skisofrenie hulle toestand direk aan dagga te wyte het. Die algemene mening is dat dagga hierdie siektes by jou sneller as jy ’n geneigdheid daartoe het. As jy ’n familiegeskiedenis (familielede met enige tipe psigiese siekte en/of depressie) het, is dit te betwyfel of dagga veilig vir jou kan wees. Daar is geen betroubare manier om te voorspel by wie dagga psigiese siektes sal sneller nie. Dit kan jý wees. 5 Dagga beskadig babas tydens swangerskap Swanger vroue wat dagga gebruik se kinders vaar op drie jaar betekenisvol swakker in IK-toetse as kinders van ma’s wat nie dagga tydens swangerskap gebruik het nie. AAHS (aandag-afleibaarheid-en-hiperaktiwiteitsindroom), is ook meer algemeen onder kinders van daggarokers. Dagga kan nie vir jou toekomstige nageslag veilig wees nie. 6 Dagga verhoog jou en jou kinders se kanse op kanker Net soos wat sigarette kankerwekkers is, is daar kankerwekkers in dagga. Daarom is die voorkoms van longkankers en kop- en nekkankers hoër onder daggagebruikers. KANSA sê daggarook is uiters ongesond en skaad die longe selfs meer as sigarette. Mediese gebruikers is later baie meer vatbaar vir longinfeksies, chroniese brongitis en so meer. Kinders van daggarokers loop ongelukkig ook deur. Kinderleukemie is meer algemeen onder daggarokers se kinders. So ook sekere skaarser soorte kinderkankers, soos astrositoom en rabdomiosarkoom. 7 Dagga lei tot padongelukke, net soos drank ’n Ondersoek deur ons eie Medical Research Council wys dat twee uit elke drie pasiënte wat in Kaapse Trauma-eenhede opgeneem word, spesifiek dagga gebruik het. ’n Opname in ses Amerikaanse state wys dat byna een uit elke drie motorbestuurders wat in ’n ongeluk gesterf het onder die invloed van dwelms was, met dagga as die algemeenste een. Dus: nes drank tas dagga jou koördinasie aan, met gevolge soos dat jy ’n gevaar op die pad raak vir jouself en ander en dat jy jou eie voertuig afskryf of beskadig, met al die finansiële implikasies daarvan. 8 Jy kán verslaaf raak aan dagga Jou kans op afhanklikheid neem toe met langer gebruik. Jy kan dalk aan die begin afhanklikheid vryspring maar hoe langer jy dagga gebruik, hoe groter is die kans dat jy afhanklik raak. Lees ook meer oor die 2017-daggawetgewing en hoe dit verseker dat mense met vigs, kanker en pyn dagga wettig sal kan gebruik.
http://www.rooirose.co.za/dagga-veilig/
2016-12-19 13:38:53
Dagga koop en die Daggawet: kry jou tiener nou maklik dagga?
As mediese dagga wettig is, moet jy ook kan dagga koop, verkoop en kweek. Hoe maklik maak die nuwe Medical Innovation Bill dit vir jou? Hier is die feite, aldus MASA (Medical Association of SA), SAMRC (SA Medical Research Council) en MCC (Medicine Control Council of SA). Nota Die nuwe wetgewing is nog nie gefinaliseer nie. Daar is dus nog nie finale riglyne vir sommige kwessies nie. Wat is mediese dagga? Die Medical Innovation Bill onderskei tussen daggagebruik as medikasie en daggagebruik vir ‘ontspanning’, soos dit amptelik genoem word. Daggagebruik vir ’n siektetoestand, of terapeutiese dagga, word nou gewettig. Dagga koop vir ’n ‘high‘, soos die meeste gebruikers dit eintlik wil gebruik, bly onwettig. Wie mag dagga kweek? Jy mag steeds nie dagga in jou agterplaas kweek nie. Die nuwe Medical Innovation Bill dui aan dat ’n permit nodig is om dagga te mag kweek. Aangesien die gehalte van die dagga verseker moet word, sal privaat individue waarskynlik nie permitte bekom nie. Dit sal eerder aan professionele boere of farmaseutiese maatskappye toegeken word, soos die wat byvoorbeeld boegoe kommersieel kweek vir gebruik in kruiemiddels. Lees ook: Is dagga nou veilig? Waar kry mens ’n permit om dagga te kweek? Waarskynlik sal die MCC permitte toeken. Kontak die MCC direk. Vir watter siektes help dagga? Die MRC het die beskikbare navorsing ge-evalueer. Volgens hulle lyk die bewyse so: Chroniese pyn Daar is genoeg bewyse dat dagga chroniese pyn beheer. Die meeste gebruikers sal baat, hoewel nie almal nie. Daar is genoeg bewyse dat dagga chroniese pyn beheer. Die meeste gebruikers sal baat, hoewel nie almal nie. Gloukoom Die navorsing wys dat dagga nie oogdruk verminder en dus nie vir gloukoom help nie. Die navorsing wys dat dagga nie oogdruk verminder en dus nie vir gloukoom help nie. Meervuldige sklerose Daar is genoeg bewyse dat dagga vir spastisiteit help. Baie gebruikers sal baat, hoewel nie almal nie. Daar is genoeg bewyse dat dagga vir spastisiteit help. Baie gebruikers sal baat, hoewel nie almal nie. Naarheid en vomering tydens kankerterapie Daar is nie sterk genoeg bewyse dat dagga hiervoor help nie. Dit kan dalk vir party mense help. Daar is nie sterk genoeg bewyse dat dagga hiervoor help nie. Dit kan dalk vir party mense help. Eetlus Veral mense met kanker en vigs moet genoeg eet. Dagga is ’n eetluswekker, en kan potensieel hiermee help. Nogtans is daar nie sterk bewyse dat dagga vigs- en kankerlyers se eetlus verbeter nie. Vermoedelik kan dit vir party mense help. Veral mense met kanker en vigs moet genoeg eet. Dagga is ’n eetluswekker, en kan potensieel hiermee help. Nogtans is daar nie sterk bewyse dat dagga vigs- en kankerlyers se eetlus verbeter nie. Vermoedelik kan dit vir party mense help. Kanker Dit is nie deur die MRC ge-evalueer nie, maar daar is bewyse dat dit kankerselle in die proefbuis dood. Dit het potensieel die vermoë om die groei van kankerselle te onderdruk, maar lande soos die VSA keur dit nog nie goed vir die behandeling van kanker nie. Baie navorsing word tans hieroor gedoen. Sal jy by jou apteek kan dagga koop? Beslis nie. Apteke sal nie daggablare vir ’n zol aanhou nie. Die nuwe wetgewing stel nie die rook, eet of gebruik van daggablare of die hele daggaplant voor nie. Die dosis van die aktiewe bestanddele moet beskryf kan word, net soos met ander medikasie. Dit kan nie in daggablare voldoende gereguleer word nie. Jy sal dus by apteke kan dagga koop slegs in die vorm van druppels, olie … met jou geldige voorskrif in die hand. Dit gaan in elk geval nie maklik wees om dagga wettig te koop nie. Wetgewing vir apteke is baie streng. Die nuwe daggawetgewing verander net die skedulering van dagga van ’n Skedule 7-produk, waarvan die verkope onwettig is, na ’n Skedule 6-produk, wat volgens die strengste regulasie vir medikasies verkoop word. In beginsel geld al die reëls vir die koop van morfien ook vir die koop van dagga. Net soos met ander skedule 6-medisynes sal jy ’n voorskrif nodig hê. Hoe kry jy mediese dagga op voorskrif? Jou dokter sal jou kan verwys. Dokters word baie goed gemonitor. Dokters wat dagga onregmatig voorskryf, kan hul lisensie verloor. Sal jou mediese fonds vir dagga betaal? Baie onwaarskynlik. Jou dokter sal dit moet motiveer, en selfs dan sal hulle dit nie noodwendig finansier nie. Wat as jy newe-effekte ervaar? Jy sal ’n vorm moet teken dat jy bewus is van risiko’s soos afhanklikheid, psigose, depressie, hartskade en so meer. Jy sal dus nie ’n eis teen jou dokter of mediese fonds kan instel nie.
http://www.rooirose.co.za/dagga-koop-en-die-daggawet-kry-jou-tiener-nou-maklik-dagga/
2016-12-20 10:56:07
Duinewêreld: die Kgalagadi Lodge
Indien jy ooit aan daardie kant van die wêreld kom, is die Kgalagadi Lodge ’n moet! Die oorkoepelende idee en die manier wat die plek gebou is en bestuur word, is net briljant. Akkommodasie Die lodge spog met 32 chalets en ’n 4-ster kampterrein met 19 kampplekke. ’n Swembad gee afkoelkans in die hittige somerdae, en in die winter is die vuurput aan die gang. Die kampplekke het hul eie opwasplek en ablusiegeriewe. Dekor Een van die eienaars, Denise Koortzen, is lief vir binnenshuise versiering en het al die huisies self versier. “Elke keer wat ek ’n chalet kan oordoen, voel ek soos ’n kind wat ’n geskenk op Kersdag oopmaak. Ek het deur die jare baie gegroei en weet nou al min of meer wat werk, en wat nie. Ek is nou weer besig om met afvalmateriaal, hout, teëls, ensovoorts te speel om dekor vir die chalets te maak. Wanneer SJ iets wil weggooi, sien ek baie keer die potensiaal raak en omskep dit in iets moois.” Die restaurant Ons is nie net met peuselhappies, wyn en yskoue bier in ons huisie bederf nie, maar ook met aandete. SJ en Denise is baie lief vir kos maak en bestuur self die kombuis. Die lekkerste hamburger wat ons al ooit geproe het, is deur SJ gemaak. As ’n jong seun het hy tyd by sy grootouers se lodge deurgebring en dis waar hy sy liefde vir kos en gasvryheid ontwikkel het. Sy ouma het die lekkerste kos gemaak, met ’n huis vol mense, en hom laat besef kos is die hart van die huis. SJ het sy eie resepte ontwikkel en tydens die verskillende seisoene is dit vir hom ’n passie om verskillende plaaslike kosse te maak – byvoorbeeld wildsvleis in die winter en Hentiesbaai se vars vis in die somer. Tussen April en Mei word daar die tradisionele !Naba geregte bedien, soos Brandewyn Flambé Springbokfillet met ’n !Naba sous. Die winkel Die Kgalagadi Lodge het ons met ’n winkel met ’n Deli verras. Daar word vars vrugte, groente en brood verkoop. Die res van die winkel is toegerus met kruideniersware sowel as handgemaakte geskenkies om jou tyd daar te kan onthou. Aktiwiteite by die lodge Eg Suid-Afrikaanse geregte word in die restaurant bedien Piekniekmandjies is beskikbaar om op die rooi sandduine te geniet Jy kan voëls kyk Kinders word deur al die plaasdiere vermaak: emo’s, skape, bokke en duikers Wandelpaadjies by die lodge bied jou die kans om diere, insekte, spore en Kalahari-plantspesies te verken Daar is pragtige fotogeleenthede Aktiwiteite in die omgewing Wildritte deur die bekende Kgalagadi Oorgrenspark (slegs 5 km van die lodge). Let wel – alle wildsritte moet vooraf bespreek en bevestig word by SanParke: 054 561 2000/2058 Besoeke aan die tradisionele Khoisan-dorpie in die gebied en opvoedkundinge wandelinge wat deur die Khoisan aangebied word 4 x 4 roetes Sand boarding / Duinplankry Opvoedkundige wandelinge saam met prof. Ann Rasa Denise en SJ vertel “Ons is geleë in ’n omgewing waar werksgeleenthede beperk is. Sowat 3 km suid van ons is daar ’n klein dorpie genaamd Welkom. Die meerderheid werknemers woon daar. Die Kgalagadi Lodge het slegs verlede jaar sowat R 1500 000 aan lone en salarisse spandeer, wat ’n direkte invloed op die lewensomstandighede van die gemeenskap het. Ons is baie betrokke; ons help waar ons kan, ons maak skenkings en verskaf borge aan die gemeenskap, die skooltjie en die plaaslike rugbyspan, die Kwaggas, en verryk die gemeenskap in deur werksopleiding.” Kontakbesonderhede SJ en Denise Koortzen, 082 303 8768 | 083 225 0331, [email protected] | [email protected] | [email protected] GPS: 26⁰ 31⁰ 28.0⁰ S | 20⁰ 36⁰ 15.1⁰ E Besoek www.kgalagadi-lodge.co.za vir meer inligting of om ‘n bespreking te maak.
http://www.rooirose.co.za/duinewereld-die-kgalagadi-lodge/
2016-12-05 12:58:57
Krismislyf
’n Week voor Krismis het dit tot my deurgedring: Ek is dik. Van my voornemens sedert September om gewig te verloor sodat ek my sonbruin sellulietlose somerlyf teen Kersfees kan vertoon, het niks gekom nie. Die einde van die jaar stres het veroorsaak dat ek ten minste 10 kg sjokolade verorber het. My enigste redding gaan wees ’n dieet waarmee ek 20 kg in een week kan verloor. Google het my nog nooit in die steek gelaat nie: “How to lose 20 kg in a week” het ek hoopvol ingetik. Ek het sekondes gewag, en .. Whalla!, die skerm het vol oplossings gespring. My hoop is verpletter toe ek begin lees: How to lose 20 kg of fat in 30 days; How to lose 1 kg in 1 day; How to lose 15 kg in 2 weeks. Nie een oplossing van hoe om 20 kg in een week te verloor nie. Ek was gedoem tot ’n dik Krismis. Liggaamshouding! Het ek onthou! Ek het immers al menigmaal in my loopbaan by vrouetydskrifte gesien hoe fotograwe ’n mollige celeb kan stileer sodat sy so maer as moontlik lyk (voor Photoshop). Ek het besluit ek sal doodeenvoudig vir twee weke in my maer pose versteen en staan of sit. Mens doen dit so: As jy staan of op die strandhanddoek sit, swaai jy die regterkant van jou lyf effe na voor/binne en sit jou regterbeen so effe voor of oor die linkerbeen. (Kyk hoe die celebs op die rooi tapyt of op die strand poseer. Dis hoe jy dit reg doen.) Jy hou jou rug kiertsregop om die vetrolle effe tussen die ribbekas en bekkenbeen te versprei en dan strek jy die ken ook effe na bo om van die dubbelken ontslae te raak. Dit help ook nie jou lyf is reg en jou oë is powwers van oorwerk nie. Jy moet hulle oop rek om groter te laat lyk en verkieslik nie jou oog knip nie, al droog jou oogballe uit. As jou mondhoeke afgetrek is van maande se irritasie met kollegas, moet jy ’n glimlag aanplak wat net breed genoeg is dat mens ’n Mariebeskuitjie tussen jou tanne kan indruk. Dis soos die celebs dit doen. (Dis beter om dik en vriendelik te lyk as dik en nors.) Dis ook belangrik dat jy onthou jy doen dit alles terwyl jy jou maag en agtertstewe intrek en verkieslik nie asemhaal nie. Ek het dit so vir ’n uur geoefen tot my rug in ’n spasma gegaan en my lippe blou geraak het van ’n tekort aan suurstof. Ek dink ek sal hierdie pose net beoefen in gevalle van nood soos as ek ’n ou universiteitsboyfriend op die strand sien. Daar was nog ’n oplossing wat ek oorweeg het. Daai lyfkouse wat Verimark adverteer! Dit strek van jou buustelyn tot by jou kniekoppe en druk al jou vet na binne. Ek het al een keer gesien hoe die mense van die garderobe op stel van ’n sepie ’n mollige aktrise in so ’n kontrepsie indwing. Dit was nie ’n mooi gesig nie, maar as dit moet, dan moet dit. Dit werk so. Jy het twee helpers nodig wat weerskante van jou staan. Elkeen moet aan ’n kant van die lyfkous vashou. Jy steek eerste jou voete in. Dit is die maklike deel. Dan trek jy dit oor jou kuite. Dis ook maklik. Hier by die bobene kom jou moeilikheid. Om die ding oor jou agterstewe te kry, moet jou helpers die broekgedeelte weerskante styf vashou en as hulle sê: “Spring!” moet jy spring en as jy sping, moet hulle gelyk die broek optrek. As jou agterstewe eers in is moet jy jou maag en die vetbolletjies onder jou buustelyn in die lyfgedeelte van die ding ingedruk kry. Dit kan asemhalingsprobleme veroorsaak, maar is ideaal vir daardie een mooi strandfoto wat jy op Facebook of Instagram wil plaas. Ek het vanoggend twee pienk kalmeerpille gedrink en die winkels gepak op soek na ’n baaikostuum wat my nie soos ’n gestrande walrus sal laat lyk nie. Die dilemma is dat swembroeke vir volwasse voller figure onverkrygbaar is. Daar is wel die met sulke rokkies wat strek van die buustelyn tot diskreet bokant jou mollige wit kniekoppe, maar uit ervaring weet ek die rokkie blaas soos ’n ballon op om jou lyf as jy in die swembad klim en dit is nie die effek wat ek wil hê nie. Kon die mensdom, met al sy kennis oor tegnologie, nog nie ’n kostuum ontwerp met ’n superrekstof wat jou appellyf in ’n uurglaslyf verander nie? Ek het wel by die kraamafdeling gaan loer. Maar die laaste ding wat ek nou nodig het, is om te lyk of ek enige oomblik in kraam kan gaan. Op my ouderdom sal dit nie deug nie. Van die Lycra-nommers het in die aanpashokkie teen my natgeswete lyf vasgesuig en my vetrolle tot teen my longe gedruk. Selle probleem as met die lyfkous. Mens het hulp nodig as jy hom wil aantrek. Van die swembroeke wat om my agterstewe pas, pas nie om my karige buustelyn nie. En, ek dog daardie broeke wat by die heupe so hoog opgesny is, is lankal uit die mode? Niemand wil sien hoe hou love handles by jou heupbene verbyflap nie! Van die kostuums sou net vir my pas as ek vier van my ribbe laat verwyder en ’n stewige liposuiging op my boudjies laat doen. Dis hoekom ek nou hier by die Mug & Bean sit met ’n dekadente bose dik melkskommel voor my. Ek is dik, ek ry môre met vakansie, en daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Ek het netnou in een van daardie nare aanpashokkies kaal voor die spieël gestaan en van alle kante krities na my lyf gekyk. Ek het ’n paar letsels op my maag van laparoskopieë van toe ek ’n paar jaar gesukkel het om swanger te raak. Elke letsel herinner my dat alles in die lewe nie vanselfsprekend is nie. Ek het ’n letsel waar my galblaas verwyder is wat my herinner dat ek so byna byna die emmer geskop het en ’n tweede kans gekry het. Ek het rekplekke van twee swangerskappe en dit herinner my dat daar altyd hoop en genade is en dat my kinders ’n blessing in oormaat is. My borsies is effe plat, maar dit herinner my daaraan dat ek twee kinders kon borsvoed en ’n wonderlike band met hulle kon smee. My boudjies is effe rond, maar ek weet dit voorsien my met lekker kussings vir al die ure wat ek voor my rekenaar moet sit en skryf. Dis hoekom ek nou hierdie melkskommel drink. Ek het op hierdie oomblik vrede met my lyf en myself. Ek het hierdie jaar ongenadig hard gewerk en ek verdien die rus. As jy my dus op die strand sien in my strandpakkie, waai vir my. Miskien wys ek jou my maer pose … of dalk nooi ek jou om saam met my ’n melkskommel te gaan drink.
http://www.rooirose.co.za/krismislyf/
2016-12-19 11:21:34
Die Prinsesrok
Die Prinsesrok Nita was nog nooit ’n blommemeisie of ’n prinses in ’n skoolkonsert nie. As iemand in haar familie trou of as die juffrouens rolle vir die konsert kies, kyk hulle haar altyd mis. Maar Tannie Joan se Anitatjie is al ’n paar keer as konfetti-meisie gekies en sy het al groot rolle in konserte ingeryg. Anitatjie met die lang goue krulhare en blou oë. Engelgesiggie … Nita het al tot die gevolgtrekking gekom dat niemand ’n blommemeisie of prinses met kort reguit bruin hare en groen oë en sproete wil hê nie. Anitatjie was ’n fyntjiese ou meisietjie, en Nita … Haar pa het graag gespog oor sy meisiekind wat net so sterk soos ’n seunskind is. Nita het geweet dit is ’n groot sonde in die oë van die Here, maar sy het Anitatjie van kleins af verpes. Anitatjie was ’n temerige, mislike, snipperige kind. Nita het haar ma dit al self hoor sê. ’n Ou Pisbalie wat altyd gekla het Nita speel te rof. Al wat Nita en Anitatjie gemeen gehad het, was die geboortenaam wat hulle van ouma Anita gekry het. Hulle is net twee weke uit mekaar gebore en hul ma’s was glo voor die geboortes al effe haaks oor die naamgewery. Nita het gehoor haar ma het eerste die naam Anita gekies, maar toe word Anitatjie eerste gebore en Tannie Joan gaps die naam. En dis hoe Nita net Nita geword het. Anitatjie het alles gehad wat Nita begeer. Die goeie punte op Anitatjie se rapport kon Nita nog hanteer want sy het geweet sy speel eerder netbal as om al ewig te leer soos Anitatjie. Maar Anitatjie kon ook ballet en klavier speel. Luukshede waarvoor Nita se pa weens ’n paar droogtes op die plaas nie geld gehad het nie. Anitatjie het ook ’n beeldskone slaappop gehad wat haar pa uit Europa vir haar saamgebring het. Dit is op haar bed uitgestal en Nita mag nog nooit aan die pop geraak het nie. Nie eens een keer nie. Dan was daar ook Anitatjie se pophuis. Sy het regte tafeltjies en stoeltjies en ’n yskassie en wasmasjientjie daarin gehad. En ’n swartbord waarop sy graag Juffrou-Juffrou gespeel het. Nita se pa het ’n ou hoenderhok op die plaas vir haar toegebou vir ’n pophuis en dit met oranje oorskietverf geverf. Nita het nog altyd oranje gehaat. Die ding met die prinsesrok het begin toe Nita gehoor het Anitatjie-hulle kom weer vir Kersfees plaas toe. Sy het gesug want sy het geweet dit gaan weer ’n nagmerrie van gespog met Anitatjie wees. Al Anitatjie se partytjierokke, prinsesrokke en blommemeisierokke het altyd saamgekom plaas toe en dan het Tannie Joan haar in die sitkamer laat paradeer. Dit wat Nita die grootste pyn gegee het, was hoe Ouma Anita na elke rok ’n paar trane weggevee het oor haar naamgenoot wat so pragtig is. Met een so ’n parade kon Anita se pa dit blykbaar nie meer hou nie en het tydens die gespoggery afgehaak en al die gaste gewys op die drie opgestopte bokkoppe bokant die kaggel. “My Anita het hulle almal geklits. Skaars nege en ’n baasskut!” Ouma Anita en Tannie Joan het vreeslik gegril vir die storie van hoe Nita haar eerste bok se lewer dapper rou geëet het, en klein Anitatjie het in trane uitgebars oor die arme bokkie se tragiese dood. Nita het tydens die grillery en snikkery gewonder hoekom die spul teemkouse dan so lekker weglê aan haar ma se wildsboud? Nietemin, toe Nita hoor Anitatjie-hulle kom weer Kersfees kuier, het die bose plan in haar kop begin vorm aanneem. Toe Juffrou Maree vir Nita gestuur het om die netbalballe in die stoorkamer te gaan bêre, het sy dit gesien: Rye en rye kostuums van die laaste jare se skoolkonserte. Nita het haar vuil hande aan haar netbaljurk afgevee en versigtig aan die prinsesrokke geraak. Sy kon daardie blessitste rokke nie uit haar gedagtes kry nie en sondige gedagtes het by haar nesgeskrop. Sy het besluit sy gaan een van die prinsesrokke steel! Hoe meer sy begin dink het aan die mooi storie wat by haar prinsesrok sal pas, hoe meer het sy van die storie gehou. Sy het geweet dis ’n liegstorie wat soos ’n dolk in Jesus se hart sal steek, maar sy het ook gevoel sy het nie ’n keuse nie. Jesus sal maar net moet verstaan want dis Jesus se pa se skuld dat sy bruin reguit hare en netbalkuite het. Sy het haar plan haarfyn uitgewerk. As Juffrou Maree haar weer vra om die balle te gaan wegpak, sal sy sorg dat sy een van die rokke by die stoorkamer se agterste venster uitgooi en dan sal sy na die tyd omstap en dit in haar sportsak druk. Die plan het soos ’n droom gewerk, maar dit het gedreig om te sneuwel toe Nita die rok die aand in die geheim in haar kamer aangepas het. Dit was heeltemal te klein en te kort! Haar netbalkuite het effe snaaks gelyk onder die ligblou prinsesrokkie. Die volgende middag is Nita met die rok na Maria in die statte. Maria en haar naaldwerkmasjien het al die vroue op die plaas se kerkklere gemaak. Maria moes plan maak maak met die rokkie. Sy het immers ook vir mislike Anitatjie geken. Vir dae daarna het Nita elke dag besorgd na die rokmakery verneem en Maria het haar verseker die prinsesrok sal Kersfees gereed wees as Anitatjie met haar rokke kom spog. Toe Tannie Joan-hulle se Mercedes voor Kersfees op die werf stilhou, het Nita benoud begin raak oor die rok. “Hy kom, hy kom,” het Maria belowe. Nita het gebid dat die Heer haar moet vergewe vir die diefstal en dat Hy Maria moet help met die prinsesrok. Net voor aandete het Maria opgedaag met die rok in ’n laken toegewoel. Nita was vies want daar was nie tyd vir aanpas nie, en sy het geweet Tannie Joan sal na aandete met Anitatjie se rokke begin spog. Nita het haar pa laat belowe dat hy nooit weer voor Tannie Joan-hulle met haar bokskietery sal spog nie. Dit was die langste aandete in hul familiegeskiedenis, het Nita gevoel. Tannie Joan het uitgewei oor al die kunswedstryde wat Anitatjie deur die jaar gedoen het en haar mooi rapporte en almal het waarderend ge- Oe en Aa. Nita se pa kon dit seker nie meer uithou nie, maar net toe hy begin vertel van die reuse vlakvark wat Nita die vorige week geskiet het, het Nita hom met ’n skop teen die skeen stilgemaak. Na ete het die spoggende spul na die sitkamer verskuif en het Anitatjie se parade van blommemeisierokkies en partytjierokkies begin. Ouma Anita was, soos altyd, ’n waarderende gehoor. Met die laaste staande ovasie van Ouma Anita het Nita kordaat aangekondig dat sy ’n verrassing vir die familie het. “Ek is gekies vir die volgende revue se hoofprinses! Juffrou Maree het gesê ek kan die rok huis toe bring om vir julle te kom wys!” Die familie het opgewonde ge- Oe en Aa! en Nita het kamer toe gedraf om Maria se meesterstuk te gaan aantrek. Die kreasie wat onder die laken te voorskyn gekom het, het Nita se asem self weggeslaan … Sy wou eers weer sitkamer toe hardloop en vir almal vertel dit was net ’n grap, maar toe besluit sy sy sal deurdruk. Almal het na hul asems gesnak toe Anita met Maria se skepping die sitkamer inkom. Daar was ’n lang stilte. Toe begin mislike Anitatjie en Tannie Joan ongeskik giggel. Nita het ’n pyn in haar bors van hartseer gevoel, maar haar nekkie styf gemaak en so grasieus moontlik deur die sitkamer gesweef. Tot reg voor Anitatjie. Toe raap sy die bondels kantgordyn bymekaar wat Maria onderaan die ligblou revue-rokkie vasgewerk het. Die gehoor in die sitkamer het in stadige aksie gesien hoe Nita haar stewige bruingebrande korfbalbeen terugtrek en skop. Anitatjie het soos ’n maer vark geskreeu en Tannie Joan het maklik ’n halfuur gesukkel om haar te troos. Nita se ma het haar kamer toe geneem en die vermaninge oor haar ongepoetste gedrag was nie naastenby so erg soos Nita verwag het nie. Dit was so ’n lekker skop dat Nita nie omgegee het om terug te stap sitkamer toe om sag ’n verskoning aan die gepynigde Anitatjie te mompel nie. Die atmosfeer in die sitkamer was vir ’n wyle gedemp. Anita het steeds die prinsesrok aangehad. Sy het gereken Maria het nou reeds al die moeite gedoen en onder die omstandighede was dit ’n meesterstuk. Maria het die bostuk van die rok wyer gemaak met die geblomde blou gordyne wat Nita se ma uit die sitkamer gegooi het oor dit al sonverbleik is. ’n Ou kantgordyn het ewe guitig onderaan die rokkie uitgeklok. Nita het geweet nie een van die gaste sal dit weer waag om na haar prinsesrok te verwys nie. Toe kon Nita se pa die situasie blykbaar nie meer hanteer nie. Hy het opgestaan en sy glas brandewyn en Coke gelig. “Mense, ek wil net graag ’n heildronk instel op my dogter, Nita. Die vlakvark wat julle vanaand geëet het, het sy laasweek geskiet. Dit was ’n kolskoot.”
http://www.rooirose.co.za/die-prinsesrok/
2016-12-07 10:10:57
Groentelinte met beet-en-granaat-slaaisous
Genoeg vir 6 Krakerige saadklontjies • 60 ml (¼ k) klapperolie, gesmelt • 45 ml (3 e) heuning • 2,5 ml (½ t) kaneel • ½ rooi brandrissie, fyn gekap • 125 ml (½ k) pampoensaad • 125 ml (½ k) klappervlokkies • 125 ml (½ k) gevlokte amandels • 125 ml (½ k) pekanneute • 80 ml (⅓ k) sesamsaad • 80 ml (⅓ k) sonneblomsaad • sout en swartpeper 1 Verhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. 2 Meng die klapperolie, heuning, kaneel, brandrissie, pampoensaad, klappervlokkies, amandels, pekanneute, sesamsaad en sonneblomsaad in ’n groot mengbak. Geur met sout. 3 Gooi die mengsel op die voorbereide bakplaat. Bak vir 15-20 min. of tot goudbruin en geurig. Laat heeltemal afkoel. 4 Breek in klontjies. Beet-en-granaat-slaaisous • Verwerk ’n geskilde, gaar beet in ’n voedselverwerker (of met ’n handmenger) tot ’n gladde puree. Voeg 60 ml (¼ k) granaatsap, 2 cm gemmer, geskil en gerasper, 60 ml (¼ k) olyfolie en 50 g granaatpitte by en geur met sout. Meng goed. Slaai • ½ kop radicchioblare, geskeur • 250 g botterskorsie, met ’n groenteskiller in dun repies gesny • 4 bete, papierdun gesny • 4 goue bete, papierdun gesny • 2 wortels, geskil en met ’n groenteskiller of mandoliensnyer in dun repies gesny • 1 klein komkommer, met ’n groenteskiller of mandoliensnyer in dun repies gesny • 100 g fetakaas 1 Pak die radicchioblare op ’n groot opdienbord. Sit die botterskorsie, beet, goue beet, wortels en komkommer in hopies tussen die blare. 2 Strooi die fetakaas en saadklontjies oor. 3 Sit met die beet-en-granaat-slaai-sous voor.
http://www.rooirose.co.za/groentelinte-met-beet-en-granaat-slaaisous/
2016-12-20 09:53:31
Maak jou eie teekoppie-kers
~ Ons het ’n klompie oulike idees by ons sustertydskrif Your Family gekry waarmee jy jou kinders in die vakansie besig kan hou.
http://www.rooirose.co.za/maak-jou-eie-teekoppie-kers/
2016-12-05 13:40:31
Verlede jaar dié tyd was dit nog Oktober
“Verlede jaar hierdie tyd was dit nog Oktober,” merk ’n vriend onlangs op. Ek knik. Hierdie was loshande die jaar wat die vinnigste verbygesnel het. Die tannies het destyds met my eersteling se geboorte gesê ek moet elke oomblik koester, want “voor jy jou oë uitvee, is hy groot.” Dit was presies tien jaar gelede. ’n Dekade in ’n oogwink. Ek voel glad nie tien jaar ouer as toe nie. Maar, in dieselfde asem moet ek erken dat hierdie jaar my in baie opsigte ook veel ouer gemaak het. Soos wat jaarsiklusse seker maar gaan, was hierdie een vir my en verskeie mense om my nié die vrolikste een nie. Heelwat mense wat ons gesin ken is wreed gekonfronteer met siekte, met die dood van ’n geliefde en met swaarkry. Daar was tye wat ons asem opgehou het en vuisvoos vir mekaar gevra het: “Wat volgende?” Ongelukkig het ons ook met die wreedheid van mense te doen gekry. Mense wat woorde en dade en bedoelings verdraai en manipuleer om uitkomste te bewerkstellig wat vir hulle voordelig is – ongeag wat dit aan ander doen. So is my dogtertjie op skaars sewe gekonfronteer met ’n grootmens wat vir my in my kind se teenwoordigheid sê dat sy vir haar sal bid om gesond te word. My kind het niks makeer nie, maar was ’n volle skoolvakansie vreesbevange dat sy sal doodgaan aan een of ander siekte. Mens verstaan nie, maar na dié ervaring verstaan ons dat ’n mens maar soms moet ligloop vir diegene wat biddend manipuleer. Soos vorige jare is my seuntjie gespot omdat hy nie uitblink in sport nie. Na die eerste toetsreeks en puik uitslae, het van die spotters selfs meer venynig en op die man af geraak. Dit het hom gelukkig nie ondergekry nie en hy het selfs beter presteer, maar dit maak tog ’n ma se hart onrustig as jou kind wat net die beste in sy maats raaksien en prys, saans te ontsteld is om te gaan slaap. Mens hoor die woorde van ander ouers via hulle kinders aan jou kind. Hoekom ander kinders afbreek om jou eie te bevorder? Dit is ’n raaisel wat ek nog probeer uitpluis. Of dalk eerder moet los en net aanhou bou aan my kind se weerbaarheid en selfbeeld. Soos hy self gesê het: “Niemand weet in watter sportspan Shakespeare en Steve Jobs gespeel het nie. Maar, weet die ouens wat my so spot oor C-span ooit wie is Shakespeare en Steve Jobs?” Ongelukkig het iemand wat op my sosiale media rondhang dit nou onlangs goed gedink om ’n blog wat ek aan die begin van die jaar geskryf het oor my eie gevoelens van onbevoegdheid aan die begin van my kind se eerste eksamenjaar, te probeer verdraai en ’n onderwyser wat deur die jaar vir baie vreugde in ons gesin gesorg het, te probeer ontstel. Gelukkig kon die onderwysers en mense wat my ken, my help om die skrywe in perspektief te stel. Dit is net jammer dat die een wat wou onmin saai, dit wel reggekry het om ’n mens vir wie ons ’n hoë agting en baie dankbaarheid het, wel vir ’n ruk te ontstel. Dit laat mens van vooraf wonder oor die mensdom. Watter vreugde bied dit jou as jy ’n ander se liggie moet probeer uitdoof om self te skyn? Maar, in die groter prentjie: Daar is van ons vriende en kinders se vriende wat vanjaar moes afskeid neem van iemand vir wie hulle lief is. Die seer wat hulle deur die jaar moes saamdra, is ’n seer wat mens jou nie eintlik kan of wil indink nie. Vir hulle steek ek aan die begin van die feestyd ’n kersie aan. Mag die herinneringe van mooi tye met jou man, jou pa, jou mamma, jou kleinsussie, jou swaer, jou ouma, jou vriend, jou getroue dieremaat jou in hierdie tyd dra. Mag lig en liefde en vrede die leë plek in jou hart vul sodat jy kan aanhou om soveel vir ons te beteken.
http://www.rooirose.co.za/verlede-jaar-die-tyd-was-dit-nog-oktober/
2016-12-19 12:37:28
Uber veilig
Gebruikers kan die gebruikersvriendelike Uber-toep gebruik wat 24/7 diens lewer en alle moontlike inligting oor ’n veilige rit bevat. As jy Uber se diens gebruik om na en vanaf ’n ete of partytjie te reis, is daar vyf veiligheidsmaatreëls wat jy kan volg vir ’n veilige rit. 5 wenke vir veiligheid 1 Ken jou drywer As jy die rit aanvaar, sal die Uber-toep al die bestuurder se inligting aan jou verskaf. Maak seker jy gaan al die detail na voor jy in die voertuig klim. 2 Gaan jou rit na Maak gebruik van die Uber-GPS wat jou in staat stel om jou roete te volg deur die roete op die Uber-toep te besigtig. Dit sal jou kans gee om die roete te leer ken en seker te maak jy ry in die regte rigting. 3 Deel jou verwagte aankomstyd As bykomende maatreël kan jy jou verwagte aankomstyd by die bestemming met ’n vriend of geliefde deel. 4 24/7 ondersteuning Uber se toep bied 24/7 ondersteuning en dit is maklik om te gebruik. Jy kan dit gebruik om navraag te doen as jy ’n item in die voertuig agtergelaat het, om kwitansies na te gaan en om jou passasiersfooi na te gaan. Jy hoef net met jou vinger daarop te klik en al die nodige inligting sal tot jou beskikking wees. 5 Terugvoer Passasiers en bestuurders kan mekaar na elke rit gradeer. Dit gee jou die kans om na vorige graderings van die bestuurder te kyk voor jy in die voertuig klim en gee Uber ook die kans om alle negatiewe terugvoer na te gaan. Ander bykomende veiligheidsmaatreëls is ’n SOS-knoppie in die voertuig wat die passasier in geval van nood kan druk. In Kaapstad is daar ook ’n proeftydperk met paneelbord-kameras wat die roete van ’n rit opneem.
http://www.rooirose.co.za/uber-veilig/
2016-12-08 09:21:39
Maak jou eie papiergewigte
~ Ons het ’n klompie oulike idees by ons sustertydskrif Your Family gekry waarnee jy jou kinders in die vakansie besig kan hou.
http://www.rooirose.co.za/maak-jou-eie-papiergewigte/
2016-12-05 13:42:35
Maak jou eie materiaal-vissies
~ Ons het ’n klompie oulike idees by ons sustertydskrif Your Family gekry waarmee jy jou kinders in die vakansie kan besig hou.
http://www.rooirose.co.za/maak-jou-eie-materiaal-vissies/
2016-12-05 13:29:13
Swemwenke vir blondines
Vraag: Hoe verdrink jy ’n blondine? Antwoord: Jy sit ‘n spieël op die bodem Simpel grappie, maar as die meeste blondines die toestand van hul hare in die spieël sien wat deur swem veroorsaak word, spring hulle waarskynlik eerder uit die swembad! Het jy geweet? Chloor is sleg vir jou hare, maar dit is in koper-water (natuurlike water soos bergwater), wat jou hare kan verkleur (dink groen hare!). So sê Trevenen Bam, konsulterende trikoloog vir Philip Kingsley. Volg hierdie 12 wenke om jou hare te beskerm Maak jou hare met kraanwater nat voor jy swem. As jou hare reeds nat is, sal dit minder swembad- of seewater absorbeer, sê Shelene Shaer van Tanaz Hair. Gebruik ’n opknapper voor én na jy swem. Trevenen Bam en Karen Botha, verkoper en bemarkingsbestuurder van Inoar. Vleg jou hare voordat jy swem om te keer dat dit koek. Karen Botha Spoel jou hare altyd af nadat jy geswem het. Trevenen Bam en Karen Botha Gebruik ook altyd ’n opknapper nadat jy dit afgespoel het. Karen Botha Jou hare is ekstra breekbaar nadat jy geswem het, so wees versigtig om dit te veel te borsel en begin altyd onder. Trevenen Bam ’n Wyetand-kam is ’n goeie keuse om jou hare mee uit te kam nadat jy geswem het. Karen Botha Chloor kan jou hare geel laat vertoon. Gebruik ’n pers sjampoe en opknapper om dit reg te stel. Karen Botha Gebruik minstens een keer per week ’n masker vir ekstra sorg. Karen Botha Groen hare? Probeer tamatiesous – dit werk regtig. Jy ruik wel soos ’n boereworsrol, maar dit werk. Wend dit aan en wag 20 minute voor jy dit afspoel. Hou ’n haar-olie byderhand om deurentyd aan jou hare (veral jou punte, wat meer geneig is om te breek), te wend. Karen Botha Kies ’n sjampoe wat Sodium Chloride (sout)-vry is aangesien dit jou hare meer uitdroog. Probeer die volgende produkte Inoar Argan oil (R490) L'Oreal Paris Extraordinary Oil (R179.95) Nu-Hair Treatments Hair Moisturising Masque 200 ml (R139.95 beskikbaar by Dischem, Clicks uitgesoekte apteke en aanlyn by Takealot.com en www.iheal.co.za) BC Bonacure Hairtherapy Cell Perfector Color Freeze Silver Shampoo (R247) Philip Kingsley Swimcap NAK ultimate treatment (R320) L'Oreal Paris Total Repair 5 (R89.95) Inoar Speed Blond Mask (R390) Garnier Ultimate Blends Honey Treassures (R69.95) BC Bonacure Hairtherapy Cell Perfector Oil Miracle Barbary Fig Oil Restorative Shampoo (R219) Philip Kingsley Daily Damage Defence (R209,95 vir 60 ml en R599,95 vir 250 ml) Revlon Flex & Protein Body Building Conditioner (R22.95) Just Blonde Moisturising Shampoo (R79.95) Creightons Sunshine Blonde Conditioner (R49.95) Creightons Sunshine Blone Shampoo (R44.95 beskikbaar by Pick 'n Pay) Label. m Brightening Blond Balm (R313) Schwarzkopf Proffesional BlondMe Color Enhancing Blonde Shampoo Cool Ice (R275) Inoar Speed Blond Shampoo (R245) Defence Hair Pro Restructuring Nourishing Mask
http://www.rooirose.co.za/swemwenke-vir-blondines/
2016-12-20 05:00:46
Kersverhaal: Engelekoor
“Die lewe is nie fair nie. Nie in Tweevlei nie, maar luister nou mooi vir my, ons hoef dit nie te accept nie!” Ouma Jantjie en haar string “griep-kinders” het aangesit vir aandete. Die kinders was nog grootoog na Ouma Jantjie se groot tantrum die middag voor Juffrou Bester se prefab-klas by die Rietspruit Primêre Skool. Dit was vir haar onaanvaarbaar dat haar kinders nie vir die skool se Kersspel gekies is nie. Nie eens vir die engelekoor nie. Sy is die enigste ma wat die kinders ken en dit is nie die eerste fight wat sy namens hulle by die Rietvlei-skool aangepak het nie. Haar kinders se ouers is aan “die groot griep” dood. Dis hoe mense in Tweevlei se plakkerskamp na die vreeslike siekte verwys. Maar by die Rietspruit Primêre Skool word na die kinders verwys as “Die Vigs-wesies van Tweevlei.” Die skool het groot probleme daarmee dat Ouma Jantjie nie amptelik as voog vir die kinders geregistreer is nie. Gelukkig het Mevrou Bruwer, die maatskaplike werker van Rietspruit, haar hande vol met al die kinders van die distrik wat nie versorg is nie. Sy is maar te dankbaar Ouma Jantjie versorg die kinders van Tweevlei in haar uitgebreide sinkhuis. Daar is nie meer ’n stukkie grond op ouma Jantjie se erf oor wat nie onder sinkplate toe is nie, maar daar is altyd plek vir nog ’n kind. “Kyk, ek verwag nie my kinders moet ’n Josef of ’n Maria of ’n herder wees nie. Ek weet mos hoe julle hulle kies … ek weet, maar die engelekoor. Juffrou Murray het darem altyd plan gemaak dat my kinders darem in die engelekoor is!” Juffrou Bester het haar oë ongesiens probeer rol want sy was al hartlik sat vir Ouma Jantjie se gereelde tantrums by die skool. “Wag nou, wag nou, Mevrou Jantjies. Soos ek al gesê het, vandat Juffrou Murray afgetree het, is ek in beheer van Rietspruit se kultuurgebeure. U sal dit net moet aanvaar. Aanvaar asseblief net my besluite. Daar is eenvoudig nie plek op die verhoog vir meer as vyftig kinders vir die Kersspel nie.” Ouma Jantjie was niks lus vir aanvaar nie. Sy moes hierdie jaar al hoor sy moet “aanvaar” dat daar nie vir haar kinders plek is in die Jeugdag-tablo nie, sy moes “aanvaar” dat haar kinders ook nie aan die Lente-parade kon deelneem nie. “Luister hier, Juffrou, ek accept niks nie. Hierdie kinders moet te veel dinge maar net accept.” Ouma Jantjie se skerp ogies het die oogrollery van Juffrou Bester nie misgekyk nie. Daar waar sy met haar swerm teleurgestelde kinders voor die prefab klas gestaan het, het haar humeur die limiete van haar ordentlikheid bereik. “Ek gee nou nie om of jy die Queen van Kultuur is nie. Die Jirre het nie vir jou aangestel om te kies wie in sy koor mag sing of nie.” Juffrou Bester se ordentlikheid het skynbaar ook die perk begin oorskry. “Mevrou Jantjies, ek is aangestel as …” “Ja, ja, jy het dit mos al gesê,” het Ouma Jantjie haar ongeduldig onderbreek. “Die koor is tog ter viering van onse Heiland se geboorte en nou ontneem jy my kinders die voorreg. Ek weet jy sal dit nou nie verstaan nie, maar alle kinders is engele en daar staan nêrens in die Woord dat daar ’n beperking is van watter kinders Hom mag loof nie.” Haar maer beentjies was wyd uit mekaar geplant waar sy voor die klas gestaan het. Haar dun armpies kwaai oor mekaar gevou. Die kopdoek skoon skeef van kwaadgeit. Na aandete op die dag van die tantrum het Ouma Jantjies se kinders hul eie engelekoor begin oefen. In die weke voor die Kersspel het sy haar Christmas Album van Boney M oor en oor gespeel tot die kinders elke liedjie uit volle bors kon sing. Die Kersspel van Juffrou Bester, Rietvlei Primêre skool se kultuurbeampte, het seepglad verloop. Juffrou Bester was ’n trotse vrou. Toe die laaste applous stil raak, het Ouma Jantjie op die verhoog geklim. “En nou, vir ’n special deur die Tweevlei griep-kinders!” Sy het die sydeur oopgestoot en haar kinders na die verhoog gelei. Van die mense het al uit die saal begin stap toe die kinders begin sing. Van Jingle Bells, Oh My Lord, Petit Papa Noël tot When A Child is Born het hulle gesing tot die mense begin terugstroom het na die saal. Teen die tyd wat hulle Little Drummer Boy en José Feliciano se Feliz Navidad gesing het, het die gehoor saamgeklap en voete gestamp dat die skoolsaal van Rietvlei Primêre Skool dreun van die Kersfees-gees. Die Tweevlei griep-kinders het daardie aand gelukkig gaan slaap. Hulle het geweet die lewe is nie fair nie. Nie in Tweevlei nie, maar hulle het geweet hulle hoef dit nie te accept nie.
http://www.rooirose.co.za/kersverhaal-engelekoor/
2016-12-01 14:55:11
Bederf jou bates
Hoe anders kan ons vrouwees vier, as deur elegante onderklere. Deesdae is daar bra’s en broekies wat by enige uitrusting of liggaamstipe pas. Wanneer ’n vrou onderklere dra waarvan sy hou, voel én lyk sy goed. Maar wie sê gemaklik kan nie ook mooi wees nie? Bederf jouself en dra alle soorte kant en sy sagkuns teen jou lyf. Vir ’n bloes met ’n lae hals, kies ’n bra wat jou borsgleuf beklemtoon. Hierdie sagte, draadlose bra, bied gemaklike ondersteuning terwyl jou borste natuurlike vorm behou (H&M, R199). ’n Sagte kantbroekie kan jy onder enigiets dra en altyd sexy voel (Playtex, R229.95). Wie sê onderklere moet net onder jou klere gedra word? ’n Kamisool lyk net so vroulik by ’n broek met ’n kantsoom afgerond met sy. Boonop laat die sagte satyn jou die hele dag soos ’n droom voel (H&M, R529). ’n Nagrok sê jy is sexy, maar gemaklik en jy’t goeie smaak (Cotton On, R399). Hierdie lyfbroekie is ’n wenner wanneer jy daardie kurwes onder ’n noupassende rok wil beklemtoon. Met ’n ligte ondersteuning om die middel, bied hierdie broekie gemak, maar met die soomlose voorkoms van ’n “g-string” (H&M, R199). Met die regte ondersteuning kan jy selfs wanneer jy oefen op jou beste lyk en voel. ’n Goeie sportbra laat jou oor een iets minder bekommer wanneer jy met daardie sweterige kardio besig is (Triumph R399,95).
http://www.rooirose.co.za/bederf-jou-bates/
2016-12-27 05:00:03
Ontspan volgens jou persoonlikheid
Het jy al rekspring aangedurf? Dan is jy ’n adrenalienverslaafde. Of gee die blote gedagte aan ’n sprong vanaf ’n brug met ’n rek om jou lyf jou nagmerriegedagtes? Die aktiwiteite wat jy kies vir ontspanning pas by jou persoonlikheid. Óf jy verkies om ’n waaghals te wees, óf jy verkies ’n rustige piekniek saam met vriende. Daar is ook ander soorte vakansiegeeste. Jy kry die “fees hippie” of die “natuurliefhebber”. Daar is nog ander ook! Die lewe bestaan uit ’n verskeidenheid en elkeen van ons kry opwinding uit ’n ander soort aktiwiteit. 1 Die adrenalienverslaafde Leef jy teen ’n vinnige tempo? Jy is die klassieke adrenalien junkie. Jy hou van valskermspring, paragliding, rekspring en asemrowende watersport wat die lewe deur jou are wil voel pomp. Kry jou adrenalien fix Leer om jouself met ’n vlieër te navigeer by Cabrinha Kites op Eden on the Bay in Kaapstad. As jy in Durban is, gaan geniet die Big Rush Big Swing by die Moses Mabhida-stadion. 2 Die bederfde koningin Kerse, sagte jazz-musiek, die reuk van laventel in die lug, donsige komberse en kussings, en ’n massering … dit is jou idee van ontspan! Kry jou pamperlang Maak ’n afspraak vir jou agterstallige pamperlangsessie by jou plaaslike spa. Jy is ’n koningin en verdien om ná al die uitmergelende ure by die werk bederf te word. Ons het gehoor Smoothe Beauty Bar het die heerlikste bederfsessies. 3 Natuurliefhebber Jou stapskoene, verkyker en waterbottel is jou drie gunsteling-items in die hele wêreld. Jy is ’n natuurkind. Met Suid-Afrika se heerlike weer sien jy uit na dae se ontspan in die natuur saam met vriende en familie. Kry vars lug Gaan stap by Tafelberg. Dit is nie verniet bekend as een van die sewe wonders van die Wêreld nie. Daar is skilderagtige staproetes waar jy welige, groen, natuurlike skoonheid kan geniet. Kies die roete met die moeilikheidsgraad wat by jou pas. Besoek Table Mountain Walks vir besonderhede. 4 Fees-hippie As jy van musiek hou, is dit die een vir jou! Jy is op jou gelukkigste as jy voor ʼn verhoog kan dans en jou gate uit geniet met die klanke van ’n talentvolle groep plaaslike bands en DJ’s. Jy is ’n trotse fees-hippie. Rock op! Trek jou tekkies aan en maak gereed vir partytjie. Kyk hier wat gebeur in Stellenbosch. 5 Familiemens Jy hou daarvan om sandkastele saam met die kinders te bou. Jou soort ontspan sluit jou kinders in en daarom kies jy uitspan- en eetplekke waar jou kinders hulle gate uit kan geniet terwyl jy ontspan. Hou dit in die familie Daar is baie kindervriendelike plekke wat geskik is vir gesinne. Captain’s Kitchen het ’n heerlike speelplek (met ’n groot bal-put) en ’n lekker spyskaart vir die kleinspan. Die uitsig op Tafelberg is asemrowend. 6 Koopverslaafde As jy ’n fashionista is, leef jy vir die jongste modes en tendense! Vul jou klerekas aan tydens die vakansietyd en gaan span ui by jou gunstelingwinkels. Koop tot jy neerslaan Soveel winkels, so min tyd! Daar is die V & A Waterfront in Kaapstad, die Gateway-winkelsentrum in Durban asook Sandton Square in Johannesburg. Dit is maar net ’n paar. Maak seker jy is met oopmaaaktye daar om die feesstormloop te vermy. 7 Naguil Jy leef vir die naglewe en slaap gedurende die dag. Suid-Afrika se groot stede is propvol nagtelike avonture. Reël jou eie nagtelike kuier Het jy al ooit gehoor van die legendariese Hatfield Square? Daar is die lekkerste restaurante waar jy nagte om kan kuier. Geniet die warm somerdae in die feestyd en kies die regte ontspanplek vir jou persoonlikheid!
http://www.rooirose.co.za/ontspan-volgens-jou-persoonlikheid/
2016-12-05 14:25:16
Tipe 2-diabetes en oorgewig? Hier’s hoop
* Dis wetenskaplik bewys dat selfs gewigsverlies van so min as vyf persent jou bloedsuiker baie kan verlaag * "Sommige medikasie kan jou gewig laat aansit of verlies bemoeilik" – dokter * "As jy nie jou kop regkry nie, gaan behandeling nooit suksesvol wees nie" – sielkundige Tipe 2-diabetes het ’n paar oorsake, maar oorgewig en onaktiwiteit is van die grootste aanleidende faktore. Enige oorgewig pasiënt met tipe 2-diabetes (al is jy net effens plomp), sal daarby baat vind om ’n bietjie gewig te verloor. Navorsers sê selfs ’n skrale vyf persent-verlies kan ’n groot verbetering meebring. Die probleem is dat sommige van die beskikbare behandelings vir tipe 2-diabetes jou selfs gewig kan laat aansit of gewigsverlies bemoeilik. Dit breek pasiënte se moed wat beteken dat hulle later selfs tou opgooi, gesondheidsgevare of nie. Dit lyk tog of daar nou uiteindelik ’n oplossing vir die probleem is. Die farmaseutiese maatskappy Lilly het ’n nuwe inspuiting, Byetta, op die mark wat die natuurlike hormoon GLP-1 naboots. (GLP-1 is ’n glukagon-tipe peptied 1 – ’n hormoon wat in die spysverteringskanaal vervaardig word). GLP-1werk op twee vlakke: Eerstens verbeter dit die funksie van beta-selle in die pankreas wat help om insulien te vervaardig, en tweedens het dit ook ’n uitwerking op alfa-selle wat glukagon produseer. (Glukagon is ’n hormoon wat in gesonde mense help om bloedglukose te balanseer). Die groot voordeel is dat GLP-1 die liggaam meer sensitief maak vir insulien. Hierdie inspuiting wat een keer per dag toegedien moet word, vertraag ook die beweging van kos deur die spysverteringskanaal en daarom voel jy voller vir langer. Dit het ’n invloed op die versadigingsentrum in die brein wat ook help om jou gouer en vir langer tydperke versadig te laat voel. Hoekom is beheer van glukose so moeilik? Beta-selle wat insulien help vervaardig, sterf. Tot 65% van beta-selle in die pankreas gaan dood in pasiënte met tipe 2-diabetes, sê prof. Juris Meyer, konsulterende internis en hoof van diabetesnavorsing van die St. Josef- universiteitshospitaal aan die Ruhr-universiteit, Bochum, Duitsland. “Sommige medikasie wat van beta-selfunksie afhanklik is, kan selfs die tempo verhaas waarin die beta-selle sterf.” Medikasie wat aanvanklik baie doeltreffend is, help later nie meer nie. Glukagon stimuleer die lewer om glukose vry te stel wanneer die glukose in die bloed te laag is. By tipe 2-diabete werk hierdie meganisme nie altyd so doeltreffend nie. Die glukagonvlakke bly hoog en stimuleer steeds die produksie van glukose – die bloedglukose bly dus hoog, selfs ná ‘n maaltyd. Dit lei daartoe dat ongeveer 43% van tipe 2-diabete nie gesonde bloedsuikertellings het nie. Namate die behandeling verskerp word, raak die risiko vir lae bloedsuiker (hipoglisemie) groter. Dit is gevaarlik en kan tot ’n koma en selfs breinskade lei. Die oplossing: Gewigsverlies sal alle aspekte van tipe 2-diabetes aansienlik verbeter en pasiënte moet ondersteun word om dit te vermag. Dit beteken egter nie dat bestaande medikasie nie doeltreffend is nie. Metformin is steeds baie effektief en dit bly die eerste keuse van behandeling in pasiënte wat dit goed hanteer. Wat sê die dokter? Dr. Adri Kok, spesialis-internis van Johannesburg, het ’n besondere belangstelling in diabetes. “Dit kan baie frustrerend vir ’n dokter wees om ’n diabeet te help wat nie behandeling reg wil volg nie, veral omdat ons baie bewus is van die ernstige komplikasies wat dit op die lang duur het.” Sy glo dokters moet besef ’n standaardbehandeling vir diabete werk nie. “Elke pasiënt is anders en moet op sy/haar eie behandel word.” Sy is baie opgewonde oor die moontlikhede van GLP-1. Een van haar pasiënte het al 35 kg afgeskud sedert sy met die medisyne begin het. Die medisyne het tot dusver baie ander pasiënte ook gehelp en dit bly doeltreffendheid. Prof. Juris Meier sal graag pasiënte so vroeg moontlik ná diagnose op die nuwe medikasie wil plaas. “Hoewel die nuwe medikasie in enige stadium ’n effek sal hê, toon studies dat dit nog groter voordele inhou wanneer jy vroeg kan begin.” Navorsing op diere dui daarop dat die medikasie selfs die verloop van diabetes kan vertraag. As hulle kan behandel word terwyl daar nog goeie beta-sel-funksie is, vaar pasiënte nóg beter op die behandeling. Wat sê die sielkundige? Diabetes is ’n balanseertoertjie met insulien aan die een kant en bloedglukose aan die ander kant, verduidelik Liane Lurie, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg. En die sukses van die behandeling berus op jou ingesteldheid. Hierdie onlosmaaklike verbintenis tussen liggaam en gees is al in die antieke Griekse tyd deur Plato verkondig. “Die grootste fout in die behandeling van siektes is dat daar dokters is vir liggaam asook dokters vir gees, hoewel die twee nie van mekaar geskei kan word nie.” Gewigsverlies bly die beste wapen in hierdie stryd, maar sy glo dat wanneer daar ’n balans tussen die fisieke en sielkundige aspekte van diabetes is, mense meer geneig sal wees om behandeling getrou te volg. Omdat dit gewoonlik ’n groot leefstylverandering vereis, het dit ’n groot emosionele impak. “Tipe 2-diabete het baie berading nodig. Eerstens bepaal aanvaarding die sukses van die behandeling, maar dit verg ook heelwat motivering om die pasiënte met hul nuwe lewenstyl vol te laat hou.” As jy boonop die vrees vir inspuitings en gewigstoename byvoeg, wip die skaal baie keer na die verkeerde kant. Kos is ook ’n manier van troos en beloning. “Ek het pasiënte wat getrou hul oefening doen en by hul dieet hou, maar dan hul goeie gedrag met ’n daaglikse boksie oliebolle beloon.” Hoekom is diabete soms traag om die verandering te maak? Sommige pasiënte weier om hul toestand te erken. Hulle voel die veranderinge is nie haalbaar nie en gooi dan tou op omdat die resultate nie onmiddellik sigbaar is nie. Ander voel weer hulle wil nie toelaat dat diabetes hul lewens beheer nie. Soms is dit bloot ’n geval van vuisvoos wees en net nie meer die energie het vir die lewenslange veranderinge wat diabetes vereis nie. Vrees vir baie lae bloedglukose (“hypo’s"), kan ook behandeling bemoeilik. Wat kan jou motiveer? -Familie en vriende is ’n groot steunpilaar en motiveerder. -Hou boek van jou positiewe veranderinge, soos beter bloedsuikerbeheer en gewigsverlies. -Kry berading. -Glo dat goeie beheer van jou bloedsuiker jou in die toekoms gaan beskerm. Wat sê die pasiënt? “Ek verstaan hoe mense selfmoord kan oorweeg,” vertel Liezel Botha oor haar desperaatheid en depressie weens tipe 2 diabetes. Sy was nie verbaas toe sy in haar laat dertigerjare agterkom dat sy tipe 2 diabetes het nie. Daar was immers ’n baie sterk familiegeskiedenis en haar pa en broers het almal nierversaking weens die siekte gehad. Toe sy die eerste simptome van moegheid, dorsheid en konstante urinering bespeur, het sy haar bloedglukose laat toets. “Ek was vasbeslote om alles in die stryd te werp om nie dieselfde pad as my pa en broers te stap nie. Ek wens net ek is vroeër na ’n spesialis verwys.” Ondanks Liezel se beste pogings het haar bloedglukose baie vinnig buite beheer geraak. Haar gemiddelde glukoselesing was tussen 18 en 22 mmol/l. (Vir diabete moet dit tussen 4 en 7 wees.) Die konstante hoë bloedglukose het ook haar sig aangetas en dit was nie lank voordat sy permanent ’n bril moes begin dra nie. Liezel was oorgewig, sy het gedurig suiker in haar urine gehad en sy was meestal doodmoeg. Sy het ’n bestuursposisie by die werk, maar die geringste druk het haar onder gekry. “Dit het gevoel of my hele lewe besig is om onder my te verkrummel en ek was bitter teleurgesteld in myself dat ek nie my diabetes kon beheer nie.” Die ergste was toe sy net meer as 2 jaar gelede haar bewussyn agter die stuur verloor het en teen 120 km per uur op die snelweg beheer oor haar voertuig verloor het. “Ek het myself byna afgeskryf .” Sy is daarna na dr. Adri Kok verwys wat voorgestel het dat sy (onder seksie 21 en met spesiale toestemming van die Mediese Beheerraad), met die nuwe GLP-1-medikasie begin. Sy het aanvanklik met newe-effekte soos naarheid gesukkel, maar dit het binne ’n week verbeter en nou is sy ’n ander mens. “Ek is nie meer moeg nie, ek hoef my bril net in die fliek en vir oorhoofse projektors te gebruik en het vir die eerste keer normale bloedsuikervlakke. Ek verloor gewig en ek dra nou al ’n kleiner rokgrootte. Ek kan in die strate toyitoyi, so bly is ek oor die nuwe lewensgehalte! Die medikasie het ook my oormatige honger verbeter. Ek het voorheen ’n koorsagtige honger gehad wanneer ek soggens opstaan. Nou bestaan dit nie meer nie.”
http://www.rooirose.co.za/tipe-2-diabetes-en-oorgewig-hiers-hoop/
2014-11-13 00:00:00
Vuurwerke en veiligheid
Wat is meer somers as vuurwerke op ’n soel someraand, veral Oujaarsaand? Daardie skouspel van kleur en kakofonie is vir menige kind (en pa) die hoogtepunt van die hele vakansie. Dit ís ’n belewenis. Maak dit ’n onvergeetlike een, deur dit veilig en reg te doen. 1 Beplan eerste vir die troeteldiere • Vir die meeste troeteldiere is dit ’n absolute verskrikking. Sorg dat jou diere tuis veilig en gemaklik toegemaak is (of maak seker jy is by hulle!) • My hond voel die veiligste op ’n groot kussing onder ’n bed die verste van die lawaai. • Doen na die tyd moeite om jou diertjies ’n bietjie te troetel om hulle te verseker dat alles oukei is. • As jy jou troeteldier van die begin af verseker, veilig en kalm hou, desensitiseer hulle mettertyd en is hulle nie so ontsteld nie. 2 Kry jou veiligheidsmaatreëls in plek • Hou ’n emmer water of sand byderhand, om ’n onverwagse brand te blus. • Dit is ook ’n goeie idee om noodhulp vir brandwonde byderhand te hê – iets soos Burnshield of ten minste yswater. • En onthou om ’n groot kombers in te pak, sodat jy iemand wie se klere per ongeluk aan die brand slaan, daarin kan toerol om die vlamme te smoor. Dit moet van katoen wees – nie ’n sintetiese kombers of deken nie, want sintetiese materiale kan smelt en selfs erger brandwonde veroorsaak. ’n Alunium-noodkombers is selfs beter – jy sal dit by die meeste apteke kry. 3 Baken ’n vuurwerkgebied af • Omlyn dit duidelik, met ’n streep, ’n gespande tou of vlae. So weet almal waar hulle veronderstel is om te wees. • Net die een aangewese volwassene wat die vuurwerk aansteek, mag in hierdie gebied kom. Toeskouers bly te alle tye uit. Dit werk om vir hulle veilige sitplek te skep, sodat hulle geriefliker agter die lyn is. • Praat dit vooraf met jou kinders deur, en wees streng hieroor. Te veel arms, oë en selfs lewens het al in die slag gebly omdat mense kanse waag, onversigtig is en nie besef hulle speel letterlik met vuur nie. 4 Plant die vuurwerk korrek en stewig • Enige iets wat uitskiet, moet teen ’n baie effense hoek geplant word sodat dit uitskiet weg van die mense, huise, motors en paaie. • Toets of die vuurwerk stewig staan voor jy dit aansteek. As dit omval of begin tol, kan dit in enige rigting uitskiet en wie weet wat tref. 5 As die vuurwerk nie afskiet nie • Dit gebeur … en dan moet jy ekstra en dubbeld versigtig wees. • Daar is ’n fabrieksfout, en enige iets kan nou gebeur, soos dat die vuurwerk effe later ontplof … net mooi wanneer jy kom kyk wat skort. • Vergeet van ’n tweede probeerslag. • Wag 5-10 minute voordat jy die vuurwerk nader, om dit voldoende kans te gee om of af te skiet of self dood te gaan. • Keer ’n emmer water of sand daaroor uit. Jip, skryf dit af, vir almal se veiligheid. • Moenie ’n tweede vuurwerk daarop plant nie. Dit kan die eerste een laat onvlam en afskiet in ’n onverwagse rigting, en so toeskouers seermaak. Jy sal ook hou van Hondeliefde Troeteldiere en hul tande
http://www.rooirose.co.za/vuurwerke-en-veiligheid/
2016-12-19 13:02:28
Karamelpere
Genoeg vir 6 • 125 g botter • 125 g heuning • 125 g suiker • 30 ml (2 e) room • 6 klein peertjies • 50 g gevlokte amandels, liggies gerooster en in ’n diepbakkie gegooi 1 Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. 2 Smelt die botter in ’n klein kastrol oor matige hitte. Voeg die heuning en suiker by. Roer totdat die suiker opgelos is. 3 Verhoog die hitte en kook vir 5 min. of tot sagtebalstadium (toets deur ’n lepeltjie van die stroop op ’n piering met water te laat drup, indien dit ’n bolletjie vorm, is dit gereed). Voeg die room by (dit sal vinnig opkook en borrel). Roer deur. 4 Doop elke peer in die karamel en laat die ekstra karamel afdrup. 5 Druk dadelik die peer se boudjies in die amandels en sit versigtig op die voorbereide bakplaat neer. Wag totdat die karamel geset is.
http://www.rooirose.co.za/karamelpere/
2016-11-14 11:32:58
Nuut in die flieks: Kampterrein
Morne Lane vervaardig en skryf die jongste Suid-Afrikaanse fliek Kampterrein, wat in Maart 2017 in fliekteaters begin draai. Marcus Muller, wat bekend was vir sy rol as Liam de Lange in die sepie Egoli, het sy lyf mede-vervaardiger gehou vir hierdie fliek wat in Augustus vanjaar op die ATKV Buffelpoort-terrein in Rustenburg geskiet is. Lane het ook ander fliek soos Hartsbegeertes, Forsaken en Suiderkruis vervaardig en het al met groot name in die bedryf gewerk, soos Hykie Berg, Johan Sholtz en Angelique Gerber. Muller en Lane het ook saam in die fliek Sewentig x7 gespeel, waarvan Lane die vervaardiger was. Regisseur Luhann Jansen sê Kampterrein is ’n gesinsfliek wat almal sal laat lag. “Verskillende families met verskeie agtergronde en kulture saam vir twee weke van die jaar, hier kom sports!” Die fliek gaan jou laat hunker na ’n kampvakansie. Verwag om vermaak te word van die eerste tot die laaste toneel. Die akteurs Louw Venter, Johan Botha, Ruan Wessels, Juanita de Villiers Velts, Jürgen Hellberg, Edrien Erasmus, Kaz McFadden, Zenande Mfenyana, Marlee van der Merwe en Josias Moleele sorg vir dié grapperige vermaak. Kampterrein sal op 24 Maart 2017 in fliekteaters begin draai. Kyk hier na die lokprent:
http://www.rooirose.co.za/nuut-die-flieks-kampterrein/
2016-12-07 10:34:02
Nuusbrief: Wen met UCOOK!
~ Soms is daar net te min tyd om ná ’n besige dag vir jou en jou gesin ’n heerlike tuisgemaakte ete te kook. Dink net as daar ’n kookboek was wat elke resep se bestanddele sonder enige moeite direk op jou voorstoep kan aflewer!
http://www.rooirose.co.za/nuusbrief-wen-met-ucook/
2016-12-26 01:00:13
Enkelloper? Red die situasie
Ja, daar is redes hoekom sekere mense moeiliker ’n pasmaat kry as ander, sê die kenners. Maar is daar ’n bloudruk met duidelike aanwysings wat jy kan volg? Helaas, nee, maar jy kan wel ’n paar sondes uitskakel. 1 Nooit die regte tyd nie Dr. Helgo Schomer, die vrolike sielkundige op 702-radiostasie, noem dit die “Wanneer ek-sindroom”. Wanneer ek eendag gewig verloor het; wanneer ek minder spanning by die werk het; wanneer, wanneer … “Dis die dodelikste sindroom vir enkellopers. As jy heeltyd voorwaardes het oor wanneer jy reg gaan wees om mense te ontmoet, maak jy dit bitter moeilik, want jy begrens jou in jou gees en houding. Jy verklaar as ’t ware oorlog teen dating, want dis ’n opportunistiese aktiwiteit en as jou radar afgeskakel is wanneer die regte geleentheid hom voordoen, is die kans verby.” 2 Nie eerlik met jouself nie “Dis natuurlik veel makliker om ’n pasmaat op skool of universiteit te ontmoet waar daar baie beskikbare metgeselle is. Wanneer jy eers begin werk, word die poel vir lewensmaats kleiner en mense werk dikwels so hard dat hulle minder tyd het om te sosialiseer.” Dit dwing mense om aanlynafsprake te maak. “Ongelukkig is mense nie altyd eerlik in hul aanlynprofiele nie en word die waarheid gerek en foto’s gedokter. Baie plaas foto’s van ’n paar jaar gelede omdat dit is hoe hulle hul graag wil sien. Mense hou ook ’n onrealistiese beeld van hulself voor. Hulle skep ’n beeld van die mens wat hulle graag sou wou wees, eerder as die een wat hulle werklik is. “Maar as jy voorgee, is dit onmoontlik vir iemand om die ware jý te leer ken. Jy wil tog hê iemand moet van jóú hou – nie die fiktiewe beeld wat jy voorgee om te wees en wat nie volhoubaar is nie. As jy nie jouself kan wees nie, kan jy ook nie die regte maat aantrek nie,” sê dr. Schomer. 3 Los die tegnologie As jy agter jou rekenaar en selfoon skuil en heeltyd slim e-posse en oulike teksboodskappies stuur, gaan jy nie iemand werklik leer ken nie. Jy het ook genoeg persoonlike kontak nodig om deernis vir mekaar te ontwikkel. 4 Onrealistiese standaarde Sommige mense benader afsprake soos ’n saketransaksie waar elke kandidaat aan ’n stel vereistes moet voldoen. As jy jou afsprake benader met ’n inkopielysie van “lank, donker, aantreklik, universiteitsgraad”, gaan jy nie ver kom nie, sê dr. Schomer. As iemand jou gelukkig maak, is dit die regte een. “Laat skiet jou standaarde, nie jou waardes nie.” “Laat skiet jou standaarde, nie jou waardes nie,” sê Theo Malherbe van The Only Social Club. Dis ook ’n goeie idee om ’n slag krities na jouself te kyk. As jy op die uitkyk is na ’n ewebeeld van die Dawidbeeld, maar self meer Rubenesque (ja, sag en mollig) gebou is, is jou vereistes onrealisties. Die Adonis van jou drome het dalk ’n dwelmprobleem terwyl die ou met die gewone voorkoms en min hare die een is wat jou gelukkig gaan maak. “Doen dinge saam, dan word die fokus op voorkoms minder en leer jy om die persoon in sy geheel te waardeer.” 5 Kitsoplossing Jy verwag nie om ’n beste vriendin op ’n app te ontmoet nie, maar nou wil jy binne ’n enkele afspraak ’n lewensmaat kry. “Ons leef in ’n samelewing waar ons kitsoplossings soek en pas dieselfde tegniek toe om ’n maat te soek,” sê Theo. “Moenie iemand ná die eerste afspraak summier afskiet nie. Leer mekaar ’n bietjie beter ken.” Baie gelukkig getroudes sal jou vertel dat hulle aanvanklik nie ooghare vir mekaar gehad het nie. “Kry plesierige aktiwiteite wat julle saam kan doen. Dit skep gedeelde herinneringe en gee jou ’n goeie grondslag vir ’n verhouding,” sê Fiona Dorse van Corporate Dating. Dis ’n veel gemakliker manier om iemand te leer ken as wanneer julle mekaar soos lammers ter slagting in ’n formele omgewing ontmoet. (Onthou net die gulde reël: ontmoet mekaar op ’n openbare plek as jy die persoon nie goed ken nie.) 6 Klou aan die verlede “Ek ontmoet gereeld kliënte wat hunker na ’n vorige verhouding wat nie uitgewerk het nie,” sê Theo. Omdat hulle daaraan vasklou, is dit onmoontlik om geluk in ’n nuwe verhouding te kry. Dis belangrik om uit ’n mislukte verhouding te leer, want as jy dieselfde foute maak, gaan jy dieselfde resultate kry. Maar dan is dit tyd om te laat gaan en aan te stap. 7 Ken jy jouself? “Die eerste ding wat ek vir mense vra wat kom kers opsteek oor hoe om ’n maat te kry is: Weet jy wie jy is?” sê dr. Schomer. “Wat is jou sterk en swak punte? Dan gesels ons oor hoe realisties die beeld is wat hulle van hulself het, en of hulle hou van die mens wat hulle is. Dis belangrik dat jy gemaklik met jouself is, tekortkominge en al, want dis ’n groot rede waarom mense sukkel om suksesvolle verhoudings te hê. As jý nie van jouself hou nie, hoe kan jy van iemand anders verwag om van jou te hou? Dis ’n goeie maatstaf om te kyk of jy by jou maat vir jouself kan lag.” 8 Iemand wat jou voltooi ’n Ander slaggat is dat mense ’n maat soek wat die gebreke in hul eie lewe gaan aanvul. “As jy iemand wil hê wat jou moet voltooi, is die verhouding doodgebore. Jy moet ’n mens uit eie reg wees, net dan kan julle mekaar aanvul. ’n Verhouding is ’n spansport, nie ’n individuele vertoning nie.” 9 Wat wil jy hê? Wees eerlik oor wat jy werklik in ’n maat soek. Moenie jou blind staar teen dinge soos die uiterlike, die beroep en hoeveel geld hulle verdien nie. Kry ook emosionele maatstawwe, soos iemand wat jou gelukkig maak, wat jou laat lag en jou laat goed voel oor jouself. “Ek kom ook mense teë wat verslaaf is aan die gevoel om in ’n verhouding te wees,” sê Theo. “Hulle sal met die eerste die beste persoon ’n verhouding aanknoop net om nie alleen te wees nie. Gee ’n tree terug en besluit wie jy is en wat jy uit ’n verhouding wil hê. As jy nie eens self weet wat jy wil hê nie, hoe kan jy die regte maat soek?” 10 Maak oor en oor dieselfde foute Dr. Schomer sê as jy tot dusver geen sukses gehad het nie, ontleed al jou vorige verhoudings en kyk vir ooreenkomste en ’n patroon. “Gee ’n tree terug en kyk as ’n buitestander na jou verhoudings. Kies jy elke keer dieselfde soort man, maar dit werk nooit uit nie? Niemand hardloop keer op keer in ’n muur vas nie. Hoekom doen jy dit met ’n verhouding?” Hy stel voor dat jy vriende en familie inspan om jou hiermee te help en ook om te verstaan hoe ander mense jou sien. Dalk kom jy neulerig of aanvallend voor, maar besef dit nie. Dalk is jou stemtoon skerp of temerig. 11 Altyd negatief “In my bedryf is die stoere enkellopers van nature meer negatief,” merk Fiona op. “Onthou positiewe mense trek positiewe mense aan en dit is wat nodig is vir ’n gelukkige verhouding. As jy negatief is, trek jy baie keer die soort man aan wat jou eerder as ’n voorwerp sien net omdat jy mooi is of jou wil oorheers omdat jou selfbeeld laag is. Dit gaan nooit die grondslag vir ’n gesonde verhouding wees met die potensiaal om in iets blywends te ontwikkel nie.” 12 Is jy desperaat? Dis moeilik om nie desperaat te voel as die uurglas leeg loop nie, sê dr. Schomer, maar mans voel maklik dat vroue hulle jag. “Die mensdom funksioneer baie beter in kalm energie as in gespanne situasies. Dis moeilik om jouself te wees as jy desperaat is, en as ’n man voel hy word in ’n drukgang gejaag, is sy eerste instink om die hasepad te kies.” 13 Altyd die “meisie” nooit die trouvrou nie “Onthou, as jy in ’n permanente verhouding belang stel, gaan jy nie net met iemand uit nie. Jy moet ook by hul familie en vriendekring kan inskakel,” sê Fiona. “As jy by die eerste familiesaamtrek opdaag met ’n lae hals wat niks aan die verbeelding oorlaat nie, gaan jy as die tert eerder as die kersie op die koek gesien word. As jy met die intrapslag ’n vyand van jou skoonma maak, of sy vriende hom teen jou waarsku, is die verhouding gedoem. Dink aan ’n ballerina vir inspirasie. Wees vars en oulik. Hoewel ’n ballerina min klere dra, lyk sy altyd stylvol. Haar grimering en hare is subtiel gedoen, maar tog nie koekerig nie.” 14 Wees ’n goeie luisteraar Skram jy weg van nuwe ontmoetings omdat jy nie maklik praat nie. “Moenie bekommerd wees as jy nie altyd weet wat om te sê nie; goeie luisteraars is goud werd,” sê Fiona. Is jy die spreekwoordelike grammofoon? Haal ’n slag diep asem en gee hom ’n spreekbeurt. *Meer inligting: Dr. Helgo Schomer: www.drschomer.com Theo Malherbe: theonlysocialclub.co.za Fiona Dorse: [email protected]
http://www.rooirose.co.za/enkelloper-red-die-situasie/
2016-12-20 14:26:14
Takbokkie-dekor
Die takbokkie-ontwerp is nou ook op beddegoed te sien. Dit is nie net op Kersfees gemik nie, maar vir jare reeds ’n geliefde ontwerp. Geskiedenis van takbokkies Voor Moore “A visit from Saint Nicholas” in 1823 geskryf het, het niemand takbokke met Kersvader verbind nie. Moore het Dasher, Dancer, Prancer, Vixen, Comen, Cupid, Dunder en Blixem aan ons bekend gestel. Klein Rudolph is eers bekendgestel toe Robert L. May die kinderboek “Rudolph the Red-Nosed Reindeer,” aan ons voorgestel het. Geniet ’n takbok-Kersfees van die slaapkamer tot by die Kersboom. @Home R499 Kershouer (R65) @Home Takbok-servetring (R25.99) Draad-takbok (R225) Woolworths Takbok-wynhouer (R389) Hello Pretty Takbok-plakpapier (R420) van Stickaroo Takbok-kaartjie (R25) van Hello Pretty Takbokkies (POA) www.topiary.co.za Takbok-kershouer (R85) Woolworths Verskaffers @Home 0860 576 576 www.monoshop.co.za www.mrphome.co.za Woolworths 0860 022 002 www.hellopretty.co.za www.stickaroo.com www.topiary.co.za
http://www.rooirose.co.za/takbokkie-dekor/
2016-12-19 05:00:13
Gewildste Afrikaanse programme op ShowMax
Met ShowMax kry jy toegang tot ’n groot verskeidenheid Afrikaanse en internasionale reekse en flieks. Volledige seisoene van gewilde kykNET-sepies soos Binnelanders en Villa Rosa, dramas soos Getroud met Rugby en realiteitsreekse soos Boer soek ’n vrou, Nataniël en Jan Braai is onder andere beskikbaar. Daar is ook ’n klomp programme van Via soos Die Kliek, Pasgetroud en Op pad met Dana. Verlustig jou in van die gewildste internasionale reekse soos Suits, The Big Bang Theory en Game of Thrones. Ou gunstelinge soos Friends of Molly & Wors waarvoor mens nooit sal moeg raak nie, hope flieks en prettige kykgenot vir die jongspan is ook beskikbaar. Nou maak dit nie meer saak as jy op Donderdae-aande boekklub hou nie: jy kan maklik later met die jongste episodes van jou gunstelingprogramme opvang. En as jy verlang na ou storielyne en karakters in Binnelanders, kan jy enige van die afgelope 10 jaar se episodes weer kyk. As jy nog nooit satelliettelevisie gehad het nie, is hierdie die perfekte geleentheid om die reekse te kyk waarvan almal altyd gepraat het. Onthou, dis nooit te laat om self die vermaak op jou eie tyd te geniet nie! ShowMax bied die grootste versameling plaaslike en internasionale flieks en reekse. Geen ander Internet-TV-diens gaan jou soveel verskeidenheid gee nie. Dis boonop vreeslik maklik om te gebruik én bekostigbaar. Wat is ShowMax? ShowMax is ’n Internet-TV diens. Al wat jy nodig het om aan te sluit is ’n internetverbinding. Kyk al jou gunstelingprogramme enige tyd, enige plek teen slegs R99 per maand. Jy kan al die beste internasionale en plaaslike programme op jou slimfoon, skootrekenaar, tablet, Apple TV, DStv Explora of slim TV kyk. Dit kan ook gebruik word met AirPlay en Google Chromecast. Stroom terwyl jy aanlyn is op enige van hierdie toestelle, of laai tot 25 programme op jou slimfoon of tablet af vir wanneer jy nie aan die internet verbind is nie. Meer as 25 000 episodes van reekse, flieks, dokumentêre en kinderprogramme 14-dae gratis proeflopie vir nuwe intekenare Gaan nou na showmax.com en teken in vir die grootste versameling vermaak als op een plek. Jy sal nie spyt wees nie.
http://www.rooirose.co.za/gewildste-afrikaanse-programme-op-showmax/
2016-12-05 14:28:51
Bederf jouself: wen ’n luukse bra
Corin is die perfekte bra! Danksy die innoverende werk van die wetenskaplikes aan die Tegniese Universiteit van Lodz in Poland, saam met die kennis van Professor Zadrozny, Hoof van Onkologiese Chirurgie & Borste siektes, is ’n bra gemaak wat vroue se gesonheid eerste plaas. Die Corin-bra is só ontwerp om enige onnodige druk rondom die bors-area uit te skakel, terwyl dit steeds jou borste ondersteun en gesond en veilig is om te dra. Dit is beslis ’n moet-hê item in enige vrou se klerekas! Weet jy of jou bra reg pas? Klik hier en vind uit! Een gelukkige lesers kan ’n Corin-bra van R1 100 wen! Beantwoord die maklike vraag en voltooi die onderstaande vorm om in te skryf. Vraag: Wat laat jou goed voel? * Naam * Van * Kontaknommer * Adres * E-posadres * Kontaknommer * Mag rooi rose jou van enige spesiale aanbiedinge laat weet? * Ja Nee Het jy die reëls en voorwaardes gelees? * Ja Nee
http://www.rooirose.co.za/bederf-jouself-wen-n-luukse-bra/
2016-12-05 12:00:04
Als wat jy oor die Avène-reeks wil weet
Is die Avène reeks geskik vir sensitiewe velle? Die reeks is geformuleer vir alle velsoorte. Avène Thermal Spring Water is die aktiewe bestanddeel in al die produkte en is bekend vir sy strelende en anti-irriterende eienskappe. Wat veroorsaak Psoriase en is daar iets in die Avène-reeks wat kan help? Psoriase is ’n vorm van hiperkeratose. Dit is ’n verdikking van die buitenste deel van die epidermis, die korneale laag. In hierdie vellaag het selle hoë vlakke van keratien, ’n proteïen wat dit droog en hard maak. In sommige gevalle is daar ’n abnormale opeenhoping van keratien wat kolle van droë skubagtige vel skep. Om van hiperkeratose ontslae te raak, moet jy hidrerende en strelende produkte gebruik met aktiewe bestanddele soos ureum en salisielsuur wat die opeenhoping van keratien oplos. Afhangende van die dikte, plek en oorsaak van die hiperkeratose, kan stowwe met verskillende konsentrasies gebruik word wat met ryk teksture gemeng is. Gebruik ’n produk soos Avène Akérat 10 Body Cream op die aangetasde dele. Vir chroniese en oormatige verdikking van die vel op die liggaam en kopvel, gebruik Avène Akérat 30 Cream vir gelokaliseerde gebiede. Raadpleeg altyd ’n dermatoloog voor jy ’n nuwe behandeling aanpak. Hoewel my vel normaal en sonder probleme is, voel en lyk dit party dae droog. Wat kan ek doen? Droë vel kan deur verskeie faktore veroorsaak word, insluitend koue, wind, son, besoedeling en hormonale skommelinge. Jou vel het rehidrasie nodig. Gebruik ’n produk soos die Avène Hydrance Optimale Hydrating Serum wat jou vel in 22 dae rehidreer en stimuleer. Voeg ook ’n strelende vogmasker soos Avène Soothing Moisture Mask by wat die velversperring herstel en optimale vel-hidrasie bevorder. Spray Avène Thermal Spring Water streel die vel en herstel die natuurlike balans van die vel. Kan ek net ’n nag-room gebruik? Dagroom met SPF laat my vel olierig voel. Dit is belangrik om ’n dagroom aan te wend om jou vel te voed, te hidreer en teen eksterne faktore en irritasies te beskerm. As jy ’n olierige vel het, gebruik ’n produk met ’n ligter tekstuur wat olie-vry is. Avène Mattifying Fluid is baie lig, maar hidreer die vel en sal dit nie blink of olierig laat nie. Gebruik Avène Cleanance SPF30+ as sonskerm, probeer die Avène Cleanance SPF30 + Sunscreen. Dit is nie olierige nie en bied UVB en UVA beskerming. Is Avène geskik vir dames oor 60 wat onder die Afrika-son woon? Beslis. Avène Thermal Spring Water Spray is geskik vir alle veltipes van alle ouderdomme. Die Avène Sérénage-reeks is spesiaal geformuleer vir die volwasse vel. Dit bied voeding en herstel digtheid. Ek het ’n baie sensitiewe vel. Die vel om my oë begin skilfer wanneer my vel op sy sensitiefste is wanneer my vel te droog is of as ek ’n nuwe produk gebruik. Het julle enige raad vir ’n onfeilbare produk? As jou vel hipersensitief is, is dit belangrik om produkte te gebruik met minimale bestanddele wat klinies getoets is vir sensitiewe velle. Gebruik die V-reeks met ’n aktiewe bestanddele wat suiwer en doeltreffend is en nie die vel irriteer nie. Die reeks is geformuleer op grond van ’n “steriele kosmetiese” beginsel, wat verseker dat produkte in ’n 100% steriele toestand bly. Device for Exclusive Formula Integrity (D.E.F.I) bestaan uit ’n delikate membraan wat oop- en toemaak sodat die inhoud nooit blootgestel word aan lug of bakterieë nie. Your Avène bly heeltemal steriel so lank as wat jy dit gebruik. Vir meer inligting en velsorgraad, besoek www.avene.co.za of stuur ’n e-pos aan [email protected] Jy sal ook hou van Psoriase: meer as net vel diep
http://www.rooirose.co.za/als-wat-jy-oor-die-avene-reeks-wil-weet/
2016-12-05 12:13:32
Verbrand deur die son? Hier is raad
7 wenke om sonbrand te stop 1 Kom dadelik uit die son. 2 Neem ’n koue stort om jou af te koel, maar moenie te lank onder die water staan nie anders dehidreer die water jou verder. 3 Druk jou liggies droog met ’n sagte handdoek. 4 Smeer ’n na-son middel aan. 5 Bly binne/in die skadu/op ’n koel plek en vermy die son vir ’n dag of twee. 6 Moenie krap wanneer jou vel begin jeuk nie. 7 Moenie dooie velletjies aftrek nie, dit kan inskeur en ontsteuk (eina). Neem eerder ’n klein skêrtjie en knip van die boonste los velletjies af. Probeer die volgende produkte Coverderm Filteray after sun for the body (R289 vir 100 ml) – ideaal vir sensitiewe velle en ook vir kinders en baba’s. Coverderm Filteray after sun for the face (R289 vir 50 ml)- romerige jel wat help om die jeukerige, droë gevoel te streel. Kan elke dag reg deur die jaar aangewend word. Charlotte Rhys Spa Aloer Ferox Gel (R137,50) bevat aloe vera wat sonverbrande vel streel en is goed vir wond-heling en kan ook op ander snyytjies en skrapies gebruik word. BioNike After Sun Balm (R205 vir 400 ml) is ’n heerlike ligte room wat nie net verligting bring en jou vel voed nie, maar ook help om jou vel te herstel. Spesiaal gemaak vir diegene met sensitiewe velle. Placecol Rescue Therapy (R245, beskikbaar by Placecol-klinieke en www.placecol.com) help om die temperatuur van jou vel af te bring en streel, voed en herstel jou vel. Nivea Sun After Sun Moisturising Spray (R64.99 vir 200 ml) streel en koel jou vel af. ’n Ligte formule wat Aloe Vera bevat. Bioderma Sensibio Forte (R259,95) help om rooiheid en oorverhitting te verlig met strelende aktiewe bestanddele, help inflamsie verlig en om jou vel se weerstand meer te maak. Ook ideaal om te gebruik op ’n uitslag van skeer, na haar-verwydering of laser-behandeling. Vichy Ideal Soleil After Sun SOS Balm (R235) bevat spa-water en wilgerkrui (willowherb) om jou vel te streel en te herstel. Dit is vry van parabene, hiper-allergenies en geskik vir sensitiewe velle. #rooirosewenk As jy nie ’n na-son middel het nie, sny ’n rou aartappel in skywe en plaas dit op die gebrande dele. Die aartappel sal help om pyn te verlig en inflamasie verminder. Dit help ook om die boonste lagie van jou vel te versterk.
http://www.rooirose.co.za/verbrand-deur-die-son-hier-is-raad/
2016-12-19 09:56:19
Maak jou eie speelklei
Jy benodig 250 ml koekmeel 250 ml warm water 30 ml sout 30 ml kremetart 30 ml sonneblomolie 5 pakkies jellie Maak dit so Laat die kinders jou help afmeet. Plaas al die bestanddele in ’n klein pot en meng tot dit klontvry is. Kook oor medium hitte. Roer gedurig tot die deeg ’n bal vorm. (Dit neem ’n rukkie) Plaas op ’n meelbestrooide snybord en laat 30 minute afkoel. Knie die deeg en voeg meel by (sowat 125 ml), tot dit nie meer taai is nie. Voeg ekstra voedselkleurel by as jy die kleure helder wil maak. NOTA: Bêre die speelklei in ’n lugdigte houer in die yskas. Dit kan weke hou as dit na elke gebruik gebêre word. As die mengsel taai raak, kan jy dit met meel meng. Vir meer inligting kyk by Your Family se webblad
http://www.rooirose.co.za/maak-jou-eie-speelklei/
2016-12-05 13:31:57
Veilig sonbruin
Selfverbruining As jy dadelik (of binne ’n paar uur), kleur wil hê en jy taamlik gemaklik is daarmee om selfverbruiningsprodukte aan te wend, is hierdie vir jou. Begin so week voor die tyd en skrop jou lyf en bevogtig, sodat jou vel nie droog is nie (wat kan maak dat die selfverbruining streperig is). Hoe meer jy meng en vryf, hoe beter is die kanse dat jy dit egalig aanwend. ’n Gekleurde produk is makliker om aan te wend, want dan kan jy sien waar jy meer of minder aangewend het. Was na die tyd dadelik jou hande met warm, seperige water. Wend dit saans aan nadat jy gebad of gestort het en dra donker nagkleure en wag so uur voordat jy in die bed klim. As daar strepe is, wend ’n lyfskrob aan die area en smeer nog ’n ligte lagie aan. ’n Getinte lyfroom kan ook help om strepe weg te steek. Probeer hierdie produkte: Organiese, botaniese bestanddele. Vita Liberata Deep Untinted Self Tan Lotion (R795) Absorbeer vinnig, met aalwynjel en vy-ekstrak. Clarins Self Tanning Milky Lotion (R320) Hidrerende, mooi goue kleur. BioNike Self-Tan Australian Gold Self Tanning Lotion R239.95 Geleidelike selfverbruining Hierdie produkte bevat minder van die bestanddeel wat kleur gee, en jou lyfkleur ontwikkel geleidelik. Foute is minder sigbaar en jy het meer beheer oor hoe donker of lig jy wil wees. Wend dit aan soos wat jy selfverbruiningsprodukte aanwend (nie soos lyfroom nie). Probeer hierdie produkte: Ou staatmaker! Caribbean Tan Gradual Tanner R99,95 Gee kleur en verferm. Skinny Tan Gradual Tanner R320 Palmer's Natural Bronze Body Lotion Getinte lyfroom ’n Goeie keuse as jy kleur wil hê, maar skrikkerig is vir selfverbruining. Hierdie is soos grimering vir jou lyf, en baie formules was ook nie af as jy swem nie. Ons hou van The Body Shop Honey Bronze Drops of Sun Holiday Glow. Jy gooi net ’n druppel (of meer as jy dit donkerder wil hê), hiervan by jou gewone room (gesig of lyf) vir ’n mooi mat kleur (geen blink deeltjie of oranje kleur nie). Probeer hierdie produkte: Slim kopie! The Body Shop Darkening Shad Adjusting drops R300 Waterbestand en verdoesel merke. Vita Liberata Body Blur R1 030 Mooi glans en kleur. GloMinerals Body Bronzer R436
http://www.rooirose.co.za/veilig-sonbruin/
2016-12-08 12:05:39
Helena Hettema: ’n ster verskiet
“Iets van my het saam met my pa gesterf. Dit voel of ’n stuk van my uitgeruk is.” Sangeres Helena Hettema sê sy is rou, seer en voel leeg nadat rowers haar 82-jarige pa, die legendariese Springbok-tydrenjaer Jan Hettema, in Junie op sy plaas naby Boschkop doodgeskiet het. Haar emosies ry nog wipplank sedert die tragedie. “My pa het nie vyande gehad nie. Dis vir my moeilik om te dink dat twee mans met balaklawas en gewere hom een oggend halfnege op sy plaas doodgemaak het.” Jan se vrou van 41 jaar, Elsa, ’n sterk, positiewe, maar brose vrou met artritis is in die voorval deur die gesig geslaan en met ’n rekenaarkabel vasgebind. Sy kry traumaberading en het Kaap toe verhuis. Lees ook: Watter kosse veroorsaak jig? “Die rowers het slegs elektroniese goed soos sy skootrekenaar en selfone, asook kontant en ’n pistool gesteel. Ons dink hy het hulle onverwags betrap. Hy en sy hondjie Tansi het na die hek gestap, want hy het ’n geluid buite gehoor. Hy het die mans tussen die bome gewaar en terug huis toe gehardloop om Elsa en Happiness, die huishulp, te waarsku. Hy het uitasem geskree ‘sluit die deure!’ maar hulle het hom ingehaal en in die kombuis geskiet. Hulle het seker gedink hy het ’n geweer, of hy het iets gesê wat hulle laat skrik het. Hy is van naby geskiet. Hy was daarop gefokus om die situasie te red … hy was ’n koelkop sportman wat enigiets kon hanteer. Dit is vir my ’n vertroosting.” ’n Vriend van Helena, ’n sielkundige by die polisie, het haar vertel aanvallers gebruik dikwels voor ’n aanval dwelms. “Dit maak sin, want Elsa sê hulle het ’n kil, doodse blik in hul oë gehad. Maar ek wil nie in daardie spasie gaan waar ek die mense se gesigte kan sien nie.” Sy wil nie wraak sweer nie, maar glo die mans sal gevang word en dat God se geregtigheid sal geskied. “Hy sien alles. Daar is goedheid én boosheid in die wêreld en ek glo in Suid-Afrika se toekoms! Maar dié soort aanvalle is ’n Suid-Afrikaanse ding. Die Suid-Afrika waarin ek glo, is Madiba se Suid-Afrika. Ek het een keer in Londen probleme met ’n visum gehad en die liedjie ‘Citizen’ op die CD Rooiwynliefde geskryf: “I am a child of the universe, citizen of mother earth, tear up the paper money, let in the sun.” Seer laat ’n mens dieper voel, sê sy. Die afgelope paar jaar moes sy ’n paar keer dood en trauma verwerk. Haar kêrel en haar eks-man is albei in motorongelukke oorlede. Toe sy getroud was, het sy ’n baba met ’n ektopiese swangerskap verloor, en ’n dag voor haar pa is haar deeltydse pianis en goeie vriend, liedjieskrywer Eugene Vermaak, oorlede. Verlede jaar is haar geliefde pianis, André Wessels, ook oorlede. “Op die oomblik is daar ’n gebrek aan vreugde in my … ’n groot leemte. Onlangs was my pa saam met my en Eugene op die verhoog. Nou is albei dood. “My pa moes nie so gesterf het nie. Nie so wreed nie. Maar hy was die soort wat in ’n oogwink moes gaan en nie stadig moes oud word nie. Hy moes soos ’n verskietende ster gaan, en hy het!” Sy wil haar pa onthou soos hy was en op sy vol en kampioen-lewe fokus en nie op sy laaste oomblikke nie. Maar sy gaan die kuiertjies mis. “Hy het elke Maandag by my kom kuier. Dit is kosbare herinneringe. Ek kon die hek hoor oopgaan. Hy het altyd singend en fluitend met die oprit opgestap. Dan het hy my begin roep asof ek miskien nie daar is nie: ‘Helena! Helena!’ Elke keer om presies halftien. Hy was ’n sportman en altyd stiptelik. “Die laaste keer toe ek en my verloofde, Thys, by hulle op die plaas was, het ons gelag, wyn gedrink en my pa en Thys het sigare gerook wat hy altyd uit Afrika gebring het. Ons het goeie tye op die plaas gehad. My pa het die plek gekoop toe ek twaalf was.” Sy vermoed haar pa kon sy dood aanvoel. “Hy het die Maandag voor sy dood vir ’n vriend gevra of sy testament reg is en gesê hy is nie bang om dood te gaan nie. Dit is vir my ’n groot troos.” Omdat so baie van haar pa se vriende oorlede is, het sy hom met hul laaste kuier gevra watter soort begrafnis hy sou wou hê. “Dis asof ek dit ook aangevoel het.” Sy sê Jan Hettema was ’n legende. Hy het nog soveel planne gehad en was nog so doenig. Hy was gesond, fiks en vol energie. Hy was besig met voorbereidings vir ’n Hollandse dag in Julie en sou ook later ’n toespraak by die Pretoriase Buiteklub gegee het. “Hy was nie blasé oor die lewe nie, hy was opgewonde en vol verwondering daaroor; ’n positiewe en dinamiese man wat die dag aangegryp het.” Sy en haar pa het ’n liefde vir musiek gedeel en graag saam musiek gemaak. As dogtertjie het sy op sy skoot gesit en “Master Jack” gesing. Hy het ’n paar keer in haar loopbaan saam met haar opgetree en het ’n natuurlike sangtalent gehad. “Die laaste keer wat hy saam met my opgetree het, wou hy Frank Sinatra se ‘My Way’ sing. Hy het gevoel dit pas by hom, en dit is waar. My pa het dinge op sy manier gedoen. Ek weet nou dit is gepas dat hy juis daardie liedjie met ons laaste optrede saam gesing het.” Jan Hettema was ’n eerlike, reguit Hollander, lag sy dogter. Dit het nie vir hom saak gemaak of mense van hom hou of nie. Min mense weet Jan was in sy jong dae ’n talentvolle ontwerp-tekenaar wat hoogs tegniese ontwerpe by die WNNR en die Atoomenergiekorporasie gemaak het vir die gebruik van son- energie en toerusting vir gebruik in breinoperasies. Hy het ook ’n paar renmotors ontwerp en opgebou, onder meer die Duphet saam met sy vriend Doepie du Plessis. “Hy was ’n perfeksionis en het alles wat hy aangepak het met passie gedoen. Hy was nie net ’n Springboktydrenjaer nie, maar het ook Springbokkleure in fietsry verwerf. Hy het in 1956 aan die Olimpiese Spele in Melbourne deelgeneem en in 1958 aan die Empire Games in Cardiff.” Haar pa het ook die eer gehad om ’n driekuns as Suid-Afrikaanse tydrenkampioen te verwerf, en is in die jare sestig drie keer agtereenvolgens genooi om saam met prinses Grace in Monaco tee te drink. ’n Paar dae ná haar pa se dood het sy ’n gedig vir hom geskryf en op facebook gepubliseer: …Ek is jou nagtegaal En jy vir ewig my lied In ewigheid, vir ewig Verwikkel in my hart is jy En saam dans ek en jy deur die tydlose sterregang Want “Unforgettable is what you are” Sy moes twee dae ná haar pa se dood by ’n intieme restaurant/teater in Pretoria optree. Sy het besluit om nie die vertoning af te stel nie. “Ek het al my gevoel in my liedjies uitgestort en mense het gesê dit was my beste vertoning tot nog toe. Die mense het naby my gesit en ons het soos ’n familie gevoel. Hulle was nie net ’n gehoor nie en ek kon die liefde aanvoel wat hulle uitstraal. Ek het my vertoning met die lees van die gedig begin.” Deur die trauma van haar pa se dood was haar verloofde Matthys haar “rots en juweel” en dit is vir haar lekker om te weet haar pa het van hom gehou. ’n Troos ná haar groot verlies, is dat sy aan die hiernamaals, die onsterflikheid van die gees glo. “Hoewel daar tog tye is wanneer ek donker voel oor my verlies, is ek nie die soort mens wat met bitterheid wil rondstap nie. Ek glo jy moet jou gesig na die son draai anders gaan die donker jou insluk. Geregtigheid is die Skepper se werk. Ek kan nie toelaat dat omstandighede my vergif nie, want dan kan ek nie wees wat ek wil wees nie. “Ek glo ook aan die liefde en al het party mense die geneigdheid tot boosheid in hulle, het die mens ook goed in hom. Ek het ongelooflik baie liefde van mense ontvang ná my pa se dood. Ek glo aan lig. Liefde is lig en oorwin die dood. Ek glo aan die gees en die gees is onsterflik. My pa se gees sal altyd by my wees.” Liedjies en drome Die skryf van liedjies en gedigte is ’n gawe waarvoor sy dankbaar is. Dit is genesend. “Ek skryf ’n liedjie soos ‘Citizen’ in een sessie klaar as hy vloei. Soms kom die woorde eerste en dan die musiek. Dis ’n magical ding. Daar is nie ’n formule nie. Ek sien ’n beeld soos ’n straatkind met ’n wit gesig wat in die motors se ligte dans en dan skryf ek daaroor. ’n Oomblik … ” Sy het ’n aanleg en voorliefde vir tale en kan onder meer Frans vlot praat. Sy sing ook in Italiaans, Nederlands en Vlaams. “Vir my kom musiek en woorde altyd saam en het ’n ritme. Ek moet dit kan voel. Dit is ’n sielsding en nie ’n analitiese ding nie. Die liedjie ‘Divided Heart’ het ek op een slag vanweë inspirerende verlange by Brighton Beach in Engeland geskryf.” Sy droom om meer op Europese verhoë op te tree sodat sy haar musiek en Suid-Afrika meer bekend kan stel en droom ook dat SA musiek op oorsese radiostasies gehoor sal word. “Dis vir my hartseer dat so min Suid-Afrikaanse musiek in Europa bekend is, want ons speel so baie van hulle musiek. Ek sal ook graag ’n rol in ’n fliek wil speel, want ek het my loopbaan as aktrise by TRUK begin.”
http://www.rooirose.co.za/helena-hettema-n-ster-verskiet/
2016-11-07 12:00:10
Oornag in ’n eeu-oue skooltjie tussen die berge
In Julie, op pad terug van die Breyten Breytenbach Boekfees in Montagu, het ons gesin besluit om op ’n gasteplaas in die Calitzdorp-distrik te oornag. Dit was ’n louwarm Sondagmiddag. Die grondpad het geslinger verby klipkoepels en kranse. ’n Skare blommende vuurpyle teen die hange. Sig-sag het ons gery tot diep in die berge van River Farm in Matjiesvlei. Daar is twee selfsorg verblyfopsies op die plaas: Die River Cottages (ideaal vir paartjies) en die Old School House (geskik vir ’n gesin of groep.) Met ons aankoms was daar ’n persoonlike verwelkomingsbriefie teen die deur van die Old School House waarin boerin Bronwyn ons laat weet dat sy binnekort gaan kom kennis maak en dat ons ons gerus solank kan tuismaak. Old School House, met sy hoë plafon, is in 1911 deur die NG Kerk as ’n plaasskooltjie opgerig. In 2001 is dit omskep in ’n verblyfplek met drie slaapkamers waarin altesaam ses mense kan oornag. Daar is ’n bad en stort en ’n groot oopplan kombuis-sitkamer met ’n kaggel. En wat ’n mooie mens is dié Bronwyn toe! Viets en vrolik vertel sy vir ons hoe sy en Colin sestien jaar gelede hulle lewe in Kaapstad verruil het vir ’n boerdery-bestaan in dié bergagtige boendoes. Hier maak hulle hul twee kinders, Cole en Berkley, groot met volop vars lug en vryheid, goeie tuisonderrig en Karoo-hartlikheid. Daar is skoolbankies uit ’n vorige era in die gang van die Old School House en foto’s van lank, lank gelede se onderwysers en leerlinge – borselkopseuns wat die grond verbou en langhaarmeisies wat naaldwerk doen. Teen die muur is ’n antieke kaart van Suid-Afrika, ’n spesiale boekversameling met werke van Shakespeare en versebundels van Leonard Cohen en Wordsworth. Nadat ons ’n vleisie en patats onder die sterre gebraai het, het ons gesin met ’n stapel boeke voor die kaggel ingeskuif – my seuns het geskaterlag terwyl my man ’n stuk of vyf Dr Seuss boeke vir hulle voorlees. Die volgende dag het ons kort ná sonop die plaas te voet aangedurf. Vir byna twee ure het ons die voetslaanpad geneem verby Karoo-bossies en skitterwit kwartsklippe. Elke kort-kort het ons eers op ’n klip gaan sit om die uitsig oor die Swartberge te bewonder – die kranse se groewe en gleuwe het dit laat lyk asof iemand ’n lap met die hand gewring het. Honderde aalwyne en vuurpyle blom in die winter, brandrooi in die vroegdagson. Doer onder op die valleivloer was die Gamkarivier met sy groen oewerbome. Die oggend was te koud vir swem en te winderig om te kanoe, maar wat ’n piekniekplek! Laatoggend het ons die ou skoolgeboutjie se deur vir goed agter ons toegetrek en al met die vlammende aalwyne langs terug na die beskawing gery. Net buitekant Calitzdorp het ons ’n draai gemaak by Bella de Sophia, ’n padstal-eetplek met ’n sin vir die shappy sjiek styl. Die atmosfeer was vriendelik, die kos heerlik en die porsies enorm. Roosterkoek? Check. Lamsbobotie? Check. Moerkoffie? Check. My man se hemp wat pas by die tafeldoek? Check. Raad aan reislustiges? Check dit uit! Doendinge Braai onder die sterre. Swem in die plaasdam. Vang vis in die rivier. Stap oor die berg. Lees by die kaggel. Honger jou uit vir ’n hartlike bord kos by Bella de Sophia. Verken die oermooi omgewing per voet, bergfiets of kar: Seweweekspoort, die Gamkapoortdam via Bosluiskloof, die Rooibergpas, Groenfonteinvallei, Kruisrivier, die Red Stone Hills, die Swartbergpas en Meiringspoort. E-pos Bronwyn: [email protected] Landlyn 044 2133 996 Selfoon 073 234 1374 Webwerf www.riverviewcottages.co.za
http://www.rooirose.co.za/oornag-n-eeu-oue-skooltjie-tussen-die-berge/
2016-08-16 08:35:37
Rolanda Marais se baba gebore
Charlotte James Malherbe is op 6 Desember 2016 gebore, net 19 dae voor Kersfees. Hierdie pragkind van Rolanda Marais en manlief Jozua Malherbe het die oulikste gesiggie en ons kan nie wag om meer foto’s van haar te siene te kry nie! Rolanda, wat saam met haar beste vriendin, die Binnelanders-aktrise Nadia Valvekens, op ons Desember 2016-voorblad verskyn, het in die artikel vertel sy kon nie wag om ’n ma te wees nie. “Ek voel ’n verskuiwing in my wese, ’n verdieping van my menswees, soos die tyd naderkom. Jozua is net so opgewonde.” Sy erken die swangerskap het haar en Joz, soos sy hom noem, ’n bietjie onkant betrap. “Ek word ’n maand ná haar verwagte geboortedatum 39, en toe ons getroud is, het ons geweet ek het nie baie tyd om swanger te raak nie. Maar ons het nie gedink dit gaan binne ’n maand of twee gebeur nie – eerder ná ’n jaar of so. Maar sy het seker geweet sy moet eerder vroeër as later kom. As sy vir my en haar pa moes wag om te besluit …” skerts sy. Rolanda en Jozua het op familiename vir hul dogtertjie besluit: Charlotte James. “Op daardie manier gee ons haar ’n deel van ons geskiedenis en bloedlyn. My ma se naam is Charlotte, en James is my oupa en broer se naam.” Lees ook: Agter die skerms met Rolanda en Nadia Lees ook: Rolanda en Nadia (toe tot nou) Kyk hier na die oulike geskenke wat Rolanda vir Charlotte James bymekaar gemaak het:
http://www.rooirose.co.za/rolanda-marais-se-baba-gebore/
2016-12-07 11:49:03